• No results found

AKKOMMODASIE VIR DIE BEDRYF VAN STANDARD BANK SE BESIGHEID

4.3 Vereistes waaraan bankpersele, bankgeboue en banktakke moes voldoen

4.3.1.2 Fisiese aspekte

Fisiese aspekte ten opsigte van persele het meestal te doen gehad met die perseel se oppervlakte (gelyk, klipperig, grootte, vorm) maar kon van plek tot plek verskil.

Kort na Uniewording in 1910 het verslae van bankinspekteurs byvoorbeeld aangedui dat die tak in Vrede in die Vrystaat se akkommodasie bevredigend is maar in 1917 het 'n bankinspekteur die gebou beskryf as van minderwaardige gehalte en onaantreklike voorkoms. Daar was 'n erf op die dorp beskikbaar wat beskryf is as gelyk, met goeie toegang van die straat af. Die erf was heeltemal geskik maar die prys is beskou as té hoog. Die onbevredigende situasie het voortgeduur, ondanks ernstige klagtes oor die gebou in 1922. In 1927 het die bank 'n ander erf te koop gekry. Dit is beskryf as 'n gelyk en mooi erf, op 'n straathoek. Die prys van £1 750 is ook deur die bank beskou as aanvaarbaar. 'n Tender vir die ontwerp en bou van 'n bankgebou het veel meer bedrae en is aan die argitekte Cowley & Company in Kaapstad toegestaan vir £6 518 (SB INSP 1/1/298 Inspection reports Vrede 16/9/1912; 29/12/1917; 23/9/1922; 28/11/1927). Oor Wellington het 'n inspekteur in 1885 verslag gedoen dat die bank daar oor 'n perseel beskik wat goed geleë was vir 'n banktak en ook vir bewoning deur 'n takbestuurder (SB Inspection report Wellington 19/2/1885).

Persele/erwe moes fisies geskik wees vir die bank se doeleindes en dit kan aanvaar word dat ongeskikte erwe nie in korrespondensie vermeld sal wees nie.

Ook die fisiese aspekte van persele sal saam met dié van banktakke bespreek word.

4.3.2 Bankgeboue

4.3.2.1 Metafisiese vereistes

Simboliek speel 'n uiters belangrike rol in die menslike samelewing. Leslie White beskryf dit as dié groot verskil tussen mense en diere (1971: 22). Elke bankgebou van Standard Bank was 'n

simbool van die bank. Geen onderskeid is in die algemene omgangstaal getref tussen die gebou waaruit die bank bedryf is en die Standard Bank in al sy ander dimensies nie: daar is eenvoudig na die perseel en alles daarmee saam verwys as "die bank".

Dit was daarom vir Standard Bank van belang dat hierdie simbole positief ervaar moes word. In die eerste eeu na die geboorte van Christus het Marcus Vitrivius Pollio as argitek in die Romeinse Ryk gewerk en 'n tiental boeke onder die titel De architectura gepubliseer. Sy werke is eeue later herontdek en in 1486 opnuut gepubliseer (Glancey 2006: 273). Volgens Glancey het sy boeke vir die daaropvolgende 400 jaar 'n buitengewone groot invloed op argitektuur uitge-oefen (2006: 273). Vitrivius was van mening dat argitektuur drie eienskappe moes weerspieël: skoonheid (venustas), stewigheid (firmitas) en funksionaliteit (uitilitas).

Volgens algemene woordgebruik in die beskrywing van Standard Bank se geboue, veral in die verslae van bankinspekteurs, is die beskrywings "mooi", "stewig", "aanvaarbaar", "geskik" en "indrukwekkend" as verlangde eienskappe van hul geboue oor die dekades deur die bank gebruik. Dit moes dus basies aan die bank se weergawe van Vitruvius se vereistes voldoen. Hierdie basiese vereistes het binne die raamwerk van Standard Bank se korporatiewe kultuur, binne Suid-Afrika (soos geskep deur geskiedkundige gebeure, invloede en faktore) en met die inwerking van die bank se Engelse afkoms en tradisie vorm gekry.

Volgens die vereiste van "mooiheid" (venustas) moes 'n gebou esteties strelend wees. Stewigheid (firmitas) moes nie alleen ten opsigte van die fisiese stewigheid van die gebou geld nie, maar bankgeboue moes ook netjies en goed gebou (in die bank se korrespondensie beskryf as well built) voorkom en simbolies wees van die betroubaarheid van die bank as geheel. Geskiktheid (utilitas) was van belang in die uitvoering van die bank se taak en die beveiliging van bates, maar het ook 'n verdere dimensie gehad, binne verband van die bank se korporatiewe kultuur: dit moes 'n besoek aan 'n banktak 'n aangename en indrukwekkende ervaring maak vir kliënte. Dit moes die kliënt privaatheid gee en moes gerief verskaf in die afhandeling van kliënte se banksake, (onder meer deur die voorsiening van skryfplek, genoegsame lig, stofvrye omgewings en redelike stilte).

Die ideale situasie ten opsigte van Standard Bank se besigheidsgeboue sou wees dat die drie eienskappe van Vitruvius in totale balans met mekaar sou wees. Dit was nie altyd moontlik nie. Hierdie balans is meestal deur omgewingsfaktore versteur, waaronder die volgende:

 gebrek aan boumateriale en boukundiges

 die onverstedelikte aard van die bevolking

 die graad van ontwikkeling van die land en streek

 die feit dat van die beskikbare akkommodasie nie geskik was vir besigheidsdoel-eindes nie

 beperkte beskikbare akkommodasie in klein dorpe en dorpe waar daar 'n skielike bevolkingstoename was

 beperkte inkomste deur die betrokke banktak, wat nie hoë uitgawes aan akkommodasie kon regverdig nie

 gebrek aan mededinging in die boubedryf en gepaardgaande swak bouwerk, wat daartoe gelei het dat verskeie van Standard Bank se geboue beskryf is as minder as stewig.

 die feit dat geboue in onderontwikkelde streke neig na meer basiese funksionaliteit (utilitas), met relatief minder aandag aan estetika (venustas)

4.3.2.1.1 Estetika

Twee Latynse spreekwoorde is relevant wanneer estetika ter sprake is. Die eerste een lui: Pulchritudo in oculis aspicientis est en beteken ongeveer dieselfde as die Engelse gesegde Beauty is in the eye of the beholder. Die tweede Latynse gesegde lui: De gustibus non est disputandum, wat beteken dat daar oor smaak of voorkeure geen sinvolle dispuut kan wees nie. Sienings van wat "mooi" is, is uiteenlopend en word beïnvloed deur kulturele aspekte, tyd en plek. In argitektuur kan mode, wat "in" is op 'n bepaalde tyd, nie as invloed genegeer word nie (De Swardt 2013: 110).

Een aspek wat oor eeue in die Westerse wêreld gereken is as esteties strelend is die sogenaamde "Goue verhouding". Dit is 'n wiskundig-konstante verhouding van een kwantiteit tot 'n ander. Die bestaan van die byna alomteenwoordige verhouding het bekend geraak deur die werk van Pythagoras en Euklides (die "Vader" van geometrie), Leonardo van Pisa en Leonardo Bonnaci. Die sogenaamde Goue Verhouding is ook bekend as Phi en is 'n verhouding van 1.61803388777. ad infinitum. Dit kom in alle vorme van antieke argitektuur en kunsvorme voor en is onder meer aangewend in dele van die piramides van Gisa en in die Parthenon. Dit bestaan in die menslike liggaam en die natuur. Leonardo da Vinci het dit aangewend in sy skildery van Mona Lisa, sy bekende skets van die Vitruviaanse man, en baie ander kunswerke en ontwerpe. In later jare is dit, onder meer, gebruik in verhoudings van die Taj Mahal en, in meer moderne tye, in die ontwerp van die Nasionale Galery in Londen. Dit is relevant, maar 'n diepgaande ondersoek na die aanwending en voorkoms van hierdie verhouding in die argitektuur van Standard Bank se geboue maak nie deel uit van hierdie studie nie.

Kort na die geboorte van Christus het die besef reeds bestaan dat verhoudings tussen die elemente wat die geheel van 'n gebou vorm, die geheel strelend of onaansienlik kan maak. Lewcock haal soos volg aan uit die Placita Hippocratis et Platonis van Polyclitus Galen (131 - 210 VGE): [.] beauty does not consist in the elements but in the harmonious proportion of parts [.] (Lewcock 1963: 357).

Andrea Palladio (1508- 1580) skryf in sy Four books of architecture (1570), soos aangehaal deur Lewcock:

Beauty will result from the form and correspondence of the whole with respect to the several parts, of the parts with respect to each other, and of these again to the whole; that the structure may appear an entire and complete body, wherein each member agrees with the other (1963: 357).

Argitektuurstyle is die fisiese en kulturele uitdrukking van 'n tydsgees. Die kultuurskeppende mens bring in groepsverband tydsgeeste tot stand en daarom is die mens, die tydsgees en die styl wat daaruit ontstaan het in harmonie met mekaar en vind die mens die styl estesties aanvaarbaar of "mooi". Sommige klassieke style is vir eeue na hul ontstaan, in oorspronklike vorm of deur die herlewing van elemente daarvan binne 'n ander konteks, as mooi beskou. Ander, soos die Gotiese boustyl, is in latere eeue op estetiese vlak redelik negatief beskryf (en 'n naam met redelik negatiewe konnotasies gegee). Tog was daar 'n herlewing van dié styl, indien nie vanweë die mooiheid daarvan nie, dan moontlik vanweë die indrukwekkende firmitas en utilitas daarvan. Die feit dat 'n vorm van die boukuns so wyd aanvaar word dat dit as 'n styl erken word, verskaf gronde om aan te neem dat 'n groot deel van die bevolking dit aanvaarbaar of selfs esteties "mooi" gevind het.

Standard Bank het op 2 Junie 1863 die bank se eerste Durbantak geopen. In 1876 het 'n inspekteur die bank se gebou daar as [.] of somewhat light construction [.] beskryf en aangedui dat 'n stewiger en mooier gebou verkieslik sou wees, maar dat dit nie oorweeg kan word voor die tak nie van meer waarde vir die bank is nie (SB Inspection report Durban 29/4/1876). 'n Nuwe en beter gebou is in 1879 opgerig volgens 'n ontwerp van die argitek Philip Dudgeon. Die konstruksie daarvan is in 1880 voltooi, maar reeds voor dit heeltemal voltooi is, het 'n inspekteur dit beskryf as a handsome, substantial and in every way a convenient and desirable banking office, an ornament to the town and creditable both to the bank and the architect. Hy vervolg: It is admired by everyone whom I have happened to come in contact with (SB Inspection report Durban, 11/9/1879).

Standard Bank se eerste tak op Oudtshoorn is op 17 Januarie 1876 geopen. Binne die eerste jaar reeds het die tak 'n wins getoon (SB ARCH 1/1/ OUDT, 2000: 3). In 1901 kon die bank 'n eie perseel op dié dorp koop. Die Anglo-Boereoorlog het 'n uitwerking op die bank en op toekomsplanne gehad, maar onder meer vanweë [.] the fact that the opposition banks were situated in superior buildings, is gevoel dat daar onmiddellik ná die oorlog begin moes word met die oprig van 'n gebou [.] of commanding appearance (SB ARCH 1/1/ OUDT 2000: 31).

Die opdrag vir die ontwerp van die gebou is aan die argitek Charles Bullock opgedra en die nuwe gebou is in Mei 1904 in gebruik geneem. Dit was in die tydsgees van die Art Nouveaustyl en die gebou het elemente van die styl bevat. Op 11 Mei 1904 het die plaaslike koerant berig: Gisteren namiddag werden den zeer prachtige gebouwen der Standard Bank in Kerkstraat formeel ge-opend. 'n Groot aantal mense is op 'n besigtigingstoer deur die gebou geneem. Die takbestuurder, mnr JJJP de Kok, en die burgemeester het die skare toegespreek en 'n algehele gemoedelike atmosfeer het klaarblyklik geheers. Ook die argitek, die bank se prokureur, mnr CH Vintcent en die bouer het toesprake gemaak. Ene mnr JH le Roux het dit beskryf as een zeer hecht gebouw wat Oudtshoorn waardig was. Die koerant beskryf dit verder as 'n [.] prachtig gebouw dat in omvang en uit een bouwkundig oogpunt beschoudt in schoonheid zeer gunstig afsteek by enige ander Bankgebouw op het platteland (De Oudtshoorn Courant, Oudtshoorn: 11/5/1904).

Het Zuid-Westen het daarna verwys as [.] een sieraad voor het dorp [.] (12/5/1904). (Kyk na Figuur 5.29).

In Januarie 1879 was daar redelike optimisme oor die ontdekking van goud in die omgewings van George en Knysna en Standard Bank was bekommerd dat ander banke dalk besigheidsgeleenthede voor die bank sou wegraap (SB GMO 3/1/8 Letters to London 6/79: 10/1/1879). Standard Bank het gevolglik op 11 Januarie 1879 'n tak in George geopen. Die akkommodasie was heeltemal ontoereikend, [.] inconspicious and representing a very poor appearance. Soos in baie ander dele van Suid-Afrika, was geskikte akkommodasie eenvoudig nie beskikbaar nie (SB Inspection report George: 6/12/1906). 'n Inspeksieverslag van 1907 beklemtoon die swak voorkoms, die nadelige uitwerking van die klam gebou op besigheid en die personeel se gesondheid en vervolg: [.] business of the branch at present certainly does not warrant our purchasing a stand and erecting premises (SB Inspection report George:19/12/1907). Bowendien was oop erwe in die sentrale besigheidsgebied onbekombaar (SB Inspection report George: 29/10/1910). Teen 1910 is die gebou met ysterstawe aanmekaar gehou, dele van vloere is gereeld vervang as gevolg van verrotting en dit was onmoontlik om binnemure met muurpapier te plak as gevolg van klammigheid. Kenners het aanbeveel dat dit gesloop word.

Teen 1910 het die bou van die spoorlyn vanaf Mosselbaai 'n positiewe uitwerking op die ekonomie van George gehad en handel het toegeneem. Baie nuwe huise is gebou en meer toeriste het die dorp en omgewing besoek. 'n Meer welvarende tydperk is ingelui. 'n Groot gevangenis is net buite George gebou om arbeid te verskaf vir die spoorbou. In die voedings- en ander behoeftes van die aangehoudenes en hul toesighouers moes voorsien word. Die verwagting was dat die spoorlyn welvaart vir die boere van die distrik sou bring. Standard Bank

se bestuurder het wyd gereis om boere op te soek en was van mening dat baie geld op plase geberg word as gevolg van, onder meer, wantroue teenoor banke wat gevolg het op 'n vroeëre rampspoedige ineenstorting van 'n plaaslike bank.

Omdat die vooruitsigte vir ontwikkeling van George gunstig gelyk het, het Standard Bank in 1910 'n erf gekoop en Simpson & Bridgman, argitekte van Oudtshoorn, is opdrag gegee om 'n nuwe gebou te ontwerp. Die nuwe gebou is op 18 Maart 1912 betrek en by die inwydingsgeleentheid het die takbestuurder met trots verwys na die [.] handsome and spacious building, which should go a long way to attract business [.] (SB GMO 3/1/53 Letters to London: 20/1912). (Kyk na figuur 5.6 en figuur 5.7.)

Standard Bank se gebou in Adderleystraat, Kaapstad, ontwerp deur Charles Freeman en opgerig in 1880, is deur Picton-Seymour beskryf as 'n baie suksesvolle ontwerp: inderdaad een van Freeman se mees suksesvolles (1989: 22). Lewcock stem met dié siening saam en voer aan dat die mooi van die ontwerp lê in die portiko, die tekstuur van die mure en die bevenstering. Die hoofsaal (banking hall), binne die gebou beskryf hy as 'n visuele plesier (Lewcock 1963: 291).

Standard Bank het die dienste van die argitek Philip Dudgeon bekom om 'n bankgebou vir die Pietermaritzburgtak van die bank te ontwerp. Op 18 Februarie 1882 het die bank se hoofbestuurder aan Londen laat weet dat tenders vir die oprig van die gebou volgens Dudgeon se planne aangevra is (SB GMO Letters to London 15/82: 18/2/1882). Die gebou is op 8 Augustus 1883 in gebruik geneem. Dit sou mettertyd as 'n meesterstuk en een van die mooiste bankgeboue in Suid-Afrika beskou word (Terry 1979: 37). Dit is deur Lewcock beskryf as [.] extremely beautiful (1970: 528). Desireé Picton Seymour beskryf dit as 'n meesterstuk wat statuur vertoon, ondanks relatief beperkte grootte. Sy noem dit [.] restrained in design [.] met 'n [.] impressive facade (1989: 138). Die bank self het die gebou beskou as mooi (handsome) (SB 1/1/PMB 1883). Toe daar in 1977 besluit is om hierdie gebou te sloop, was daar groot openbare teenstand daarteen en het 'n Durbanse argitek, mnr Brian Kearney, gesê: The Standard Bank will lose face with its supporters through this action (Natal Witness 5/11/1977). Die bank het 'n konsultant gekry wat bevind het dat die gebou struktureel onveilig was en afgebreek moes word. Die bank was egter nie bereid om die tak te sluit en die veiligheid van die gebou deur 'n onafhanklike liggaam te laat evalueer nie. Veral die Natal Provincial Institute of Architects Conservation Action Committee het heftig beswaar gemaak teen sloping. Die komitee het onder meer aan dr Ronald Lewcock van Cambridge Universiteit geskryf en hom gevra om druk op Standard Bank se hoofkantoor in Londen uit te oefen om die gebou te behou. Lewcock het geskryf dat dié bankgebou een van die beste voorbeelde van argitektuur in Suid-Afrika is: 'n absolute meesterstuk. 'n Durbanse argitek het na die gebou verwys as een van Suid-Afrika se

mees kosbare geboue (Natal Witness 5/11/1977). Vanuit 'n besigheidsoogpunt was dit logies om die gebou te sloop, het die bank se hoof van openbare betrekkinge, mnr Roy Terry, gesê (Natal Witness 10/6/1978). Die sloping is eers uitgestel en toe is daarvan afgesien. In 2014 is daar met 'n ter plaatse ondersoek, as deel van hierdie studie, bevind dat lekkasies en waterskade aan die binnekant van die gebou sigbaar is.

In Middelburg, Transvaal het die bank aan die einde van die 19de eeu 'n tak gehad wat redelik sentraal geleë was, genoeg ruimte gebied het en heeltemal geskik was vir die bank se dag-tot- dag funksionering. Die estetiese voorkoms van die gebou was egter nie aanvaarbaar nie. 'n Inspekteursverslag van Oktober 1895 lui dat kliënte dikwels negatiewe aanmerkings daaroor gemaak het en van mening was dat Standard Bank se bankgeriewe minstens gelykstaande behoort te wees aan dié van die Nasionale Bank, wat in 'n indrukwekkende gebou op die hoofstraat gevestig was (SB Inspection report Middelburg Transvaal: 26/10/1895).

Oor Standard Bank se tak op die hoek van Commissioner-, Fox- en Harrisonstrate in Johannesburg sê Picton-Seymour:

By far the largest and most magnificent of the "tent-to-palace" banking edifices in Johannesburg, was the Standard Bank. At the time of its erection early this century, [die 20ste eeu] it was considered the ideal of what a bank should look like, to the extent that subsequent banks were built in similar vein. Six storeys high, built partly of stone and partly of brick, this steel-framed building, clothed in the trappings of the Renaissance, was termed by the press "Very bold and striking in concept [.] absolutely the finest premises devoted to banking yet erected in South Africa [.]" (1989: 152).

'n Koerantberig van 1908 het onder meer gelui dat die "manjifieke eikehouttoonbank 152 voet (46 meter) lank is en dat soliede, onverniste brons die enigste metaal is wat vir metaalsmeewerk gebruik is" (Terry 1979: 177).

Standard Bank het in 1902 'n nuwe gebou in Kerkstraat, Mosselbaai, opgerig. Ook dié gebou is in 1907 beskryf as handsome (SB Inspection report Mosselbaai: Desember 1907).

In 1905 is 'n nuwe gebou vir die Malmesburytak van die bank in gebruik geneem. Dit is ontwerp deur die argitekte Baker & Masey van Kaapstad en is deur die bank se algemene bestuurder beskryf as very pleasing to the eye and [.] much admired (SB ARCH 1/1/MLM Januarie 2003: 37).

Nadat die Cradocktak se nuwe gebou in 1932 in gebruik geneem is, is dit deur die bank beskryf as [.] handsome and attractive (ARCH 1/1/CRDK 1981: 14).

Hoewel van die bank se geboue, veral in Johannesburg en Pretoria, ietwat oordadig in ontwerp en voorkoms vertoon, het die bank tog op tipies versigtige wyse daarvan weggeskram om uitspattig voor te kom. Hoewel na mooi en indrukwekkend gestreef is, moes uitspattigheid vermy word. In 1932 doen inspekteur FP Haine verslag oor Grahamstad en die nuwe gebou wat vir die bank daar opgerig word. Hy sê dat dit moontlik onbillik van hom is om 'n onvoltooide gebou te kritiseer, maar hy verneem die plaaslike gevoel is dat die fasade van die gebou heeltemal te pretensieus en uit pas met die omringende geboue is (SB Inspection report Grahamtown: 22/3/1932). Die volgende jaar beskryf 'n ander inspekteur (Grant) dieselfde gebou egter as [.] handsome, imposing and massive, giving an impression of solidity worthy of our Institution. The interior is well appointed and of pleasing appearance (SB Inspection report Grahamstad: 29/5 1933).

In 1894 het die George and Knysna Herald 'n berig geplaas oor die verskuiwing van die Knysnatak van die bank na 'n nuwe gebou. Die berig het onder meer gelui:

Quite the event of this past week at Knysna has been the transferring of the local branch of the Standard Bank to their, from our humble stand point, almost patatial [sic] new premises [.] (George and Knysna Herald: 19/9/1894).

4.3.2.1.2 Stewigheid

Standard Bank se besigheidsgeboue moes om meer as een rede stewig wees en oor die aspek van firmitas beskik. Die bank het met kosbaarhede gewerk wat beveilig moes word omdat dit altyd aanloklik sou wees vir kriminele elemente in die samelewing. Daarvoor is fisies stewige geboue, wat meestal deur die bank beskryf is as substantial, benodig.

Die publiek moes ook kon sién dat die geboue stewig is sodat vertroue in die bank versterk kon word. Die spreekwoord wat lui dat iets so veilig soos 'n bank is, moes gestand gedoen word.