• No results found

STUDENT IN DIE GEREFORMEERDE KERKREG EN AKTUARIUS IN DIE NG KERK 1953-

J. D VORSTER SE BETROKKENHEID BY DIE NG KERK SE VERDEDIGING VAN APARTHEID 1960-

7.6 Vorster teen die Christelike Instituut en Beyers Naudé

Die CI het op 15 Augustus 1963 totstand gekom as direkte uitvloeisel van die Cottesloe- kerkeberaad met Beyers Naudé as die direkteur. Naudé het die CI as ‘n nuwe bediening gesien wat naas die NG Kerk wou bestaan en hom beywer vir die implimentering van die Cottesloe-besluite en vir kerkeenheid binne die NG Kerkfamilie. Vir hom het apartheid kenmerke vertoon van die nazisme van Duitsland in die dertigerjare. In 1965 pleit Naudé vir ‘n belydende kerk in ooreenstemming met die stryd van die belydende kerk in Nazi-Duitsland teen Hitler (Ryan1990:73). In Pro Veritate, die maandblad van die CI met aanvanklik gewillige medewerkers soos J.C.G. Kotzé, W.D. Jonker, F.E. O’B Geldenhuys en G.J. Swart, het Naudé die siening van hom verder uitwerk (Van der Watt 1987:112-113). Vir hom was daar ‘n ooreenstemming met Nazi-Duitsland se klem op rassuiwerheid en die Afrikaner se behoefte om ‘n “suiwer” volk te wees. Die nou band tussen kerk-en-staat en kerk-en-volk bevestig ook vir hom die ooreenkomste met Nazi-Duitsland. In sy stryd teen apartheid het Naudé aansluiting vind by die WRK se sosiale teologie van bevryding (Ryan 1990:108).

Soos Vorster, het die NG Kerk vanuit die staanspoor die CI skerp teëgestaan. Die Breë Moderatuur reik op 15 November 1963, op versoek van verskeie kerkrade en ringe, ‘n verklaring uit waarin die bestaan van die CI afgekeur word (Strauss 1990:360). Beyers Naudé en Ben Engelbrecht het kort voor die Algemene Sinode van 1966 vir Koot Vorster, Kosie Gericke en Andries Treurnicht ontmoet in ‘n poging om die geskille by te lê. Na samesprekings van drie-en-halfuur het dit duidelik geword dat die verskille te groot was om te oorbrug (Ryan 1990:116). Vorster was daarvan oortuig dat die CI ‘n “veelrassige kerk beoog” en dat Naudé by Cottesloe “gekapituleer” het voor mense met ‘n “liberalistiese politieke siening” en voor die “vreesaanjaende spook van Sharpeville” (PV 1/2/14/1).

Kerkhistories beskou was die besluit van die Algemene Sinode in 1966 ‘n deurslaggewende punt in die stryd tussen die NG Kerk en die CI (Strauss 1990:357). Die Algemene Sinode van 1966 het op een stem na, die voorstel van Treurnicht en gesekondeer deur Vorster, die CI

verwerp as “‘n dwaalrigting wat die suiwer leer ondermyn, die goeie orde in die kerk ondergrawe en tweedrag onder lidmate saai”. Daarby het die sinode ampsdraers en lidmate aangemoedig om “uit lojaliteit” teenoor die NG Kerk uit die CI te bedank. As rede vir die besluit voer die sinode aan dat dit ‘n buitekerklike organisasie is wat met die NG kerk meeding; dit Rooms Katolieke en Protestante saamsnoer; dit die kerk se Skrifverantwoorde en beproefde sendingbeleid weerstrewe; ‘n uiters bedenklike kerkbegrip oor ekumenisiteit huldig en laastens voorgee dat die eenheid van die kerk in ‘n eenheid van uiterlike organisasie gedemonstreer en bevorder moet word (NGK 1966:458, 564-565).

Vorster en Treurnicht het voortgegaan om die CI in Die Kerkbode aan te vat. Vorster (kb 21/6/1967) skryf dat die sinode nie oorhaastig gehandel het in sy optrede teenoor die CI nie, maar dat lidmate wat beswaard voel die kerklike weg moet volg en ‘n gravamen na die Algemene Sinode van 1970 stuur. Die Algemene Sinode van 1966 se besluit oor die CI is “bindend” en “elke lojale lidmaat sal gehoorsaam wees” om hulle aan die CI te onttrek. Die implikasie van Vorster se standpunt was dat lidmate wat aan die CI behoort is nie net dislojaal teenoor die NG Kerk nie, maar behoort ook onder kerklike tug te kom. Vorster het ook W. Bruckner de Villiers, ‘n woordvoerder van die CI, aangeval. Vir hom was Bruckner de Villiers ‘n “liberale half ingeligte politikus wat onder die dekmantel van die CI optree en van wie mens nie veel notisie hoef te neem nie” (PV 1/2/13/1/4).

By die Algemene Sinode van 1970 het ‘n groep lidmate wat die wenk van Vorster ernstig opgeneem het, ‘n gravamen ingedien oor die besluite van die Algemene Sinode 1966 met betrekking tot die CI. Hierdie lidmate wat ook lede van die CI was, verklaar dat hulle bewus is van die meningsverskille oor ras, politiek en ekumeniese aangeleenthede, maar dit is hulle “vurige verlange” om aan die NG Kerk te behoort. Vorster se onwilligheid om die saak weer op ‘n sinode te bespreek word gesien in die feit dat hy as Moderator van die Algemene Sinode 1970 reël dat die gravamen deur ‘n ad hoc-kommissie bespreek sal word weens die “beperkte sittingsduur” (NGK 1970:522). Die ad hoc-kommissie doen by die Algemene Sinode van 1974 deur middel van die Breë Moderatuur verslag dat die saak afgehandel is. Geen verdere samesprekings met die CI is nodig nie, omdat “niks met sulke samesprekings bereik word nie”. Die Algemene Sinode van 1974 besluit verder dat die CI niks anders is nie as ‘n politieke drukgroep “wat die integrasiepolitiek op kerklike akker wil vrugbaar maak en daarmee ‘n verandering van regering wil bewerkstellig”. Verder versag die ad hoc-kommissie die dwaalrigting-besluit van 1966 deur te verklaar dat die CI “aanleiding gee tot dwaling” (NGK 1974:199).

Het die AB ‘n rol gespeel in die NG Kerk se verwerping van die CI? Beyers Naudé (self lid van die AB tydens die Cottesloe-kerkeberaad) het die AB in 1963 “ontmasker” met sy beskuldiging dat AB die reaksie teen Cottesloe georkestreer het (Ryan 1990:86). Die implikasie was dat die NG Kerk hom doelbewus deur die AB laat beïnvloed het en dat die AB, volgens Beyers Naudé, op ‘n onskriftuurlike manier die kerk gebruik vir sy eie doeleindes (PV 1/2/13/1/4). Op Sondag 21 April 1963 kondig die “anti-apartheid en anti- regeringskoerant” die Sunday Times aan dat hy oor vertroulike stukke van die AB se UR beskik. Dié gebeure sou lei tot hewige polemiek en oor en weer beskuldigings tussen die UR en Naudé. Naudé het bedank uit die AB, maar sy geloofwaardigheid was onder vele Afrikaners geknou (Strauss 1990:364). Strauss (1990:369) kom tot die gevolgtrekking dat die AB wel die NG Kerk met betrekking tot die CI “vanuit die hoek van Christelike volksbelang” probeer beïnvloed het. Daar moet in gedagte gehou word dat dat dit gegaan het oor ‘n gemeenskaplike saak waarby die kerk en ‘n kultuurorganisasie, soos die AB, ‘n belang het. Wat Koot Vorster betref is dit te betwyfel of hy hom in sy optrede teenoor Naudé en die CI laat lei het deur die AB. Vorster het eers lank na die Cottesloe-kerkeberaad ‘n lid geword en het nooit ‘n rol gespeel in die AB leierskap nie (Wilkins 1980:A291).

Binne Afrikanergeledere en die NG Kerk het die CI na dié gebeure weinig invloed gehad. Die besluit van die Algemene Sinode van 1966 oor die CI het egter daartoe bygedra dat die CI die buiteland veld gewen het met sy beeld as ‘n vyand van apartheid. Beyers Naudé het veral by Professor Verkuyl, ‘n aartsvyand van Vorster, ‘n simpatieke oor gevind en die twee was spoedig ook goeie vriende. Verkuyl het ook Suid-Afrika in 1970 besoek as gas van die CI (Ryan 1990:112). In 1975 is die CI deur die regering as ‘n geaffekteerde organisasie verklaar en Beyers Naudé onder huisarres geplaas (Van der Watt 1987:113).

7.7 ‘n Amptelike antwoord op Cottesloe by die Algemene Sinode van 1966

Van der Watt (1987:114) oordeel dat Cottesloe in so ‘n mate ‘n “verlammende uitwerking” op die debat rondom apartheid binne die NG Kerk gehad het, dat die NG Kerk na 1960 nie langer ‘n “leidende aandeel in die sosio-politieke hervorming gehad het nie”. Tog het ‘n vooraanstaande kerkman uit Transvaal, professor E.P. Groenewald (1961:142) na afloop van die Transvaalse Sinode in 1961 gewaarsku dat daar nie met Cottesloe “afgereken” is nie. Volgens hom het Cottesloe by die NG Kerk ‘n “nuwe bewuswording van die dringendheid” tuis gebring om vanuit sy “aanvaarde standpunt ten opsigte van rasseverhoudinge, opnuut te worstel met die eise van die evangelie en die toepassing daarvan in ons landsomstandighede”.

As ‘n kerk binne die gereformeerde tradisie was dit vir die Kaapse Sinode van 1961 ‘n groot erns om vanuit die Skrif, nie net aan homself nie, maar ook aan die wêreld, ‘n antwoord te gee oor sy standpunt rondom volkere verhoudinge in Suid-Afrika. Die sinode het ‘n permanente kommissie vir die bestudering vir rasse-aangeleenthede benoem, wat met die “jonger NG Kerke” moes beraadslaag oor rasseverhoudinge. In samewerking met die “NG Bantoekerk” moes die kommissie ook ‘n ondersoek loods na die sedelike, maatskaplike en godsdienstige implikasies van trekarbeid (NGKSA 1961:632). Uitgesproke eksponente van die kuyperiaanse neo-calvinisme en vriende van Vorster soos A.P. Treurnicht en F.J.M. Potgieter het op die kommissie gedien.

Die eerste verslag van die kommissie vir rasse-aangeleenthede het voor die Kaapse Sinode van 1965 gedien (NGKSA 1965:194-230). Die verslag het uit agt verskillende rapporte bestaan naamlik:

i. Ras, volk en nasie in die lig van die skrif. ii. Gemengde huwelike.

iii. Die kerk en kerklike verhoudinge. iv. Kerk en maatskappy.

v. Die stelsel van trekarbeid in Suid-Afrika. vi. Bevolkingsverhoudinge in Suid-Afrika.

vii. Die gesinslewe van die “nie-blanke bevolkingsgroepe”. viii. Die kommunisme.

Die bogemelde verslag word as geheel verwys na die Algemene Sinode van 1966. Die besinning oor apartheid van die Algemene Sinode van 1966 was gekenmerk deur die trauma van die stryd na Cottesloe en die “polarisering van die calviniste” teen die Cottesloe-besluite (Strauss 1994:210). Die klimaat in 1966 kan tipeer word as ‘n tydperk van “beleidskonsolidasie en optimisme” omdat Verwoerd se droom van vooruitgang, vrede, vryheid en vreedsame naasbestaan vir baie Afrikaners teen 1966 ‘n werklikheid geword het (Strauss 1983:160). Skaars ‘n maand na Verwoerd se moord sou min Afrikaners dit in elke geval gewaag het om Verwoerd se nalentenskap te bevraagteken, of selfs net krities daarop te wees. Die sluipmoord op Verwoerd, 6 September 1966, was deur Vorster en baie Afrikaners geïnterpreteer as ‘n “aanslag van die vyande op ons volk” en apartheid was beskou as Verwoerd se “grootste nalatenskap” (PV 1/2/29/1/6).

Die Algemene Sinode van 1966 het die verslag uit Kaapland volg op al die belangrike punte. Beide Vorster en Treurnicht, bekend vir hulle sterk anti-Cottesloe standpunte en uitgesproke voorstanders van die regering se beleid van apartheid word verkies op die Moderatuur –

Treurnicht as Assessor en Vorster weer as Aktuarius. Anders as by Cottesloe waar apartheid as metode beskou was, word apartheid in die verslag in ‘n strakke dogmatiese denkskema inforseer. Deur sy aanvaarding van die verslag het die NG Kerk in 1966 apartheid as ‘n Skriftuurlike beginsel in neo-calvinistiese taal verantwoord. Die kerk verdedig sy steun aan apartheid op grond van pluriformiteit en beskawingsverskille. Die verskeidenheid en veelvormigheid van die “anorganiese en organiese wêreld” dui daarop dat daar selfs voor die sondeval pluriformiteit was en na die sondeval is dit verder deur skeppingsordinansies uitgebou. Die ontplooiing van verskeidenheid kom op noodwendige of natuurwetmatige proses neer en word deur God na aanleiding van Handelinge 17:26 in hierdie “sondige bedeling” gekontinueer. Volksromantiese ondertone word gesien in die “godgegewe roeping om die volkseie te bewaar”. Die beskerming en handhawing van die “eie aard van ‘n volk” word as ‘n Bybelse beginsel gestel. Kontekstuele knelpunte in die toepassing van apartheid, soos rasgemengde huwelike, was vaagweg vanuit “pluriformiteit as Skriftuurlike beginsel” beredeneer en as “ongeoorloof” afgewys. Trekarbeid was as “noodsaaklik en moreel” verdedig. Gesamentlike aanbidding tussen rasse was beskou as “geforseerd en verwerplik” (NGK 1966: 86-137). In geheel gesien was die verslag niks meer as ‘n verduideliking of ‘n “apologie” vir die handhawing van die verskeidenheid nie (Strauss 1994:199). Vir die Algemene Sinode van 1966 was dit waarskynlik gerieflik om na die trauma van Cottesloe, wat nog steeds op die sinode weerklink in die verwerping van die CI, te kies vir “stagnasie, veiligheid en die nie-dramatiese effek” van die verslag (Strauss 1994:210).

Tydens die Kaapse Sinode van 1969 (NGKSA 1969:194-195) het die klem geval op pluriformiteit in die samelewing. Die Kaapse kerk het trekarbeid en die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike verdedig. Die verslag van die kommissie is deurgestuur na die Algemene Sinode van 1970.