• No results found

DIE GEOFISIESE EN GESKIEDKUNDIG-POLITIEKE KONTEKS WAARBINNE STANDARD BANK ONTSTAAN HET

2.2 Geskiedkundige kontekstualisering binne konteks van plek en tyd 1 Die globale konteks teen die middel van die 19de eeu

2.2.3 Suider-Afrika teen die middel van die 19de eeu

2.2.3.4 Die Britse en Duitse setlaars

Ná die oorname van die Kaap deur Brittanje, het die koloniale moondheid die werf en plaas van Europese immigrante in die kolonies gesien as 'n metode om die kolonies ekonomies op te bou.

Britse setlaars

Die Xhosas en Kaapse regering het in 1778 ooreengekom dat die Groot Visrivier die oosgrens van die kolonie sou vorm. Vyandelike invalle deur stamlede het egter voortgeduur (Hockly 1970: 516). In die Vyfde Grensoorlog van 1819 is die Xhosas weer teruggedryf oor die Visrivier en nog later tot oor die Keiskammarivier, verder oos.

Van die universele probleme deur koloniale owerhede ervaar was arbeidstekorte en die metafisiese aspek van werketiek. Koloniale moondhede wou kolonies, wat meestal agraries en onontwikkeld was, ontgin sodat hulle as verskaffers van grondstowwe kon dien. Hulle wou die kolonies opbou as afsetgebiede vir produkte uit die meestal geïndustraliseerde koloniale moondhede. Die skep van 'n sogenaamde hardwerkende Europese arbeidsmag in die kolonies, met 'n Europese werketiek en progressiewe idees, om gevorderde landboupraktyke en ambagte te beoefen en om die kolonies effektief te bestuur, is gesien as 'n sinvolle benadering. Dit was

ook die benadering van die Britse regering ten opsigte van die Kaap (Gann & Duignan 1971: 210).

Britse goewerneurs soos Caledon en Cradock het hulle al beywer vir die werwing van Britse immigrante vir die Kaap. Die einde van die Napoleontiese oorloë het 'n ekonomiese afswaai en werkloosheid in Europa tot gevolg gehad en in 1820 was die omstandighede in Brittanje gunstig vir die werwing van emigrante. Aan die Kaap was 'n groot tekort aan ambagsmanne en 200 Skotse ambagsmannne is in 1817 daarheen gebring. Deels as gevolg van die sukses daarvan, is 'n staatsgesubsidieerde emigrasieskema begin. Teen die middel van 1820 was daar reeds sowat 4 000 Britte aan die Oosgrens gevestig (Van Aswegen 1989: 182).

Na hul aankoms op die Oosgrens moes die setlaars onder uiters moeilike omstandighede oorleef. Die reëlings vir hul vervoer en aanvanklike verblyf was swak gedoen. Onrealistiese verwagtings is in Brittanje by hulle geskep en die werklikheid het verskil van die rooskleurige prentjie wat in Brittanje aan hulle voorgehou is. Groot menslike lyding en ontwrigting was die gevolg. Boonop was hulle yl verspreid, met groot afstande tussen-in. Hulle was nie veilig nie en by verskillende geleenthede is hulle tydens strooptogte van feitlik al hul besittings beroof. Groot getalle is vermoor. Hockly skryf in dié verband:

Apart from the heavy material losses sustained, it is worth noting that in the third of a century following their arrival in Delagoa Bay, no less than one in every twenty of the original male settlers, as well as several women and children, lost their lives in these recurring wars and intervening raids and forays [.] thus amply fulfilling the real object (to them undisclosed) of the White settlement scheme, viz. the defence of the Cape's eastern frontier.(Hockly 1970: 522).

Die Britse setlaars het vaardighede op die gebied van handel en nywerheid, en vooruitgang, saam met nuwe kulturele aspekte en benaderings, na die reeds komplekse samelewing van Suid-Afrika gebring. Dit het bygedra tot 'n nuwe werketiek, deursettingsvermoë en 'n selfstandige lewensbenadering. Omdat hulle die spit moes afbyt van rooftogte en moorde, sê Davenport, was hulle nie baie verdraagsaam oor rassegrense heen nie, soos wat gewoonlik die geval is by inwoners van grensgebiede waar konflikte voorkom (1977: 31).

Na baie moeilike aanvangsjare het Oos-Kaapse landbouers veral op die gebied van die wolbedryf 'n sukses gemaak. In the boom years of the 1850's Port Elizabeth rose to a position of great prominence in the economy of the Cape colony (Mabin & Conradie 1987: v). Afswaaie en normale ekonomiese konjunkture sou natuurlik volg.

Duitse setlaars

Duitse immigrante het 'n moontlik onderskatte rol gespeel in die ontwikkeling en vorming van Suid-Afrika. Hulle het in verskillende groepe en tye na Suid-Afrika gekom en 'n groot aantal het hulle in Natal, op die Oosgrens en in die Wes-Kaap gevestig (Rabe 2012: 74; Trümpelmann 1972: 186). Die vestiging van 'n groep soldate onder aanvoering van majoor-generaal baron Richard von Stutterheim in 1857 was nie 'n sukses nie, maar in 1858 het 'n groep van 2 700 op ses skepe vanaf Hamburg in Duitsland in die Oos-Kaap aangekom. In 1859 het 'n groep van 27 wynboere van Duitsland na die Kaap geïmmigreer en 'n groep van 326 families en 180 enkelinge het dienskontrakte op plase in die Wes-Kaap uitgedien voor hulle as onafhanklike setlaars aangebly het. Rondom 1877 het nog 67 families en 263 enkelinge vanaf Duitsland hulle in die Oos-Kaap gevestig en het verdere immigrante van alle dele van Duitsland en van Duitse nedersettings op die Volgarivier in Rusland na Suid-Afrika gekom (Trümpelmann 1972: 185). Na baie swaarkry het hulle hul voete gevind. Die Kaapse regering was só tevrede met die vroeë Duitse immigrante se werkverrigting en bydrae tot vooruitgang dat die parlement in 1876 besluit het om 'n immigrasieskema vanuit noordwes-Europa van stapel te stuur. Daar was 'n gereelde toevloei van Duitse immigrante in die jare daarna. In 1878 het 20 Duitse families plase in die Hexriviervallei, langs die Jan du Toitrivier en die Breederivier gekoop.

Voor die einde van die 19de eeu het 95 families en 91 individuele Duitse immigrante ook 'n gemeenskap by die hedendaagse Phillipi naby Kaapstad begin. Die omstandighede vir landbou was ongunstig maar John X Merriman van die Kaapse regering het, nadat hy die suksesvolle Duitse boerdery in die Oos-Kaap gesien het, na bewering gesê: If German settlers could change a stone desert into a paradise [.] why not also a sand desert? (Blumer, soos aangehaal deur Rabe 2012: 76).

By Bethanien in Natal het 80 Duitse mans, vroue en kinders ook aan die einde van die 19de eeu 'n suksesvolle gemeenskap gevestig (Trümpelmann 1972: 185).

Die werketiek wat die Duitse setlaars na Suid-Afrika gebring het, was van groot waarde en het bygedra tot die ontwikkeling van dié wêrelddeel as 'n dinamo van Afrika. Trümpelmann maak met reg die stelling dat dié Duitse nedersettings: ... became examples of German diligence and endurance (1972: 185).

Beide die Britse en Duitse setlaars se handel, sendingaktiwiteite en indiensneming van Xhosas het bygedra tot die verslapping van tradisionele leiers se beheer oor lede van stamme (Davenport 1977: 31). Op ander gebiede het hulle onder meer 'n groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die Oos-Kaap en die vestiging van die wolbedryf in die streek. Nasionaal het die Britse setlaars 'n belangrike rol gespeel in die vestiging van persvryheid (Hockly 1970: 524).

2.2.3.5 Die Groot Trek, die opkoms van die Boererepublieke en die anneksasie van