• No results found

Die Vroeë Kerk se nadenke oor “Sending”

’n Eerste Verkenning van die “Missionêre Konteks”

2.3 Die Vroeë Kerk se nadenke oor “Sending”

Die inhoud van die boodkskap wat deur die kerk uitgedra is, word deur beide Guthrie (1981: 736), Ladd (1974: 329) en CH Dodd, in ses hoof momente saamgevat. Die preke van Petrus is die hoofbron waaruit afgelei kan word dat die inhoud van die kerugma gefokus het op (i) die vervulling van voorafgaande profesieë, (ii) dat Jesus gesterf het maar weer uit die dood uit opgestaan het, (iii) die verhoogde Christus wat sentraal is in die toekoms van die kerk, (iv) die vaste geloof dat die Heilige Gees deur die kerk in die wêreld getuig, (v) die huidge bedeling vervang sou word deur die wederkoms van Christus, wat op hande is, en (vi) die oproep van mense om hulle te bekeer en te glo en verlossing te ontvang. “Each of the significant events in Jesus’ life and ministry was interpreted in the light of the Old Testament prophecies concerning the dawning of a messianic age” (Gibbs en Coffey 2001: 200). “More recently, a number of New Testament scholars have argued that CH Dodd made the kerygma far too wooden and fixed, not withstanding the fact that the key elements must always stand at the heart of the gospel” (Gibbs en Coffey 2001: 201). Nêrens word daar as deel van die evangelie ’n beroep op mense gedoen om hulle by die kerkgemeenskap aan te sluit nie. “There is no question at this stage of a fixed creed, but it is not unreasonable to expect that there was general agreement among believers regarding the tenets of their faith” (Guthrie 1981: 736).

Die kerk, in die ywer om die hoopvolle boodskap van God se liefde te laat hoor, het aanvanklik nie nodig gehad om baie na te dink oor die spesifieke inhoud en metode van sy uitreik na die wêreld nie. Missionêre aktiwiteite was voortgestu deur kragtige impulse en persoonlike oortuigings. “The ancient church conducted missionary work as though it were self-

explanatory” (Bavinck, JH 1960: xi). “Sending” was vir die begrip van die vroeë kerk ’n opdrag van Christus en dus is dit sonder verdere vrae en teorieë uitgevoer (Guthrie 1981: 736).

Opmerkings wat sou kon geld as “sendingteorie” of “-metodiek” is slegs op ’n ad hoc basis gemaak wanneer daar voor spesifieke uitdagings of probleme gestuit is. Die vraag of heidene, saam met Jode, ook deel kan hê aan die kerk was byvoorbeeld een van die eerste uitdagings wat aan die kerk se sendingwerk gestel is. Die boodskap van die kerk het so uitgekring dat daar nie net Joodse gelowiges was nie maar dat daar selfs ’n hele heidense gemeente in Antiogië ontstaan het. Die gemeente in Antiogië word later die moederkerk van die nie-Joodse Christendom (Goppelt vol II 1982: 15).

In die probleem wat hieruit vir die kerk ontstaan speel Hand 1:8 weer ’n vername rol. In Lukas se plasing van Jesus se woorde in dié teks kan dit geïnterpreteer word as die kerk se nadenke oor Jesus se antwoord op die dissipels se vraag in Hand 1:6 oor die oprig van die “koninkryk vir Israel”. “Hence the other problem posed by the the disciples question of verse 6 is also resolved: the world-mission here decreed presupposes that salvation is not restricted to Israel” (Haenchen 1971: 144). In die nadenke oor die boodskap van die koninkryk van God is hiermee die eerste grens tussen kerk en wêreld oorgesteek met die besef dat die evangelie nie net vir die Jode bedoel is nie maar vir die hele wêreld. Die uiteindelike oorsteek van die grens van ’n uitsluitlik Joodse Christendom na ’n Christendom wat heidense gelowiges insluit word later meer volledig deur Lukas beskryf in Hand 10:1 – 11:18, met die bekering en doop van die onbesnede

Kornelius. Vir die kerk in Jerusalem was die oorsteek van hierdie grens egter steeds ’n probleem. Petrus regverdig later sy gedrag voor die geloofsgemeenskap in Jerusalem met die woorde: “Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?” (Hand 11:17). Hiermee is die nadenke oor die kerk se roeping om die evangelie na die heidene te bring gevestig en sou die boodskap ook na hulle geneem kon word.

Vir die vroeë kerk was dit hierna moontlik om te werk sonder om te veel verder na te dink oor ’n “sendingteorie” aangesien daar meestal net in die eie konteks en kultuur van die Romeinse Ryk gewerk is. Paulus het volgens Ridderbos (1975: 433) later ’n meer ontwikkelde siening van wat die sendingtaak van die kerk behels. Die evangelie wat die kerk dra bring in die “hele wêreld vrug” voort en versprei al hoe verder (Kol 1:6). Hierdie evangelie word aan alle mense op aarde verkondig (Kol 1:23). Die sleutel in Paulus se missionêre denke is trouens juis die deurbraak dat die evangelie aan al die nasies verkondig kan word (Rom 1:16; 3:22vv.; 15:9vv.), die algemeenheid van die kerk is ’n gegewe (Gal 3:28; Kol 3:11; 1 Kor 12:13), daar is geen ruimtelike grense te stel aan die evangelie of aan die kerk nie, en alles wat die kerk doen moet

meewerk tot die “pleroma, the full number intended by God both of Jews and gentiles (Rom 11:12, 25), a perspective with which for Paul also the end of history coincides (Rom 11:25, 26)” (Ridderbos 1975: 433).

Sy sendingstrategie beskryf Paulus in Rom 15:18 en 19: “Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. En so kon ek van Jerusalem af al verder tot in Illirikum my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer.” “This grandiose plan is also the sole key to the understanding of Paul’s missionary strategy” (Bornkamm 1975: 54). As fondasie van sy prediking word die aanvanklike inhoude van die evangelie, soos gevind in die toesprake van Petrus steeds gevind. “The basis of this tremendous plan of Paul’s was faith in Jesus Christ the crucified, whom God exalted as Lord over all, whose lordship endures until the imminent end, when at his comming he is to deliver it to God” (Bornkamm 1975: 55). Paulus behou die vroeë basis van die kerk se nadenke oor “sending” en brei dit verder uit.

In die tyd van Paulus was daar egter alreeds sprake van ’n agteruitgang in denke rondom die sendingtaak van die kerk. Die spontane, ywerige betrokkenheid van elke gelowige by “sending” was nie meer so vanselfsprekend nie. Keer op keer moet gelowiges wat reeds tot verlossing gekom het, aangemoedig word om die taak van die uitdra van die evanglie as hulle eie te beskou en self deel te neem aan die verspreiding daarvan. Die kerk help nie net die werk aan deur die apostel te ondersteun in sy werk nie maar moet self in woord en daad betrokke wees by die uitdra van die verlossende boodskap van Jesus, die Kurios. Die gedagte dat daar ’n onderskeid kan bestaan tussen die sendingroeping van die lidmaat en die spesiaal afgesonderde ampsdraer het vroeg reeds die gang van die evangelieboodskap bedreig. Gelowiges wat nie in ’n besondere ampsbediening geroep is nie het die uitdra van die evangelie gemaklik aan slegs die besondere ampte begin oorlaat. In terme van die hele gemeente se betrokkenheid by die kerk se

sendingtaak het Paulus dit bevestig dat die kerk ’n algemene roeping het om in sy elke dag se lewe besig te wees deur met goeie optrede voor mense, die evangelie te bevorder (Ridderbos 1975: 434). “Along with this, however, there is a more direct, deliberate missionary calling of the church. The church is indeed stirred up to imitate the apostles and Christ (1 Cor 4:16; 11:1; 1 Thess 1:6)” (Ridderbos 1975: 434).

Alhoewel daar tussen die eerste dade van “gedrewenheid” van die kerk se uitvoering van sy sendingtaak en Paulus se briewe duidelike vordering is in die kerk se nadenke oor “sending” is daar steeds nie ’n uitgewerkte “sendingteologie” nie. Paulus het ’n belangrike bydrae gelewer maar daar is by hom nie sprake van ’n “completed missionary ‘theology’” nie (Ridderbos 1975: 433).

Groter uitdagings is later aan die sendingwerk van die kerk gestel met die oorsteek van die grense na die noorde van Europa wat buite die bekende en vertroude gebruike van die Romeins- Hellenistiese wêreld was. “Here the missionary encountered a form of heathenism that often verged on savagery and barbarism” (Bavinck, JH 1960: xii). Selfs in hierdie tyd van nuwe uitdagings was daar nog steeds nie sistematies nagedink oor die missionêre werk van die kerk nie en was gedagtes oor hierdie werk steeds net die “terloopse” vermeldings deur skrywers en teoloë van dié tyd. “… missionary practices are always prior to theological reflections” (Yang 2005: 43). Daar was in hierdie tyd nie ’n skrywer wat in ’n groot mate gepoog het om “sending” sistematies te beskryf of te definiëer nie. Eeue later sou die “ontdekking” van nuwe wêrelddele en die kolonialisasie van veraf lande en kontinente nog meer nuwe uitdagings stel aan die kerk om aan die mense van die nuwe wêreld die, toe reeds eeue oue boodskap van God se Seun, te bring. In hierdie nuwe era is nog meer uitdagings aan die kerk se werk gestel en al hoe meer vrae het ontstaan oor die kerk se sendingpraktyke. Dit het toe nodig geword om dieper hieroor na te dink en gedagtes te formuleer van wat “sending” is en hoe dit deur die kerk gedoen moet word.

Gevolgtrekking 2.3:

Die konteks waarbinne die Vroeë Kerk gewerk het, het nie geverg dat die kerk baie aandag aan ’n volledige sendingbeleid gee nie en tog was daar duidelike trekke van ’n ontwikkeling in die kerk se siening van hierdie taak.