• No results found

DIE GEOFISIESE EN GESKIEDKUNDIG-POLITIEKE KONTEKS WAARBINNE STANDARD BANK ONTSTAAN HET

2.2 Geskiedkundige kontekstualisering binne konteks van plek en tyd 1 Die globale konteks teen die middel van die 19de eeu

2.2.4 Die Oos-Kaap teen die middel van die 19de eeu

Die Oos-Kaap was in die eerste helfte van die 19de eeu 'n plek van groot kompleksiteit en botsende kragte. Die weifelende grensbeleid van die Kaapse en Britse regerings, herhaalde strooptogte wat nie alleen fisiese skade en verlies veroorsaak het nie maar ook demoraliserend ingewerk het op grensbewoners, en die een verwoestende grensoorlog na die ander, het baie boere laat wegtrek, die Xhosas ontnugter en ontwikkeling van die gebied telkens weer in trurat gegooi.

Ergang stel dit duidelik dat nie te veel belang geheg moet word aan die rol van individue in die geskiedenis nie (1967: vi). In die geval van Suidelike Afrika is baie mag aan senior verteenwoordigers van die Britse kroon toevertrou. Afstande en swak kommunikasie het oorsig oor die uitvoering van daardie mag byna onmoontlik gemaak. Vanweë die feit dat hulle die Britse kroon, die Kaapse regering en die heersende Engelse bevolkingsgroep verteenwoordig het, het negatiewe persepsies wat uit hul optredes gespruit het baie wyd uitgekring in inheemse

en ander gemeenskappe. Die studie gaan akkoord met Ergang se siening dat daar nie 'n oormate van belang aan die rol van individue geheg moet word nie. In die geval van die Oosgrens het individue se onkunde, gebrek aan respek vir ander mense en kulture, hul koloniale gevoel van meerderwaardigheid, hul arrogansie en super nasionalisme/jingoïsme, saam met soms gewetenlose wedywering op persoonlike vlak, wél 'n invloed op die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en die lewens van miljoene mense gehad. Die rol en optrede van individue soos sir Benjamin D'Urban, sir Harry Smith, sir Bartle Frere, luitenant-kolonel Henry Somerset, kaptein Duncan Campbell, kolonel J Graham, en ander, is relevant, maar word nie in hierdie studie geanaliseer nie. Dieselfde geld ten opsigte van Hintsa, Maqoma, Mhalakaza, Ngqeno en Nongquase.

Tydens die tydperk van 1820 tot die begin van die 1850's het 'n debat oor die moontlike verdeling van die Kaapprovinsie in twee dele of die verskuiwing van die hoofstad van die kolonie na die ooste, geheers. Muller skryf: The most contentious matter of the fifties was the old one of the partition of the Cape into the eastern and western provinces (1981: 185). Die nie- Xhosas aan die grens was van mening dat die Kaapse regering fisies te ver en sielkundig en polities te onbetrokke by hul probleme aan die oosgrens was (Le Cordeur 1981: 63).

Een van die groot voorstaanders van die Oos-Kaapse afskeidingsbeweging was Robert Godlonton, soveel so dat LeCordeur na hom verwys as die hoë priester van die beweging (1981: 64). Hy het in 1820 as Britse setlaar na Suid-Afrika gekom en 'n drukpers saamgebring (wat by sy aankoms in Kaapstad gekonfiskeer is). Die drukpers is later gebruik om die Graham's Town Journal te druk en Godlonton het gereelde bydraes daarvoor gelewer voor en nadat hy die eienaar en redakteur van die blad geword het (Musiker 1972: 217). Hy was 'n sterk teenstander van Andries Stockenström (vanaf 1836 luitenant-goewerneur van die Oos-Kaap), se verdragstelsel met die Xhosas. Stockenström was ten gunste van versoening en geregtigheid, eerder as verdere militêre optredes (na toe reeds ses grensoorloë). Deur die verdragstelsel het hy magte, regte en die status van tradisionele leiers erken. Engelse koloniste onder leiding van Godlonton en die selfs meer radikale JM Bowker, wou die Xhosas onteien en hul grond oorneem (Giliomee & Mbenga 2007: 117).

Godlonton het aangevoer dat die verdragstelsel die Xhosas toelaat om straffeloos in die kolonie te steel (Giliomee & Mbenga 2007: 117). Sy sienings is gesteun deur die Weslyaanse kerk, maar was in skerp teenstelling met dié van dr John Philip en sy skoonseun John Fairbairn, wat redakteur van die Commercial Advertiser was. Van Godlonton se geesgenote het Philip en Fairbairn daarvan beskuldig dat hulle die Xhosas in 1830 aangehits het om die Kaapkolonie binne te val (LeCordeur 1981: 67, 68).

Die afskeidingsbeweging was deels gegrond op etniese faktore: van die Engelssprekende Oos- Kapenaars het geglo hulle kan oorrompel en oorheers word deur die Hollandssprekende koloniste van die westelike deel as daar nie 'n skeiding tussen die oostelike en westelike dele gemaak word nie. Die debat oor die verskuiwing van die kolonie se hoofstad, die verdeling van die kolonie in twee, meer verteenwoordigende regering vir die kolonie en beskerming van die Engesle gemeenskap se belange, het almal hand aan hand gegaan. Richard Southey het groter selfbeskikking vir die kolonie gesien as 'n gevaar vir die Englese koloniste. Hy het die stelling gemaak dat, as daar selfbeskikking sou kom: [.] the first Parliament will be Dutch [.] and the next will be elected by the Coloured population (LeCordeur 1981: 247, 251). Godlonton het sterk ondersteuning gekry van Engelse handelaars, spekulante en soldate wat hulself wou verryk ten koste van die Xhosas (Giliomee & Mbenga 2007: 117).

Die setlaars was 'n heterogene groep, verdeel deur sosiale en politieke verskille en gemotiveer deur selfbelang (Nash in Cameron 1987: 94). Wrywing het tussen hulle ontstaan, volgens Nash reeds voor hul vertrek uit Brittanje. Sy skryf: four months on shipboard had aggravated their differences and discontents (Nash in Cameron 1987: 94). Hulle was bowendien verdeel in groepe van Iere, Skotte en Engelse. 'n Verdere drukgroep wat ten gunste was van groter militêre utgawes en volkome onderwerping van die Xhosas was Britse militêre offisiere, Britse handelaars en spekulante, onder leiding van die "stormagtige en aggresiewe kolonel Henry Somerset" en met Godlonton se Grahamstown Journal as hul spreekbuis (Giliomee en Mbanga 2007: 1040).

Die Engelse gemeenskap was ook verdeel langs kerklike lyne, met veral die Wesleyane en Metodiste as invloedryke rolspelers en die Presbiteriane as 'n derde groep. Daar was ook Anglikane.

Verder was daar verskille tussen Hollands- en Engelssprekendes, wat onder meer tot die Groot Trek sou lei.

Ekonomies het dinge mettertyd goed gegaan op die Oosgrens. Inheemse skape deur die setlaars aangetref by die aankoms van Van Riebeeck was nie woldraers nie en die eerste woldraers is in 1867 deur kommissaris Rijkloff van Goens ingevoer. Dit was nie 'n groot sukses nie. Die invoer van ses merinoskape deur kolonel RJ Gordon in 1789 het die ontwikkeling van die wolbedryf in Suid-Afrika en Australië ingelei (De Klerk 1975: 496). In die 1830’s is woldraende skape ook na die Oos-Kaap gebring (Steyn & Antonie 2012: 39).

Die Industriële Revolusie het teen die eerste helfte van die 19de eeu 'n groot behoefte aan rou wol geskep en die uitvoere van die Oos-Kaap het binne 'n relatiewe kort tyd verviervoudig. Port Elizabeth was teen 1862 ook die kolonie se grootste hawe (Steyn & Antonie 2012: 39; Mabin &

Conradie 1987: 1). Wol het die skure van Port Elizabeth gevul, die markpleine en strate met volgelaaide ossewaens belemmer en was vir die meeste skepe in die hawe verantwoordelik (Henry 1963: 14).

Een van Godlonton se ondersteuners oor die Oos-Kaap se afskeiding van die Wes-Kaap was John Paterson, 'n besigheidsman van Port Elizabeth (Amphlett 1914: 3). Hy was 'n Skotse immigrant wat in 1841 as onderwyser na Suid-Afrika gekom en later die eienaar en uitgewer van die Eastern Province Herald en 'n lid van die Kaapse parlement geword het (Henry 1963: 39).

Dit dan was die sosio-ekonomiese en politieke toneel in die Oos-Kaap teen die middel van die 19de eeu toe Standard Bank in 1862 tot stand gekom het.

2.3

Die ontstaan en vroeë ontwikkeling van Standard Bank

Die wolbedryf en die ekonomiese groei en ontwikkeling van Port Elizabeth en die Oos-Kaap het behoeftes aan bankdienste en finansiering teweeggebring en verskeie klein, plaaslike banke het ontstaan. Hulle kon oor die algemeen nie grootskaalse finansiering doen nie en het beperkte reserwes gehad (Steyn & Antonie 2012: 39). Op 3 Junie 1857 het 'n groep sakemanne van Port Elizabeth, onder voorsitterskap van bogenoemde John Paterson, 'n vergadering gehou om dié probleem te bespreek. Daar is formeel besluit dat die ontwikkeling van die streek die oprigting van 'n sterk bank noodsaaklik gemaak het. Amphlett voer aan: The banking capital of the Colony had in fact not kept pace with the increase of trade [.] (1914: 3). Dit het 'n paar jaar geneem voordat die Standard Bank of British South Africa se Akte van Oprigting op 13 Oktober 1862 onderteken is en die Bank in Londen tot stand gekom het (Henry 1963: 6). Tienduisend aandele van £100 elk is uitgereik (Steyn & Antonie 2012: 39).