• No results found

Evaluasie van die Kerk se Sendingpraktyke

’n Eerste Verkenning van die “Missionêre Konteks”

2.4 Evaluasie van die Kerk se Sendingpraktyke

In die nadenke oor die kerk se missionêre arbeid in die wêreld word daar gevind dat alles wat in die geskiedenis rondom die uitreik met die evangelie gebeur het nie altyd net goed was nie. Bosch (1991: 5) dui aan dat onsuiwere motiewe soos die diensbaarheid aan imperialisme, selfs ekklesiologiese imperialisme, valse kulturele motiverings en die oorromantisering van besoeke

aan veraf eksotiese lande en mense by menige sendinguitreik die dryfveer was. Kerkplanting, filantropiese opheffingswerk of die verkondiging van ’n individualistiese oorvereenvoudigde verlossingsleer en selfs ontvlugting uit die “tuisland” van die sendeling het volgens Bosch (1991: 5) die arbeid op die sendingterrein dikwels gemotiveer en bepaal. Die uitkomste van hierdie werk was daarom nie altyd na wense nie. “An inadequate foundation for mission and ambiguous missionary motives and aims are bound to lead to an unsatisfatory missionary practice” (Bosch, 1991: 5). Die behoefte om na te dink oor die kerk se standpunte rondom “sendingwerk” het al hoe dringender geword.

’n Behoefte het in die kerk self ontstaan om sistematies na te dink oor sy taak om die evangelie te neem na die uithoeke van die wêreld. Die noodsaaklikheid om verantwoordbaar na te dink oor “sending” is eerstens onderstreep deur die wêreld waarbinne die kerk sy werk doen (Bosch, 1991: 5). Berkhof (1979: 362) merk dat die kerk ’n drie-voudige karakter het. Vir byna twee millenia was die kerk se werk gedomineer deur twee aspekte van sy karakter, naamlik die institusionele en pas voor die Reformasie het die tweede aspek, die “gemeenschapsaspect”, tot ontwikkeling gekom. Die derde aspek van die karakter van die kerk, naamlik die gerigtheid op die wêreld, het ontwikkel, “eerst door de koloniale expansie van Europa en daarna door de ontkerkelijking in Europa” (Berkhof 1979: 362). Hierdie derde karaktertrek het eers na die Tweede Wêreldoorlog in die vorige eeu begin om werklik sy regmatige plek in te neem in die nadenke oor die werk van die kerk. Die “ontkerstening” van die westerse wêreld en ’n meegaande afwysing van die christelike boodskap, die vinnige vooruitgang van wetenskap en tegnologie, die aggressiewe proselitering deur die sogenaamde groot wêreldgodsdienste, die kerk se historiese betrokkenheid by imperialisme en die eksploitering van mense en die gevolglike weerstand teen christene en die kerk se boodskap, bring alles mee dat die kerk sy metodes moes ondersoek van hoe hy die boodskap van hoop, wat daar is in Jesus Christus, aan ’n stukkende en hoopverlore mensdom sal bring.

Die nuwe nadenke oor sending handel egter nie net oor metodes nie. “The loss of confidence in previously entrenched certainties, coupled with a growing suspicion of the institutions build around those certainties, has led to a new openness to explore alternative explanations of the world of experience” (Gibbs en Coffey 2001: 34). Hierop sal nuwe metodes alleen nie ’n antwoord bied nie. Die motivering – die hart – van waarom sendingwerk gedoen word moet ondersoek word. “The confidence of the witness must be in Christ alone and not in religious institutions or in the impregnability of a Christian apologetic” (Gibbs en Coffey 2001: 34). Vir

die wêreld is daar nie meer klinklare antwoorde op lewensvrae nie en daarom het netjies

verpakte en goed uitgewerkte dogmatiese antwoorde staties geword en is dit volgens die wêreld se oordeel uit pas met die behoeftes van die dag. Die gemeentes sal in die post-moderne tyd al hoe moeiliker die evangelie deur die tradisionele konfrontasie-modelle van die wêreld kan versprei. Daar is steeds plek en ruimte vir die vorige modelle van evangelisasie maar die effek daarvan in die gemeenskap neem af. Mense wil nie meer evangelie langs hierdie weg hoor nie en bownedien dra dit moontlik by tot stereotipering van die kerk en die christelike boodskap as veroordelend en onverdraagsaam. Deur kontak uit die verlede met die kerk se konfronterende wyse van evangeliseer het mense letsels opgedoen wat hulle van die boodskap van hoop vervreem (Gibbs en Coffey 2001: 192). Vanuit sy huidige konteks is dit daarom vir die kerk baie belangrik om sy missionêre roeping behoorlik te deurdink. Daar moet veral deeglike aandag geskenk word aan veral die plaaslike gemeente en die rol wat lidmate wat nie in die besondere amp staan nie in die uitvoer van hierdie roeping moet speel. Deur die eise wat die wêreld aan die metodiek van die kerk stel blyk dit dat dit vir die kerk beter sal wees om die boodskap van hoop in die gemeenskap te laat uitdra deur gelowiges wat nie in ’n besondere amp staan nie. Hierdie gelowiges sal egter bemagtig moet word deur die kerk en deur mede broers en susters om die werk te kan doen. “There has been a swing away from confrontational

approaches towards relational ones, which has in turn highlighted serious problems. Many Christians are in contact with few non-Christians whom they feel comfortable sharing their story and explaining the gospel. The lone-ranger, entrepreneurial approach is inadequate and needs to be replaced by teams and communities of witnesses scattered and strategically placed in the many segments of our fragmented post-modern world” (Gibbs en Coffey 2001: 190). In plaas van indiwiduele, stellige, statiese antwoorde wat die evangelie rasioneel oordra wil die wêreld iets van die betekenis van die evangelie in die elke dag se lewens van christene toegepas sien. Hiervoor moet die plaaslike gemeente sy sendingstrategie in die gemeenskap herdink en aan die gelowige wat nie in die besondere amp staan nie, nie net sy regmatige plek toeken nie, maar hom of haar bemagtig om hierdie plek te kan volstaan in die lewe buite die mure van die weeklikse eredienste.

Die behoefte na ’n sistematiese nadenke oor die gestuurdheid van die kerk word in die tweede plek deur die kerk se eie interne praktyke gebied (Bosch, 1991: 6). Die woord “sending” het in die kerk ’n oorwerkte term geword wat deur elkeen wat dit gebruik gevul word met inhoude eie aan die agtergrond en gedagte van die gebruiker daarvan. “Sending” kan daarom enige iets beteken van die gestuurde, die senders, die plek waarheen gestuur word, die metode van werk,

die organisasie waarvoor gewerk word of die dienste wat gelewer word aan die persone na wie die sendeling gestuur is (Bosch 1991: 1). Gelowiges moet daartoe begelei word om die betekenis van die kerk se roeping in die gemeenskap opnuut weer te begryp. In die lig van die ontsaglike groot uitdagings wat daar aan die kerk in die nuwe millenium gestel word sal gelowiges dit vertroostend vind dat hierdie groot opgaaf op sy of haar skouers alleen rus nie. Gelowiges moet leer dat die primêre “sendeling” in die gemeenskap nie die een of ander

indiwidu of indiwidue, wat hulleself dikwels nie bekwaam genoeg ag om die werk te doen, is nie maar dat die draer van die boodskap van hoop die hele gemeente of geloofsgemeenskap is. Dit is nie noodwendig hoe lidmate die rol van die gemeente in sending sien nie want “the fact remains that in the mind of many church members church and mission are seen as distinct and sometimes conflicting ideas” (Van Engen 1991: 28). Gelowiges moet dit opnuut geleer word dat daar geen deelname aan die gawes van Christus kan wees as daar nie deelname is aan sy sending in die wêreld nie. “We cannot understand mission without viewing the nature of the Church, and we cannot understand the Church without looking at its mission” (Van Engen 1991: 30). Wanneer daar in hierdie sin van die kerk se sendingtaak gepraat word is dit nie die kerk in meerdere verband alleen nie maar sluit dit juis die plaaslike gemeente in. Sedert die sewentigerjare van die vorige eeu het al hoe meer stemme opgegaan ten gunste van ’n nuwe waardering vir die plaaslike gemeente se identiteit as basis vir die kerk se uitvoering van God se sending. Daar is geen ander manier waarop ’n sekulêre gemeenskap beter bereik kan word as die voorbeeld wat die plaaslike gemeente vir die gemeenskap voor-leef nie. In hierdie sin is die plaaslike gemeente die vertaler en interpreteerder van die evangelie in ’n praktiese en konkrete taal binne ’n vaste konteks. “It is precisely because of being part of the universal Church that the local congregation is in mission, and as it lives out its missionary nature the local congregation discovers itself emerging to become the Church” (Van Engen 1991: 33). Die plaaslike gemeente sal, om sy invloed in die samelewing na behore uit te oefen die nuwe klem wat daar geplaas word op die rol van die gelowige in sending op so ’n wyse moet verdiskonteer dat gelowiges die gemeenskap kan bereik met die boodskap van nuwe lewe in Jesus Christus. “Sending” ’n aktiwiteit wat ver verwyderd van die gemeente deur slegs ’n groepie

“sendingvriende” kruis-kultureel beoefen word nie. “Sending” maak deel uit van die wese van kerkwees. “Sending” is nie ’n statiese, klaar gedefiniëerde begrip nie maar maak deel uit van die dinamiese interaksie tussen die kerk en die wêreld. In die nadenke oor die kerk se

sendingpraktyk het die plaaslike gemeente en die rol van gelowiges wat nie in die besondere amp staan nie, nie altyd die nodige aandag gekry nie. Sonder hierdie elemente kan daar egter nie sprake wees van ’n Bybelse definisie van wat “sending” is nie.

Dit is vir hierdie redes noodsaaklik dat dit uitgespel word wat daar in hierdie studie aanvanklik veronderstel word wanneer daar van “sending” of die “missionêre” taak van die kerk gepraat word.

Gevolgtrekking 2.4:

Die kerk het nie altyd sy sendingwerk goed begrond nie en daarom is alles uit die kerk se sendinggeskiedenis nie net positief nie.