• No results found

Moontlike Winspunte in die herwaardering van die Amp van die Gelowige:

1.5 Simptome van ’n belewenis van verandering

1.6.1 Moontlike Winspunte in die herwaardering van die Amp van die Gelowige:

In die verandering wat die kerk in Suid Afrika tans ervaar kan ’n nuwe klem op die amp van die gelowige vir die missionêre kerk van groot waarde wees.

a Die fokus op die amp van gelowige laat die kerk klem lê op sy missionêre roeping

In ’n tyd van oorgang tussen paradigmas kan die kerk óf vir die oue óf vir die nuwe kies, ten koste van sy boodskap. “Instead of becoming a church that is simply absorbed by culture or that vainly endeavours to exist in isolation from the broader culture, the church must engage in dynamic interaction with the culture in which it is immersed” (Gibbs en Coffey 2001: 214). In hierdie wisselwerking tussen die kerk en die gemeenskap waarvan dit deel uitmaak is dit vir die kerk nodig om baie stewig aan sy missionêre karakter vas te hou. “”Die uitdaging is dan om nie die kerk se misionêre perspektief en openbare getuienisfunksie te verloor nie” (Hendriks 1997: 30). Die kerk se sendinggerigtheid in ’n sekulêre wêreld wat verby die modernisme beweeg sal die waarde van die lidmaat wat nie in die besondere amp dien nie deeglik moet verreken. Die

lidmaat is nou nie meer die “bedieningsobjek” nie maar doen mee aan die bediening van die kerk aan die veranderende wêreld. “Die sendingveld begin nou by die gelowige se voordeur,

evangelisasie of sending vind deur persoonlike verhoudings plaas en die waarheid word aan dade gemeet (ortopraksie). Hierdie skuif in fokus is ’n skuif van sinode na gemeente, van leer na lewe, van kerk na God” (Hendriks 1997: 28). In ’n Post-moderne wêreld sal die waarheid, uitgedruk in rasionele of kognitiewe taal nie die wêreld oortuig van die evangeliese boodskap nie. Daar setel baie meer oortuigingswaarde in die dade wat die belydenis van die gelowiges kenmerk. Die geloofsverhale van indiwiduele gelowiges sal die wêreld van die waarheid oortuig in plaas van die rasionele verkondiging van Bybelse waarhede deur ’n kerklike amp. Vir die kerk is dit noodsaaklik om ’n reoriëntasie te ondergaan “turning around from a survival mode to a mission mode” (Gibbs en Coffey 2001: 228). In hierdie reoriëntasie sal die rol wat die lidmaat speel nuwe aandag moet ontvang.

Gevolgtrekking 1.1:

Deur sy lidmate kan die kerk in veranderende tye steeds sy missionêre roeping uitleef.

b Die fokus op die amp van gelowige laat die kerk nadink oor die lokaliteit van die “sendingveld”

Christus het sy lewe nie vir die kerk afgelê nie maar vir die hele wêreld. Sy oorwinning oor die sonde en die dood laat die komende Koninkryk van God vandag alreeds aanbreek in die

stukkende wêreld. Die kerk is die getuie van hierdie Koninkryk in al sy gestaltes. “The Church cannot create, bring in, or build the kingdom, but it can and does witness to it. Clearly this witness happens in word and deed, in miracles, in signs and wonders, in the transformation of the lives of people, in the presence of the Holy Spirit, in the radical recreation of humanity” (Van Engen 1991: 111). Wanneer die Koninkryk van God ter sprake kom dryf dit die hele kerk, lidmaat en gemeente, in die wêreld in om tekens van hoop van die aanbrekende en komende Koninkryk van God op elke terrein van die lewe waar gelowiges van Maandag tot Saterdag in die wêreld kom, sigbaar te maak. “To be free for service to the kingdom in the world is a task of the individual believer, the congregation as community, and the Church as a body” (Van Engen 1991: 115). In ’n Post-moderne wêreld wat ly aan ’n pessimistiese wêreldbeeld en wat smag na hoop vir ’n beter toekoms is die uitvoer van die taak van elke gelowige in die uitdra van die hoop wat daar is in die koninkryk van God van kardinale waarde. “Sendingwerk” is nie meer die taak

van ’n besonders-geroepene wat na ver uithoeke met die evangelie uitreik nie. Dit is die taak van elke kind van die Here op elke terrein van sy of haar lewe as ’n “sendingterrein”.

Gevolgtrekking 1.2:

Deur sy lidmate kan die kerk sy missionêre betrokkenheid op alle terreine van die lewe uitleef.

c Die fokus op gelowiges bring hoop ten spyte die wêreld se wantroue in formele kerkstrukture

In vorige paradigmas is daar van bo na onder gedink en gedoen. “Die evangelie is van bo, vanaf die teoloë en deur die instituut oorgedra na die gewone lidmaat. Daar was genoeg outoriteit en dissipline om die ‘van bo’-gesag te handhaaf. Sekularisasie en die modernisme het die konteks totaal verander” (Hendriks 1997: 28). Die kerk as instituut speel nie meer dieselfde

invloedryke rol in die westerse samelewing as wat dit byvoorbeeld in die Konstantynse era gespeel het nie. De Villiers (1995: 567 – 568) se konklusies in ’n artikel wat handel oor die “Nederduits Gereformeerde Kerk en die nuwe situasie in die samelewing” sluit onder meer in dat die “openbare beeld van die NG Kerk” sterk afgeneem het en dat die kerk nie meer dieselfde inspraak in regeringsbeleid as in die verlede het nie. Die kerk het verder ’n

“geloofwaardigheidsprobleem”. Die kerk het ’n ondersteunende rol in apartheid gespeel en word nie in die era van demokrasie sondermeer vertrou nie. As moontlike oplossing van hierdie uitdagings wat veranderings aan die NG Kerk spesifiek stel, stel De Villiers (1995: 568) voor dat die kerk “sy lidmate motiveer” om betrokke te raak by spesifieke heropbou-programme in die land. Sy konklusies kan egter breër geïnterpreteer word deur te sê dat die kerk sy lidmate moet motiveer om op alle terreine van die samelewing, waar hulle hulleself mag bevind, ’n missionêre roeping uit te leef. Op so ’n manier sal die kerk as instituut se tanende invloed in die samelewing nie die roeping van die kerk as organisme om sout, lig en suurdeeg te wees,

verhinder om tekens van hoop op te rig nie (Gibbs en Coffey 2001: 89).

Gevolgtrekking 1.3:

Deur die lewe van gelowiges kan die evangelie steeds die wêreld bereik ten spyte van wantroue wat die wêreld het in formele kerkstrukture.

d Die fokus op die amp van gelowige verhoed onnodige hiërargie in die kerk:

In die post-moderne wêreld is daar nie net suspisie teen vroeëre gevestigde strukture nie maar ook teen organisasies wat sterk hiërargies in struktuur is. “Rapid change, the electronic communication highway, diversification in the market-place and suspicion toward centralized bureaucracies all contribute to a widespread trend in government, industry, education and the church to flatten organizational pyramids and get rid of layers of middle management. A trend of equal significance is the inclusion of the grass-roots and frontline people – those who are actually in the trenches, so to speak, doing the ministry – in the decision-making process” (Gibbs en Coffey 2001: 227). Die insluiting van lidmate in die besluitnemingsprosesse van die kerk mag meehelp tot die aanvaarding van eienaarskap en betrokkenheid van lidmate in die taak van die kerk buite sy formele strukture.

Gevolgtrekking 1.4:

Alle lidmate dra die evangelie in die wêreld in en nie net ’n paar afgevaardigdes of ’n verkleinde kerkvergadering as verteenwoordigers van die kerk se boodskap nie.

e Die fokus op die amp van die gelowige rus lidmate toe vir beslissings in etiese vraagstukke

Post-modernisme en die gevolglike veranderings in die gemeenskap en die situasie by die werkplek, asook die verkleining van die wêreld deur globalisasie, stel baie groter eise aan die gelowige in sy of haar verhouding met die Here buite die erediens en die invloedsfeer van die gemeente. In die verlede is lidmate buite die erediens deur streng kontrole en wetgewing beskerm teen gedagtes en strominge wat in botsing was met die Christelike godsdiens. In ’n liberale en sekulêre opset soos gepropageer in Suid Afrika na die eerste demokratiese verkiesing word gelowiges al hoe meer gekonfronteer met standpunte en stellings wat hulle geloof en verhouding met die Here toets. Nuwe wetgewing wat “sterk afwyk van die wetgewing van ’n vorige bedeling” se “verwarrende invloed” “op die lidmate van ons kerk moenie onderskat word nie” (De Villiers 1995: 560).

In die post-modernistiese siening van gekontekstualiseerde etiek word etiese beslissings gereduseer tot ’n persoonlike voorkeur wat nie aan ander opgedring kan word nie.

“Differentiation implies that ethical views should respect the otherness of others. … From this it is clear that morality does not consist of fixed rules, but rather operates from a position of interpersonal responsibility” (Janse van Rensburg 2000: 65). Aangesien post-modernisme die Christelike standpunte in sake ’n hoër transendente sisteem van waardes en norme verwerp en dit wil vervang met ’n indiwiduele, kontekstuele etiek, moet die kerk elke gelowige opnuut die waarde van chritelike etiese gedrag in die samelewing leer. Gelowiges ervaar dat daar nie net as gevolg van die nuwe politieke situasie nie, maar ook as gevolg van meer kontak met ander godsdienste en gelowe, druk uitgeoefen word op hulle geloof. Gemeentes moet lidmate daarom help om hulleself Bybels te kan verantwoord oor die etiese konsekwensies van hulle geloof. Hulle moet egter verder as net die etiek, hulleself baie duidelik kan uitspreek oor die inhoud van hulle geloof en die hoop wat dit inhou vir die wêreld. Christene moet opnuut geleer word om Bybelse beginsels in spesifieke kontekste te kan toepas (De Villiers 1995).

Gevolgtrekking 1.5:

Lidmate wat in etiese vraagstukke Bybelse beginsels kan toepas dra ’n sterk boodskap van hoop oor aan die wêreld.

f Die fokus op die amp van gelowige versterk lidmate se identiteit in Christus

“Namate die openbare invloed van die tradisioneel Gereformeerde leer en sedes afneem en lidmate meer blootgestel word aan die invloede van modernisering en ander konfessies, godsdienste en lewensbeskouinge, kan verwag word dat ook die verskeidenheid leerstellige en morele oortuiginge, asook die verskeidenheid in geloofsbelewing, onder lidmate sal toeneem” (De Villiers 1995: 561). Gesprekke oor leerstellige standpunte sal nie meer net tussen teoloë en predikante gevoer word nie, maar al hoe meer deur lidmate self. Gelowiges se standpunte sal nie meer, soos in die verlede net die herhaling wees van die amptelike standpunte van die kerk nie. So ’n verskeidenheid van standpunte mag vir lidmate wat nie deur die kerk hierin begelei word nie, lei tot twyfel. “Dit is hoogs waarskynlik dat die groter morele en leerstellige onsekerheid by baie lidmate sal lei tot ’n worsteling oor hulle eie identiteit as Christene” (De Villiers 1995: 560). Die kerk moet ernstig nadink oor die plek en rol wat lidmate in die kerk en koninkryk vervul en moet hulle hiermee behulpsaam wees sodat gelowiges nie aan die een kant in twyfel of aan die ander kant in fundamentalisme verval wat ongenuanseerd onverdraagsaam raak en so skade aan die koninkryk kan berokken nie. In die post-modernisme se wegbeweeg van die

oorsaak en gevolg struktuur en in die soeke na groter sin vir die mens se bestaan is daar verder ’n gevaar dat lidmate wat onseker is van hulle verhouding met die Here in die nuwe paradigma kan verval in die mistiek van alternatiewe weë van belewenisse van ’n godheid. “Deur homself te verloor in ’n mistieke ervaring, voer die moderne westerling ’n tydsprong. In die towerwêreld van sy eie innerlike gewaarwordinge kan hy sy heimwee na ’n ontmoeting met die transendente vervul” (Van der Merwe, W 1989: 325). So ’n mistieke “ontsnapping” sou die gelowige nie net van meer egte belewenisse van die Drie-enige God beroof nie maar sal hom of haar verder laat terugtrek van aktiewe betrokkenheid by die koninkrykswerk waartoe elke gelowige geroep is. Die kerk sal in tye van onsekerheid op so ’n wyse op die lidmaat moet fokus dat gelowiges hulle identiteit in Christus so sal beleef dat elkeen sy of haar verantwoordelikheid in die gemeente en die gemeenskap sal besef en daadwerklik daarvolgens sal leef.

Gevolgtrekking 1.6:

Lidmate wat leef vanuit hulle identiteit in Christus sal met hulle verhaal of storie meer oortuigend wees as ’n kerklike amp wat ’n boodskap in die wêreld verkondig.

g Die fokus op die amp van die gelowige bied ’n antwoord vir die soeke na koinonia

Deur modernisme se klem op die individu is selfs groepe se bestaan te definieer in terme van die indiwidu en sy of haar behoeftes. Deur tegnologie, verstedeliking, politieke ideologie en

wetgewing is die indiwidu en sy regte so op die voorgrond gestoot dat ’n belewenis van ’n groepsgevoel vir indiwidue moeilik geword het. Die post-modernisme het hierop gereageer deur onderlinge verbintenisse deur middel van holisme te beklemtoon. “Could it be that

postmodernity’s challenge of modernity’s penchant for individualism might stimulate us to discover anew what we have always known – that ‘there is one body and one Spirit … one Lord, one faith, one baptism; one God and father of all, who is over all and through all and in all’ (Eph. 4:4-5)?” (Van Engen 1996: 214). Die gemeente is meer as net die som van die individue wat daarby betrokke is. Lidmate moet leer dat die korporatiewe werklikheid van die gemeente ’n plek is waar elkeen ’n bydrae maak om ’n koninkryksinvloed op die gemeenskap te hê.

Die belewenis van die koinonia van gelowiges is in die tyd na modernisme se klem op die

rasionele van groot belang. Post-modernisme se reaksie op die rasionalisme van die vorige era is egter onaanvaarbaar vir die kerk. “… the postmodern option has predominantly moved us

toward nihilism and meaninglessness” (Van Engen 1996: 216). Modernisme, met die klem op die rasionele en die indiwidu, het nie rekening gehou met die sondeval van die mens nie en post- modernisme hou nie rekening met die Bybelse boodskap van die herstel van die mens deur Jesus Christus nie. Die klem van die kerk moet egter nie die rasionele of indiwiduele alleen teenwerk nie, maar moet die Bybelse alternatief, van die herstelde gemeenskap van gelowiges, aan die wêreld kan toon. In hierdie gemeenskap is daar belewenis van koinonia waar elke lid deel is en belangrik is. “Thus both the message and the essential being of the messenger community of faith will be used by the Holy Spirit to bring new holiness, new encounter with God, new

transformation, and a new call to participate in God’s mission (Isa. 6)” (Van Engen 1996: 219). Na die koue, kliniese wêreld van die modernisme met sy vryhede en klem op die indiwidu en te midde van die siniese wêreld van die post-modernisme soek gelowiges die warmte van die belewenis van te behoort tot ’n geloofsgemeenskap waar hy of sy nie net bedien word nie maar waar elkeen self ’n rol te vervul het in die bediening (Gibbs en Coffey 2001:192)

Gevolgtrekking 1.7:

Lidmate wat ’n eie plek in die kerk het en in die kerk koinonia ervaar kan ’n boodskap van hoop aan ’n koue, rasionele of siniese wêreld bring.

h Die fokus op die amp van gelowige maak ’n bediening met veelvuldige fasette moontlik

In die verlede is die gemeente bedien volgens een standaard bedieningsmodel. Met die klem op indiwidualiteit en die aangryp van persoonlike vryhede het die samelewing egter gefragmenteerd geraak. ’n Eenvormige bediening aan alle lidmate as een groot groep sal in die toekoms nie meer elke lidmaat na sy of haar eie geestelike behoefte kan bedien nie. Die eskalasie in die tempo van verandering het die gemeenskap in verskillende “generasies” verdeel en die kerk sal die verskille tussen hierdie generasies in ag moet neem in sy bediening aan gelowiges en aan die wêreld. Wat die saak verder kompliseer is die feit dat daar bo en behalwe die verskillende generasies in een gemeente, ook nog verteenwoordigers van verskillende paradigmas, hetsy tradisioneel, modern of post-modern, gevind word. Die kerk sal al hoe meer ruimte moet laat vir die verskil wat daar is tussen verskillende lidmate van verskillende generasies en verskillende kulture met verskillende behoeftes en gawes (Gibbs en Coffey 2001: 222). “Groter

goeie orde, ’n groter aandrang op verhoudinge en koinonia, en die benutting van gewone lidmate se gawes is aan die orde van die dag” (Hendriks 1997: 35). Die omsien na verskeidenheid in behoeftes moet insluit dat gemeentes multikultureel die gemeenskap waarvan dit deel uitmaak moet kan bedien. Gemeentes kan die wêreld ten beste bereik deur verskillende behoeftes en kommunikasiestyle van hoorders in ag te neem. Een van die maniere waarop die kerk in sy bediening die groot verskeidenheid van behoeftes in ’n gemeente kan akkomodeer en bedien is deur ’n weldeurdagte beskouing van die amp van die gelowige en ’n benutting van die gawes wat elkeen het.

Gevolgtrekking 1.8:

Deur die amp van die gelowige kan die kerk omsien na die verskeidenheid van bedieningsbehoeftes van lidmate van ’n verskeidenheid kategorieë.

i Die fokus op die amp van gelowige bring vernuwing in die uitvoering van die sendingtaak van die kerk

Die oordra van die evangelie kan in die huidige paradigmaskuif nie op ’n konfronterende kennisoordrag-wyse geskied nie. Om net op die rasionele vlak die boodskap oor te dra gaan nie die waarheid van die hoop en verlossing in Christus vir mense van die moderne of post-moderne tyd oortuig nie. Skeptiese mense wil die waarheid sien gebeur in die lewens van medemense en nie net hoor in die oorvertel van groot meta-verhale nie. Gelowiges of groepe gelowiges moet in die wêreld buite die reikwydte van die kerk as instituut aan nie-gelowiges die waarheid van die evangelie demonstreer (Gibbs en Coffey 2001: 192). “As communities of believers are scattered throughout every segment of society, non-believers will find those fellowships

accessible. They will discover people like themselves, who are working out the implications of their faith in every area of life – people whose lifestyles and occupations closely correspond with their own” (Gibbs en Coffey 2001: 194).

Gevolgtrekking 1.9:

Namate evangelisasie deur verhoudinge en diens die enigste wyse word waarop sekere lede van die gemeenskap bereik kan word sal die rol van die lidmaat wat nie in diens van die kerk is nie en nie in enige besondere amp staan nie, se rol in die kerk se uitreik na die wêreld verhoog.