• No results found

Die Amp gesien in die lig van die doel en funksie van die Plaaslike Gemeente:

Die Kerklike Amp in Missionêre Konteks

4.8 Die Amp gesien in die lig van die doel en funksie van die Plaaslike Gemeente:

Die ampte is funksies in die kerk en daarom is daar nie plek vir ’n hiërargie tussen ampsdraers en lidmate nie. Daar is verder geen plek vir ’n gees van independentisme of onafhanklikheid van die ampte in die kerk nie. Christus gee sy Gees as ’n eskatologiese gawe aan elkeen in sy kerk. Hierdie Gawe is aan dié in die besondere ampte én aan diegene wat nie in ’n besondere amp staan nie, gegee. Indien die eskatologiese karakter van die gawe aan die amp en aan die

gemeente nie in berekening gebring word nie verloor die amp sy diensknegkarakter en raak die amp gesekulariseer. Dít gebeur wanneer die band tussen die amp en die gemeente verbreek word. Die amp bestaan dan nie meer ter wille van die diens aan, in en vanuit die gemeente nie, maar ter wille van die amp self (Van der Walt 1988: 226). Die amp en plaaslike gemeente is baie nou aan mekaar verbonde. Dit kan nie anders nie. Beide dien dieselfde doel. Hierdie feit

eis van die ampsdraer om ’n verantwoorde Geesvervulde lewe te leef en verantwoordelike diens te lewer.

Die doel van die plaaslike gemeente kan slegs afgelei word van die wil van sy Hoof, Jesus Christus, van die Heilige Gees, wat die lewe van die liggaam waarborg en van die Vader, wat hierdie kerk aangeneem het as sy eiendom. Die doel van die plaaslike gemeente is ten nouste vervleg met die Drie-enige Missio Trinitatis wat lei tot die Missio Ecclesiae. Deur die eeue is daar oor die kerk bely dat dit een, heilig, algemeen en apostolies is. Die vier eienskappe van die kerk is nie net byvoeglike naamwoorde waarmee die eie aard van die kerk beskryf word nie. “Reeds in die modus van sy bestaan is die kerk sendinggerig. Hier sal die eienskappe van die kerk self vanuit ’n missionêre dimensie belig moet word: die eienskappe van die kerk (eenheid, heiligheid en algemeenheid) is eienskappe deur God aan die kerk as gawe geskenk, om daardeur die wyse van die kerk se bestaan in die wêreld aan te dui; maar die eienskappe is ook as opdrag deur God aan die kerk gegee om daardeur die taak van die kerk in die wêreld te omskrywe. Meer nog: die eienskappe is deur God aan die kerk gegee om daardeur die boodskap van die kerk aan die wêreld oor te dra” (Heyns 1989: 445). Die eienskappe van die kerk is werkwoorde wat die kerk in die wêreld instuur om een te wees en om die wêreld voor God te verenig. Die kerk is geroep om heilig te wees en moet ’n heiligende invloed hê op die wêreld. Die kerk is algemeen en moet daarom versoenend wees tussen die verskeidenheid van mense. Die kerk is apostolies en moet die Woord van God uitdra tot aan die uithoeke van die wêreld (Van Engen 1991: 87 en 88; 1996: 120 – 124). “Viewed as verbals, the four words are not only activities in which the church engages, but also descriptions of the essence of the church as it is found in the local congregation. What is the church? It is the unifying, sanctifying, reconciling, and proclaiming activity of Jesus Christ in the world” (Van Engen 1996: 124). Die eienskappe van die kerk is ook as ’n belofte aan die kerk gegee “om daardeur die kerk steeds op die volheid in die toekoms gerig te bly hou” (Heyns 1989: 445).

Die betekenis van die griekse woord wat vir die kerk of gemeente gebruik word is ekkleisia en die betekenis van hierdie woord moenie “allereers in die sekulêre gebruik daarvan in die Griekse wêreld gesoek word nie” (Smit, Sept 1989: 554). Ekklesia word ’n tegniese term vir die kerk of gemeente byan deurentyd deur die aanwending van die predikaat tou theo of tou christou. “As sodanig het dit sy oorsprong in die Ou Testament waar die begrip qehal Jahwe (op een

uitsondering na) deurgaans in die LXX met ekklesia vertaal word” (Smit Sept 1989: 554). Die benaming ekklesia vir die Nuwe Testamentiese saamgeroeptes beskryf die gemeente in die taal van die Ou Testamentiese volk van God. Met die benoeming van die kerk deur ekklesia word gelowiges die nuwe volk van God waarvan Christus die Verbondshoof is. “Die verbond is een van die basiese begrippe in die Skrif vir die struktuur van God se verhouding tot sy skepping en sy mense” (Smit Sept 1989: 551). Die term “verbond” is ’n inklusiewe begrip wat byna alle aspekte van God se handeling met die mens beskryf. Hy is die Koning en is besig om sy koninkryk te herstel deur sy verbondsverhouding met mense. “Die evangelie van die koninkryk hou dus ten opsigte van die verbond in die aankondiging dat die partikularistiese periode van die verbond verby is en dat die universele periode weer aangebreek het” (Smit Sept 1989: 552). Christus stuur sy ekklesia die wêreld in om apostolies die wêreld in sy totale nood te bereik. “Omdat die kerk is wat hy is – is daar in die kerk ’n magtige en ononderdrukbare drang gelê om na buite te beweeg” (Heyns 1989: 443). “Tussen die sugtende wêreld aan die een kant, en die verlossende Christus aan die ander kant, staan die kerk deur middel van wie se arbeid dit God se bedoeling is om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een Hoof te verenig (Ef 1:10). Die kerk is die eersteling van daardie groot en heerlike toekomsteige oes” (Heyns 1989: 443). Om so met die evangelie in die wêreld in te tree is nie ’n vrye keuse wat die kerk self kan maak nie. ’n Keuse teen die betrokkenheid van die kerk in die sending van Christus na die wêreld is ’n keuse teen Christus en dus ’n keuse vir die dood. “Die kerk is nie ’n ghetto- gemeenskap nie. Die kerk is nie ’n religieuse kokon, toegespin deur die drade van sy eie kulties- liturgiese handelinge nie (Heyns 1989: 444). Die grootste gevaar vir die sending lê dus in die gemeente self. Die kerk kan uiterlik nog ’n religieuse isntelling wees maar as dit nie voortdurend besig is om te soek om die wêreld vir die Here op te eis nie, kan dit nie ’n lewende, groeinde kerk van Jesus Christus wees nie.

“Sending” is dus nie iets losstaande van die kerk of iets wat daaraan toegevoeg is nie. “Sending” is die kern en die wese van die kerk en dus is daardie gemeente wat nie wesentlik missionêr is nie, nie die kerk van die Here nie. Dit beteken nie dat alles waarmee die kerk besig is altyd “sending” moet wees nie. “Die kerk is nie in sy totale bestaan sending nie, ewe min is alles wat die kerk doen, net sending, maar in die bestaan van die kerk, soos trouens ook in alles wat die kerk doen, is daar ’n duidelike en onmiskenbare sendingdimensie” (Heyns 1989: 441). Daar is ’n verskil tussen ’n missionêre intensie en ’n missionêre dimensie. Die kerk is te alle tye by die Missio Dei betrokke maar is nie altyd besig om “sendingwerk” te doen nie. “Dimensie en

intensie moet op ’n dinamiese-kreatiewe wyse op mekaar betrek word. Die een voed en stimuleer die ander” (Bosch 1979: 200). By die missionêre aard van die gemeente is die lidmate nie net die voorwerpe van pastorale sorg nie, maar is alle gelowiges by alle werksaamhede van die gemeente betrokke.

Die gemeente het daarom ’n behoefte aan toerusting, “aan geskikmaking, aan bruikbaarmaking, aan funksioneelstelling” (Roberts 1963: 160) sodat die gemeente sy doel en funksie kan

beantwoord en hierin moet die ampte die gemeente tot diens wees. Die ampte sluit hiermee aan by die doel van die plaaslike gemeente. Die doel waaraan die gemeente moet kan beantwoord is een van selfopbou. God is self die Bouer van sy kerk maar “Hy laat sy gemeente, die heiliges, toerus vir hulle dienswerk wat die opbou van die liggaam van Christus op die oog het” (Roberts 1963: 162). Die gemeente is vir die opbou tegelyk die subjek en die opbjek en daarom is die eerste doelwit van die gemeente gerig op selfopbou. Die opbouwerk is gerig op die

eskatologiese volheid van die gemeente en soek die konsolidasie en die eenheid van die kerk. Die opbou gaan “voort totdat die universaliteit van die gemeente ten volle gerealiseer is in almal wat God in Christus uitverkies het om te behoort tot sy volk” (Roberts 1963: 173).

Die plaaslike gemeente is in die eerste instansie saam met die universiële kerk besig met die uitbou van die liggaam van Christus totdat die pleroma van God se volk Jesus as Verlosser ken. Die plaaslike gemeente word toegerus deur die ampte met die oog op die universiële gestalte van die kerk. “Dit gaan hier om dié diens van die totale gemeente waardeur in die loop van die eskatologiese interim οι παντεs as die voltotaal van die uitverkorenes in Christus, sal aankom by, sal toetree tot die … volmaakte volheid waarin alle heilsweldade van Christus teenwoordig is” (Roberts 1963: 176). Op grond van die Missio Dei bedien die plaaslike gemeente die wêreld met die eskatologiese hoop en verlossing in Christus. Vir sy betrokkenheid by die Missio Dei ontvang die plaaslike gemeente spesiale gawes in sy ampte en lidmate en is daarom “a gifted community”. Die implikasie van die ontvangs van hierdie gawes deur die plaaslike gemeente is dat God hierdie begaafde gemeenskap wil gebruik “as a gift to the world” (Page 1993: 19). Die fokus van die plaaslike gemeente gaan verder as net die toetrede van diegene buite die gemeente om deel te word van die liggaam van Christus. Daar is in die tweede plek ’n baie duidelike fokus op die konsolidering van dit wat reeds gebou is (Roberts 1963: 177). Die plaaslike gemeente fokus nie net op die kwantitatiewe van die liggaam van Christus nie maar

ook op die kwalitatiewe. Die hele liggaam, en nie slegs die ampte nie, moet by hierdie groei na volwassenheid betrek wees. “Soos by die missionêre diens, so is ook hier die hele gemeente betrokke in ’n diens wat die verkondiging … en oorlewering behels” (Roberts 1963: 183). “The church needs to be the place where we learn how to live the Christian way so that we can be co-creators of God's family wherever we go” (Page 1993: 20). In die derde plek lê die plaaslike gemeente se roeping en fokus op die eenheid van die gemeente. Die opbou van die gemeente is gerig op die ophef van ’n toestand van verskeurdheid in die gemeenskap van

gelowiges. Die waarheid van die gesonde leer onder die beheer van die liefde is die norm vir die gemeente om eensgesind te leef as die volk van God.

Die Heilige Gees is in besonder aan die kerk gegee ter wille van die versameling van die

gemeente, die opbou van die gemeente en die uitsending van die gemeente (Bosch 1979: 201) In hierdie werk van die Gees, gesien teen die lig van die kenmerke van die kerk en die feit dat die plaaslike gemeente geroep is tot uitbou en opbou, speel die lidmaat ’n groot rol. Die

plaaslike gemeente word ’n missionêre gemeente wanneer die lede van die gemeente al hoe meer in die wêreld betrokke raak deur koinonia, kerygma, diakonia en martyria (Van Enegen 1991: 89). “At the level of the local congregation the missionary Church discovers its reason for being in the world as it becomes the the loving koinonia fellowship of desciples of the crucified Jesus, confessing in word and deed that Jesus is Lord, and witnessing to the greatest event of all time – God with us” (Van Engen 1991: 99).

In die roeping van die plaaslike gemeente om missionêr te wees het die ampte ’n belangrike rol te speel. Die toerustende werk van die ampte is onontbeerlik in die uitreik na diegene buite die gemeente. Sonder die toerusting deur die ampte kan die geheel nie funksioneer nie en ook nie groei nie. Die eenheid van die gemeente word gedien deur die dienswerk van die ampte wat in liefde en waarheid geskied. Die afwesigheid van die buitengewone ampte verarm die kerk en maak dit vir die gemeente onmoontlik om aan sy roeping getrou te bly. Die afwesigheid van die plaaslike gemeente ontneem die gemeente se amptelike doelwitte en maak dit ampswerk

Die gesag van die besondere amp word begrens deur die amptelike werk in die gemeente. Die outoriteit waarmee ampsdiens in die kerk verrig word is af te lei van die gesag van die Koning aan Wie alle mag behoort (Matt 28:18). Hy vernietig die bose magte en al sy vyande (1 Kor 15:24, 25). “In Hom het die ampswerk die vaste waarborg dat die eindresultaat vasstaan: elke knie sal buig en elke tong sal bely: ‘Jesus is die Here!’ (Fil 2:10, 11)” (Van der Walt 1988: 221). Die amp het nie gesag om te oorheers nie maar het gesag om in die plaaslike gemeente ter wille van die Missio Trinitatis te dien. Indien hierdie gesag oor- of onderwaardeer word lei dit tot ’n verlies aan die nakom van die funksie van die amp en is dit ’n verlies vir die kerk se betrokkenheid by die uitdra van die boodskap van hoop en verlossing. Die sleutelmag wat deur Christus aan die kerk gegee is word aan die hand van die Woord so deur die amp hanteer dat die diens en “sending” waartoe die hele kerk geroep is daardeur gedien word.

Gevolgtrekking 4.9:

Dit is die taak van die amp om die gemeente as deel van die een, heilige, algemene, apsotoliese kerk in staat te stel om sy doel en funksie in die Missio Dei te bereik deur intensionele dade van koinonia, kerygma, diakonia en martyria, nie net deur die ampsdraers alleen nie maar deur die hele kerk, tot verheerliking van die Hoof van die kerk.