• No results found

DIE STRYD OM DIE SIEL VAN DIE VOLK 1966-

8.2 Aanslae in die krisis

8.2.2 Die Nasionale Raad teen Kommunisme en Antikom

Die getuienis van die Rivonia-verhore het skokgolwe deur die Afrikanerkringe gestuur, omdat baie toe eers besef het wat die omvang en gereedheid van die millitêre en sabotasie aanslag teen die regering is. Die geld vir die opleiding van soldate en die finasiering van ‘n radiostasie is onder andere uit Rusland bekom. Alhoewel die Departement van Justisie, onder leiding van sy energieke minister John Vorster, die sabotasieplanne grotendeels omvêr gewerp het, was daar in Afrikanerkringe eenstemmigheid dat die gevaar werklik was (PV 1/2/29/5/9). Vir Koot Vorster het die “versiende en regverdige beleid van die regering” die “eerste aanslag op ons land” laat misluk (PV 1/2/29/1/13).

Die AB het die NRK kort na nie Rivonia-verhore in 1964 gestig en gefinansier. Die doel van die NRK was om die Afrikaner “geestelik weerbaar” te maak teen die aanslag deur die “positiewe uitbouing van die Christelik-nasionale lewensbeskouing deur suiwer godsdiens en gesonde patriotisme” (PV 1/2/29/1/8). Die mees geskikte persoon om “die volk uit die kloue van die rooi draak te hou” was Koot Vorster, broer van die Minister van Justisie. Op aanbeveling van die AB is Koot Vorster versoek om voorsitter van die NRK te wees. Om dié rede het Koot Vorster eers in 1964 met die stigting van die NRK lid van die AB geword (Strydom 1978:291).

As voorsitter van die NRK het Koot Vorster landswyd gereis om die volk te “mobiliseer”. Hy het selfs in Rhodesië (Zimbabwe) en Suid-Wes Afrika (Namibië) gehore toegespreek. Hy het ook met verskeie persone in die VSA en Europa kontak gemaak, inligting uitgeruil en talle artikels geskryf.78 Deur korrespondensie het Vorster ‘n hegte vriendskap gesluit met

professor Nicolas Nyaradi. Hy was Minister van Finansies in die kabinet van Hongarye gedurende 1956, net voor die Russiese besetting. Daarna is hy na die VSA waar hy verbonde was aan die Universiteit van Bradley. Nyaradi was ook lid van die Task force on

the conduct of Foreign Relations, onder die voorsitterskap van oud-president Eissenhouwer

(PV 1/2/29/1/8; 1/2/29/5/4; 1/2/29/5/9).

Een van die eerste take van die NRK was om ‘n Volkskongres gedurende 1964 te reël, met behulp van die AB se Christiaan de Wet-fonds (Pelzer 1980:178). Die Volkskongres was

78 Enkele van Vorster se talle ongedateerde artikels is: Die moderne aanslag van die kommunisme,

Die kommunistiese aanslag op Suid-Afrika, Die gevaar van die kommunisme, Communist infiltration in the churces, Kommunisme in die godsdiens en die kerk, Kommunisme en hoe dit bekamp moet word, Kommunistiese infiltrasie in Suid-Afrika, Kommunisme die vuurrooi draak; Die noodsaaklikheid van kerklik-kulturele optrede teen die kommunisme, Mislukking en gevaar van die kommunisme.

deur sowat 3000 Afrikaners bygewoon (PV 1/2/29/5/9). Die deurwerking van die Boere- calvinisme op die Suid-Afrikaanse samelewing word duidelik as die volkskongres by monde van Koot Vorster ‘n behoefte uitspreek aan “regse publikasies van konserwatiewe skrywers” teenoor “liberale en linkse boeke”. “Goedgesinde boekhandelaars” het onderneem om die leemte vinnig reg te stel. Die NRK het ook beswaar gemaak teen die rolprente wat die land binnekom met “onmiskenbare kommunistiese propaganda”. Die Publikasieraad was versoek om die saak reg te stel (PV 1/2/29/5/4).

Binne landsgrense het die NRK ook ‘n internasionale simposuim gedurende September 1966 aangebied om Suid-Afrika se unieke bydrae tot die stryd teen die kommunisme te beklemtoon en idees uit te ruil (PV 1/2/29/1/8). Die sprekers was internasionale kundiges wat bestaan het uit professors, ekonome en persone uit die weermag en polisie (PV 1/2/29/5/9). Met behulp van die AB is ‘n boekie, Oorlog om die volksiel gepubliseer. By dié kongres het Koot Vorster (1967:13) aan die afgevaardigdes gerapporteer dat die Afrikaner deeglik voorgelig was in openbare en geslote vergaderings en gereed is vir die stryd teen die kommunisme. By die internasionale kongres het Koot Vorster, selfs nog voor Tsafendas se hofsaak, die stelling gemaak dat die kommuniste agter die moord sit op “ons gevierde en onvergeetlike leier”.

Die AB het ook skakeling tussen die NRK en Antikom gekoördineer en derhalwe ook Antikom se publikasies gefinansier (Pelzer 1980:178). Antikom was ‘n gesamentelike kerklike aksie van die drie Afrikaanse susterskerke. Antikom het dit as sy taak beskou om inligting aan lidmate deur te gee oor die wese, doelstellings en metodes van die kommunisme. Die AB se finansiering en koördinering van ‘n gesamentlike kerkaksie soos Antikom beklemtoon die feit in watter mate die Afrikaanse kerke binne die Boere-calvinistiese denkraamwerk sou saamwerk met kultuurorganisasies wanneer die volk se voortbestaan bedreig word. Die verbroedering tussen kerk en volk word duidelik in die gemak waarmee Koot Vorster lidmate en volk as sinonieme beskou het. Antikom wou volgens hom, “die lidmate weerbaar maak deur die volk terug te roep na sy geestelike ankers en die oë van die volk oopmaak vir die gevare wat hom omring” (PV 1/2/29/1/7). Vir Koot Vorster (1968:26) het die kerk nie net die taak om die kommunisme se “ekonomiese bedrog, politieke boewery en sataniese mag” aan die kaak te stel nie, maar om teenoor die “Rooi vlag” die “vaandel van die kruis op te steek” deur vir die volk wie se “God, die Here is”, die Bybelse wapenrusting aan te trek. Hy het die volk aangemoedig om te dink aan die “grote en gedugte Here en veg vir julle broers, julle seuns, julle dogters, julle vrouens en julle huise.” As die “magte van die duisternis” oorweldigend lyk moet die Afrikaner met geloofsmoed en krag onwrikbaar staan soos die Griekse held Leonidas. Vorster (1964:88) het graag vertel van Leonidas wat in die

Thermopulae-bergpas teen die hordes van Persië moes veg. Sy verkenners het aan hom meegedeel dat wanneer die Persiese mag hulle spiese opsteek, die son verduister. Leonidas het hierop geantwoord: Dan veg ons in die koelte.” Hannie onthou dat haar pa en Treurnicht mekaar dikwels met die woorde, “ons veg in die koelte”, bemoedig het. ‘n Vernuftige spotprenttekenaar het die staaltjie van Vorster gebruik om die Afrikaner se stryd teen die oormag van die kommunisme uit te beeld. In die eerste spotprent word die blanke voorgestel met ‘n swaard en ‘n Bybel as wapens teen die swart wolk van die kommunisme wat die land wil oorweldig. In die tweede spotprent word deurwerking van die Boere-calvinisme duidelik as die Afrikaner se moed in die stryd teen die oormag geïdealiseer word. Die Afrikaner word ook teenoor ‘n vyandige Engelse pers gestel.

Gedurende 1967 het Koot Vorster as Voorsitter van die NRK, die VSA besoek om as ‘n spreker by ‘n “Anti-comminist” simposium op te tree. Hy moes die verhoog deel met Ian Smith, Rhodesië se premier. Smith was egter toegang tot die VSA geweier omdat hy nie met ‘n Britse paspoort wou reis nie. Brittanje het ekonomiese sanksies teenoor Rhodesië ingestel na die eensydige onafhanklikheidsverklaring en dit is met behulp van die VSA se ambassadeur Goldberg in die VN, deur die VN bekragtig (PV 1/2/29/1/24) . Koot Vorster het in sterk taal die VSA se “inkonsekwente buitelandse beleid” veroordeel. Hy noem die VN die “chief agent of the communism” en Goldberg, “comrade Goldberg”. Na sy toespraak het hy etlike minute ‘n staande applous van die sowat 700 afgevaardigdes ontvang.

Koot Vorster het ook in ‘n televisiedebat opslae gemaak en sodoende die voorblaaie van koerante gehaal: “Premier’s brother drops Bombshell! Your Kennedy and our Verwoerd were both killed by communists.” Komende van ‘n persoon na aan die Eerste Minister van Suid- Afrika, het die stelling volgens die pers ‘n besondere gewig gedra (PV 1/2/29/1/25). Die gebeurtenis het plaasgevind tydens die Kups Show in Chicago. Vorster en nog twee konserwatiewe deelnemers moes debat voer teen drie liberale deelnemers, waaronder ‘n senator en ‘n professor was. Vorster se tweede “bombshell” was toe hy ondubbelsinnig kant kies vir president Johnson se voortgesette oorlog in Viëtnam omdat hy oortuig is kommunisme beveg moet word “waar jy kan en met wat jy kan”. Tog was dit vir hom onbegryplik dat “the greatest nation on earth” nie die “klein oorloggie” kan klaarmaak nie en verval het in ‘n “no win war”. Die aanbieder, meneer Kup, was woedend vir die Suid-Afrikaner se beledigings en het Koot aangevat oor apartheid en spesifiek huisarres. Hy het die geleentheid gebruik vir sy derde “bombshell”. Koot het die bekende storie te vertel dat sy broer reeds as student raakgelees het dat die eerste geval van huisarres in die Bybel, spesifiek 1 Konings 2, opgeteken staan waar Salomo vir Simei onder huisarres geplaas het. “So you see”, het Vorster aan die aanbieder wat ‘n Jood was, gesê: “we got this law from

your good king Solomon”. Dit was ‘n doodhou! Toe Vorster later na die opname kyk, beskryf hy in kleurryke taal dat “Kup se mond oop en toe gegaan het soos ‘n vis op droë grond, maar hy kon geen woord uitkry nie”. Kup het die res van die opname nie vir Vorster verder iets gevra nie (PV 5/1/5).

Vroeg in 1970 het die AB die NRK ontbind. As rede voer Pelzer (1980:178) aan dat die NRK nie altyd gunstige publisiteit onder die Afrikaanse koerante geniet het nie. By ‘n deel van die publiek was daar onsekerheid oor die werksaamhede van die NRK en nodige geldelike steun kon ook nie verkry word nie. Aan Koot Vorster is in ‘n vertroulike memorandum gestel dat die NRK ‘n gevaar vir die NP inhou en daarom ontbind moet word (PV 1/2/29/5/1). Dit was waarskynlik omdat lede van die hoofbestuur persone was soos Jaap Marais, Albert Hertzog, Adriaan Pont en Andries Treurnicht. Dit is bekend dat almal van hulle krities was teen die NP se sportbeleid en spesifiek teen die nuwe Eerste Minister. Hertzog en Marais het in September 1969 weggebreek van die NP om die HNP te stig (Schoeman 1974:268). Alhoewel Vorster self krities was teenoor die NP se beleid en Marais en Hertzog simpatiek gesind was, het hy dit op dié stadium nog nie oorweeg om die NP te verlaat nie, veral omdat hy nie wou glo dat sy broer die Afrikaner in die steek sal laat nie. Koot Vorster was diep teleurgesteld in die AB. Na 1970 was hy daarvan oortuig dat die AB net die belange van die Afrikaner op die hart dra in soverre die organisasie kan baat by magspolitiek (PV 1/2/29/5/1). Alhoewel hy nie uit die AB bedank het nie, het hy geen verdere rol meer in die AB gespeel nie en vir alle praktiese doeleindes sy entoesiasme vir die AB en hulle doelstellings verloor.