• No results found

DIE ARGITEKTUUR EN ARGITEKTUURSTYLE VAN STANDARD BANK SE BANKGEBOUE

5.3 Die Suid-Afrikaanse boukuns

5.4.1 Gotiek en Neo-Gotiek

5.4.1.2 Die tydsgees waarin die Neo-Gotiese boustyl ontstaan het

Soos reeds vroeër aangedui, word kultuur, waarvan argitektuur 'n manifestasie is, nie in 'n lugleegte geskep nie, maar ontstaan en bestaan as 'n kompleksiteit van sosiale, godsdienstige en ander aspekte en weerspieël die stand van 'n betrokke beskawing of gemeenskap op 'n bepaalde tyd, die sogenaamde tydsgees (Fletcher 1959: 244; Halsey (red) 1971: 241). Nie al die boustyle of kunsrigtings wat in die geskiedenis van die Westerse beskawing na vore getree het, was nuut nie. In die geskiedenis was daar tye wanneer argeologiese en ander ontdekkings gemaak is en tye waartydens mense terug gehunker het na vroeëre tye, wat as beter beskou is.

Argitektuur was dikwels die duidelikste simbool van die vroeëre tye en die styl van die vroeëre tyd het dan deur teruggryping 'n herlewing ondergaan. Omdat tyd verloop het tussen die twee tydperke en omdat die leefwyse, tegnieke en behoeftes van mense verander het, is 'n herlewing nooit volkome en presies soos die oorspronklike nie, maar elemente van die oorspronklike styl word normaalweg weer aangewend, soms met ander funksies vir sommige van die elemente. Die industriële revolusie het 'n nuwe tydsgees ingelui, wat die kulturele milieu geskep het vir die herlewing van die Gotiese boustyl (Glancey 2006: 397; Gutsche 1970: 30).

Oor die tydsgreep van die Gotiese Herlewingstyl bestaan daar verskil van mening (Glancey 2006: 271), maar daar word vry algemeen aanvaar dat dit in die 18de eeu in Brittanje begin het (Sutton 1999: 271) en dat die Anglikaanse Kerk een van die groot bevorderaars van dié styl was (Glancey 2006: 397).

Die industriële revolusie het tussen die tyd van die oorpronklike Gotiese styl en die herlewing daarvan plaasgevind en 'n revolusie in die boukuns meegebring. Tydens die industriële revolusie is groot voortuitgang gemaak met die skep en aanwending van nuwe boumateriale en die vooraf-vervaardiging van boukomponente. Ook nuwe boumetodes is ontwikkel, wat nie in die tyd van die Gotiese styl bestaan het nie. Die nuwe boumateriale het yster, staal en gewapende beton ingesluit, materiale wat dit moontlik gemaak het om sterk gewelwe te bou sonder om stutmure en lugboë te gebruik. Hierdie fundamentele strukturele aspekte van die Gotiese boustyl het hul oorspronklike funksies verloor. Neo-Gotiek is egter steeds gekenmerk deur die spitsboog, skerp torings en oordadige versierings, gepedimenteerde kloktorings, polichromie op mure, kanteelwerk, groot glasvensters, dun trasering (maaswerk), roosvensters en lobversierings (Glancey 2006: 398). Van hierdie komponente se funksies het egter verander van die strukturele na die dekoratiewe. Ook is vooraf-vervaardigde komponente aangewend in die Neo-Gotiese bouproses.

Soos vantevore in die geskiedenis van die wêreld het belangrike sosiale veranderinge ook by die opkoms en die wêreldwye verspreiding van die Gotiese Herlewingstyl 'n rol gespeel. Die groot en vinnige veranderinge wat die industriële revolusie veroorsaak het, het daartoe gelei dat kerkleiers en ander die veranderende wêreld ervaar het as sonder godsdienstige en morele waardes en haas sonder plek vir 'n God (Glancey 2006: 397). Nuwe behoeftes en praktyke het daartoe gelei dat ou geboue, plase en dorpies, landerye en velde in Brittanje omgedolwe en ou woude en strome beskadig of verwoes is vir die bou van spoorlyne en in die soektog na steenkool. Lugbesoedeling het ongekende vlakke bereik. Mense kon tussen plekke reis teen snelhede wat voorheen ondenkbaar was. Sowel die spoorweë as die mynbedryf het 'n nuwe klas mense geskep wat nie aan die ou morele en godsdienstige vereistes en gebruike voldoen het nie en wat hulle baie min aan die gesag van die kerk gesteur het. Die spoorwegbouers in

Brittanje is beskryf as: [.] a race apart, a ferocious breed of men, working like titans and living like animals [.] as muscularly superb as they were intellectually rugged (Gutsche 1970: 30). Hulle het in groot groepe saamgewoon en getrek en gewerk sonder enige ontsag vir die natuur, tradisionele godsdiens en ou tradisies en gebruike.

Op die hakke van die spoorwegbouers het die steenkoolmynwerkers dikwels gevolg en die sosiale orde verder versteur. Boonop was die kerk in Brittanje in die 18de eeu in 'n toestand van verval. Daar was in dié tyd 'n situasie van algemene bankrotskap in die kerk, beide moreel en doktrinêr (Gutsche 1970: 28). Onder die invloed van Augustus Welby Northmore Pugin, 'n man op soek na grondige, outentieke Christelikheid (Sutton 1999: 273), het daar 'n filosofiese herbesinning en 'n groot godsdienstige herlewing in die kerk in Brittanje gekom (Morse 1958: 3876; Gutsche 1970: 33). Hoewel ook ander geboue in die Gotiese Herlewingstyl gebou is, is die beweging vir 'n groot deel deur die kerk gedryf (Glancey 2006: 398).

'n Bydraende faktor tot die groei van die Neo-Gotiek in Engeland was die feit dat sir Christopher Wren reeds vroeg in die agtiende eeu verskeie kerke en ook van die geboue van Oxford se universiteit in die styl ontwerp het. Die opkoms van die Neo-Gotiek in Brittanje het saamgeval met die versnelde tempo van verstedeliking en die godsdienstige oplewing, waarvoor honderde nuwe kerke gebou is (Sutton 1999: 272).

Teen die einde van die agtiende eeu was Brittanje 'n magtige staat met groot internasionale invloed. Die feit dat die Neo-Gotiek gesien is as tipies Brits/monargisties, het daartoe gelei dat die styl deur Brittanje na ander wêrelddele uitgedra is, ook na Suid-Afrika. Britse imperialisme is al beskryf as die saamsnoering van troon en altaar [.] the confusion of Pax Britannica with Pax Christi.

Britse kolonialisme was in Suid-Afrika, soos in ander wêrelddele, 'n primêre faktor in die verspreiding van die Neo-Gotiese styl. Plaaslike omstandighede het aanpassings geverg en in sommige plaaslike geboue is die Neo-Gotiese styl slegs sigbaar in elemente van die styl. Stylelemente wat in die Neo-Gotiese boustyl waargeneem is, sluit onder meer die volgende in:

 spitsboë  stutmure  trasering  kanteelwerk  polichromie  hoë gewelwe  groot binneruimtes  Normandiese invloede

 torings met versierings

 lanset- en roosvensters

 drie- en vierlobmotiewe

 gepedimenteerde kloktorings

 vooraf-vervaardigde boukomponente

 oop dakbalke, dikwels gestut op uitgeboude konsole

 aanwending van Gotiese elemente vir dekoratiewe doeleindes 5.4.1.3 Standard Bankgeboue in die Neo-Gotiese boustyl

Ondanks die feit dat die Neo-Gotiese boustyl aan die einde van die 19de en begin van die 20ste eeu algemeen in Suid-Afrika voorgekom het, het die Standard Bank nie baie geboue in dié styl benut nie. Dit kan toegeskryf word aan vier redes:

die stryd van die style (the battle of the styles)

die feit dat die styl in Suid-Afrika in 'n groot mate met kerkargitektuur vereenselwig is

 die plattelandse aard van die grootste deel van die land, waar genoeg ruimte was om geboue laag en uitgestrek te bou

 die vlak van ontwikkeling van die boukuns en die inwerkende faktore van tegniese kennis, gebrek aan boumateriale en lang afstande

Standard Bank se raad van direkteure het in 1886 goedkeuring gegee vir die opening van 'n tak in Middelburg, Transvaal. Daar was aanduidings van steenkoolneerslae en die landboupotensiaal was belowend, maar die afwesigheid van 'n treinspoor het onsekerheid laat ontstaan oor die lewensvatbaarheid van die steenkoolmyne. Die bank wou eers baie seker maak dat 'n tak daar winsgewend sou kon wees en het die eerste tak eers op 17 Desember 1889 geopen (SB ARCH 1/1/MDLT gd: 1). Die eerste akkommodasie was twee vertrekke wat op Middelburg gehuur is, waarna groter kantore gehuur is (SB Inspection report Middelburg Transvaal: 31/10/1893). Die moontlikheid is voorsien dat die omset van die bank in die toekoms die oprig of koop van 'n eie gebou sou kon regverdig, want hoewel hulle in 1898 deur 'n beampte van die bank beskryf is as [.] almost without exception, ignorant and unprogressive Dutch Boers [.] was die omgewing se boere welgesteld en sommige van hulle het 'n inkomste van meer as £1 000 per jaar gehad (SB Inspection report Middelburg Transvaal: 2/4/1898). Vooruitsigte het dus belowend gelyk.

In 1897 het die bank met 'n kliënt ooreengekom om 'n huurkontrak met hom aan te gaan as hy 'n gebou volgens die bank se behoeftes en standaarde laat bou. Op dié wyse het die bank sonder groot kapitaaluitgawe 'n gebou gekry wat in al sy behoeftes voorsien het en wat in

voorkoms meer mededingend met die Nasionale Bank se gebou in dieselfde dorp was (SB Inspection report Middelburg Transvaal: 20/3/1897).

Hierdie gebou (figuur 5.1), wat nie meer bestaan nie, was eklekties, ryklik versier en het onder meer Neo-Gotiese en Victoriaanse stylelemente gehad.

Teen die buitemure van die gebou was tipiese Neo-Gotiese stutmure. Die gebou se fasade is in drie dele verdeel, van onder na bo, en dit het 'n argitraaf en 'n metaaltoring gehad. Hierdie drie horisontale dele is geskei deur lyswerk. Dit is ook vertikaal van links na regs, in drie dele verdeel. Die verdeling is gedoen deur vier ongeprofileerde pilasters sonder voetstukke wat gestrek het van grondvlak tot die kruin van die fasade.

Die onderste deel van die fasade het die groot voordeur van hout met 'n reghoekige bolig gehuisves. Weerskante van die deur, en daarvan geskei deur die binneste twee van die vier pilasters, was groot enkelruit-vensters met houtrame.

Figuur5.1: Die Standard Bankgebou in Middelburg, Transvaal in 1903 (Foto:

Die bank se naam was op die glas. Die vensters en die bolig van die deur was op dieselfde hoogte. Bo die deur en bo elke venster was 'n dekoratiewe nabootsing van 'n pediment in lae reliëf. In die middel van elkeen was 'n dekoratiewe sluitsteen.

Die argitraaf is aan die onder- en bokante daarvan begrens deur profilering. Die middelste deel van die argitraaf, reg bo die voordeur het die naam The Standard Bank of SA Ltd gedra.

Op die deel van die fasade bo die argitraaf was gestileerde skulpmotiewe as versiering. Daar is vier pilasters, met twee rondeboogvensters tussen elke twee pilasters. Bo elk van die vensters is lyswerk in die vorm van 'n boog.

Die boonste deel van die fasade het bestaan uit die bopunte van die twee buitenste pilasters wat in torinkies op die twee hoeke van die gebou geeïndig het. Hierdie bopunte van die pilasters het skulpmotiewe in reliëf aan die buite- en fasadekant van die gebou, en kroonlyste gehad. Bo- op is hulle versier met weelderige versierings van gietyster.

Die ruimte tussen die buitenste en binneste pilasters is oorbrug deur een ojief aan elke kant. Dit het 'n geboë gewel met ruimte tussen die ojief en die horisontale lys gevorm en die oppervlak van hierdie ruimte was afgewerk met reliëfwerk in die vorm van die opkomende son se strale. Tussen die twee middelste pilasters was 'n skild sonder inskripsie. Die heel boonste deel van die fasade was plat en die toringdeel het daarop gerus.

Die metaaltoring het 'n vierkantige prisma-agtige vorm gehad en is aan die voet daarvan omring deur 'n Victoriaanse traliewerk van gietyster en hoekversierings. Oordadige gietysterversierings, 'n windwyser en 'n aanwyser van die vier windrigtings was heel bo op die toring.

Die gebou was eklekties en nie suiwer Neo-Goties nie. Die verlengde pilasters op die fasade se hoeke en die stutmure was Neo-Gotiese elemente, maar die gebou het ook 'n verskeidenheid ander stylelemente bevat.

Die toring het nie gepas by die bank se "beeld" nie en is 'n paar jaar later verwyder. In die plek daarvan is 'n boogpediment bo-op die fasade gebou. Dit het die voorkoms van die gebou baie meer Neo-Klassisisties gemaak, veral toe aangrensende geboue die stutmure teen die lengte van die gebou begin verberg het (figuur 5.2).