• No results found

’n Eerste Verkenning van die “Missionêre Konteks”

3.2 Die Belydenisskrifte en “sending”:

3.2.1 Die Nederlandse Geloofsbelydenis

Aangesien dit reeds toegegee is dat die historiese situasie waarbinne ’n belydenisskrif ontstaan het sy inhoud en oogmerke bepaal, is dit noodsaaklik om in kort te let op dit wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis is in 1561 deur Guido de Brès “na overleg met anderen voor de Nederlanden opgesteld naar het voorbeeld van de franse uit 1559, maar nader uitgewerkt, vooral om de nadruk te leggen op het verschil met de dopersen” (De Jong 1980: 220). Die belydenis is met begeleidende briewe en ’n versoekskrif aan die koning op 1 November 1561 oor die muur van die kasteel te Doornik gegooi waar ’n groep amptenare oornag het wat ondersoek moes instel in sake die bedrywighede van die protestante in die omgewing. Die belydenisskrif en meegaande briewe is bedoel as ’n verklaring van wie die gereformeerdes is. Die briewe het ’n spesiale versoek tot die koning gerig om die gelowiges wat deel het aan die Hervorming nie sondermeer te verdink van opstandigheid teen owerheidsgesag nie (De Jong 1980: 220). Die doel vir die opstel van die belydenisskrif word dus as volg saamgevat:

“To protest against this cruel oppresion, and to prove to the persecutors that the adherents of the Reformed faith were no rebels, as was laid to their charge, but law-abiding citizens who professed the true Christian doctrine according to the Holy Scriptures, de Brès prepared this Confession in the year 1561” (Recker 1972: 158).

Die Nederlandse Geloofsbelydenis het dus ontstaan in ’n tyd toe die protestante vir hulle eie oorlewing moes veg en ’n plek moes vind in ’n Rooms Katolieke wêreld. Dit kan daarom nie ’n volledige uitleg wees van die christelike geloof nie. “A carefull analysis of the contents of the articles along with the Scriptures cited overwhelms one with a sense of the limited character of the document and with the realization that it is a product of a very concrete historical situation to which it spoke very well in accord with its avowed limited purpose” (Recker 1972: 159).

In die lig van bogenoemde is dit te verstane dat ’n volledige uitleg van die reformasie se siening in sake die apostoliese taak van die kerk vir die Rooms Katolieke leiers van destyds baie

bedreigend sou oorkom en dat dit vir die kerk die weerstand van katolieke leiers op die hals sou haal. Om te bely dat gelowige protestante die wêreld moet bereik met die (nuutgevonde) waarheid van die evangelie sou moontlik die omstandighede van die hervormers eerder versleg

het as verbeter. Dit word dus nie so pertinent vermeld nie. Dit mag verder wees dat die belydenisskrif iets weerspieël van die algemene standpunt en praktyk van die kerk van hierdie tyd, die Rooms Katolieke Kerk ingesluit.

Alhoewel daar in die Nederlandse Geloofsbelydenis nie direk melding gemaak word van die kerk se sendingtaak en –roeping nie, word hierdie sentrale werksaamheid van die kerk nie heeltemal verswyg nie. In die belydenisskrif word baie van die teologiese onderbou vir sendingwerk gegee. Dit gebeur egter sonder dat daar ’n duidelike oproep is dat die gelowiges met geloof en kennis van God na die verlore wêreld moet uitreik. God, “die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is” (art 1), regeer oor alle dinge (art 13), en laat die gevalle mens nie aan sy lot oor nie (art 14) maar in sy heiligheid beskik Hy steeds oor die mens. Sonder om oor “sending” te praat handel Artikel 15 oor beide die noodsaak en die appél daartoe, wanneer dit die mens van nature as sondaar beskryf (Recker 1972: 163). As gevolg van die gevallenheid van die mens het God sy hand na die mens uitgesteek in die belofte tot ’n verlosser (art 17) en word die goddelike inisiatief in die Missio Dei baie goed onderlê. “But the confession is content only to underscore the divine initiative. Again the inward-looking character of the document is confirmed” (Recker 1972: 163). Die menslike subjek wat betrokke is by die Missio Dei en wat sy of haar roeping en taak is bly onvermeld. Die noodsaak dat elke gelowige in sy of haar lewe die grense tussen kerk en wêreld moet oorsteek met die boodskap van hoop en bevryding word nie direk vermeld nie. Die dokument is grootliks ’n uitleg en verdediging van die protestantse geloof en vertoon dikwels die karakter van ’n na binne gerigtheid. Dieselfde slotsom kan gemaak word wanneer die kerk sy geloof in Christus bely in artikels 18 tot 21. Die twee nature van Jesus maak die deur wyd oop vir die missionêre standpunt dat die kerk se werk in die wêreld nie net handel oor die geestelike nie maar dat die kerk deur elke Christus-gesalfde in die wêreld betrokke is op ’n holistiese wyse ook by die fisiese aspekte van menswees. Christus is immers een persoon met twee nature (art 19). Met die verwysing na die priesterskap van Christus “volgens die orde van Melgisédek” (art 21) sou die skeppings en herskeppingswerk van God deur die missionêre priesterlike werk van gelowiges aan die orde kon kom, maar dit blyk dat hierdie artikel nie die roeping van die kerk nie maar eerder kritiek op die priesterdom van die Rooms Katolieke kerk in die oog het. “Here in the last paragraph of Article 21 the Confession had a good opportunity to issue a rallying call for the proclamation of the Gospel, but it did not. It was interrested only in its apologetic purpose versus Rome!” (Recker 1972: 165).

Die belydenisskrif maak baie daarvan dat die kerk ’n goddelike instelling is. Dit is vir die kerk se uitreik na die wêreld egter noodsaaklik om te besef dat dit tegelykertyd ’n goddelik geskape organisme én ’n menslike organisasie is. “It’s mission is then both gift and task, both spiritual and social. This paradigm is a rather recent development” (Van Engen 1995: 35). Waar die kerk in Nuwe Testamentiese tye deur beelde soos liggaam, gebou en huishouding beskryf is, is dit later, in die tyd van Augustinus in kategorië van statiese definisies in ’n triomfantalisme vasgevang. Gedurende die Middel Eeue het dit die mistieke draer van die sakramente as genadegawes geword. Die Reformasie het oor die kerk nagedink in terme van die self- korrektiewe kenmerke van wat die ware kerk is. Hierdie kenmerke is “wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf” (Artikel 29). Die probleem met hierdie beskrywing van die kerk is dat dit in so ’n logiese skolastiese taal geskryf is dat dit geen “recognizable counterpart in real-world congregations” vind nie (Van Engen 1995: 37). Die kenmerke van ’n ware kerk was vir die Reformatore ’n wyse waarop vasgestel kon word hoe na aan die waarheid omtrent Jesus Christus ’n kerk of ’n gemeente homself bevind het. Dit was nie meer voldoende om oor die kerk te bely dat dit een, heilig, algemeen en gegrond is op die leer van die apostels nie. “The Reformers wanted to point to something behind and beyond the four attributes to the Center, to Jesus Christ, to whom the Church owed its life and nature” (Van Engen 1995:63). Die gedagte was dat die drie kenmerke die kerk weer sou laat terugkeer na die eienskappe van eenheid, heiligheid, algemeenheid en die geankerdheid op die leer van die Apostels (Twaalf Artikels). Alhoewel die gereformeerde kenmerke bedoel was om vas te stel wie almal deel is van die kerk het dit egter nie gelei tot nog groter eenheid, heiligheid en katolisiteit nie. “Sadly, the children of the Reformation stressed the other, darker side of these marks – their introverted, exclusivistic tendencey” (Van Engen 1995: 63). Die kenmerke het tekens van die lokale aanduiding geword van waar die ware kerk is in plaas daarvan dat dit die aanduiding was van die meer dinamiese siening dat dit in die tekens gaan oor wat die ware kerk doen. Die kenmerke van die ware kerk het dogmatiese en polemiese gereedskap geword waarmee daar vasgestel kon word watter kerk deel is van die “ware” kerk en watter kerk “vals” is. Van Engen (1995: 64) wys daarop dat die ekklesiologie van die Reformasie swaar beïnvloed was deur die sosiale en religieuse faktore van sy tyd en dat die kenmerke van die kerk so wyd gedefinieër is dat dit vir vandag minder waarde het. In die ontnugtering wat deel uitmaak van die tyd na die

modernistiese klem op eksakte feitelikhede kan elkeen die “suiwer” van Woord en sakrament egter interpreteer soos wat dit hom of haar pas. Om die kenmerke van die kerk rigied toe te pas soos verwoord in die taal van die Nederlandse Geloofsbelydenis gaan nie van ’n

geloofsgemeenskap in die veranderende omstandighede van die post-moderne wêreld ’n missionêre gemeente maak nie. Dit eggo die klag van McGavran as hy sê: “One effect is that anyone who adheres rigidly to Reformation concepts of the church stand in danger of having a stationary or static view of the Church” (Van Engen 1995: 64). Die Nederlandse

Geloofsbelydenis help nie die kerk om sy gestuurdheid in ’n dinamiese en lewende ekklesiologie te verwoord nie.

Die statiese, na binne gerigtheid van die dokument kan byvoorbeeld gesien word in Artikel 30. Hierdie artikel, wat handel oor die regering van die kerk, vermeld dat die “dienaars of herders” en “ouderlinge en diakens” saam die kerkraad vorm en dat die kerkraad deur sy regering moet “sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en dat ook die armes en beproefdes volgens hulle nood gehelp en getroos word” (“Ons Glo …”: 24). Oor wie toesig gehou moet word sodat die ware leer versprei word en hoe dit gedoen moet word, word nie vermeld nie. Dit is slegs die (statiese) taak van die kerkregering om toe te sien dat dit wel gebeur. Die plek en rol van die gelowige wat nie in die besondere amp staan nie word nie duidelik vermeld nie. Dit wil eerder voorkom asof die alleen verantwoordelikheid van die ampte om die sendingtaak van die kerk te verrig hier verskans word. “Here we have a fine indication that the structure and offices in the church are unto ministry within the church not only, but also beyond it. Though the role and mode of the ministry to sinners is still questionable in the light of the emphasis on punishment …” (Recker 1972: 171). Sendingwerk word gedoen vanuit ’n posisie van gesag. Die burgerlike owerheid het volgens Artikel 36 ’n nog sterker missionêre roeping deur nie net gemoeid te wees met die sekulêre bestuur van die staat nie maar dit moet sorgdra om “die ryk van die Antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus te bevorder en orals te laat verkondig sodat God deur elkeen geëer en gedien sal word, soos Hy in sy Woord beveel” (“Ons Glo …”: 29). Die draers van die boodskap asook die metode van verkondiging word deur die passief, “te laat verkondig”, verswyg. Die inhoud van die verkondiging word wel vermeld as die eer van God, die uitbreiding van sy koninkryk en gehoorsame diens. Die verwysing na die taak van owerhede se rol in die beskerming van die evangelie is duidelik gerig op die konteks waarbinne die Geloofsbelydenis ontstaan het.

Dit kom voor asof die Nederlandse Geloofsbelydenis strukture van gesag as primêre sendelinge sien. Dit sien moontlik nie die kerk in sy geheel of die gelowige wat nie in ’n besondere amp staan nie, as primêre draers van die goeie nuus nie. “Sending” het in hierdie belydenisskrif ’n

baie sterk kerugmatiese of religieuse klem terwyl daar in ’n mindere mate melding gemaak word van die verligting van die nood van die armes en beproefdes. Of enige van hierdie aktiwiteite werklik begryp word as deel van die kerk se “sendingwerk” en of dit deel is van die werk wat die kerk aan sy eie, vervolgde lidmate bring, word verder nie baie duidelik uitgespel nie.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis se waarde om die missionêre roeping van die kerk te

definiëer word in die dokument dikwels deur sy ontstaanstyd en –situasie gekleur. Dit is gefokus op die protestantse kerk se soeke na ’n eie identiteit in ’n Rooms Katolieke wêreld. “In seeking to do this the Confession is like a running skirmish over the doctrinal terrain – firing a volley here and a volley there. The Belgic Confession projects an image, in the main, of a church talking with itself rather than a church before the world” (Recker 1972: 179). Die Nederlandse Geloofsbelydenis stel wel ’n aantal teologiese kernsake wat die basis vorm vir die sendingtaak van die kerk aan die orde. Dit lê nie noodwendig die missionêre fokus en roeping van die plaaslike gemeente of die gelowige wat nie in ’n besondere amp staan nie, helder en duidelik bloot nie. Daar is oor die leerstellige inhoude vir die sending baie te leer van die Nederlandse Geloofsbelydenis.