• No results found

Die literatuurstudie is gelei deur die probleemstelling en die doelwitte van die studie, wat handel oor die kultuurhistoriese kontekstualisering van kultuurkomponente binne 'n bepaalde instelling (Standard Bank) in 'n begrensde tydperk.

Daar is min elektroniese bronne gevind wat as gesaghebbend en akkuraat beoordeel is en in die studie is op baie beperkte skaal van sulke bronne gebruik gemaak.

Om die metodiek van die studie te bepaal, is bronne oor kultuur en kultuurgeskiedenis geraadpleeg. Beskrywings van kultuur kon teruggevors word tot dié van Cicero (100 VGE), en Tylor (1871).

'n Wye spektrum van meer moderne sienings oor kultuur en kultuurgeskiedenis bestaan en uiteenlopende werke is geraadpleeg, met insluiting van dié van Romein (1893 - 1962, soos

weergegee en geanaliseer deur Noordenbos en Becker, 1953), wat sterk beïnvloed is deur Karl Marx en die sosialisme, tot dié van Hugo en Coertse, wat teenoorgestelde sienings gehandhaaf het. Romein se sienings is rasioneel maar ideologies gekleur. Hy het groot waarde aan die tydsgees geheg, wat as buite-mag op die mens inwerk, en het die siening gehandhaaf dat kultuurgeskiedenis vele aspekte insluit maar dat dit nie die taak van die vakdissipline is om die aspekte as sodanig te bestudeer nie, alleen die verbande tussen hulle (Romein 1963: 119). Hugo (1984: 13 - 15) weerlê nie hierdie siening van Romein nie en verklaar dat die omgewing beslis 'n uitwerking op die mens, sy kultuur en sy kultuurskeppinge het (1984: 13). Teenoor Romein en Hugo se aannames, staan dié van PW Grobbelaar en Burden. Grobbelaar beskryf kultuur as die somtotaal van die mens se skeppings, in sy samelewing met medemense. Kultuurgeskiedenis, verklaar hy, is 'n studie van al hierdie skeppings en aspekte daarvan, teen 'n geskiedkundige agtergrond (1974: 11). Burden vestig die aandag daarop dat die lê van verbande kennis van die kultuurprodukte of -komponente en hul skeppingsprosse verg om sinvol te wees (2000: 19).

Gegrond op genoemde en ander geraadpleegde bronne, gaan hierdie studie van die standpunt soos aangedui deur Grobbelaar en Burden, dat die menslike skeppingsproses ten opsigte van kultuurprodukte, vanaf die vroegste geestelike konseptualisering daarvan, deel moet uitmaak van die holistiese benadering tot en sinvolle kontekstualisering van kultuurgeskiedenis. Vier verdere bronne wat ernstige besinning geverg het, is dié van Galla (2002), Green (2008), Kaplan & Manners (1972) en White (1971). Galla verduidelik sy uitgangspunt, dat kultuur bestaan uit artefakte, sosiofakte en mentifakte goed, maar sy teoretiese beskrywing is beoordeel as onvolledig en onakkuraat. Daar is etlike aannames wat nie akkuraat is nie, soos in paragraaf 1.2.2 hierbo bespreek.

Green se boek Cultural history (2008) is beoordeel as 'n goeie bron wat psigo-analities van aard is, maar is by deeglike ontleding as té gespesialiseerd bevind om binne die studieveld van hierdie studie van kernbelang te wees. Kaplan en Manners het daarop gewys dat wetenskap nie gereduseer kan word tot 'n lys van onderwerpe in 'n universiteitskatalogus nie maar oor 'n verskeidenheid van dissiplines strek (1972: 32 - 33). Hulle het die belang van interdissiplinêre denke help tuisbring, wat 'n verbreding van benadering in die studie bevorder het.

White se boek The science of culture, a study of man and civilization, (1971) is antropologies van uitgangspunt en wend kennis en inligting van 'n wye verskeidenheid persone, groepe en vakgebiede aan in die aanbieding en in haar bevraagtekening van aanvaarde norme en waardes ten opsigte van wetenskap. Sy maak onder meer die stelling: Today we are beginning to realize and to appreciate the fact that the symbol is the basic unit of all human behaviour and civilization (1971: 22).

Volgens White moet alle simbole 'n fisiese dimensie hê om die mens se waarnemingsveld te kan binnedring maar die metafisiese betekenis daarvan word deur die gebruikers daarvan aan die fisiese voorwerp/artefak gegee. Die betekenisgewing vind binne die konteks van 'n bepaalde kultuur plaas. As gevolg van kultuurverskille kan lede van een kultuurgroep geen waarde aan 'n voorwerp heg waaraan 'n ander wel waarde heg nie. Sy verwys na die Christelike houtkruis, wat tydens koloniale tye geen betekenis in gemeenskappe met ander religieuse praktyke as die Christendom gehad het nie (1971: 26).

Die beoordeling van geboue is op soortgelyke wyse aan kulturele maatstawwe en invloede onderhewig. Die studie probeer nie bepaal wat die verskillende maatstawwe was waaraan die beoordeling van bankgeboue in Suid-Afrika gedurende die tyderk van studie onderhewig was nie maar trag om aan te dui, aan die hand van White en ander bronne, dat nie-tasbare, kultuurverwante maatstawwe gedurende die tydperk waaroor die studie handel, bestaan het. Ook menslike gedrag en optrede, dui White aan, verskil van een kultuurgroep na 'n ander. Sy verwys na die gewoonte in sommige kulture om 'n hoofbedekking af te haal, as respekbetoning. Sy kon ook verwys het na die teenoorgestelde: die bedekking van die hoof, as respekbetoning. Hier vind White se boek aansluiting by 'n massa inligting oor tussen-menslike optredes, van boeke wat kinestiek (die studie van die aard van beweging in interpersoonlike optrede - soos waardige, aggresiewe, minagtende bewegings), proksemiek (die studie van afstande tussen persone in interpersoonlike kommunikasie, waarby privaatheid ook ter sprake kom), tot handleidings oor openbare redevoering, televisie-optredes, etiket- en bemarkingshandleidings, 'n baie groot deel van die openbare skakelbedryf en selfs, op meer multi-kulturele vlak, diplomasiehandleidings. Dit is ook van toepassing op die delikate maar uiters belangrike verhouding tussen die bank en sy kliënte-basis en die verbandhoudende vertroue waarop die bankwese gebou is.

White se sienings oor die verband tussen fisiese en metafiese dimensies van kultuur en kultuur se rol in die toekening van metafisiese betekenis, vind aansluiting by die benadering van hierdie studie.

1.4.2 Bronne oor die politiek-historiese en geofisiese situasie by die koms van Standard