• No results found

’n Eerste Verkenning van die “Missionêre Konteks”

2.6 Die Dimensies van “Sending”

“De christelijke kerken zijn organisatievormen die behoren tot het genre der instituten. Het bijzondere van de kerken ligt in de aard van die activiteiten” (Berkhof 1979: 363). “Mission is a Christian effort to respond to a changing world” (Yang 2005: 38). Dit is die dinge wat die kerk doen en die inhoud en die boodskap daarvan, wat die kerk anders maak as ander instellings in die wêreld. Die doel van die werksaamhede van die kerk is om deur middel van die paas- en pinkstergebeure mense te vernuwe deur hulle in ’n herstelde verhouding met God en Christus te bring en hulle sodoende in nuwe verhoudinge te stel met mekaar, met die lewe en met die wêreld. In die stigting van herstelde verhoudinge in die wêreld is die Gees werksaam en is die gestaltes van hierdie werk nie altyd “institutionaliseerbaar” nie. “De Gees waait waarheen Hij wil en de participatie is zo geskakeerd als het leven zelf (Berkhof 1979: 363). “Sending” is dus daardie werk van die kerk waar die kerk met ’n boodskap met vele dimensies van hoop, die wêreld tegemoetgaan. Die veelsydigheid van “sending” kan nie in statiese terme omskryf word nie. “Eeuwenlang heeft men bij een statische kerkconceptie geleefd” (Berkhof 1979: 430). In ’n wêreld van voortdurende verandering en dinamiese vloeibaarheid moet “sending”, as die kontakpunt tussen kerk en wêreld, sedert die Afklärung net so vinnig as die wêreld self kan beweeg en aanpas en mag daar niks meer staties wees aan die kerk se respons op die nood van die wêreld nie.

Kraemer (1969) verwys na die feit dat die versorging van weduwees en weeskinders, die sorg aan diegene in die tronk en die sorg aan diegene wat op reis is of ander nood ervaar en die sorg aan gemeentes wat in materiële nood verkeer in die Bybelse tyd ’n teken was daarvan dat die kerk ’n gemeenskap van mense is wat nuut en anders is. Hierdie optrede van die kerk het gemaak dat die evangelie wat hy gedra het nie net gehoor is nie maar dat dit ook gesien is in die dade en optrede van gelowiges. “The Christians really concidered themselves brethren and sisters and their actions corresponded to this belief” (Kraemer 1969: 434). Die kerk is vandag egter nie meer net met hierdie sake gemoeid nie. Die wêreld van vandag verskil hemelsbreed van die een waarin die Vroeë Kerk homself bevind het. “Rural reconstruction, education, co- operation, and other activities that try to meet essential needs or glaring evils are in the present time as natural expressions of the Christian spirit of love and solidarity as almsgiving or the care of slaves was in the Ancient Church” (Kraemer 1969: 435). As gevolg van die ontwikkeling van die wetenskap en tegnologie het die kerk tot sy beskikking baie meer omvattende bronne om die elke dag se nood van die mens mee te kan aanspreek, maar dit is ook as gevolg van dieselfde ontwikkelings dat die nood van mense vandag grootliks verskil van dié van die mense in Bybelse tye. “Our approach and methods differ accordingly” (Kraemer 1969: 434). Daar is ’n baie groot behoefte dat die kerk betrokke sal wees by al die uitdagings wat aan elke beelddraer van God gestel word. “All these problems of Christian service and solidarity with the environment are given a special note of urgency by the fact that the non-Christian world, in wich the Christian task must be fullfilled, is going through a period of rapid change and transition, in which the old is in many respects vanishing and the new is still powerless to be born (Kraemer 1969: 435 en 436). Kraemer identifiseer die terreine van opleiding (“education”), mediese sorg en opbou van landelike gebiede (“rural reconstruction”) as die terreine waar die kerk se sendingwerk ’n praktiese impak behoort te maak in die lewens van mense.

Alhoewel Kraemer die inhoud van “sending” onder ’n aantal hoofde saamgevat het, blyk dit uit sy argumentasie dat die hele mensewêreld die veld en konteks van God se heilswerk is en dat die werk van die kerk daarom nie gereduseer kan word tot slegs ’n metafisiese nadenke of

teologisering oor die goeie nuus vir die wêreld nie. “Sendingwerk” is ook nie afgehandel met die lewer van ’n persoonlike verlossingsboodskap nie. God is die Skepper en Verlosser aan die werk in die mens se pogings om die lewe te bemeester en dus is Hy ook daar betrokke waar mense in “the cultural sphere in its various aspects” aan die werk is (Kraemer 1969: 429). “In het NT word telkens nadruk gelegd op de relatie van de gelovige en de kerk met de wereld, in

levenshouding, getuienis en dienst” (Berkhof 1979: 431). Die benaming “apostel” is daarom alreeds ’n aanduiding van die gestuurdheid van die kerk na die nood van die wêreld.

Die vraag bly egter hoe hierdie gestuurheid behoort gestalte te vind. Die kerk kan tog immers nie in totaliteit opgaan in slegs dienslewering aan die wêreld nie. Die eerste en vernaamste bly die diens aan God. “Om de brug te kunnen vormen tussen de verbondstichtende God en zijn wereld, moet ze vast op de eerste oever gefundeerd zijn” (Berkhof 1979: 433). In die herstelde verhouding met God kan die kerk “anders-zijn” in die wêreld as getuies aan en getuienis tot die wêreld. Hierdie “anders-zijn” sluit in ’n “dienstbaar-zijn” en “instrument-zijn” in die koninkryk van God (Berkhof 1979: 435). Die diens in die wêreld is dus ’n diensbaarheid in die wêreld tot diens aan die koninkryk, tot diens aan God.

Berkhof (1979: 435 – 438) identifiseer hierop vier karaktertrekke van die kerk se dienswerk in die wêreld. Dit is voorbidding, getuienis, hulpverlening en profesie. Kritzinger (2002: 4 – 10) identifiseer op sy beurt minstens vyf dimensies in die kerk se betrokkenheid by die nood van die wêreld. Die eerste is die klassieke godsdienstige dimensie (bl 4) waar evangelisasie en selfs her- evangelisasie van mense ter sprake kom. Die tweede dimensie handel oor die kerk se boodskap in die “politico-kulturele” konteks (bl 6) en hiermee saam volg die sosio-ekonomiese (bl 6) en sosio-kulturele kontekste (bl 8) wat uiteraard nuwe dimensies gee aan hoe die kerk sy boodskap van hoop aan die wêreld sal bring. Voeg hierby dat die ontmoeting tussen kerk en wêreld in ’n geskape werklikheid geskied wat, volgens die kerk se belydenis, die handewerk is van die God wat hoop bring, maar wat deur die eeue deur mense van die wêreld vir eie gewin geëksploiteer is, en die ontmoeting tussen kerk en wêreld kry ’n ekologiese dimensie by (bl 9). “Caring for the well-being of the earth is crucial for the survival of humanity” (Wilson 2003: 174). Die

eskatologiese hoop wat die kerk in die wêreld vandag reeds wil laat aanbreek sluit die versorging en die welwese van die skepping van God in en dus maak die bewaring van die ekologie deel uit van die sendingtaak van die kerk.

Van Engen (1991: 120) vind in die drievoudige amp van Christus ’n skema vir die

karaktertrekke van die kerk se werk in die wêreld. Die kerk is in die wêreld koninklik as priester en profeet aan die werk. Hy voeg hierby die twee gestaltes van geneser en verlosser (“healer and liberator”: 125). “We seem to be at the threshold of a new era which may involve surprising new contextualized forms of missionary congregations organized primarily with regard to their role in ministry in the world” (Van Engen 1991: 127). Heyns (1989: 446) noem in hierdie

verband “sending” die “vleeswording van die kerk”. “Lidmate word opgeroep om in die samelewing tekens van die koninkryk op te rig; nie-lidmate word opgeroep tot geloof in Christus en word sodoende burgers van die koninkryk en lidmate van die kerk” (Heyns 1989: 445). Sendingwerk word egter nie net gedoen deur die bring van ’n verbale boodskap van die verlossing van die “siel” van die mens nie en word nie gedoen ter wille van die uitbreiding van die kerk as instituut nie. Sendingwerk se oogmerk is die uitbreiding van die koninkryk van God wat op ’n omvattende wyse “indring in die ganse skepping en die hele menslike samelewing, al sy fasette van kultuur en struktuur sal deursuur” (Heyns 1989: 445). Die hele mens word in sy totale nood versorg deur die goeie nuus van die evangelie. “Soek ’n mens verder na ’n

omvattende begrip vir die wyse waarop Jesus Christus self sy kerugma kom oordra het, dan kom die begrip bediening – diakonia – in die gedagte” (Smit JH, Sept 1989: 553). Diens aan die wêreld in sy totale nood as gevolg van sy vervreemdheid van die Skepper maak ’n wesentlike deel uit van die verskeidenheid van dimensies van sending. Uit hierdie groot verskeidenheid van wyses waarop sending gedoen word deur die kerk moet dit alreeds duidelik wees dat dit ’n taak is wat nie net deur die formele en amptelike werk van die kerk gedoen kan word nie. Elke gelowige sal met sy of haar besondere gawes betrokke moet raak by die werk van die kerk om die boodskap van die kerk te inkarneer in sy of haar besondere situasie. Die benutting van die amp van die gelowige kan hierin meehelp tot die transformasie van “being an inviting church to becoming an infiltrating church” waarvoor Gibbs en Coffey (2001: 228) pleit. Wanneer ’n gemeente hierdie transformasie bewerk kan dit ontsnap uit “survival mode” en verander na “mission mode”. In hierdie “mission mode” nooi die gemeente nie net die wêreld in die kerk nie. “Instead, the church will have to be the church in the world – gathering for worship in order to go out in mission. Its programmes must be geared to equip and support the people of God in the strategic locations where the Lord has already placed them to serve as his representatives” (Gibbs en Coffey 2001: 228). Die gemeente se roeping om sendeling te wees in die

gemeenskap waarvan dit deel uitmaak word bevorder deur die bemagtiging van gelowiges. In die bemagtiging van gelowiges moet die sendingtaak van die kerk deeglik omskryf wees.

JH Smit (Sept 1989: 556) formuleer op weg na ’n teologie van sending ses komponente wat in ’n definisie vir “sending” ’n rol behoort te speel. Hy erken dat dit nie die enigste is nie maar voel dat daar deeglik rekening gehou moet word met die volgende indien “sending” gedefinieer word. Hierdie komponente is:

- die Christokratiese integrasiepunt van die sending; - die sending in koninkryksperspektief;

- verbond en sending;

- sending as deel van die omvattende bediening (diakonia) van die evangelie van die koninkryk, en

- sending as eskatologiese gebeure en handeling van God deur sy kerk.”

In die wêreld waarin die kerk hom tans bevind blyk dit dat die rol van die gemeente as brugbouer tussen God en wêreld nie in ’n statiese definisie vasgevang moet word nie. Sulke definisies herinner te veel aan die rasionalisme van die Modernisme en skrik die mens af wat ’n groot klem lê op ervaringskomponente in hulle geloof. ’n Omskrywing van wat sending is moet die

gemeente help om meer as net te reageer op die uitdagings wat die wêreld aan die evangelie stel. Die hele gemeente moet in sy getuienis, met dade, die wêreld uitdaag om te deel in die

versoening en verlossing wat daar is in werk van die Koning van die kerk en die heelal. Hierdie uitdaging geskied binne die verbondsverhouding met God in vele gestaltes – van ’n koninklike of profetiese tot die een van dienskneg en diensmaagd wees. Geen sfeer van die gelowige se lewe is uitgesluit van die roeping om die lig van die evangelie te laat skyn en die sout van die boodskap van verlossing te laat deurdring nie. Soos suurdeeg deur die hele deeg trek moet die boodskap wat in die gemeente leef deur die hele skepping van God mense op alle terreine van hulle lewe raak. Die tyd toe die sendingtaak van die kerk op grond van ’n hiëragiese of

institusionele redenasie gedelegeer is na net die dominee, sendeling en ’n paar sendingvriende, is vir die gemeente wat waarlik missionêr is verby.

Gevolgtrekking 2.6:

“Sending” moet die hele mens op ’n holistiese wyse met al sy ingewikkelde dimensies bekendstel aan die eskatologiese hoop en verlossing wat daar in Christus Jesus is.

2.7 “Sending” is die oorsteek van grense:

Die realisering van die eskatologiese hoop en verlossing raak nie net die hele mens nie maar raak die hele wêreld as die skepping van God. Die kerk se hele bestaan moet gerig wees op aktwiteite waar die grense tussen die kerk, as God se volk, en die wêreld, oorgesteek word tot heil van die wêreld. Die rede waarom die kerk bestaan is “sending”. Wat binne die grense van die kerk

gebeur moet altyd op die een of ander wyse lei tot die na buite oorsteek van daardie grense. “So mission concerns the world also beyond the boundaries of the church” (Bosch 1991: 494). Hierdie grense wat oorgesteek word mag nie net in ’n geografiese sin verstaan word nie. In die geskiedenis is “sending” wel vir ’n tyd lank geografies verstaan. “Die plek, nie die taak nie, bepaal of ’n persoon ’n sendeling is of nie: iemand is ’n sendeling as hy deur die kerk in een plek in diens gestel is om elders te gaan werk. Hoe verder die twee plekke uitmekaar is, hoe duideliker is dit dat hy ’n sendeling is!” (Bosch 1979: 48). Die geografiese element het soms gelei daartoe dat daar by die sendling ’n meerderwaardigheidsgevoel was om van die een kultuur “iets” te gaan oordra aan mense van ’n minderwaardige kultuur wat veraf geleë is (Bosch 1979: 49). Die grense wat die kerk met die evangelie moet oorsteek is in die “global village” van die derde millenium egter nie soseer meer geografies nie. Grense wat oorgsteek word is soms die grense wat sosio-ekonomiese hindernisse in die weg van die evangelie lê. Rassisme, armoede, gender verskille en rasionele konstruksies stel dikwels onsigbare grense vir die hoop wat daar is in die lewende Christus en die almag van die Her-skeppende God. Kruis-kulturele evangelisasie is nie meer net die uitreik van een nasionaliteit na ’n ander nie maar die uitreik van die kerk na sub-kulture wat daar in gemeenskappe mag bestaan. Die kerk het byvoorbeeld ’n baie groot taak om armes as ’n sub-kultuur te kan bereik en om mense van hierdie groep weer te integreer in die gemeenskap (Yang 2005: 47). Sending is die oorsteek van grense. “… crosscultural or boundary-crossing communication is essential to the basic character of mission” (Yang 2005: 47). Yang (2005: 47) waarsku egter dat die grense wat die kerk oorsteek soms slegs oorgesteek word en nie noodwendig afgebreek moet word nie. In die kommunikasie van die evangelie oor grense is “equal regard” vir diegene aan die ander kant van die grens wat die kerk oorsteek, baie belangrik. Die evangelie word oorgedra nie in beterweterige meerderwaardigheid nie maar met liefde en respek vir diegene aan wie die boodskap gebring word. “Coexistence means a living relationship to cross but not to crush” (Yang 2005: 47).

Gevolgtrekking 2.7:

“Sending” gebeur daar waar die kerk die grense, sigbaar en onsigbaar, tussen die evangelie en die verloregaande wêreld op so ’n wyse oorsteek dat die wêreld kan deel in die hoop wat daar is in Christus.

In die sending van die kerk om hierdie hoop te bring moet gelowiges alle grense tussen die kerk en wêreld wat die evangelie verskans, sigbaar en onsigbaar, oorsteek.

2.8 Konklusie:

In die ervaring van versplintering in die tyd na Modernisme is ’n definisie van wat “sending” beteken moeilik in een sin af te handel. Dit is nie soos in die verlede moontlik om met een groot, feitelike stelling van geloof alle antwoorde oor “sending” te gee nie. Wat nodig is, is eerder ’n nederige getuienis deur die kerk van die grootheid van God soos wat Hy Homself in ’n

beslissende wyse na die wêreld gewend het deur sy Seun Jesus Christus (Bosch 1991: 354). Enige iets anders sal die wêreld vervreem van hierdie baie belangrike taak van die kerk. ’n Definisie van “sending” mag egter nooit so aanpas by die wêreld se eise dat dit gekompromiteer word nie. “Sending” moet insluit dat die kerk die wêreld tot verantwoording roep in ’n duidelike oproep tot bekering. Die ontmaskering van modernisme se siening in sake wetenskap en

tegnologie wat veronderstel dat die waarheid altyd voorspelbaar of vooruit bepaalbaar is, het gelei tot ’n siniese nihilisme in die lewe van baie mense. Die kerk het met die evangelie egter ’n eskatologiese uitsig op die toekoms en die wete dat God besig is om dit te herskep. Hierdie uitsig gee aan die gemeente ’n blik op nuwe moontlikhede om in die gemeenskap die hoop te bring wat daar is in Christus Jesus. Hierdie uitsig gee hoop en hoop is iets wat die wêreld tans juis ’n behoefte aan het. Die kerk is die draer van hoop en het die verantwoordelikheid om die wêreld weer terug te roep na die sin en betekenis van sy bestaan. In die nuwe uitsig en visie op God se toekoms vir die wêreld kan die kerk vir die wêreld in sy vervallendheid, weer hoop bied (Bosch 1991: 356). Die hoop wat daar is in Christus moet deel uitmaak van die definisie van wat “sending” is.

In die laaste instansie moet erken word dat enige definisie van wat “sending” is altyd weer beïnvloed sal word deur die “fiduciary framework” (Bosch 1991: 358) waarbinne die persoon wat definiëer self staan. Terwyl dit in berekening gehou word in die omskrywing van “sending” moet daar dus ruimte gelaat word vir die feit dat die kerk nie bestaan uit slegs die een

denominasie waarbinne die omskrywer self staan nie. ’n Beskrywing van wat “sending” is moet in ag neem dat die kerk, as die wêreldwye liggaam van Christus, saam die einddoel van hoop in God se eskatologie nastreef en dit in samewerking met mekaar moet kan bereik (Bosch 1991: 362).

Gevolgtrekking 2.8:

Alhoewel die “sendingwerk” van die kerk nie in een sin opgesom kan word nie moet dit, al is dit vanuit die waarnemer se oogpunt, so gestel word dat dit die hoop en bevryding wat daar is in die evangelie duidelik omskryf.

2.9 ’n Aanvanklike Omskrywing van “Sending”

Uit die voorafgaande sien ’n eerste poging om “sending” mee te beskryf as volg daar uit:

“Sending” is daardie multi-dimensionele aktiwiteite van die kerk van Jesus Christus, waarmee die kerk die grense na die wêreld oorsteek op so ’n wyse dat God se eskatologiese hoop en verlossing, vandag reeds in die wêreld realiseer.

’n Verder verduideliking is:

Alhoewel al die aktiwiteite van die kerk nie sending is nie, is “sending” daardie aktwiteite wat op die grens lê tussen kerk en wêreld, wat dit ten doel het om hierdie grens op ’n positiewe en hoopvolle wyse te oorbrug met aktiwiteite wat religieuse, sosio-politiese, sosio-kulturele, sosio- ekonomiese en ekologiese dimensies het.

“Sending” is inderdaad die volle boodskap van hoop, deur die hele kerk aan die hele wêreld in alle situasies waar mense in sonde verlore gaan en deur sonde beroof word van die eskatologiese hoop wat Christus gee.

2.10 Samevatting:

Omdat dit so sentraal staan en omdat die konteks waarbinne die kerk werk dit eis is dit