• No results found

Die doel vir die uitdra van die evangelie

’n Eerste Verkenning van die “Missionêre Konteks”

3.2 Die Belydenisskrifte en “sending”:

3.3.14 Die doel vir die uitdra van die evangelie

Die Dortse Leerreëls bely dat die getuienis van God se liefde “van die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig uitgevoer” sal word, ondanks “verset van die magte van die doderyk”. Die rede waarom hierdie werk voortgesit word is “sodat die uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam vergader sal word”. Die versameling van die uitverkorenes van God in een liggaam is egter sekondêr daaraan dat hierdie versamelde liggaam sal bestaan uit gelowiges wat verlos is en Christus, die Verlosser “met volharding dien” en “tot in alle ewigheid verheerlik” (DL hfst 2 par 9). Die uitdra van die evangelieboodskap is uiteindelik tot die eer van God deur die eensgesinde liggaam van verlostes. “Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe die eer en heerlikheid en ewigheid” (BHB 5). Die verlossing van mense word beskryf as “rus vir hulle siele en die ewige lewe” (DL hfts 3 & 4 par 8). Die eenheid van die kerk word bely in artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Van Engen (1991: 68) maak ’n baie sterk saak daarvoor uit dat hierdie eenheid van die kerk nie net die statiese einddoel van “sending” is nie maar dat dit deel uitmaak van die imperatief vir die uitdra van die boodskap van verlossing. In die eenheid word die versoening tussen God en mens en tussen mens en mens gesien. “… the one Church of Jesus Christ would be seen as a unifying force. Its life would be occupied with gathering,

inviting and incorporating.” Die doelwit van die getuienis is dus die eer van God, deur die verlossing van uitverkorenes wat in een liggaam saamgevoeg word. Oor die eenheid van die

kerk bely die kerk dat dit “met hart en wil in een en dieselfde Gees, deur die krag van die geloof saamgevoeg en verenig is” (NGB art 27).

Die Belhar Belydenis sluit sterk hierby aan en lê klem op die waarde van die eenheid van die kerk vir die missionêre werk van die kerk. Die doel vir die uitdra van die evangelie is die “versoeningswerk van Christus” wat sigbaar word in die kerk as ’n “geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is” (BHB 2). Hierdie eenheid is daarom “gawe én opdrag” wat “’n samebinde krag is” deur die werk van God se Gees maar ook deur die kerk “nagejaag”, “gesoek” en “voortdurend opgebou” moet word. Die rede dat hierdie eenheid sigbaar moet word is “sodat die wêreld kan glo dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense en mensegroepe sonde is wat reeds deur Christus oorwin is …” (BHB 2). Een van die uitkomste van hierdie eenheid is dat die kerk dan “aan een Heer gehoorsaam is, vir een saak ywer, een hoop met mekaar deel” en “saam diensbaar is aan God in hierdie wêreld” (BHB 2). Indien hierdie eenheid bedreig word deur enige “gedwonge skeiding” word “die bediening en belewing van die versoening in Christus … belemmer en van krag beroof” (BHB 3).

Gevolgtrekking 3.13:

Die rede vir “sending” is die verlossing van sondaars sodat hierdie verlostes God die Verlosser met volharding tot in ewigheid sal verheerlik en eer as ’n liggaam van verlostes.

3.3.15 Samevatting

Uit die voorafgaande blyk dit dat ’n gereformeerde definisie vir “sending” die volgende elemente moet bevat:

“Sending” is Missio Trinitatis en is dus in die eerste instansie die Vader, Seun en Heilige Gees wat uitreik na die wêreld om in die wêreld hoop te bring. Jesus staan in God se sending sentraal en die hoop wat daar is in die Missio Trinitatis word bewerk deur sy gehoorsaamheid aan die kruis. Na die hemelvaart van Jesus word die Missio Trinitatis deur die Heilige Gees voortgesit. Die Missio Dei strek van voor die skepping af en word deur die Drie-enige God voortgesit tot herstel van die gebroke verhouding wat die mens se sonde veroorsaak het. Die hoop wat daar is in God se “sending” is gerig op almal wat ly aan die gevolge van sonde terwyl God se

verbrokkeling van hierdie hoop. Jesus is die enigste Middelaar van die hoop wat God in die wêreld bring. Die inhoud van die boodskap van hoop aan sondaars is dat herstelde verhoudinge met God, medemens en die wêreld moontlik is. Die hoop wat daar is in God se sending word nie verdien nie maar word ontvang uit genade alleen, deur geloof in die bemiddelaar van hierdie hoop, Jesus Christus, deur die verkondiging van die Woord van God in woord en daad deur diegene in die besondere ampte en deur gelowiges wat nie vir ’n besondere diens geroep is nie. Die ampte moenie net die Woord van God verkondig en die sakramente bedien nie maar moet toesien dat die evangelie oral versprei word. Die uitdra van hoop geskied op ’n formele en informele wyse deur die hele kerk wat die werk van ampsdraers en nie-ampsdraers insluit. Die rede vir “sending” is die verlossing van sondaars sodat hierdie verlostes God die Verlosser met volharding tot in ewigheid sal verheerlik en eer as ’n liggaam van verlostes.

3.4 ’n Gereformeerde definisie vir “sending”

Vanuit ’n studie van die Gereformeerde belydenisskrifte kan “sending” as volg gedefiniëer word:

Sending is die wyse waarop die Drie-enige God deur sy kerk uitreik na ’n wêreld wat aan die gevolge van sonde ly. Die doel van hierdie uitreik is om die boodskap van hoop en bevryding in Jesus Christus alleen, op praktiese maniere deur die hele kerk aan alle mense te bring.

3.5 ’n Tweede verkenning van ’n definisie vir “sending”

Bogemelde omskrywing van wat “sending” is genoodsaak’n uitbreiding op die aanvanklike definisie van “sending”:

“Sending” is daardie multi-dimensionele aktiwiteite van die hele kerk van Christus, waarmee die kerk, op grond van die Missio Dei, die grense na die wêreld op so ’n wyse oorsteek dat God se eskatologiese hoop en verlossing in Jesus Christus alleen, vandag reeds realiseer vir diegene wat onder die gevolge van sonde ly.

In die sending van die kerk om hoop te bring aan mense moet gelowiges alle grense tussen die kerk en die wêreld wat die evangelie verskans, sigbaar en onsigbaar, oorsteek.

Hoofstuk 4