• No results found

Die Inhoud en Taak van die Amp van die Gelowige

’n Gereformeerde Beskouing van die “Amp van die Gelowige” en die Missionêre Waarde daarvan

5.5 Die Inhoud en Taak van die Amp van die Gelowige

In die lig van die verhouding tussen die besondere en algemene amp kan daar tot die

gevolgtrekking gekom word dat die roeping van diegene in die besondere ampte fokus op die kerk as God se volk in die wêreld terwyl die gelowige in die algemene amp meer fokus op die wêreld as koninkryk van God. “Ons onderskei dus tussen die kerk as instituut en die wyer veld van die Koninkryk van God. Binne die Koninkryk is die kerk as instituut een van die sentrale arbeidsvelde. Die gelowige se roeping in die samelewing mag nie net gemeentelik verstaan word nie, hoe sentraal die werksaamhede van die kerk in die christelike lewe ookal mag wees. Die Here moet in die VOLLE lewe gedien word: op alle lewensterreine moet Sy heerskappy in die christelike lewe tot sy reg kom” (Greyling 1984: 122). Die uitvoering van die pligte van die amp van die gelowige is die bediening of “ministry” waartoe die Here elkeen geroep het om deel te wees van die Missio Dei. Hierdie bediening geskied in die wêreld maar het sy wortels in die Christelike gemeenskap van gelowiges. In dié mate waarin elke gelowige

verantwoordelikheid begin neem vir sy of haar eie roeping of bediening sal die gemeenskap van gelowiges ook groei tot ’n volwasse liggaam in Christus.

“An important step in building community is to encourage people to see how their Christian covenant is linked to their daily lives” (Page 1993: 19). Die verbintenis aan Christus en die geloofsgemeenskap moet ’n sigbare uitwerking hê in die gelowige se teenwoordigheid in die wêreld gedurende die week. Hierdie uitwerking moet radikaal sigbaar wees want “ministry is a new way of being, not just a way of doing. We do not choose to become ‘layministers’” (Page 1993: 20). Deur die verbintenis met die geloofsgemeenskap word elke gelowige ’n mede- dienaar van die evangelie. As bewys van hierdie stelling haal Page Kol 4:17 aan.

Kol 4:17

Wanneer Paulus sy brief “aan almal in Kolosse wat aan God behoort” afsluit stuur hy ’n spesiale boodskap aan ene Argippus wat in Filem 2 “ons medestryder” genoem word. Dit blyk dat Argippus moontlik deel was van Filemon se huishouding. Van hom word verwag om aandag te gee aan “die taak” wat hy “in diens van die Here aanvaar het” sodat hy “dit kan voltooi.” “Most commentators recognize the difficulty of determining precisely what

Archippus’ task was” (O’Brien 1982: 259). “The precise nature of the ministry with which he has been entrusted cannot be determined … Whatever it was, it had to be discharged in a spirit of Christian faithfulness” (Bruce 1984: 185 & 186). Die feit dat hierdie eis aan hom in die vergadering van die gemeente voorgelees is was bedoel om hom aan te moedig om getrou sy διακονιαν uit te voer. Page (1993: 20) dink dat hierdie διακονιαν dui op die algemene dienswerk van alle gelowiges en dat die aanmoediging van Paulus aan Argippus dus ’n oproep is op alle gelowiges om getrou aan hulle roeping tot dienswerk te bly. Ridderbos (1975: 445) voel egter dat teen die tyd van Paulus se skrywe aan die Kollosense die “dienste” ook alreeds meer gestabiliseerd is in vaste strukture en dat die diens van Argippus ’n meer geïnstitusionaliseerde diens moes wees. “To think here only of incidental and concrete service is not only an unnatural conception of the reality, but also in conflict with the Pauline usage, where ‘ministry’, even though it does not yet have the special significance of ‘diaconate’, can denote a definite, ‘fixed’ activity in the church that it is discharged by specific persons” (Ridderbos 1975: 445). Hy sluit dus nie die algemene diens van die gelowige uit nie maar voel dat Argippus se diens alreeds iets van ’n amptelike karakter moes dra. O’Brien (1982: 259) voel dat die διακονια waarvan daar in hierdie teks sprake is nie kan dui op die dienswerk van ’n diaken nie. “διακονια describes the discharge of service, not the exercise of the office of deacon” (O’Brien 1982: 259). “Die oproep tot die “getroue broers in Christus” (Kol 1:2) om Argippus aan te moedig om sy diens getrou te kan voltooi wil egter tog wel iets sê van die polariteit tussen die besondere amp en die werking van alle gelowiges in die gemeente en die feit dat fiet dat laasgenoemde aangewese is op eersgenoemde. Indien Argippus nie in ’n besondere amp gestaan het nie kan die oproep wat Paulus deur die brief en die gemeente op hom doen toegepas word op alle gelowiges wat nie in ’n besondere amp staan nie om getrou te bly in hulle διακονιαν. Indien Argippus wel in ’n besondere amp gestaan het is die opdrag van Paulus aan die gemeente, as gelowiges, om hom aan te spoor tot volvoering van sy taak dus ook ’n eie roeping en

die “diens van die Here” “voltooi” kan word. Na watter kant toe die saak beskou word bly die gevolgtrekking dieselfde: Daar is ’n wisselwerking tussen die bediening van die ampte en die gemeente wat self in ’n algemene diens staan.

Die diens waarbinne die lidmaat staan word deur Page (1993: 20) baie omvattend beskryf. Sy sê: “Christians are engaged in ministry all over God’s world. This ministry takes place:

- wherever a Christian happens to be; - whenever a Christian is called to minister; - with whomever a Christian happens to meet; - using whatever gifts a Christian has been given.

The range of possibilities for ministry is so extensive and open-ended that Christians need help in focusing on ways they can most effectively use their gifts of time, talent, energy, and

situations in ministry” (Page 1993: 20). Die diens van die amp van die gelowige geskied dus enige plek, enige tyd deur enige iemand vir wie die Heilige Gees op daardie tyd en plek roep en gebruik.

Onder “bedieninge” verstaan Lekkerkerker (1971: 187) daardie dienste wat meehelp aan die uitvoering van die pligte van die ampte. Dit is dienste soos kategeet, evangelis of

sendingwerker, jeugwerker en pastorale werker. In die kerk is die verskillende dienste of bedieninge teenoor die ampte gestel as sou eersgenoemde insidenteel, spontaan en

gespesialiseerd wees. Die bedieninge is egter nie betrek in die regering van die kerk soos die ampte nie. Die ampte is meer permanent en institusioneel. Hierdie onderskeid het egter onhoudbaar geword omdat daar soveel oorvleuling bestaan tussen die dienswerk van die gelowiges en die werk van die ampte. Beide groepe het te make met die uitdra van die Woord van God en die bediening van die hoop wat daar is in Jesus Christus. Die antwoord op die vraag na die inhoud en taak van die amp van die gelowige word nie beantwoord deur ’n teenstelling te probeer maak tussen die amp en die amp van gelowige nie. So word die waarde van beide die amp en die bedieninge van gelowiges onderskat of selfs ondermyn. Wat moet gebeur is die ontdekking en mobilisering van die werksmag wat die lidmaat in die missionêre taak kan wees van die plaaslike gemeente. Dan “wordt wellicht onwedersprekelijk-waar dat gemeenteleden die herboren zijn tot hun werkelijke waardigheid en tot hun roeping in de kerk zowel as in de

wereld, het machtigste potentieel vormen waaroor de kerk beschikt voor de tenuitvoerlegging van wat zij naar apostolaire aard en roeping heeft te zijn” (Kraemer 1960). “Die passiwiteit in die kerkinstituut kan alleen oorwin word deur die aktivering van die gelowiges sodat hulle in hul

drievoudige amp kan staan, oral in die beroepslewe, in die diens van die gemeentelike opbou en in … aksies van die kerkinstituut” (Greyling 1984: 135).

Dit is dus van belang dat die inhoud en taak van die amp van gelowige omskryf moet wees in terme van die koninkryk van God, die roeping van die plaaslike gemeente in die Missio Dei en die verantwoordelikheid van elke gelowige om hierby betrokke te wees. Die omskrywing van die taak van diegene in die algemene amp kan dus as volg daaruit sien:

Die inhoud en taak van die amp van die gelowige rus daarop dat elke gelowige geroep is - om as ’n praktiese uitleef van sy of haar eie verlossing,

- met die gawes wat die Heilige Gees aan hom of haar gegee het, - betrokke te wees by alle terreine van die lewe,

- in die Missio Dei,

- sodat die hoop en verlossing wat hy of sy reeds in Christus ontvang het, gedeel word met diegene met wie se lewe sy of haar lewe daagliks kruis.

Die waarde wat die toepassing van die inhoud en taak van die amp van die gelowige kan hê vir sending, die taak van die kerk en die koninkryk van God, is byna vanselfsprekend.

Gevolgtrekking 5.6:

Die inhoud en taak van die amp van die gelowige rus daarop dat elke gelowige geroep is om sy of haar eie verlossing prakties uit te leef met die gawes wat die Heilige Gees aan hom of haar gegee het. Die christen is geroep om in die Missio Dei betrokke te wees by alle terreine van die lewe sodat die hoop en verlossing wat hy of sy reeds in Christus ontvang het, gedeel word met diegene met wie se lewe sy of haar lewe daagliks kruis.