• No results found

Die Groot Trek, die opkoms van die Boererepublieke en die anneksasie van Transvaal

DIE GEOFISIESE EN GESKIEDKUNDIG-POLITIEKE KONTEKS WAARBINNE STANDARD BANK ONTSTAAN HET

2.2 Geskiedkundige kontekstualisering binne konteks van plek en tyd 1 Die globale konteks teen die middel van die 19de eeu

2.2.3 Suider-Afrika teen die middel van die 19de eeu

2.2.3.5 Die Groot Trek, die opkoms van die Boererepublieke en die anneksasie van Transvaal

Die Groot Trek het van die middel na die einde van die 1830's plaasgevind. Venter verklaar dat die oorsake vir die Groot Trek in twee kategorieë verdeel kan word: die stoflike (materiële) en die geestelike oorsake (1985: 16). Ook Müller bevestig dat nie-tasbare faktore bygedra het tot die Groot Trek. Hy skryf: [.] the grievances of the Afrikaner frontier farmer were not confined to material matters . (1981: 153). Dit is al beskryf as 'n [.] resistance movement against British colonialism and oppression (Du Bruyn in Cameron 1987: 127). Visagie beskryf dit as 'n reaksie op 'n situasie wat vir die boere ondraaglik geword het (in Pretorius (red) 2012: 117).

Die beperking van buskruit en verliese as gevolg van strooptogte was van die redes. Hoewel daar getuienis is dat die boere nie die vrystelling van slawe as sodanig teengestaan het nie, het die verliese as gevolg van die hantering van die vergoedingsaspek, en die feit dat hulle aan uitbuiting deur Britse spekulante oorgelewer is, bygedra tot 'n verlies aan vertroue in die Britse owerhede (Venter 1985: 18).

Nie-materiële faktore het hoofsaaklik verband gehou met bewoning-onsekerheid van plase weens probleme met grondregistrasie, ekonomiese onsekerheid en teenstand teen die Britse goewerneur aan die Kaap (vanaf 1834), Sir Benjamn D'Urban se plan om grensboere vir militêre diens in te span (Venter 1985: 18). Scholtz lê ook klem op hul ontevredenheid oor die regering, wat hulle as ontoeganklik en nie as vaderlik in optrede beskou het nie en wat na hul mening nie 'n Bybelse verskil tussen Christene en nie-Christene gemaak het nie (Scholtz 1970: 290). Die Groot Trek, wat gepaard gegaan het met grootskaalse ontbering, lyding en lewensverlies, het die binneland van Suidelike Afrika oopgestel, wat dit makliker gemaak het vir handelaars om hul aktiwiteite uit te brei. Dit het boerderybedrywighede en markte uitgebrei, wat onder meer tot gevolg gehad het dat meer in- en uitvoere deur koloniale hawens gegaan en meer inkomste aan doeanegelde gegenereer is. Die ontdekking van Suid-Afrka se mineraalrykdom en die lê van 'n fondament vir toekomstige ekonomiese ontwikkeling word ook deels aan die Groot Trek toegeskryf (Muller 1981: 181; Van Aswegen 1989: 274; Venter 1985: 68).

Die Groot Trek het uiteindelik gelei tot die stigting van verskeie Boererepublieke en nuwe gebiede van konflik tussen Brittanje en die grootstes van die republieke, wat tot ongekende fisiese en metafisiese verliese sou lei (Visagie in Pretorius (red) 2012: 149).

Van die verreikende metafisiese resultate van die Groot Trek, die Boererepublieke en alles wat daarmee saamgegaan het, was, volgens Visagie die . gevoel van samehorigheid en identiteit van die Afrikaners wat daaruit voortgevloei het (Visagie in Pretorius (red) 2012: 149).

'n Verdere gebeurtenis wat onmin tussen Britse en Afrikaanse persone geskep het, was die anneksasie van Transvaal in 1877. In Maart 1877 het die bank se algemene bestuurder aan Londen geskryf dat die Transvaal waarskynlik binnekort onder Britse gesag sou wees en het Pretoria, Potchefstroom en Lydenburg aangedui as plekke waar banktakke geopen moet word (SB GMO 3/16/ Letters to London 16/3/1877). Vyf weke later het die algemene bestuurder verslag gedoen dat mnr Rees Williams van die Bank na Kimberley gestuur is om binne bereik van die Transvaal te wag. Hy skryf:

[.] we have deemed it advisable to request him to hold himself in readiness to proceed to the Transvaal as soon as the reported annexation of the country is satisfactorily confirmed. As we feel that the extension of the Bank's operations to the Transvaal will prove a very desirable movement, we are anxious to secure the important advantage of being first in the field (SB GMO 3/1/7 Letters to London 20/4/1877).

Theophilus Shepstone, spesiale kommissaris van die Britse regering en annekseerder van Transvaal, het aangevoer dat die Transvaal se oorlog teen Sekhukhune die anneksasie van Transvaal deur Brittanje genoodsaak het. Sekhukhune het egter voor die anneksasie gevra vir vrede en die Transvaalse Volksraad het dit aanvaar, wat Shepstone se rede vir anneksasie laat verval het (Muller (red) 1981: 268). Ondanks die feit dat 'n groot Boerekommando op 6 Februarie 1877 in Pretoria aangekom het om hul teenstand teen anneksasie te demonstreer, en die Transvaalse vlag voor 'n skare van omtrent 300 mense gehys het, en ondanks heftige besware deur die Transvaalse president (Appelgryn 1979: 194 - 195), het Shepstone voorgegee dat die meerderheid van Transvalers anneksasie verkies en het hy die Transvaal op 12 Februarie 1877 as Britse gebied geannekseer (Muller (red) 1981: 268).

Appelgryn skryf dat Shepstone se anneksasie van Transvaal strydig met die bepalings van die Sandrivierkonvensie was maar dat Shepstone dit gerieflikheidshalwe oor die hoof gesien het (1979: 195). Verwysende na lord Carnarvon, die Britse Premier, skryf Krüger:

In defiance of a solemn treaty [.] he had the republic annexed in 1877. It was a fateful decision and it marked a turning point in the history of South Africa for it started a chain of events which to this day have largely influenced the destinies of the people (1969: 13). Lord WE Gladstone, toonaangewende Liberale Party leier en viermalige eerste minister van Brittanje, het die anneksasie beskryf as unjust and immoral (Krüger 1969: 14). Bewyse van die mishandeling van swart mense deur Transvalers, 'n algemene bewering en een van die redes voorgehou vir anneksasie, kon na die oorname nie gevind word nie. Selfs nadat die Anti-slavery society aangebied het om te betaal vir sulke inligting, het niemand met sulke getuienis na vore gekom nie (Lehmann 1972: 46).

Die anneksasie van Transvaal onder skynbare valse voorwendsels, die ignoreer van vreedsame verset daarteen en die verkleinerende behandeling van vredesdeputasies na Londen het sterk gevoelens van wantroue en afkeer van die Britte by die Transvalers en ander Afrikaners tuisgebring en het bygedra tot die oorlog van 1880/1881 tussen Transvaal en Brittanje.

Die oorwinning van die Transvaal in daardie oorlog het gevoelens van vergelding by Brittanje veroorsaak, wat saam met ander gebeure en invloede gelei het tot 'n meer vernietigende tweede oorlog tussen 1899 en 1902. Die geweldige tol van die tweede oorlog het by die Afrikaners 'n voorneme geskep om hulle nooit weer deur ander groepe te laat oorheers nie. Dit het 'n uitwerking op die verhouding tussen swart en wit Suid-Afrikaners gehad (Giliomee 2003: 275).

Die verdeling van bevolkingsgroepe in Suid-Afrika is beide etnies en kultureel. Op kulturele gebied was 'n groot deel van die verskille, wantroue en wedywering tussen groepe gedurende die tydperk wat bestudeer is op metafisiese kulturele aspekte gegrond.