• No results found

IN DIE EIKESTAD 1928 –

2.4 Die Afrikaanse Nasionale Studentebond

Die dertigerjare van die vorige eeu is gekenmerk deur ‘n opdraande stryd om die behoud en uitbou van Afrikaanse universiteite. Op Stellenbosch, die bakermat van Afrikaanse universiteite, sou hierdie stryd fel gevoer word. Hierdie stryd was besonder hard en moeilik omrede die geweldige groot agterstand van die Afrikaners op die terrein van die universiteitswese (Scholtz (1979:76-77). Die stryd om Afrikaanse universiteite was veral deur die Engelse pers verdag gemaak en verpolitiseer. Tog is dit nie net dosente of die regering van die dag wat die karakter van ‘n universiteit bepaal nie, maar veral die studente. NUSAS het die voortou geneem om aan universiteite ‘n Engelse karakter te gee.10

Reaksie van die Afrikaanse studente sou nie uitbly nie. Aan universiteite waar die meeste studente Afrikaans was, het hulle aktief gewerk om ‘n “Afrikaanse gees” te laat posvat. Die studente het die affiliasie met NUSAS gebreek en die Afrikaans-Nasionale Studentebond (ANS) in 1933 gestig. Die ANS het hulle daarop toegelê om die gevare van “verkeerde liberalisme en internasionalisme wat ons nasie en studentelewe bedreig” uit te wys en as alternatief Christelike Afrikanernasionalisme te bevorder (Scholtz 1979:80).

10 Gedurende 1924 is NUSAS gestig om studente landswyd saam te snoer. Vanweë die Egelse

studente se meerderheid het hulle die voortou geneem. NUSAS was gekenmerk deur hulle onvoorwaardelike aanvaarding en uitlewing van “Brits-liberale beginsels” en hulle “minagting vir die Afrikaanse taal en kultuur” (Scholtz 1979:80).

Alhoewel Koot nie ‘n leidende rol in die ANS-strukture gespeel het nie, het hy hom met die ANS se ideale en doelwitte vereenselwig. Vorster se verslag van die ANS-kongres gehou van 5 tot 12 Oktober 1934 getuig hiervan. Sy gewaarwordinge van die kongres soos vervat in Die Gereformeerde Vaandel (1934:341-342) getuig van positiwiteit teenoor die ANS omdat dit “lewenskragtig” was en ‘n noodsaaklike behoefte vervul, naamlik die bevordering van die “Afrikaanse Dietse kultuur”. Die ANS berus op ‘n “protestants Christelike en kultureel- nasionale grondslag” wat ten doel het om studente met hierdie lewens- en wêreldbeskouing te verening en geleenthede te skep vir die Afrikaanse studente om hulle uit te leef as “lid van die nasie”. Die verbrokkeling onder die Afrikaners in 1933, as gevolg van die breuk tussen J.B.M. Hertzog en D.F. Malan, was vir die ANS ‘n bron van kommer. Dit word gesien in die strewe om die “eenheid van ons nasie te bewerkstellig”. Hierdie eenheid onder Afrikaners mag volgens Vorster egter nooit ‘n “uitwendige meganiese getalle-eenheid” wees nie, maar wel “prinsipieel en kwalitatief”. Om dié rede het die ANS heftig ten velde getrek teen alle na- aping van die “vreemde”. Die ANS wou die Afrikaanse student leer om “sy volkseie” lief te kry, te waardeer en te ontwikkel. Dit het die Afrikaanse student “dwars in die krop” gesteek dat keuses namens die Afrikaner gemaak word en daarom word klem gelê op die ANS- slagkreet: Nasionalisme kom voor internasionalisme!

Die volksidealisme in Vorster (1934:342) se denke word sigbaar in sy standpunt dat die “maksimum kontribusie tot die welsyn van die volk” word alleen gemaak wanneer die volkseie tot sy “hoogste en beste ontwikkel” word. Tog was Vorster (ibid.) bekommerd oor die tendens wat hy op die kongres waargeneem het dat “nasiediens en nasieliefde” vir baie Afrikanerstudente feitlik ‘n nuwe godsdiens geword het.

Vorster (GV 1934:342) sien ‘n sterk “calvinistiese gees” as teenvoeter vir die bogenoemde stroming, omdat calvinisme vir hom nie teenoor volksliefde staan nie. Dit het daartoe gelei dat die ANS die “protestant-Christelik geloof” as “fondament en kenmerk van ons nasie” aanvaar het. Hier stel Vorster die eerste keer die beginsel dat gereformeerde Christenskap die vereiste van ‘n ware Afrikaner is. Deur calvinisme as eienskap vir Afrikanerskap, voeg Vorster hom by die denkskool van die opkomende Boere-calvinisme sedert die dertigerjare.

Alhoewel Koot Vorster hom ten volle vereenselwig met Afrikanernasionalisme van die ANS, was hy reg om reeds in 1934 te waarsku teen ‘n volksromantiek waar alles, ook die Bybel, ondergeskik aan die belange van die Afrikaner gestel word. Hy verwerp onomwonde die konsep van ‘n Afrikanergodsdiens, maar bepleit tog vir ‘n konfessionele prinsipiële raamwerk waarbinne Afrikanernasionalisme kan funksioneer. Daarom is dit nie verrassend dat Vorster (GV 1934:342) “bekommerd en ontnugter” was oor die “skreiende onkunde” onder Afrikaner

studente aangaande die “wese en inhoud van die erfenis van ons vadere” nie. Daar is nou wel met “trots” gepraat oor die godsdiens van die “Geus en Hugenoot”, maar dit was vir hom duidelik dat die “Engels-Amerikaanse metodisme” besig is om die “suiwer” calvinisme te verdring en die “kloeke konsekwente uitlewing” daarvan te verhinder. Vorster (ibid.) beskou dit die taak van die “calvinistiese kerke” om die regte koers aan te dui deur die volk, saam met organisasies soos die ANS, op ‘n “kultureel-nasionale en calvinistiese grondslag” op te bou. Vir hom was die calvinisme ‘n “omvattende prinsipiële benadering waarbinne volk en kultuur tuis hoort.” Die taak van die NG Kerk was om vir die volk die pas aan te gee deur ‘n prinsipiële teologiese fundering van die Arikaner se roeping in Suid-Arika.11 Hierdie

“omvattende prinsipiële benadering” het mettertyd daartoe gelei dat Boere-calvinisme in sy hoogbloei die Afrikanersamelewing in totaliteit omarm het. Dít waarteen Vorster gewaarsku het, naamlik die gevaar van volksromantiek, het ‘n greep op die kerk se teologiese denke gekry.