• No results found

STUDENT IN DIE GEREFORMEERDE KERKREG EN AKTUARIUS IN DIE NG KERK 1953-

J. D VORSTER SE BETROKKENHEID BY DIE NG KERK SE VERDEDIGING VAN APARTHEID 1960-

7.10 Moderator van die Algemene Sinode, 1970.

Die derde Algemene Sinode van die NG Kerk was vir baie ‘n belangrike sinode. Daar was die verwagting dat die Algemene Sinode in 1970 verder leiding moes gee oor die praktiese en morele implikasies van apartheid en die verslegtende verhouding met ekumeniese liggame en die GKN oor apartheid. Dat die NG Kerk ‘n moeilike dekade van stryd voorsien het, word weerspieël in die uittredende Moderator, J.S. Gericke se “ernstige woorde” oor die “onrusbarende posisie waarin Suid-Afrika hom bevind”. Gericke het die afgevaardigdes “wat in ademlose stilte geluister het”, gewaarsku soos hy “die tekens van die tye lees”, dat dit vorentoe “nog moeiliker vir kerk en staat sal gaan”. Christene in Suid-Afrika sal bereid moet wees om te veg: “veg vir julle huise, veg vir julle broers, veg vir julle seuns en dogters en veg vir julle vroue”. Gericke het waarskynlik Beyers Naudé in gedagte gehad toe hy skerp veroordelend gepraat het oor “geestelikes” wat “die groot leuen” verkondig dat apartheid ooreenstem met dit wat in Nazi-Duitsland gebeur het. Gericke het ook ‘n waarskuwende woord gerig oor die “ondermyning van die jeug se sedes en godsdienstige waardes” (PV 1/1/3/1/9).

Die Algemene Sinode van 1970 het ‘n sterk leier gesoek om die NG Kerk die sewentigerjare binne te lei en vir baie was dit daarom geen verrassing dat Koot Vorster as nuwe Moderator verkies is nie. Hy het die meer gematigde F.E. O’Brien Geldenhyus met 11 stemme verslaan. Dit opsigself is insiggewend, want uit die klein meerderheid blyk dit tog dat die sinode verdeeld was oor verskeie sake waarvan Vorster en O’Brien Geldenhuys teenoorgestelde pole verteenwoordig. F.E. O’Brien Geldenhuys was in 1960 nie net ‘n afgevaardigde na Cottesloe toe nie, maar was ook krities ingestel teenoor apartheid as beginsel. ‘n Geesgenoot en vriend van O’Brien Geldenhuys, was Vorster se ou opponent, Willem Landman. Alhoewel Vorster en Landman vanaf 1953-1975 saam op die Kaapse moderatuur gedien het, kon hulle mekaar nie vind nie. Op persoonlike gebied het hulle bykans geen kontak gehad nie. Hannie onthou as haar pa iets by Landman se huis moes gaan aflewer, moes een van die kinders saamry om dit te vat, sodat haar pa nie nodig het om met Landman te praat nie. Op kerklike terrein het Landman nie net sy invloed gebruik om Vorster uit die afvaardiging na Cottesloe te hou nie, maar hom ook tuisgevoel in die denkrigting van die ekumeniegesindes. Dit is ook insiggewend dat Landman teruggestaan het in die verkiesing as Skriba van die Algemene Sinode. Sy rede was dat hy die geleentheid vir ander

wou gee omdat daar reeds twee Kapenaars op die moderatuur was. Waarskynlik het Landman nie kans gesien om op die Moderatuur te dien waar Vorster voorsitter was nie, veral omdat beide Vorster as Moderator en Gericke as Assessor, albei teëstanders van Landman was (PV 1/1/3/1/9).

Met sy verkiesing as Moderator van die derde Algemene Sinode van die NG Kerk in 1970 was Vorster “sigbaar aangedaan”. Hy het die sinode belowe waar hy tekort skiet aan talente sal hy vergoed deur “liefde, toewyding en arbeid”. Die nuwe Moderator het die leisels stewig vasgevat en reeds op die eerste dag die sinode beïndruk met “sy forse stem, formidabele voorkoms en sy intieme kennis van die prosedure en beheer van groot vergaderings”. Getrou aan sy aard hou Vorster nie van omslagtigheid en onnodige bespreking nie en verkies kortpad ter wille van doeltreffendheid. Tog het sy humorsin geblyk met ‘n gepaste kwinkslag op die regte tyd (PV 1/1/3/1/9). Vorster se liefde vir “cowboy” boeke en Clint Eastwood se rolprente oor die “Wilde Weste” was wyd bekend. Dikwels was bespiegel dat dit die “cowboy instink” was wat sy spore soms so woes laat klap en die sneller laat lostrek het op die vyand. Daar word vertel van ‘n predikant van Stellenbosch wat gereeld “saans met bewende knieë en diepe erns” ‘n dankgebed opgestuur het vir “veilige bewaring” (PV 1/2/1/151). Hannie onthou een van Vorster se gunsteling sinodestories was toe hy repliek moes lewer op ‘n voorstel van hom oor die ernstige saak van kerklike integrasie. Soos Vorster vertel het, het hy gepraat dat die “spoeg waai”, maar met die ernstige gepraat het hy nooit besef die stoel gly agteruit nie. Toe hy “uitasem” gaan sit, gaan sit hy op die vloer. Die eerste spreker daarna het tot groot vermaak van die hele vergadering gesê dat hy bly is dat Vorster se voorstel gewen het, maar dat dit tog jammer is dat hy sy agterstel verloor het. Nodeloos om te sê dat die hele sinode hardop uitgebars het van die lag.

Geskiedenis is gemaak deurdat Koot Vorster tot Moderator verkies is van die grootste Afrikaanse kerk en dat sy broer John Vorster, op die staduim op die kruin van die golf was as Eerste Minister van Suid-Afrika en Hoofleier van die NP, die grootste politieke party. Die Engelse pers het sy kommer uitgespreek dat Koot Vorster “one of the most influential positions in South Africa” beklee omdat hy deur hulle gereken is as ‘n persoon wat “’n considerable influence” het op die “course of life and thought in South Africa”. Die vrees was dat die twee Vorsters die NG Kerk en NP nog nader aan mekaar sal bring. Koot Vorster het die vrees gerusgestel met die versekering dat sy verhouding met sy broer “glad nie is wat baie dink nie” (PV 1/1/3/1/9).69