• No results found

Die Benutting van Algemene Wetenskappe in Missiologie

6.5 Die Metodes van Teologie

Teologie moet, na aanleiding van die definisie vir “wetenskap”, in sy metodes gesistematiseerd op ’n verifieerbare wyse geskied. Teologie dink meer krities na oor geloof en geloofsdade van gelowiges as wat die voor-wetenskaplike omgang met die objek van teologie dit sou doen. Geloof maak nie net deel uit van die objek van teologie nie maar is tegelykertyd die

voorveronderstelling daarvan. Die objek van teologie as wetenskap is die geloof in die God van die Bybel, die inhoud van die geloof, die geloofshandelinge van gelowiges en die wyse van oordrag van hierdie geloof. Die Bybel en die vasstelling van ’n betroudare teks daarvan maak deel uit van die objek van teologie. Kritiese nadenke word beskikbaar gestel aan ander teoloë wat hierdie gedagtes opnuut krities deurdink en langs hierdie weg verifieer. Kritiese nadenke word gesistematiseer sodat die gedagtes oor die objek van die teologie geordend is. Omdat dit in teologie gaan om die geloof en geloofshandelinge van sondige mense is teologiese nadenke en metodes altyd beperk. “Elke menslike woord, begrip en metode is as sodanig vir die verstaan van die werklikheid van God inadekwaat” (Heyns en Jonker 1974: 147). Teologie is daarom altyd in beweging en op soek na wyses om dit wat vir menslike vermoëns onbevatlik is en vir menslike woorde onuitspreekbaar is, beter te begryp en te omskryf. Teologie geskied binne ’n eie tydsbepaalde konteks, daarom is dit gebonde aan sy tyd en vermoeëns. Die mens se teologiese nadenke is altyd kultuurhistories gebonde en die boodskap van God se openbaring

word telkens vir elke historiese tydperk opnuut ondersoek en geïnterpreteer (Heyns en Jonker 1974: 149).

Die sentrale rol van die Woord in teologie word alreeds geïmpliseer in die benaming van die wetenskap as logia of taal en woorde oor theos. “The inescapable meaning of logos is ‘word’ … The Word is not the only necessary determination of the place of theology, but it is undoubtedly the first” (Barth 1963: 16). Teologie is insigself ook ’n “woord” maar dan in die sin van ’n “ant-woord” op die Woord van God. “Theology stands and falls with the Word of God, for the Word precedes all theological words by creating, arousing, and challenging them” (Barth 1963: 17). Indien teologie nie die element behou dat dit ’n antwoord op die inisiërende Woord van God is nie is teologiese nadenke inhoudloos en leeg. Hóé daar geantwoord word op die Woord van God wissel van persoon tot persoon. In sy bespreking van die benutting van die Bybel in die beofening van die missiologie as wetenskap beskryf Van Engen (1996 35 – 43) ’n aantal

hermeneutiese metodes waarop daar met die Bybel omgegaan word:

Die eerste, wat hy afkeur, is die sogenaamde “van Bo” standpunt in die hermeneutiek. Hiervolgens is die korrekte interpretasie van die Bybel afhanklik van die kerk se amptelike begrip, uitleg en verkondiging daarvan. Die Skrif word dan ’n “van Bo” gegewe reël- of wetboek wat deur alle gelowiges slegs nagevolg moet word. “The basic problem … is that the Scriptures themselves are not allowed to interact with the present context … we reduce the impact that Scripture can have in transforming the way we understand, exercise and evaluate our missional action” (Van Engen 1996: 37) of ander teologiese werskaamhede.

’n Tweede hermeneutiese sleutel wat, moontlik in reaksie op die eerste, sy ontstaan het vanuit die feit dat die kerk meer relevant wou wees in die tyd na die Tweede Wêreld Oorlog, verskuif die klem na allerlei dade van geloofsgehoorsaamheid. “The starting point is not the Bible, but rather particular contextual agendas. Once these agendas have been determined, exemplary cases and useful proof-texts are sought in the Bible to illustrate and validate the predetermined course of action” (Van Engen 1996: 38). Alhoewel die kontekstuele aard van hierdie wyse van verstaan van die Skrif ’n verbetering is op die vorige, verloor die Skrif sy normatiwiteit en staan die mens so sentraal dat die teologie nie meer ’n respons is op die Woord van God nie maar

eerder ’n antwoord op die noodroep van medemense. Die Bybel is slegs noodsaaklik as regverdiging van sekere geloofsaktiwiteite.

’n Derde sleutel steun baie swaar op die Rasionalisme se “redelike suspisie”. Die “stappe” van hierdie proses behels in die eerste plek ’n “ideological suspicion” ten opsigte van die konteks van die teoloog. Hierdie idiologiese onderbou word dan in die tweede plek aangewend om die Bybel en die teologie te ontsluit. In die derde plek lei dit dan tot “exegetical suspicion” wat ’n nuwe verstaan van die Skrif teweeg bring wat in die vierde plek lei tot ’n nuwe uitleg binne die konteks van die teoloog. In hierdie nuwe konteks begin die proses dan weer by stap een. Alhoewel hierdie wyse van benadering tot die bestudering van die Bybel baie kreatief is, verskraal dit die begrip van God se Woord tot ’n begrip van sosio-ekonomiese en politieke agendas. “This in turn shrinks the basis on which the Bible is being read. The method would look different if the analysis of reality were itself governed by biblical perspectives” (Van Engen 1996: 39).

Die Vierde wyse waarop die Bybel teologies benader kan word is die sogenaamde Kritiese Hermeneutiek deur middel van paradigmas, waarvan David Bosch ’n voorstander is. Hy benut veral die missionêre fokus van die Bybelse teks as sy sleutel-paradigma. Met hierdie metode moet die navorser of Bybelleser die selfdefinisies van die Bybelse teks en die huidige konteks by mekaar uitbring. Die verstaan van die Skrif geskied dan in ’n interaksie tussen die selfdefinisies van die vroeë outeurs van die teks en die selfdefinisies van die gelowiges van vandag. “This in turn would move us to reread the biblical text, incorporating the newer sociological analysis of the Bible in its various contexts, then going beyond to a series of self-definitions of mission for today’s context” (Van Engen 1996:40). Die verskillende missionêre paradigmas in die Nuwe Testament en die self-definisies van vandag, wat soms in spanning met mekaar is, kan in samehang met mekaar nuwe alternatiewe daarstel vir ’n begrip van die roeping van die kerk se sendingtaak in die wêreld. Hierdie model blyk volgens Van Engen ’n onvolledige een te wees en tog ’n model wat die vorige voorstelle tot ’n kontekstuele hermeneutiek inkorporeer en verbeter.

Van Engen stel daarom self ’n vyfde teologiese benadering tot die benutting van die Bybel as bron in die teologie as wetenskap en spesifiek die Missiologie, voor. “One way to build on

Bosch’s hermeneutical method is to approach Scripture from the perspective of a number of themes and subthemes (or motifs) of God’s action in the world” (Van Engen 1996: 40). Die Bybel is soos ’n tapeserie met ineengeweefde temas en motiewe in die historiese kontekste waarin elke teks sy ontstaan het en gelees word. Langs hierdie weg kan die “van Bo”-aard van die Woord en die “van onder” konteks waarin dit telkens gelees word in interaksie met mekaar lei tot ’n begrip van die Woord. Die temas is van bo en van onder. “Van bo” dui op die ingrype van God in die geskiedenis en “van onder” wys daarop dat hierdie ingrype in die geskiedenis van die wêreld geskied en afspeel in die konteks van die lewens van mense (Van Engen 1996: 41). Langs hierdie weg word daar van die eksegeet verwag om die uniekheid van die konteks van elke gedeelte van die Skrif te vereken in sy of haar eie kontekstuele studie van die Bybel. Die eenheid te midde van die verskeidenheid word so bevestig. Hierdie standpunt sluit baie nou aan by dit wat reeds gesê is oor die Bybel as objek van studie vir die teologie. Die konteks van die ontstaan van die Bybel asook die konteks van die teoloog moet beide verreken wees wanneer die Bybel gebruik word as bron vir teologie.

Van Engen se “tapeserie benadering” laat vir die hermeneutiek die ruimte om te ontdek of daar aan alles wat in die Bybel staan noodwendig dieselfde waarde toegeken moet word. In die hermeneuse van die Skrif word daar gesoek na die sentrale waarheid in die Skrif. Daar is ’n skopus of konsentrasie in die Skrif wat soos ’n goue draad deur die hele tapeserie van God se openbaring loop. “Hoe die sentrale boodskap van die Skrif ookal geformuleer word, dat daar ’n konsentrasie in die Skrif aanwesig is staan vas, en aan hierdie feit sal wel deeglik in die teologie aandag gegee moet word” (Heyns en Jonker 1974: 171). In die soeke na die skopus van die Skrif moet daar egter gewaak word teen die twee uiterstes van objektivisme (wat fokus op God alleen) en subjektivisme (wat alles laat draai om die mens alleen). Sentrale gedagtes moet sentraal staan in teologie en sake wat vir die Skrif op die periferie is moet daar sy plek vind in teologiese nadenke. Daar moet deurentyd met groot piëteit met die Skrif omgegaan word want: “Wie die Bybel tot kenbron vir sy wetenskaplike bemoeienis maak, hanteer die genadegeskenk van God aan sy kerk” (Du Toit 1986: 393). Sonder dat dit ’n wetenskaphandboek is het die Bybel ’n unieke bydrae te lewer tot die wetenskap. Die hantering van die Bybel as bron in wetenskap en teologie moet beide die konteks waarbinne dit geskryf is en die konteks waarbinne dit gelees word deeglik verreken.