• No results found

’n Eerste Verkenning van die “Missionêre Konteks”

3.2 Die Belydenisskrifte en “sending”:

3.2.5 Die Belydenis van Belhar

Dit is in so ’n nuwe konteks waarbinne die Belydenis van Belhar sy ontstaan het. Die Belydenis het sy ontstaan op die vasteland waar die Ned Geref Kerk sy grootste roepingstaak vervul om kerk van Jesus Christus te wees. In die tyd van ontstaan het die kerk waaruit dit ontstaan het, die NG Sendingkerk, homself bevind in ’n situasie waarin hy gevoel het hy moet getuig oor die hoop wat daar in die evangelie is. “Vanweë die aanwesigheid van allerlei magte en ideologieë, soos sekularisme, materialisme, nasionalisme, rassisme en marxisme, bevind die kerk, ook die NG

Sendingkerk, hom in wat Schleiermacher ’n ‘frontline-situasie’ noem. Hiermee word eintlik gesê dat die ou onderskeiding van ‘sendingveld’ en ‘tuisfront’ verval het” (Robinson 1984: 52). In eerste instansie moet daar dadelik erken word dat hierdie dokument ook nie in

“tradisionele sendingterminologie” opgestel is nie. “Daar word nêrens blyke gegee dat daar ’n bekommernis is oor die onbekeerde menigtes nie. Dit bevat nie ’n oproep op lidmate van die kerk om betrokke te raak in persoonlike evangelisasiewerk en die stigting van gemeentes nie. Daar word niks gesê oor die noodsaaklikheid van persoonlike bekering nie” (Robinson 1984: 51). Dit is dus, vanuit ’n soeke na die bydrae tot die definiëring van wat “sending” is, duidelik dat die inhoud van die Belydenis van Belhar so deur die situasie van sy ontstaan gekleur is dat dit, net soos die Drie Formuliere van Eenheid, temporeël en geografies, bepaald is.

Tydens die vergadering van die NG Sendingkerk se sinode van 22 September tot 6 Oktober 1982 in Belhar, ’n voorstad van Kaapstad, het die sinode ’n konsep geloofsbelydenis aanvaar na aanleiding van die afkondiging van ’n status confessionis rondom die verwerping van die morele en teologiese regverdiging van die ideologie van apartheid. In ’n begeleidende brief sê die sinode: “Na ons oordeel verg die kerklike en politieke situasie binne ons land en veral binne die NG Kerk-familie tans so ’n beslissing” (Cloete en Smit 1984: 11). Die dryfveer vir die

Belydenis is volgens die sinode, die vrees dat die waarheid en krag van die evangelie skade aangedoen word deur die kerk se stilswye oor die morele en teologiese ondersteuning van ’n politieke beleid wat deur baie inwoners van Suid Afrika as ’n stelsel van skeiding en

onversoenbaarheid ook in die kerk ervaar word (Cloete en Smit 1984: 11).

Uit die ontstaansituasie van die belydenis, is dit duidelik dat die oogmerke van die Belydenis nie net ’n belydenis vir die oë en ore van die wêreld is nie, maar dat dit, net soos met die drie

Formuliere van Eenheid, gaan oor ’n verdediging van die waarheid wat deur sekere dele van die kerk se optrede bedreig word (Cloete en Smit 1984: 12). Amptelik is dit ’n belydenis teenoor die hele wêreld, maar in wese het dit gehandel oor die impasse wat die Sendingkerk ervaar het in sy gesprek met die Ned Geref Kerk. Die belydenis is in hoofsaak gemaak teenoor laasgenoemde om hierdie kerk se aandeel in die politieke model van apartheid bloot te stel en om die

Sendingkerk se standpunt hieroor helder te laat hoor. “Deur die belydenisvorming wou die kerk onder meer voorkom dat hy misverstaan en die gesprek afgebreek word vanweë misverstande en wanvoorstellings” (Smit, DJ 1984: 31). Die kerk het gevoel dat hy as gespreksgenoot nie deur die “blanke” Ned Geref Kerk gehoor word nie. “Dit is immers die swart ervaring. Dit is die toppunt van magteloosheid en uiteindelike frustrasie. Dit is die lewenservaring van stem-

loosheid” (Smit, DJ 1984: 38). Die afkondiging van ’n status confessionis en die besluit tot ’n nuwe belydenisskrif was ’n “allerlaaste kreet” om gehoor te word.

Die belydenisskrif is egter nie méér uitgesproke oor “sending” as die Formuliere van Eenheid nie, en tog gaan dit om temas wat die evangelie se verkondiging kan bevorder of belemmer. Vanuit hierdie agtergrond kan daar verwag word dat die Belhar Belydenis meer sou sê oor die moderne of post-moderne konteks waarbinne dit ontstaan het. Aangesien die Belhar Belydenis oor eenheid, versoening en geregtigheid handel is daar ’n verwagting dat dit ’n uitspraak sal maak in sake die plaaslike gemeente en die rol van individuele gelowiges in die vestiging van hierdie waardes. “Dit gaan hier om wat vir die missionêre getuienis van die kerk van die grootste betekenis is. Kerkeenheid is vir die sending van wesenlike belang. Daarin kom die versoening met God en van mense met mekaar tot sigbare uitdrukking” (Robinson 1984: 53). Dit gaan vir die kerk daaroor om te stry teen elke vorm van sosiale ongeregtigheid en om “mense in hulle nood by te staan, sodat die reg aanrol soos watergolwe en geregtigheid soos ’n

standhoudende stroom” (Robinson 1984: 56). Die hoop wat die evangelie kan bring op ’n individuele en korporatiewe of gemeenskapsvlak kan in die visier kom van hierdie belydenis. Waar daar in die Drie Formuliere van Eenheid nie sprake is van ’n holistiese benadering tot die nood van die mens nie wil die Belydenis van Belhar hierop ’n duidelike korrektief wees. “Verlossing is nie net geestelik nie. Dit omvat die volledige bestaan van die mens. Christene is geroepe om sosiaal betrokke te wees en in alle opsigte te ywer vir God se geregtigheid”

(Robinson 1984: 58). Alhoewel Belhar meer maak van die holistiese mens en sy verlossing is die klem egter so swaar op die sosiale korrektief alleen dat dit weereens eensydig raak en te min maak van ander fasette van die kerk se oorsteek van grense.

Die Belydenis van Belhar gee in die besonder aandag aan die roeping van die kerk in ’n modernistiese sekulêre wêreld waar God se koninkryk misken word. In die tweede paragraaf van die belydenisskrif word die geloof insake die kerk bely dat dit inhou dat gelowiges in die wêreld “saam diensbaar is aan God in hierdie wêreld” (Botha en Naude 1998: 2). Hierdie diensbaarheid van die kerk, as God se volk, word in paragraaf 3 baie duidelik omskryf:

“Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het; dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem word omdat hulle vredemakers is; dat die kerk deur woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid

woon; … dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees sy volk in staat stel om te leef in ’n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe

lewensmoontlikhede kan bring;” (Botha en Naude 1998: 3 en 4)

Paragraaf 3 herinner die kerk daaraan dat hy hierdie positiewe roeping kan knou deur

ongehoorsaamheid. Die eerste subjek van die versoeningswerk is God self deur Jesus Christus. Hy het die boodskap van versoening aan die tweede subjek, die kerk as sy volk, toevertrou. Die oogmerke vir die versoening wat God wil bring is nou egter nie meer net religieus, “rus vir die siel”, “die ewige lewe” en “goeie werke”, soos bely in die Dortse Leerreëls nie. Dit fokus baie meer op die aanbreek van God se nuwe wêreld in die huidige gebrokenheid wat hoop bring vir die “noodlydende, die arme en die verontregte” (Botha en Naude 1998: 4). In paragraaf 4 word die kerk opgeroep om God wat “Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring … hierin na te volg” (Botha en Naude 1998: 4). Die kerk sal daarom:

“… mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom; … dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belange soek en oor andere beskik en hulle benadeel” (Botha en Naude 1998: 5).

In hierdie belydenisskrif is die rol ten opsigte van gesag en die beoordeling van die taak van die staat ten opsigte van die uitdra van die evangelie omgekeerd en is daar nie meer die positiewe siening en belydenis van die rol van aardse regerings in die opbou van die koninkryk van God soos byvoorbeeld in die Nederlandse Geloofsbelydenis nie. Daar word eerder meer as net ’n moontlikheid gelaat dat die owerheid nie net alleen nié die koninkryk van God kan bevorder nie, maar dat burgerlike owerhede selfs die beginsels van hierdie koninkryk kan bedreig. In so ’n geval word die kerk geroep om die werk van die koninkryk aan te pak “in gehoorsaamheid aan Jesus Christus sy enigste hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbonde wees” (Botha en Naude 1998: 5). In die Belydenis van Belhar is die burgerlike owerhede nie net nié meer bondgenoot in die uitvoering van die sendingtaak van die kerk nie, maar kan dit selfs ook die objek wees van die kerk se getuienistaak.

In die Belydenis van Belhar is daar ’n baie duideliker omskrywing van die missionêre taak van die kerk, nie net as die verkondiger van die evangelie van Jesus se koms nie, maar dat die kerk ook die verantwoordelikheid het om te help om die hoop wat daar is in hierdie boodskap in praktiese terme om te sit vir diegene wat in die wêreld ly en ’n lewe leef sonder hoop. Die fasette van ’n holistiese benadering wat nie aandag kry in die eerste drie belydenisskrifte van die kerk nie kry in Belhar wel klem. In Belhar is daar, vanweë die fokus op die nood van mense in ’n stelsel van verontregting, egter steeds nie ’n duidelike beskrywing van die kerk se taak in sake die ekologie nie.