• No results found

Oor die jare is vyf boeke oor Standard Bank in Suid-Afrika gepubliseer.

Chronologies is die eerste boek dié van GT Amphlett. Dit is in 1913 gepubliseer ter herdenking van die bank se 50ste bestaanjaar en die volle titel daarvan is History of the Standard Bank of South Africa Ltd 1862 - 1912. Die boek is 'n beskrywende geskiedenis van die bank, met heelwat klem op verklarings van direkteure en oor die groei van die bank. Dit handel ook oor reserwes gehou, ekonomiese konjunkture en die ontdekking van diamante en goud. Amphlett gee 'n oorsig van vordering met die bou van spoorweë en algemene ontwikkeling van die land. Enkele feitefoute kom voor. Die boek het ten doel om die groei en belang van die skrywer se werkgewer te dokumenteer en is daarom nie volkome objektief nie. As geheel het hierdie bron egter 'n bydrae gelewer tot begrip van die vestiging en ontwikkeling van Standard Bank vanaf 1862 tot 1912.

Vir gebruik in sy boek het Amphlett afgetrede bankamptenare gevra om hul herinneringe op skrif te stel en aan hom te voorsien. Verskeie het positief gereageer. Amphlett was nie gesond nie en het gesterf voor die boek gepubliseer is. Hoewel dit tog gepubliseer is, is die herinneringe nie in die boek opgeneem nie. Met die herdenking van Standard Bank se 100- jarige bestaan in 1962 is 'n verdere gedenkboek gepubliseer. Die binneblad van die boek bevat die verklaring:

Die eerste honderd jaar van die Standard Bank, gegrond op ongepubliseerde materiaal, gekeur, saamgestel en aangebied deur HA Henry en geredigeer deur HA Siepman, 'n voormalige direkteur van die Bank van Engeland. Afrikaanse weergawe deur GA Watermeyer (1963 : binneblad).

(Die verklaring is nie korrek nie, aangesien daar in die boek verwysings is na die gepubliseerde werke van Amphlett en ander. Daar word ook redelik baie gebruik gemaak van gepubliseerde koerantberigte.)

Henry se werk gee 'n chronologiese verloop van die bank se geskiedenis, soos vanuit die bank se oogpunt benader, met insluiting van die eerste 50 jaar waaroor Amphlett geskryf het. Die

bank het bedrywighede gedurende daardie 50 jaar in Afrika uitgebrei en Henry gee baie aandag daaraan, met beskrywings van mense, behuising en kleredrag in lande soos Uganda en ander Afrikalande. Die fokus van die bron is hoofsaaklik op finansiële aspekte, waaronder die dispuut oor die oprigting van 'n reserwebank in Suid-Afrika, tegniese aspekte in verband met geld by uniewording, die goudstandaardkrisis van 1931 - 1932, valutaregulering, die raad wat die bank aan regerings en finansiële owerhede gegee het, oorgrens-betalings, lae rentekoerse vir regeringslenings, die moontlikheid van 'n staatsbank en ander tegniese aspekte wat nie vir die studie as van sentrale belang geag is nie. Hierdie bron is nie geskep om objektief te wees nie en die nut daarvan was redelik beperk.

'n Derde boek oor Standard Bank is in 1979 gepubliseer. Die titel van die Afrikaanse weergawe is 'n Baanbrekerbank in 'n baanbrekerland. Dit is saamgestel deur Carolyn Terry.

Die herinneringe wat Amphlett bykans sewentig jaar vantevore van voormalige bankamptenare aangevra het, het behoue gebly en Terry het dit benut in haar boek.

As inleiding tot die boek skryf sy:

Hierdie boek gee [.] nie voor om 'n geskiedenis van die Standard Bank te wees nie. Die werke van GT Amhplett en JA Henry het die chronologiese ontwikkeling van Standard Bank van 1862 tot 1962 pragtig te boek gestel. Hierdie publikasie poog om die humoristiese sy van Standard Bank, die personeel en die kliënte weer te gee [.] (1979: Voorwoord, gp).

Hierdie herinneringe en vertellings gee 'n insig in die leef- en werkervarings van bankbeamptes van 1862 tot vroeg in die 21ste eeu. As bron het dit feite en datums verskaf wat van feitelike belang was. As geheel gee dit 'n indruk van die etiek, etiket, spangees en korporatiewe kultuur van die tydperk waaroor die studie handel.

'n Vierde boek oor Standard Bank is in 1987 gepubliseer met die titel The confidence of the whole country. Standard Bank reports on economic conditions in Southen Africa, 1865 - 1902. Die boek is uit Standard Bank se argivale bronne saamgetel deur A Mabin en B Conradie. Dit is 'n indrukwekkende werk, in geheel gebaseer op primêre dokumente en by uitstek geskik vir die studie van ekonomiese geskiedenis. Beide die tydperk waaroor die boek handel en die klem op ekonomiese op- en afswaaie het die direkte waarde daarvan vir hierdie studie aan bande gelê. Tydens die 150-jarige bestaan van Standard Bank in 2012 is 'n vyfde boek oor die bank gepubliseer. Die titel daarvan is Hoisting the Standard en die samestellers daarvan was R Steyn en F Antonie. Die boek verwys samevattend na dieselfde geskiedenis as dié van Amphlett en Henry en gaan in veel groter besonderhede in op die oorname van Standard Bank

deur 'n Chinese groep, besigheid in Afrika, filantropiese optredes en hedendaagse temas. Dit was van veel minder nut as die voorafgaande boeke oor die bank.

Die bank het 'n interne nuusblad, bekend as Bits and Bytes, wat op ongereelde grondslag elektronies aan bankpersoneel gestuur word. Dit word deur die bank se Erfenissentrum saamgestel en die inhoud daarvan is meestal geskiedkundige brokkies uit die argief. Hierdie elektroniese nuusbrief gee van die komiese en ander gebeure in die lang geskiedenis van die bank weer. Die nut daarvan as bron het tot 'n groot mate gelê in die feit dat aspekte van die bank se bestuur wat nou as ongelooflik of selfs lagwekkend aanvaar word en daarom in die nuusbrief ingesluit word, eens op 'n tyd die amptelike beleid van die bank was. Dit bevestig die veranderlikheid van die mens en sy kultuur.

Dit word beklemtoon dat hierdie studie nie 'n chronologiese beskrywing van Standard Bank se geskiedenis is nie. Hoewel die studie en die bostaande bronne breedweg oor dieselfde onderwerp handel, is daar geen ooreenkoms tussen die invalshoeke van die studie en die verskillende bronne nie.