• No results found

’n Eerste Verkenning van die “Missionêre Konteks”

2.5 Die Term “Sending”

In die kerk was die term “sending”, van die Latyns “missio”, nie van meet af aan gebruik as ’n aanduiding van die aktiwiteite rondom die uitdra van die evangelie na die wêreld toe nie. Tot en met die sestiende eeu was die woord “missio” slegs in die leerstellings rondom die Drie-eenheid gebruik om die “gestuurdheid” van die Seun deur die Vader en die “gestuurdheid” van die Gees deur die Vader en die Seun aan te dui (Bosch 1991: 1). In die sestiende eeu het Jesuïtiese priesters vir die eerste keer die term “missio” gebruik om hulle eie arbeid, om die christelike geloof te versprei aan almal buite die Rooms Katolieke Kerk, mee te beskryf (Bosch 1991: 1). ’n Definisie op grond van die herkoms van die term alleen sou dus kon wees dat “sending” gelyk is aan die oordra van die goeie nuus oor die “gestuurdheid” van Jesus Christus en die Heilige Gees aan diegene wat dit nog nooit vantevore gehoor het nie, om so die hoorder oor te haal om sekere waarhede van Jesus as Verlosser te glo en deel te word van die geloofsgemeenskap van die boodskapper.

Die positiewe van hierdie definisie is dat die werk van die kerk hierdeur gegrond word in die lig van die sending van die Drie-enige God of die Missio Dei. Die negatiewe is egter dat die

sendingtaak van die kerk veel meer omvat as net die “kerugmatiese” oordra van ’n boodskap van hoop met ’n uiteindelike oproep tot lidmaatskap van ’n kerk of kerkgenootskap (Kritzinger, JJ 2002: 3). “Sending” gaan oor meer as net die verbale. “It includes (at least) two other

dimensions also, namely the loving serving of those in need (diakonia), and the planting and building up of community (koinonia)” (Kritzinger, JJ 2002: 3). “Sending” moet die

gestuurdheid beskryf van die hele kerk na die wêreld in laasgenoemde se totale gebrokenheid. In die term “sending” word iets beskryf van die holistiese “verhouding tussen kerk en wêreld in die lig van die evangelie” (Bosch 1979: 10). “Mission takes place where the church meets the

world” (Kritzinger, JJ 2002: 4). In navolging van Stephen Neill definiëer Van Engen (1991: 28) “sending” as “the intentional crossing of barriers from Church to non-church in word and deed for the sake of the proclamation of the Gospel.” Die aansluiting slegs by die Missio Dei gee nie uitdruklike aanduiding daarvan dat die hele kerk, amptelik en nie-amptelik, by hierdie werk betrokke is nie. Daar kan geen kontras wees tussen “sendingwerk” aan die een kant en die “gewone kerkwerk” aan die ander nie. Alles in die kerk is egter nie sendingwerk nie. Die opbou na binne, die liturgie en liefde in die geloofsgemeenskap is alles voorbereiding vir die latere ontmoeting tussen kerk en wêreld. “What we do say is that everything in the church does have a missionary dimension, even if not everything has a missionary intension” (Kritzinger, JJ 2002: 4). “Die kerk is nie in sy totale bestaan sending nie, ewe min is alles wat die kerk doen, net sending, maar in die bestaan van die kerk, soos trouens ook in alles wat die kerk doen, is daar ’n duidelike en onmiskenbare sendingdimensie” (Heyns 1989: 441). Hierdie sendingdimensie kan omskryf word as die kerk se getuienis in sake God se liefde en hoop vir die wêreld in alles waarmee die kerk besig is. In die definisie vir “sending” moet die menslike subjek van

sendingwerk so omskryf word dat elke gelowige sy of haar taak en roeping in die werk van die kerk in die wêreld kan besef. “Toegespits beteken wêreld ‘die mens in sy nood om God’. Na hierdie wêreld en vir hierdie mens moet die heil uitgedra word” (Heyns 1989: 442). Hiervoor het God sy Seun, sy Gees en sy kerk na die wêreld gestuur.

Sending geskied vanuit die Missio Dei en is daarom gerig op die hele mens se heelwees. “So is Christus die gestuurde wat weer op sy beurt die dissipels stuur” (Smit JH Sept 1989: 551). “Ons kan ook sê: God die Vader stuur die Seun en die Gestuurde stuur saam met die Vader, die Heilige Gees; en saam met die Seun stuur die Gees die kerk die wêreld in” (Heyns 1989: 444). Die Missio Dei is dus eerder Missio Trinitatis en die Missio Trinitatis lei tot die Missio Ecclesiae en is die diepste grond vir die kerk se sending in die wêreld.. Die gestuurde kerk bestaan uit alle gelowiges wat die boodskap van hoop self ter harte geneem het. Soos in die vroeë kerk bestaan daar vandag steeds die gedagte dat die roeping van die kerk om die wêreld met die evangelie te bereik net die taak en opdrag is van diegene in die besondere amp. ’n Definisie vir “sending” sal hierdie kerkbeeld so moet aanspreek dat alle gelowiges soos met die ontstaan van die kerk die taak om die boodskap van hoop in die wêreld te laat hoor.

Die nood van die veranderende wêreld eis dit des te meer van die kerk om lidmate te bemagtig om die boodskap van die Bybel daagliks in hulle lewe, as kleiner, meer verstaanbare verhale in die wêreld toe te pas sodat dit kan dien as voorbeeld van hoop. “Die kerk wat in die wêreld gaan

oorleef, sal bestaan uit lidmate wat op God fokus en vra na God se wil in alle situasies. Daarmee word bedoel dat hulle selfstandig en gefundeerd hulle geloof kan verantwoord en etiese keuses vanuit ’n Christelike waardesisteem kan neem” (Hendriks 1997: 28). Dit gaan egter oor veel meer as net die oorlewing van die kerk. Vir die voortdra van die evangelieboodskap is dit nodig dat die kerk sy bediening moet rig op die “gewone lidmaat” en sy of haar leefwêreld en die wyses waarop hierdie gelowiges gehelp kan word om hulle stories van hoop te laat hoor in die wêreld.

Gevolgtrekking 2.5:

Die term “sending” het sy ontstaan uit die kerk se leer oor die Drie-eenheid en die Missio Dei wat die verlossing van die mensdom, deur die herstel van die verhouding tussen God en mens in die oog het.