• No results found

Die opkoms van Shaka en die Zulus, die Difaqane en die oorwinning van Britse imperialisme oor die Zulus

DIE GEOFISIESE EN GESKIEDKUNDIG-POLITIEKE KONTEKS WAARBINNE STANDARD BANK ONTSTAAN HET

2.2 Geskiedkundige kontekstualisering binne konteks van plek en tyd 1 Die globale konteks teen die middel van die 19de eeu

2.2.3 Suider-Afrika teen die middel van die 19de eeu

2.2.3.3 Die opkoms van Shaka en die Zulus, die Difaqane en die oorwinning van Britse imperialisme oor die Zulus

Aan die einde van die 18de eeu is Shaka Zulu in Natal gebore. Hy sou binne 'n relatief kort tyd die heerser oor alle clans tussen die Drakensberge en die see word (Morris 1965: 53). Verskeie clans, ook buite Natal, is in die proses totaal uitgewis. Ander is ontheem en hulle het op hulle beurt weer ander groepe aangeval en voor hulle uitgedryf. Oliver & Atmore beskryf dit so:

[.] the Sotho-Tswana peoples of the High Veld clashed upon one another like an avalanche of stones rolling down a hillside. Thousands of displaced people wandered over the Veld or sought refuge in the mountains. (1969: 56).

Morris bevestig: [.] the chain reaction that had now been initiated had a profound effect on the history of southern Africa (1965: 55). Monica Wilson skryf oor die gevolge daarvan:

Old settlements were abandoned, ancient chiefdoms disappeared; new groups came into being and in turn dissolved; and, as food became scarce, demoralization set in and there was widespread cannibalism (1982: 391).

Grootskaalse transformasie en die dood van derduisende mense het plaasgevind in die tydperk, wat as die Difaqane of Mfecane bekend geword het (Visagie in Pretorius (red) 2012: 109; Edgecombe in Cameron 1987: 115, 121). Oor die volle omvang van hierdie gebeure op nie- materiële kultuur, kan net bespiegel word.

Op politieke gebied is die sosiale struktuur en weerbaarheid van inheemse stamme só ontwrig, skryf Eric Walker, dat 'n paar deurslaggewende veldslae die Trekkers in beheer geplaas het van 'n oop gebied waarvan die meeste inwoners óf gedood is óf ontheem is deur die Mfecane (Walker, in McEwan 1986: 409)

Sir Bartle Frere, wat in 1877 goewerneur aan die Kaap geword het, het soos Theophilus Shepstone geglo dat potensiële magsbasisse wat teen Britse gebiede gebruik kan word uitgewis moes word. During 1878, skryf James, Frere and Shepstone conspired to engineer a war with the Zulu king Cethswayo, ignoring the fact that he showed no hostility towards his southern neighbour, Natal (1996: 257). Hierdie stellinginname word gesteun deur Davenport (1977: 130) en Muller (1981: 310). Grobler maak die stelling:

Met die vaste voorneme om die Zulumag te vernietig, het sir Bartle Frere, die Britse Hoë Kommissaris, aan die einde van 1878 'n onredelike ultimatum aan Cethswayo gestuur. Die Zulukoning kon nie aan die eise in die ultimatum toegee nie (in Pretorius (red) 2012: 158).

By die gevolglike Slag van Isandlwana op 22 Januarie 1879 het die sterkste militêre mag wat Swart Afrika ooit geken het, volgens Morris (1965: 387), die Britse magte, onder aanvoering van lord Chelmsford, verslaan. Volgens Hattersley het meer as 1 200 persone aan Britse kant en 'n onbekende aantal Zulus gesterf (1972: 153). Donald Morris verstrek meer gedetaileerde getalle, wat insig gee in die omvang van die slagting. Hy verduidelik:

There had been almost 1 800 men in the camp at Isandlwana at noon - 950 Europeans and 850 Natal . [Blacks] by late evening 55 of the Europeans were still alive, . Perhaps 300 Natal . [Blacks] still survived; 470 of their bodies were found in the camp and along the fugitive's trail. The rest had vanished, but scores must have been hunted out of the kraals and crannies and killed far from the field. Six full companies of the 2nd Warwickshire had died without a single survivor - the 24th Regiment had lost 21 officers and 581 men. The Royal Artillery had lost 68 men. The Natal Mounted Police counted 26 dead troopers, the Natal Carbineers 22, the Newcastle Mounted Rifles seven, and the Buffalo Border Guard had lost three men, half the strength it had left in the camp. Of the Europeans who had officered the native units, 84 were slain (1965: 387).

Toe die uitslag van die geveg aan Cethswayo oorgedra is, het hy gesê daar is nie genoeg trane om oor die gestorwenes te treur nie. Volgens Morris was die verliese aan Zulukant fearful en het Cethswayo gesê: An assegai has been thrust into the belly of the nation (1965: 387).

Standard Bank se algemene bestuurder het op 25 Januarie 1879 op somber toon aan Londen verslag gedoen oor die geveg. Hy het ook kommer uitgespreek dat die veldslag aan swart

mense nuwe moed sou gee en dat die oorlog moontlik daardeur verleng kan word. Hy was besorgd dat . it may [.] disturb the other native races, besides the Zulu, on and within the borders of Natal and this Colony (SB GMO 3/1/8).

Vroeg in Februarie 1879 het hy verslag gedoen dat geen verdere belangrike botsings voorgekom het nie en dat op versterkings gewag word (SB GMO 3/1/8 Letters to London 7/11/1879).

Gedryf deur 'n ambisie om sy persoonlike reputasie na Isandlwana te herwin, het lord Chelmsford voorberei vir verdere oorlog. Dit het hy gedoen terwyl hy geweet het sir Garnet Wolseley is op pad om hom van sy bevel te onthef en ondanks terughouding en vredesovertures van Cethswayo. Op 4 Julie 1879 is die Zulus by Ulundi verslaan. 'n Voortvlugtige Cethswayo is in Augustus van daardie jaar gevange geneem en vir drie jaar in Londen aangehou (Lacour-Gayet 1977: 148).

In Londen is die nuus van die oorwinning met groot vreugde ontvang (Walker 1947: 384). Standard Bank se algemene bestuurder het ook daaroor verslag gedoen (SB GMO 3/1/9 Letters to London 18 Julie 1879). Natal is gesien as oop vir die groter vestiging van Britse besighede, met insluiting van die bankwese.

Die mag en die ryk van die Zulus en hul kulturele hegemonie is verbreek. Hulle is fisies van hul tradisionele woonplekke verwyder en oor Natal versprei.