• No results found

STUDENT IN DIE GEREFORMEERDE KERKREG EN AKTUARIUS IN DIE NG KERK 1953-

6.3 Enkele kerkregtelike interpretasies van J.D Vorster

6.3.4 Die vrou in die amp

Die saak oor die vrou in die amp was (en is nog steeds in sommige kringe) ‘n moeilike en omstrede saak binne die NG Kerk. Onder die tydgenote van Vorster was daar skerp verskille oor die saak. In die laat sewentigerjare het Vorster se standpunt oor die saak hom in botsing gebring met veral die nuwe generasie teoloë soos David Bosch. Kort voor sy dood in 1982 het Vorster nog sy standpunt teen die vrou in enige amp, (hetsy leraar, ouderling of diaken) in Die Kerkbode verdedig (vergelyk Vorster PV 1/2/49/2).

Die NG Kerk het sy standpunt teen die vrou in die amp getoets aan die breë ekumeniese verband (PV 1/2/49/2). Die NG Kerk was op die GES van 1968 en 1972 veral deur die Amerikaanse Presbyterian Church en die Free Presbyterian Church van Skotland in die saak ondersteun. Die Algemene Sinode het in 1970 akoord gegaan met die optrede van sy afgevaardigdes na die GES in 1968 en die besluit van die GES dat vroue uit die amp van lerende en regerende ouderling uitgesluit word, bekragtig. Vorster was ook in 1972 die voorsitter van die GES se kommissie wat oor die vrou in die amp moes rapporteer (PV 1/2/49/2; Vorster kb 19/2/1975). Die Algemene Sinode van 1974 het die besluite van die

GES in 1972 in ‘n “omvattende en skriftuurlik gemotiveerde verslag” onderskryf en besluit: “die sinode erken in die lig tot sy beskikking dat die Skrif duidelik leer dat vroue uitgesluit is van die amp van lerende en regerende ouderling” (NGK 1974:160).

Die GKN en NG Kerk het ook oor dié saak verskil . Die GKN het vroue tot alle ampte toegelaat (PV 1/2/49/2). Die toelating van die vrou in die amp deur die GKN staan in die teken van die nuwe teologiese ontwikkelinge in Nederland gedurende die sestigerjare. Die Barthiaanse gedagte van medemenslikheid in die teologie en antropologie het ‘n vrugbare teelaarde in die na-oorlogse Nederland gevind. Barth gee ‘n teologiese basis vir die na- oorlogse antropologie, deur medemenslikheid wat tot uitdrukking moet kom in maatskaplike, ekonomiese en politieke vraagstukke. Die evangelie is vir mense en kom tot uitdrukking deur diensbaarheid, eenheid en geregtigheid. Die dimensie medemenslikheid in die teologie het ook neerslag gevind in ‘n anti-paternalisme (met die klem op die gelykheid van man en vrou in die kerk), rassegelykheid en die politieke bevryding van die armes. In die “daarwees” vir die medemens in sy nood, het baie geglo, is dit ‘n opbenbaring van God self. Daarteenoor het baie Nederlanders nie net apartheid gesien as ‘n blanke rasseheerskappy nie, maar ook ‘n “ver wees” en “apart wees” van die medemens, swart broer of in dié geval ‘n ongelykheid tussen man en vrou. Binne die konteks was baie Nederlanders se persepsie oor Suid-Afrika: “die kaffer op sy plek, die koelie uit die land en die vrou in die kombuis” (Strauss 1983:172- 175; 239).

Omdat Vorster nie duidelike antwoorde oor die saak kon vind by die DKO of die belydenisskrifte van die kerk nie, het Vorster teruggegaan na die basis van sy kerkregtelike vertrekpunte, naamlik die Skrif. Alhoewel ‘n mens skerp kon verskil met Vorster se eksegese moet dit tog raakgesien word dat Vorster nie willekeurig en pragmaties hom oor so ‘n saak wou uitspreek nie, maar hom wou verantwoord vanuit die Skrif. Vorster (kb 23/8/1972) beredeneer eksegeties sy standpunt. Sonder om breedvoerig Vorster se eksegese te bespreek word slegs op die belangrikste lyne in sy beredenering gewys:

i. Reeds vanaf die skepping speel die vrou ‘n besondere rol in God se raadsplan. God gebruik ook vrouens in die Ou Testament as rigters en profete. Tog is die vrou nie toegelaat om priesterlike diens te doen nie, want die amp van die priester was “uitsluitlik vir die man gereserveer”.

ii. Alhoewel die Ou – en die Nuwe Testament die rol van die vrou handhaaf, gee die Bybel “‘n eervolle plek aan vrouens”. Vrouens was bekend vir hulle “geloof, diens en getuienis.” Tog was hulle dienswerk “persoonlik en nie-amptelik nie”, want “die Here het by die kies van sy dissipels nie een vrou geneem nie”.

iii. Uit sy eksegese is dit vir hom duidelik dat die Bybel nie die vrou as “minderwaardig beskou het of aan die man ‘n meer verhewe status as aan die vrou toegeken het nie”. Die apostels het die vrou as die man se gelyke in Christus beklemtoon. Die dienswerk van die vrouens is daarom deur die apostels raakgesien en “eervol vermeld”. Tog leer Paulus “duidelik en ondubbelsinnig” dat die vrou op grond van “die Wet en die sondeval” nie ‘n besondere leer of regeeramp mag beklee nie.

In ‘n latere artikel verduidelik Vorster (kb 7/6/1978) dat die algemene sinode nie vrouens tot die bediening toelaat nie om die volgende redes:

i. Vroue word van die amp van predikant uitgesluit op grond van “suiwer eksegese”. ii. “Suiwer” gereformeerde kerke nie vrouens tot die bedienig toelaat nie om “historiese

redes”.

iii. Die ordening van vrouens is deeglik by die GES bespreek “en verwerp”.

Beteken dit dat Vorster aan die vrou ‘n minderwaardige plek in die gemeente toeken? Behalwe dat Vorster dit reeds in sy eksegese dit reeds duidelik gestel het dat die Bybel nie ‘n vrou as minderwaardig beskou, of aan die man ‘n verhewe status bo die vrou toeken nie, het hy met waardering geskryf oor die besondere plek van die vrou in die gemeente. “Die vrou is meer getrou in die bywoning van eredienste en baie meer aktief in die werksaamhede van die gemeente, terwyl die mans “onverskillig en lui” is. “Anders as in die paradys begin die afvalligheid in baie kerke by die mans“. Teenoor die “Roomse verknegting” van die vrou het die Reformasie dit duidelik gestel dat die vrou nie ‘n “tweedeklas lidmaat” is nie. Die “klooster” is oopgebreek en die vroue uitgelei tot volwaardige deelgenote in die genade en roeping van Christus in die amp van gelowige. Vorster maak ‘n punt daarvan om te wys dat Calvyn die standpunt handhaaf dat vrouens nie toegelaat moet word tot die besondere ampte nie, maar dat daar in die gemeente volwaardig plek is vir hulle dienswerk. Vorster neem voorbeelde uit die vroëe kerk waar vrouens die versorgingstaak van ‘n diaken vervul het, maar nie in die amp gedien het nie. Die “positiewe gedagtelyn” van Calvyn waarop die Protestantisme voortbou is dus dat Calvyn die “groen lig gee vir vroue hulpdienste”, maar nie vir toelating tot die amp nie. Die kansel is, volgens hom, ook nie die plek vir ‘n vrou nie. Haar roeping en taak lê daarin dat sy aan huis “toegewyde, roepingsbewuste toekomstige predikante voorberei vir die bediening.” As “liberale kerke” vroue toelaat tot die amp is dit volgens Vorster nie op grond van die Skrif nie, maar op grond van “Women’s Lib wat veg teen diskriminasie van vroue”45 (PV 1/2/49/2; kb 23/8/1972).

45 Vorster (PV 5/1/2) vertel met groot humor hoe hy met ‘n “flinke dame” ‘n ene mevrou Padree van die