• No results found

Bronne oor die politiek-historiese en geofisiese situasie by die koms van Standard Bank na Suid-Afrika in

Standard Bank het as instelling binne 'n bepaalde omgewing tot stand gekom. Dit is uiteraard nie binne die bestek of vermoë van hierdie studie om die politiek-historiese en geofisiese situasie in Suidelike Afrika tydens die ontstaan van Standard Bank ten opsigte van alle aspekte te kontekstualiseer nie. Die omgewing waarbinne die bank tot stand gekom en bestaan het en

waarmee die bank in 'n wederkerige verhouding gestaan het, is egter van fundamentele belang vir die studie en kan nouliks te volledig as agterdoek weergegee word.

Geskiedskrywing bestaan nie net uit die akkurate neerpen van feite nie. Barnes beskryf die noukeurige en objektiewe vertolking van die geskiedkundige feite as die werklike aanwending van die wetenskaplike metode in geskiedenis. Maar, vervolg hy, [.] the prevailing types of historical interpretation through the ages have faithfully reflected the dominating intellectual interests of the successive eras (1963: 355, 356).

In die komplekse samelewing van Suidelike Afrika was daar in die 19de eeu reeds meer as een denkrigting oor geskiedskrywing en daar was belangegroepe (intellectual interests), wat hul sienings wou laat geld. Daar was onder meer die sogenaamde Vaderlandsgskiedskrywers, die imperialistiese en die liberale skrywers. Van Jaarsveld neem die Groot Trek as voorbeeld om aan te dui hoe een gebeurtenis verskillend beskryf en vertolk kan word (1974: 4). Oor Suid- Afrikaanse geskiedskrywing maak Johnson die stelling: [.] there has been enormous pressure for even the best historians to bow to all manner of sacred cows [.] (2004: vii). Maar selfs toe Afrikanernasionalisme as die middelpunt van geskiedenis aangebied is, het liberale geskiedskrywers voortgegaan om bronne met 'n ander benadering te produseer. Hy verwys onder meer na skrywers soos De Kiewiet, Eric Walker, Leonard Thompson en Donald Morris (2004: viii).

In die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing, bevestig Fransjohan Pretorius, is daar op die huidige tydstip bronne wat neig om na een kant of die ander kant oor te hel. Hy skryf:

[.] waar die skaal in die apartheidsjare te veel na 'n Afrikaner- of witsentriese benadering tot die verlede oorgeleun het, die pendulum nou weer te veel na die ander kant geswaai het, met 'n groot fokus op die strugglegeskiedenis (2012: 9).

Die meeste bronne oor Suid-Afrikaanse geskiedenis het in die verlede die middel van die 17de eeu, toe 'n Nederlandse verversingspos aan die Kaap gestig is, geneem as aanvangspunt van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Een van die vroeë afwykings van hierdie benadering was 'n historiese novelle van monumentale omvang getitel The Covenant, geskryf deur die globaal bekende skrywer James A Michener, en gepubliseer in 1980. Op akademiese vlak is hierdie benadering in Suid-Afrika uitgedaag deur 'n nuwe benadering wat in die dekades voor en ná die eeuwending van die 20ste na die 21ste eeu na vore getree het. Die vroegste voorbeeld was A history of South Africa to 1870 wat in 1969 onder redaksie van Monica Wilson en Leonard Thompson saamgestel is. (Die inleidende deel daarvan, oor die argeologiese geskiedenis, is om onbekende redes uit die 1982-weergawe deur die drukker David Philip in Kaapstad uitgelaat.)

In 1987 is Illustrated history of South Africa, met Trewhella Cameron as redakteur en SB Spies as raadgewende redakteur gepubliseer. Die nuwe benadering is onder meer weerspieël deur die feit dat die inleidende hoofstukke van hierdie boek geskryf is deur professor PV Tobias, toe hoof van die departement van Anatomie, later die Skool van Anatomiese Wetenskappe, aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. Daarin is die prekoloniale geskiedenis van Suid-Afrika ook uiteengesit. Tobias se hoofstukke in daardie bron is op sigself van beperkte belang vir hierdie studie maar dui op 'n nuwe benadering om die geskiedenis van die subkontinent meer gebalanseerd te benader en ook die prekoloniale tydperk in te sluit by beskrywings daarvan.

In 1988 het Reader's Digest 'n Illustrated history of South Africa gepubliseer. Ook daarin is die prekoloniale geskiedenis van Suid-Afrika ingesluit. Johnson se South Africa. The first man, the last nation van 2004 het ook in die prekoloniale era begin en het in omvang en benadering gebreek met 'n meer witsentriese analisering. Die Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika (2007) deur Giliomee en Mbenga het 'n belangrike bydrae gelewer tot hierdie nuwe benadering.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 2006 'n begin gemaak met die saamstel van 'n bron oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat as oogmerk gehad het om 'n objektiewe en neutrale benadering tot die geskiedenis weer te gee, ter wille van versoening en wedersydse begrip (Pretorius (red) 2012: 10). Die resultaat is in 2012 gepubliseer as Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag onder redakteurskap van F Pretorius. Die boek begin met die geskiedenis van Suid-Afrika voor die vestiging van Europeërs aan die suidpunt van die kontinent. By die afwesigheid van geskrewe rekords het die argeologie as wetenskap sedertdien 'n nuwe dimensie aangeneem.

Verwysings hierbo na bronne wat ook prekoloniale geskiedenis insluit, beteken nie dat daardie insluiting op sigself die belangrikste maatstaf in die seleksie van bronne was nie. Die insluiting van sulke bronne het egter in alle gevalle gepaard gegaan met inligting wat 'n wyer, minder eensydige benadering nagestreef het.

Onder die ouer bronne wat nie die nuwe benadering toon nie, is daar sommiges wat steeds onontbeerlike en relevante inligting bevat oor vroeë gebeure. Dit sluit bronne in soos dié deur Böeseken (1977), Davenport (1977), Godée-Molsbergen (1968), Krüger (1969) Muller (1969, 1981, 1990) en Van der Merwe (1975).

In 'n verdere stap ter wille van objektiwiteit en balans is bronne met 'n meer buitelandse invalshoek geraadpleeg. Hierdie bronne het Duitse boeke, waaronder Grütter & Van Zyl (1982), Kröll (1973), Noordenbos en Becker (1953), Oliver & Atmore (1969) en Van Berg (1986) ingesluit. Ook Franse geskiedskrywers soos Lacour-Gayet (1977) en Pirenne (1958) en

Nederlandse bronne is geraadpleeg. Laasgenoemde kategorie het Jelačić & Müller-Bosshard (1982) ingesluit. 'n Groot deel van die geraadpleegde bronne was deur Britse en Amerikaanse skrywers.

Bronne van die afgelope veertig jaar het voorkeur geniet maar ter wille van perspektief is ook bronne vanaf die einde van die 19de tot vroeg in die 21ste eeu geraadpleeg. Van die bronne, soos biografiese werke, waaronder dié van Ramphele (1996), Steyn (2004, oor ME Rothmann) het die voordeel van groter eietydse aktualiteit ingehou, spesifiek ten opsigte van intergroepverhoudings wat 'n invloed op vertroue in Standard Bank en op Imperiale banke as Britse instellings gehad het.

Primêre dokumente in die bank se argief bevat baie min verwysings na gebeure voor 1862. Waar dit wel aangetref is, was dit meestal beperkte, selfs terloopse, verwysings.

By die raadpleging van bronne is bostaande faktore in ag geneem en daar is sorg gedra om hierdie verskillende benaderings en vertolkings te balanseer, met voorkeur aan inklusiwiteit. Kritiek word nie uitgespreek teen een of die ander benadering nie. 'n Groot aantal uiteenlopende bronne is geraadpleeg in die poging om 'n objektiewe weergawe daar te stel, soos in die bronnelys weergegee. Aangesien die studie kultuurhistories en nie ekonomies van aard is nie, is gedissiplineerd weggestuur van ekonomiese geskiedenis en historiografieë van die bankwese. Die studie is gegrond op die benadering dat ook oor ander, soos kultuurhistoriese, aspekte van banke as organisasies geskryf kan word en nie net oor geldsake nie.

1.4.3 Bronne oor kultuurkomponente van die bank