• No results found

Bronne oor kultuurkomponente van die bank Bronne oor die bank se personeelkomponent

'n Voorafstudie het aangetoon dat persoonlike onderhoude nie 'n bruikbare bron oor die personeel van Standard Bank gedurende die tyd van studie sou wees nie. Dit is hoofsaaklik vanweë die feit dat die tydperk van 1862 tot 1942 wat deur die studie gedek word, reeds sowat 'n driekwart eeu gelede ten einde geloop het. Persoonlike onderhoude kon dus alleen algemene inligting oor banke en oor die bankwese verskaf en is in beperkte mate gebruik.

Personeelbestuur is 'n gevorderde wetenskap en standaard akademiese bronne daaroor is aangewend, soos in die bronnelys aangedui. Die een uitdaging ten opsigte van die analisering van die skep en bestuur van 'n personeelkomponent vir die bank was om die beginsels van personeelbestuur en bestuur in die algemeen weer te gee sonder om in te veel besonderhede van die teorie van personeelbestuur betrokke te raak.

Die bank se argivale bronne is omvattend, maar bankkorrespondensie met teoretiese verwysings na die bank se bestuursbeginsels en bestuursbenadering gedurende die tyd van studie, ook ten opsigte van personeel, kon nie daarin gevind word nie.

'n Tweede uitdaging was om hedendaagse meetinstrumente ten opsigte van die bank se bestuur gedurende die tydperk van die studie aan te wend as analitiese instrumente, maar nie die verlede aan die hand van eietydse maatstawwe te beoordeel nie. 'n Verskeidenheid van hedendaagse akademiese bronne, met insluiting van bekende werke deur Armstrong (1991), Amos en ander (2004), Buffet & Clark (2009), Greenhaus & Callahan (1994), Iacocca (1984) en Van Wyk en ander (2012) is geraadpleeg. Die meerderheid van hierdie bronne was uiteraard in hedendaagse konteks geskryf. Ander was biografiese beskrywings van eie ervarings. Selfs die ouer bron, deur Iacocca, is gegrond op moderne bestuursbenaderings. Al die bronne was veel meer uitgebreid as die inligting wat vir hierdie studie benodig is.

Die Standard Bank Erfenissentrum in Johannesburg bevat 'n uitgebreide versameling dokumente van bankkorrespondensie. Dit is goed georden en geïndekseer en word goed bestuur. Hierdie argief is 'n byna onuitputlike bron van inligting oor die bank. 'n Deel van die dokumentasie handel oor die verslae van bankinspekteurs. Daaruit word dit onder meer duidelik watter gedrag van beamptes verwag is, watter wangedrag voorgekom het en watter dissiplinêre optrede dit tot gevolg gehad het. Dit toon die lief en leed van personeel aan, van deernisgevalle en toegee aan versoekings, tot lojaliteit en dapperheid.

Uit algemene korrespondensie van die bank kan insig verkry word in die lewensomstandighede van bankbeamptes, sowel as in die gevare en ongerief van reise deur beamptes gedurende die tydperk wat bestudeer is.

Bronne oor akkommodasie en die argitektuur van die bank Beeldende bronne

Die bank se geboue is as primêre bronne aangewend en 'n baie groot aantal foto’s is ontleed ten einde geboue verteenwoordigend van die mees algemene style te identifiseer en te beskryf. Die besonderse aard van die bankwese, waar geboue mooi en indrukwekkend moet wees maar ten opsigte waarvan sekuriteit noodsaaklik is, het duidelik geword uit hierdie fisiese besoeke en fotografering van geboue. Tydens 'n besoek aan die ikoniese Standard Bankgebou wat deur Philip Dudgeon ontwerp is vir die bank se tak in Pietermaritzburg, is die gebou met groot trots deur 'n senior personeellid gewys en kon daar selfs na dele van die gebou gegaan word wat nie normaalweg oop is vir die publiek nie. In teenstelling daarmee is skrywer tydens die neem van foto’s van die Kroonstadtak, wat deur Herbert Baker ontwerp is, in die straat genader deur 'n agterdogtige persoon wat wou verhoed dat foto’s geneem word.

Die invloed van tyd op die nuttigheid en geskiktheid van bankgeboue is ook waargeneem. Die bank se tak in Adderleystraat, Kaapstad, is byvoorbeeld vir dekades beskou as goed geleë, indrukwekkend en by uitstek geskik vir gebruik as bank. Met verloop van tyd het dit in so 'n mate ontoepaslik geword dat die gebou vroeg in die 21ste eeu ontruim is en sedertdien etlike jare in onbruik is. Die besoeke het ook getoon hoe 'n gesellige leefvertrek met vuurherd in die voormalige bestuurderswoning in die bankgebou op George toegemaak is om aan te pas by 'n nuwe korporatiewe kultuur: 'n soort layering, wat die verandering van behoeftes en benadering dokumenteer. Die laat 20ste-eeuse leefstyltendens van groot inkopesentra het die hele vroeë benadering van losstaande, indrukwekkende geboue, verkieslik op 'n straathoek of naby 'n stadsplein, verander.

Argivale bronne

Die vind van geskikte akkommodasie vir die bank was geen eenvoudige taak nie. Probleme en hul oorsake is breedvoerig in die bank se korrespondensie, soos verslae van die algemene bestuurder aan die raad van direkteure in Londen, vervat, soos verder in die studie aangedui sal word.

Fisiese faktore het volgens hierdie korrespondensie 'n belangrike rol gespeel. Metafisiese faktore was ook belangrik en probleme in dié verband was soms selfs moeiliker om te oorkom. Laasgenoemde faktore het onder meer verband gehou met die teenstellende vereistes dat bankgeboue indrukwekkend moet wees, terwyl hul oprigtingskoste laag gehou moes word. Geboue moes toeganklik vir die publiek en gebruikersvriendelik wees, terwyl dit ook veilig en stewig moes voorkom en esteties strelend moes wees. Dit kom uit die bank se korrespondensie voor asof daar soms 'n toutrekkery tussen lede van die raad van direkteure was, met sommiges wat geglo het bankgeboue moet sober, prakties en konserwartief in voorkoms wees en ander wat meer opgesmukte geboue voorgestaan het.

Uit hierdie bronne is 'n indruk gevorm van wat as "geskikte" akkommodasie vir die bank gesien is en wat vermag is om dit te probeer bekom.

Gepubliseerde bronne oor argitektuur

Bronne oor argitektuur as vakgebied is algemeen beskikbaar en is wyd geraadpleeg. Hierdie bronne het op tweërlei wyse bygedra tot die studie: van hulle was rigtinggewend in die bepaling van die benadering van die studie en ander (of soms dieselfde bronne) het historiese en meer tegniese inligting bevat oor geboue en style.

Die boek van sir Banister Fletcher wat geraadpleeg is, A history of architecture, is 'n omvattende en grondige werk van globale reikwydte. Dit analiseer argitektuur van die vroegste

Egiptiese en Mesopotaamse tye af en kontekstualiseer die hoofstrome van argitektuur binne 'n wêreldperspektief. Die boek is in 1959 gepubliseer en belangrike ontwikkelinge van die post- moderne era is nie daarin ingesluit nie. Dit gee egter 'n gedetaileerde oorsig van die ontwikkeling sowel as die vertakkings van argitektuur tot ongeveer die middel van die 20ste eeu. Die boek is bedoel as opleidingshulpmiddel vir gevorderde opleiding van professionele argitekte en was van waarde in die verbreding van die studie se begrip van die dimensies en konteks van argitektuur.

In teenstelling met die grondige feitefundering van Fletcher, is Howarth se boek oor argitektuur (1990) oppervlakkig en veralgemenend. Dit word aanvaar dat dit saamgestel is as maklike handleiding vir toeriste. Binne die beperkte oogmerke daarvan voldoen die boek aan die verwagtings daarvoor. Veral ten opsigte van maklik-herkenbare kenmerke van style is dit suksesvol.

Jonathan Glancey se boek oor argitektuur, Architecture, (2006) is ook bedoel om as draagbare handleiding te dien. Anders as dié van Howarth is dit 'n veel meer volledige bron. Die boek dek 'n wye spektrum van argitektuursaspekte en -style oor 'n groot geografiese gebied, sonder om volksboukundige verskille te bespreek.

Glancey beklemtoon die feit dat daar altyd metafisiese dimensies aan argitektuur verbonde is, beide in die skeppingsproses en in die latere simboliseringsproses. Volgens hom is dit die geval reeds van die mens se vroegste geskiedenis af. Die ziggurat van Ur, 'n skepping van etlike duisende jare oud, dien as voorbeeld. Dit is nie gebou om skuiling te bied of om graan in te stoor nie. Dit is opgerig as:

[.] an artwork, as the greatest artefact humans could shape at the time to honour their gods. [.] it shows us how architecture was always more than a functional tool: it was a form of celebration of human artistry and of the imagination, and a way of formalizing, by shaping in brick (and, later and elsewhere, in stone, marble, concrete, iron, steel, zinc, and titanium), the rituals of urban life (Glancey 2006: 17).

Glancey se uitgangspunt is dus dat argitektuur 'n nie-tasbare dimensie het, benewens die tasbare. Dit is, in ooreenstemming met wat Fletcher sê, 'n aanduiding van die mens se vaardigheid op 'n spesifieke tyd, en dit is 'n manifestering van die mens se geestelike prosesse, waaronder kunssinnigheid en verbeelding. Tog handel argitektuur ook oor skuiling en het noodwendig, anders as kunsvorme soos die skilder- of beeldhoukuns, ook 'n funksionele dimensie. Glancey bring die punt baie duidelik tuis deur daarop te wys dat kunswerke normaalweg nie toilette, geute, afvoerpype, bedrading, ventilering en ander funksionele bybehore nodig het nie (2006: 19).

Mies van der Rohe word deur Glancey gesteun, byvoorbeeld in sy siening dat argitektuur 'n produk van die tydsgees is en nie los daarvan kan staan nie. Ter ondersteuning van Van der Rohe se standpunt in dié verband maak Glancey die stelling: Anyone looking at a Greek temple, Gothic cathedral, New York skyscraper, or Nazi stadium will know exactly what Mies meant (2006: 8).

Glancey se sienings en benadering het 'n vormende uitwerking op hierdie studie uitgeoefen. Ian Sutton se boek, Western Architecture van 1999 maak dit ook baie duidelik dat argitektuur 'n metafisiese boodskap uitdra. Hy maak onder meer die volgende stelling:

One does not have to be a Marxist to see that the great castles and cathedrals of the Middle Ages, the palaces and country houses of later times, the parliaments and government buildings, even the theatres and museums, were all (whatever else) blatant expressions of authority and power and the desire to display that power (1999: 7).

Sutton is van mening dat daar tans groter begrip is van die verband tussen argitektuur en sosiale geskiedenis en maak die stelling: We now have a better understanding of how buildings relate to communities and how economic and technical factors determine their form (1999: 8). Hy wys ook op die verpolitisering van argitektuur, soos wat die Gotiese styl in die Rynland van Duitsland die betekenis van Katoliek en anti-Pruisies en Gaudi se Sagrada Familia simbolies van Katalaanse nasionalisme geword het (1999: 8). As verdere voorbeelde sou hy die Neo- Gotiese verband met die Britse koningshuis en die Neo-Klassieke se verbintenis met die republikeinse staatsvorm kon noem. Hierdie bron plaas nie soveel klem op die invloed van die tydsgees op argitektuur nie, om praktiese redes. Omvattende inligting oor argitektuur en spesifieke voorbeelde van geboue, wêreldwyd, word deur hierdie bron verstrek en beskryf. 'n Baie groot persentasie van die geboue is deur Sutton persoonlik besoek.

Sutton se sienings oor die simboliek en boodskap verbonde aan argitektuur vind aansluiting by die studie oor Standard Bank. Sy hipotese dat daar 'n wisselwerking tussen die gemeenskap en sekere geboue is en dat die geboue gevorm word deur ekonomiese en ook tegniese faktore, stem ook ooreen met die benadering van die studie.

Een redelik resente bron met die titel " ...isms" (2005) is geskryf deur J Melvin. Hoewel die boek bruikbare inligting oor argitektuur bevat en 'n redelike uiteensetting gee van stylperiodes, is daar 'n onbevredigende leemte aan kontekstualisering van argitektuurstyle en tydsgees. Argitektuur word in hierdie studie gesien as kultuurskepping, in antwoord op sekere behoeftes, maar 'n beskrywing van argitektuur sonder konteks, is as 'n leemte ervaar.

Jan Gympel se Story of architecture (1996) gee 'n argitektoniese geskiedenis van die wêreld oor sowat 23 eeue. Hierdie bron het 'n bydrae tot die formulering van hierdie studie gemaak, onder meer deur die aanduiding dat argitektuur in antieke Griekeland beskou is as die moeder van visuele kuns omdat skilderye en beeldhouwerk dikwels uit argitektuur voortgespruit het. Hoewel argitektuur toe reeds as kunsvorm erken is, moes dit, aldus Gympel, steeds aan die mens se basiese behoefte voldoen, wat sy beskryf as veiligheid. Sy vervolg: However, spiritual and intellectual needs also have a role to play when it comes to building (1996: 6).

Gympel wys daarop dat mensgemaakte strukture die omgewing beïnvloed, net soos die strukture by die omgewing moet aanpas. Sy beklemtoon dat alle geboue die gees van die tyd weerspieël en maak die stelling: More than any other human creation, a building represents the social context; building is a social act which nearly always takes place in in the social arena (1996: 6). Die werk van Gympel was rigtingaanwysend in die benadering wat in hierdie studie gevolg is.

Oor Suid-Afrikaanse argitektuur is bekende bronne geraadpleeg, waaronder dié van Biermann, De Bosdari, Fransen, Greig, Lewcock, Picton-Seymour, Simons en Trotter. Die meeste van hierdie bronne handel oor 'n spesifieke deel van Suid-Afrikaanse argitektuur. Hoewel hulle nie rigtinggewend was in die benadering van die studie nie, het hulle inligting verskaf waarsonder die studie nie gedoen sou kon word nie. Die boek van Greig (1971) het die wydste perspektief op Suid-Afrikaanse argitektuur verskaf.

Bronne oor die daaglikse funksionering van die bank

Bronne oor die finansiële dienste en produkte van die bank is op baie beperkte skaal geraadpleeg en ekonomiese konjunkture gedurende die tydperk van 1862 tot 1942 is nie geanaliseer nie. Dit is doelbewus vermy omdat hierdie kultuurhistoriese studie nie daardie aspekte van die bank se aktiwiteite insluit nie. In die hoofstuk oor die bank se funksionering is veral aandag gegee aan die raamwerk waarbinne die bank moes funksioneer en in die bestuur daarvan as aanduiding van beplanning, doelwitstelling en algemene "stuurmanskap" van die bank.

Bronne oor die ontstaan van die bankwese wat geraadpleeg is, was feitelik en beskrywend. Ergang gee 'n beskrywing van bankiers in die Romeinse Ryk, waar rentekoerse reeds in 50 vC bestaan het (1967: 122). In sy beskrywings van Europese ontwikkeling dui hy die groei van die bankwese aan die einde van die Middeleeue as gevolg van groeiende handel aan (Ergang 1967: 133). Hy analiseer die rol van slawehandel gedurende die 15de eeu in die bankwese (1967: 131) en beskryf die opkoms van die bankwese in Brittanje in die 17de eeu (1967: 140).

Van Doren het die ontstaan van bankwese in konteks gebring met ontdekkingsreise en handel (1991: 178). Ook Pevsner gee 'n uiteensetting van die ontstaan en groei van die bankwese. Hy voer dit terug na die vroeë 15de eeu in Italië, met klem op die belangrikheid van die lande om die Middellandsesee en handelaars soos die Medici- en ander ryk families in dié verband (1976: 194 - 198).

Die belangrikste bronne vir hierdie hoofstuk was die primêre bronne oor die bank in die argief.