• No results found

Die Missionêre taak of funksie van die amp:

Die Kerklike Amp in Missionêre Konteks

4.7 Die Missionêre taak of funksie van die amp:

In die lig van die toerustingsfunksie van die amp het die besondere ampte slegs ’n sekondêre funksie ten opsigte van die missionêre taak van die kerk. Elke ampsdraer het egter in die uitvoering van sy of haar ampstaak ’n missionêre dimensie in die wyse waarop lidmate toegerus word vir die opbou en uitbou van die kerk. Die missionêre intensie van die amp kan egter nie in geheel uitgesluit word nie. JH Smit (1988: 202) sê in verband hiermee: “Dus, die besondere funksies of ampte het ’n besondere en onmisbare bydrae om te maak ten opsigte van die groei - alternatiewelik opbou - van die gemeente.” “The leader is a catalyst to stimulate the people to follow in a mutually agreed direction in the midst of a particular spiritual, social, economic, political, and cultural context. The Holy Spirit, who establishes and mobilizes the church, uses the entire mix of complex factors to move God’s people to be and do something new in the world. God-given leaders are in the centre of it all, and yet they are only a part of the story” (Van Engen 1996: 233). Daar is ’n dinamiese interaksie tussen die ampte as gawes aan die gemeente en die gemeente as primêre gestuurde draer van die hoop van verlossing. Die ampte bou die gemeente sodat die gemeente volgroeidheid kan bereik en dienswerk waartoe die gemeente geroep is uiteindelik uitgevoer word (Ef 4:11 – 13). Die feit dat die hele

geloofsgemeenskap betrokke is by die bediening van hoop en verlossing aan die wêreld het ingrypende implikasies vir diegene wat geroep is om in die kerklike amp die gemeente te bedien. Die persoon wat in die besondere amp dien moet veel meer as net ’n fasiliteringsrol vervul in die toerusting en organisering van die werksmag van gelowiges in die gemeente. Die leier moet binne die konteks van die wêreld waarin die gemeente is self radikaal getransformeer word sodat

hy of sy ’n geïnkarneerde voorbeeld kan wees vir die roeping van die gemeente. Deur op so ’n praktiese manier die roeping van die gemeente uit te leef as voorbeeld aan die gemeente dien dan as katalisator of “stimulus” wat die gemeente weer voort stu tot sending en diens in die wêreld (Van Engen 1996: 234). Die wyse waarop die leier sy ampswerk uitvoer bepaal die mate waarin dit vir die ampsdraer moontlik sal wees om die gemeente te lei en te begelei daartoe om die missionêre roeping van die kerk na te kom. Die ampsdraer is ’n dienaar en kneg en benut die charismata waaroor hy of sy beskik nie vanuit ’n posisie van mag en oorheersing nie. “When leaders rule rather than serve they lose their right to lead” (Van Engen 1991: 170).

Die besondere amp bestaan slegs binne die geloofsgemeenskap. Die besondere amp het nie die geloofsgemeenskap voorgegaan nie en staan ook nie los of verhewe bo die gemeenskap van gelowiges nie. Die amp rus die gelowige toe sodat elke gelowige as deel van die gemeente sy of haar bydrae kan lewer in die uitdra van die hoop wat daar is in die verlossing deur Christus. Vir die missionêre aard van die gemeente is die ampte dus nie alleen net funksioneel nie maar is dit essensieël (Bosch 1991: 474). Indien die ampsdraer sy of haar gesag misbruik sal die reaksie hierop vanuit die geloofsgemeenskap nie kan wees om alle gesag van diegene in die amp te ontken nie. Klerikalisme word nie oorkom deur die verwerping van alle geordende ampte nie (Bosch 1991: 473). Daar is ’n wesentlike aspek aan die ampte wat die ampte in die gemeente noodsaaklik maak. Die wesentlike is egter nie die borg van die waarheid dat die kerk die draer van God se hoop is nie, maar wel die voog daarvan. Die ampte help die geloofsgemeenskap om getrou te bly aan die leer en lewe van die apostoliese waarheid. Dit doen die ampte nie deur magsoorheersing of op hulle eie nie maar dit word gedoen in die gestalte van diens in

samewerking met die hele gemeente as volk van God, aangesien elkeen ontvangers is van die Heilige Gees. Die priesterlike rol van die ampte verwyder nie die priesterlike roeping van die gemeenskap van gelowiges nie maar het eerder die toerusting en instaatstelling daarvan in die oog (Bosch 1991: 474). Waar hierdie rol van die amp in die toerusting van gelowiges, wat bekwaam gemaak word vir hulle diens in sending, vervaag, word die watermerk van die egtheid van kerkwees nie meer die kerk se betrokkenheid by die Missio Dei nie, maar word die ampte self die teken van kerkwees. “Die amptelike kerk word die bolwerk en voog van die regte leer teenoor die ketters (Irenaeus), waarbuite daar geen heil te vinde is nie (Cyprianus). Sy versier haarself met die goddelike en onverliesbare eienskappe van gesag en heiligheid” (Bosch 1979: 98).

Die bediening van die ampte in die gemeente het ’n missionêre karakter want dit staan in die lig van die eskatologiese (Smit 1988: 204). Die gemeente is in wese deurentyd besig om diegene wat nog uitgesluit is van die verlossing op te soek en in te sluit in die bouwerk van God. Diens aan die opbou van die gemeente sluit dus per se ook die missionêre in. “Die toerustingstaak wat die ampte het om die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk hou ook toerusting in vir

missionêre diens” (Smit 1988: 204). Die Heilige Gees gee die besondere ampte as gawes aan die gemeente tot toerusting van die gemeente vir die uitvoering van die volle roeping en taak van die gemeente. Hierdie taak sluit die missionêre in. Die gemeente staan daarom onder die

“indikatief” van die amp. Daar word egter van die gemeente verwag om die “imperatief” van die amp, naamlik die gesag van die amp, ook te aanvaar (Roberts 1963: 147). Daar is ’n baie belangrike verhouding tussen die ampte en die gemeenskap van gelowiges ten opsigte van die begeleiding van die hele gemeente om die volle boodskap van hoop en bevryding aan die hele wêreld oor te dra.

Gevolgtrekking 4.8:

Die toerustingstaak van die amp sluit die toerusting vir die opbou én die uitbou van die gemeente in en dus het die amp ’n missionêre dimensie, alhoewel laasgenoemde nie primêr is nie.