• No results found

Amp in die Belydenisskrifte en kerkorde:

Die Kerklike Amp in Missionêre Konteks

4.9 Amp in die Belydenisskrifte en kerkorde:

Die kerklike instituut is grootliks waarneembaar in sy geskrewe dokumente. Indien die plek en rol van die amp in die kerklike instituut dus nagspeur moet word sal daar dus gekyk word na die amp soos wat dit beskryf word in die kerk se belydenisskrifte en neerslag vind in sy Kerkorde.

In die Nederduitse Gereformeerde Kerk word die drie Formuliere van Eenheid asook die Ekumeniese belydenisse op die quia-basis aanvaar en dus is hierdie belydenisskrifte die onderbou en fondasie van die nadenke oor die ampte soos wat dit in die Bybel aan die kerk deurgegee word. In die gereformeerde belydenisskrifte is die regering van die kerk sentraal (Brown 1988: 155). Daar word deurentyd gewag gemaak van die feit dat dit Christus self is

wat die kerk regeer. Die rol van die ampte en dienste word egter met die regering van Christus in verband gebring. Christus is die Hoof van die gemeente wat sy liggaam is. In sy liggaam betoon Hy sy genade en laat Hy sy wil geskied. Martin Bucer was die eerste van die

Reformatore wat die beginsel van die Christusregering toepas op die kerk (Brown 1988: 155). Hiervolgens word Christus nie net verteenwoordig deur die ampte nie maar is Hyself

teenwoordig in die bediening in die kerk. “Christus noem Homself volgens die Skrifte ‘minister’, dienskneg. Dit dui daarop, volgens Bucer, dat Hy in die besonder alles in die kerk bedien, en dan nie Homself verkondig nie, maar slegs wat sy Vader aan Hom opgedra het” (Brown 1988: 155). Om dus nou ’n amp vir Christus waar te neem, rus die Gees gelowiges toe met die nodige gawes. “Die ampsdraer ontvang egter nie ’n magisterium van Christus nie, slegs ’n ministerium” (Brown 1988: 156). In sy Institusie blyk dit dat Calvyn op die spoor van Bucer die Christokrasie ’n sentrale plek laat beklee. Daar kan dus nie sprake wees van ’n suksessie van persone in sekere ampte nie maar wel ’n suksessie van die suiwere apostoliese leer. Die suiwerheid van hierdie leer word gewaarborg deur die beloftes van God en die werk van die Heilige Gees en nie deur die primaatskap van ’n amp of ampsleer nie. Die verheffing van enige amp of ampsdraer beroof daarom God van die eer wat Hom alleen toekom en bedreig verder die rol en funksie wat elke lidmaat vervul in die Missio Ekklesia.

Die Christokratiese gedagtes van die Reformasie vind sy neerslag in die Nederlandse

Geloofsbelydenis veral in artikels 27 tot 32 (Lekkerkerker 1971: 39). Artikel 27 wat die geloof bely in ’n “algemene Christelike kerk” bely dat hierdie kerk daar was “van die begin van die wêreld af en tot die einde daar sal wees, want Christus is ’n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie” (Ons Glo: 22). In artikel 28 “horen wij over het ambt van alle gelovigen” (Lekkerkerker 1971: 39). In hierdie artikel word bely dat elkeen verplig is om by die ware kerk aan te sluit. Dit beteken ’n gehoorsaamheid aan die “leer en tug” van Jesus deur “onder die juk van Jesus Christus te buig” (Ons Glo: 22). Artikel 29 bely eweneens die

Christokrasie in die regering van die kerk wanneer daar oor die kenmerke van die ware kerk bely word dat kerke ware kerk is wanneer “almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is verwerp, en Jesus Christus as die enigste Hoof erken” (Ons Glo: 23). Dieselfde artikel bely dat gelowiges hulleself aan die “juk van Christus moet

onderwerp” en nie méér op ander mense moet vertrou as wat hulle reeds op Christus vertrou nie. In die gereformeerde begrip van die amp is daar nie ruimte vir ’n hiërargie nie. Die

tussen ampte en lidmate nie en daarom moet die diens van die amp teenoor die lidmaat altyd sentraal staan in die verantwoordlike hantering van die roeping tot ’n amp.

By artikels 30 en 31 word daar spesifiek gefokus op die werk van die ampte in die regering van die kerk. Volgens artikel 30 vorm “dienaars of herders” wat die Woord verkondig en die sakramente bedien, saam met “ouderlinge en diakens”, die “kerkraad”. Hierdie kerkraad is die “middel” waardeur die ampte moet sorg dra daarvoor dat alles in die kerk “behoorlik en ordelik” geskied. As Skrifbewys vir hierdie artikel word 1 Tim 3 aangehaal (Ons Glo: 24). Artikel 31 fokus spesifiek op die ampsdraers van die kerk, hulle roeping, verkiesing, diens en onderlinge optrede teenoor mekaar. Daar word bely dat die bedienaars van die Woord, “op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag” het. Die een heers nie oor die ander nie maar as bedienaars van die Woord is hulle almal dienaars van Chrisrus, “die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk” (Ons Glo: 24). Die instelling van ’n ordelike reëling in die kerk word bely in artikel 32. Die kerk se leiers moet “onder mekaar ’n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk instel en handhaaf,” dog die leiers moet versigtig wees om nie met hierdie orde “af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie” (Ons Glo: 25). E Brown (1988: 157) voel dat die huidige Afrikaanse vertaling van hierdie artikel afbreek doen aan die positiewe waarde van die kerkorde. Hy sou verkies dat die vertaling nie moet lei: “al is dit nuttig en goed om” tot ’n bepaalde orde te kom nie, maar dat dit eerder moet lei: “Dat dit nuttig en goed is dat die regeerders” tot ’n bepaalde orde sou

ooreenstem. Daarmee sou die plek en funksie van die kerkorde vir hom dan beter omskryf wees. Hy plaas steeds ’n groot klem op die waarskuwing wat hierdie artikel aan elke kerklike orde rig. Hierdie waarskuwing “kom vanweë die feit dat die kerkorde ook voorskrifte uit die Skrif en in belang van ’n bepaalde kerk moet aflei en opstel” (Brown 1988: 157). Vir Calvyn was dit op grond van 1 Kor 11:12 duidelik dat elke kerk die vryheid het om sy eie kerkorde op te stel wat vir daardie kerk paslik en bruikbaar is. Die rede hiervoor moet gesoek word in die feit dat daar geen eksakte voorskrifte in die Skrif gevind word vir die inkleding van die plaaslike gemeente of kerk nie. Die orde wat die kerk kies mag nie die Skrif weerspreek nie en dit moet die konsens van die lidmate hê (Brown 1988: 157).

Uit die Nederlandse Geloofsbelydenis blyk dit dat die bestuur van die kerk in die hande is van die enigste Hoof van die kerk Jesus Christus en dat die persone wat geroep word om in ’n

buitengewone amp te staan deur die Gees vir hierdie taak geroep word en bekwaam gemaak word sodat die kerk ordelik regeer kan word. Daar is dus in hierdie belydenis ruimte vir die gebruik van ampte in die kerk. Die vraag moet egter gevra word “of die gereformeerde

belydenis en kerkordes nie die Skrif beperk nie? Daar was tog meer ampte, dienste of funksies in die Nuwe Testament” (Brown 1988: 158). Lekkerkerker (1971: 40) meen egter dat die Nederlandse Geloofsbelydenis se beskrywing van die ampte nie in ’n enger sin verstaan behoort te word nie aangesien “het woord ‘ambt’ in die Nederlandse Geloofsbeleijdenis nog niet de specifieke zin heeft waarin wij het gebruiken voor een ‘openbare betrekking waatoe men door de overheid of enig erkend gezag benoemd wordt, resp. geestelijke bediening in een protestantse kerk’ (Van Dale). Wij moeten in het algemeen denken aan een werk, waartoe iemand geroepen is; een opdracht, die hem gegeven is.” Vir alle gelowiges is daar dus volgens artikel 28 ’n diens. Selfs die owerheid is geroep tot diens (artikel 36) en binne hierdie kader “zijn er ook ‘ambten’ in de zin van leidinggevende diensten in de gemeente.” Die spesifieke dienste wat deur die

Belydenisskrif uitgelig word is die dienste van die verkondiging van die Woord, die opsig en barmhartigheid. Alhoewel daar spesifieke dienste vermeld word deur die Belydenisskrif sluit hierdie vermeldings nie ander dienste uit nie. Dit is eers in die praktyk van die kerkordelike reëlings dat kerke dienste anders as leraar, ouderling of diaken insluit of uitsluit.

Die Heidelbergse Kategismus het eweneens ’n baie ruimer begrip van wat “amp” beteken. Al sou daar weer besware ingebring word (Brown 1988: 158) teen ’n enger begrip van die algemene priesterskap van alle gelowiges, Sondag 12, moet daar tog erken word dat die

Kategismus nêrens die woordjie “amp” gebruik nie en dat daar deurentyd slegs sprake is van die werk van Christus. Die Kategismus gee op grond van die werk van Christus aan die kerk die leidrade van hoe sy dienswerk in en deur die gemeente voortgesit behoort te word. Dit is dus ook van die Heidelbergse Kategismus waar dat, vanuit die Christokrasie, wat gevestig is deur die Reformasie, gereformeerdes in ’n eie kerkorde ’n ampstruktuur kan bepaal mits dit nie die hoofskap van Christus in gedrang bring nie, nie tot enige vorm van hiërargie sal lei nie en mits die dienste van Woordverkondiging, opsig en barmhartigheid die plek vind wat die Skrif daaraan gee. In die gereformeerde kerkreg hoort amp en gemeente bymekaar en word die amp nie gesien as ’n doel opsigself nie. Die amp heers nie oor die gemeente “van bo af” nie maar is gegee om elke gelowige, as lid van die volk van God (laos) toe te rus vir sy of haar dienswerk in die kerk se betrokkenheid by die Missio Trinitatis.

Gevolgtrekking 4.10:

In die Gereformeerde belydenisskrifte word daar baie gemaak daarvan dat die regering van die kerk ’n Christokrasie is waarby Christus self die ampte betrek. Christus is teenwoordig in die regering van die kerk en word nie deur die ampte verteenwoordig nie.

“What the church has to stress most strongly in its witness will vary from country to country and from century to century” (Schweizer 1979: 225). Die verklaring vir hierdie uitspraak vind Schweizer in die feit dat die Bybel nie ’n klinklare kerkorde vir die kerk aanbied nie. Die enigste riglyn is dat, in watter vorm die kerk homself ookal orden, hy deurentyd daarvan bewus moet bly dat hy nooit in eie krag werk nie en dus nooit self verlossing aan die wêreld wat onder die

gevolge van sonde lei, aanbied nie. Die kerk wag die genadegawes van God af en op grond van hierdie gawes kan die hele kerk sy multi-dimensionele aksies in die wêreld verrig. Die kerk moet daarop klem lê dat dit ’n verpligting tot diens het vanweë “the obligation imposed by God’s call in Jesus Christ, and thus make it clear in its own self-understanding and order that it lives only through that act of God for the world.” Hierdie besef moet geadem word deur alle vorme van kerkinstellings asook deur die verkondiging van die Woord en die bediening van die sakramente.

Dit is dus ’n vereiste dat ’n kerkorde “zo los mogelijk haar stof zal orden en regelen” aangesien daar by die samestelling ’n “duizend punten” is waaroor dit sou kon gaan (Van Ruler

1952: 89). Keuses moet egter gemaak word. Hierdie keuses is lewende en geestelike dade. Sodra dit op skrif gestel is, het die lewende gedagte egter “een zekere verstrakking en verstarring ondergaan.” ’n Kerkorde is eensydig in die sin dat dit meestal handel oor die juridiese en

institusionele aspekte van kerkwees. Hierdie twee aspekte van kerkwees is altyd relatief aangesien daar by die inrigting van die kerk rekening gehou moet met “de tradtie, met de historisch gegroeide toestanden, met de feitelijke situatie. Wat teoretisch kan, kan feitelijk niet altijd” (Van Ruler 1952: 90).

In sy “Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2004” erken die Algemene Sinode van die Nederduits Gereformeerde Kerk dat hierdie kerk gegrond staan “op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God” (Art. 1, bl. 1). “Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die sinode van Dordrecht in 1618 - 1619” (Art. 1, bl 1). Op grond van 1 Kor 14:40 word in Artikel 2 bepaal dat die artikels wat in die Kerkorde volg ’n poging is waarmee die Kerk se lewe en werk georden word met die oog op die “volbrenging van sy taak en roeping ooreenkomstig die Heilige Skrif en die Belydenis” (2005: 1). Dit volg dus op grond van bogenoemde logies dat wanneer Artikel 3 (2005: 1) algemene bepalinge rondom die ampte van die kerk wil gee daar dadelik aangesluit word by die Christokratiese regering van die kerk. Die Christokrasie word dan omskryf as dienswerk van Christus wat Hyself verrig deur die werk van die Heilige Gees deur:

“3.1.1 die dienswerk van al die gelowiges;

3.1.2 die dienswerk van die drie besondere ampte, te wete:

* dié van bedienaar van die Woord

* dié van ouderling

* dié van diaken”.

Rondom hierdie drie ampte word gereël dat dit “gelykwaardig” is, maar dat daar onderskei word “in opdrag en werk”. “By die uitoefening van hulle roeping mag geen ampsdraer oor ander ampsdraers heerskappy voer nie, aangesien Christus die enigste Hoof, Koning en Meester van sy kerk is” (Art. 3: bl. 1). Artikel 4 (2005: 2) reël dat persone in besondere ampte kan dien indien hy of sy “op wettige wyse beroep (of verkies) is, die nodige approbasie verkry het, en bevestig is.” Artikels 5 tot 14 handel oor die amp van leraar terwyl artikel 15 oor ouderlinge en diakens handel en artikels 16 en 17 onderskeidelik die ampte van ouderling en diaken orden.

Met sy Kerkorde wil die Nederduits Gereformeerde Kerk die belydenis dat Christus self sy kerk regeer eggo. Hierdie Kerkorde maak egter slegs ruimte vir drie besondere ampte. Enige verdere gawes en dienste sal moet tuiskom onder die reëlings vir die dienswerk van gelowiges soos gereël deur artikel 55 (2005: 23). Schweizer (1979: 228 - 229) maak die gevolgtrekking dat die

kerk ’n vaste orde moet hê maar dat dit nooit ’n onbuigbare wet is nie en dat dit altyd geamendeer kan word.

Gevolgtrekking 4.11:

Die Christokrasie van Christus word aan die hand van die Drie Formuliere van Eenheid in die Kerkorde van die NG Kerk in 2004 erken. In hierdie Kerkorde word daar vir slegs drie ampte, te wete die ampte van leraar, ouderling en diaken, ruimte gemaak. Die “dienswerk van al die gelowiges” word nie onder die opskrif “Die ampte van die kerk” genoem nie, maar wel onder “Die arbeid van die kerk”.

4.10 Samevatting:

Die kerklike amp moet die onderwerp van studie bly sodat dit in elke era en tyd só ingerig kan word dat dit in nuwe tydskontekste en -eise steeds binne die Bybelse riglyne bly. Die

beskrywing van die amp volgens eie tyd en konteks moet geskied in die lig van die Missio Dei wat deur die kerk hoop en verlossing bring deur besondere en algemene gawes. Die primêre betekenis van die term “amp” is “diens”. Hierdie diens is egter nie net van ’n algemene aard nie maar geskied in opdrag van God met gesag wat van Hom afkomstig is binne die ruimte van die kerk as draer van die eskatologiese hoop en bevryding in Christus. Christus regeer die kerk deur sy Woord en Gees. Die Heilige Gees versorg die kerk deur die kerk voortdurend toe te rus met gawes aan indiwiduele persone sowel as gawes aan die gemeenskap van gelowiges. Die ampte tel onder laasgenoemde gawes. Alle ampswerk is diens maar alle dienswerk is nie amptelik nie. Amptelike diens is ruimte skeppend vir alle diens wat aan Christus gelewer word in en deur sy liggaam, die kerk. Daar is’n verskeidenheid van ampte met ’n onderskeid in opdrag en funksie. In die verskeidenheid van ampte is daar egter’n eenheid in die diens aan die liggaam van

Christus. Die getal van ampte is nie primêr nie maar wel die oorsprong, doel en teologiese fundering van elke amp. Die funksie van die amp is die toerusting van lidmate sodat alle gelowiges, lidmate en ampte in eenheid gesien, betrokke kan wees by:

- die soeke na die eenheid in die kerk,

- die oordra van die geloof van geslag tot geslag, - die barmhartigheidswerk van die gemeente, en - die toesig en tug van mekaar.

Die toerustingstaak van die amp sluit die toerusting vir die opbou én die uitbou van die gemeente in en dus het die amp ’n missionêre dimensie, alhoewel laasgenoemde nie primêr is nie. Dit is die taak van die amp om die gemeente as deel van die een, heilige, algemene, apsotoliese kerk in staat te stel om sy doel en funksie in die Missio Dei te bereik deur intensionele dade van koinonia, kerygma, diakonia en martyria, nie net deur die ampsdraers alleen nie maar deur die hele kerk, tot verheerliking van die Hoof van die kerk. In die Gereformeerde belydenisskrifte word daar baie gemaak daarvan dat die regering van die kerk ’n Christokrasie is waarby Christus self die ampte betrek. Christus is teenwoordig in die regering van die kerk en word nie deur die ampte verteenwoordig nie. Die Christokrasie van Christus word aan die hand van die Drie Formuliere van Eenheid in die Kerkorde van die NG Kerk in 2004 erken. In hierdie Kerkorde word daar vir slegs drie ampte, te wete die ampte van leraar, ouderling en diaken, ruimte gemaak. Die “dienswerk van al die gelowiges” word nie onder die opskrif “Die ampte van die kerk” genoem nie, maar wel onder “Die arbeid van die kerk”.

Hoofstuk 5

’n Gereformeerde Beskouing van die “Amp van die Gelowige” en die