• No results found

STUDENT IN DIE GEREFORMEERDE KERKREG EN AKTUARIUS IN DIE NG KERK 1953-

J. D VORSTER SE BETROKKENHEID BY DIE NG KERK SE VERDEDIGING VAN APARTHEID 1960-

7.1 Die NG Kerk binne die Afrikanerlaer

Met H.F. Verwoerd as Minister van Naturellesake in die Strijdom-kabinet het apartheid as landsbeleid vinnig beslag gekry. In die aanloop tot 1960 het die NG Kerk se reaksie op die vinnige implementering van apartheid as landsbeleid gewissel van dankbare goedkeuring en optimistiese ondersteuning tot ‘n versigtige beswaar. Meestal was daar by die kerk ‘n blinde- oog met betrekking tot die volle konsekwensies van apartheid.Die Kaapse Sinode van 1953 (NGKSA 1953:96,423) het byvoorbeeld die kerk se dankbaarheid teenoor die NP betuig met die optrede “om buite-egtelike verkeer tussen blankes en gekleurdes deur wetgewing te verbied; segregasie van blankes, naturelle en kleurlinge deur aparte woonbuurte te bewerkstellig en die beginsel om rassetrots in nie-blankeskole aan te wakker”. Die sinode het ook die regering bedank vir die gunstige reaksie op die kerk se vertoë oor die verbod op gemengde huwelike. Dit is duidelik dat die NG Kerk aanvaar het dat sommige van die wetgewing ingestel is op hulle versoek.

Die toepassing van sommige wette het egter versigtige beswaar by die kerk ontlok. Die Raad van Kerke (1957:89-90, 96-97) het ‘n kommissie afgevaardig om met die Eerste Minister (J.G. Strijdom) en Minister van Naturellesake (H.F. Verwoerd) samesprekings te voer oor sekere aspekte van die Groepsgebiedewet. Teen dié wet self het die NG Kerk nie beswaar nie. Die NG Kerk het dit immers voorgestaan, maar het dit teen die onoordeelkundige toepassing daarvan gehad. Die Groepsgebiedewet het veroorsaak dat sommige inrigtings van die NG Kerk verskuif of gesluit moes word. Die bekendste voorbeeld hiervan is die

Stofberggedenkskool. Toe die Kaapse Moderatuur versoek was om ‘n persoon te benoem op die afvaardidiging na Strijdom en Verwoerd het die Moderatuur geantwoord dat dit in orde is “mits die minister nie versoek word om af te wyk van die beleid van gebiedskeiding wat by verskillende kongresse as die standpunt van die kerk aanvaar is nie”. Hieruit blyk die goedkeuring van die NG Kerk vir die regering se optrede (PV 1/1/1/1/4).

Die klimaat in Suid-Afrika teen 1960 het beslis ‘n invloed gehad om die broederband tussen die NG Kerk en die NP te versterk. Die jaar het afgeskop met ‘n aankondiging van Verwoerd op 20 Januarie 1960 dat ‘n referendum later die jaar gehou sou word met die oog op republiekwording. Die “winds of change” toespraak van die Britse Eerste Minister, Harold Macmillan op 3 Februarie sou staan in die teken van ‘n waterskeiding deurdat dit die vervreemding en gevolglike isolasie tussen die Weste en Suid-Afrika oor apartheid ingelui het. Swartnasionalisme, ook bekend as Uhuru, het soos ‘n veldbrand deur Afrika gewaai en gelei tot hernieude politieke aspirasies. Die African National Congress (ANC) het vroeg in die jaar ‘n veldtog gereël teen die paswette, terwyl die millitante splintergroep die Pan African Congress (PAC) sy eie veldtog sou reël. Geweld het sporadies landswyd voorgekom, maar die ergste onluste was by Sharpeville waar 69 mense doodgesiet is en 186 verwond is. In Kaapstad het 30 000 mense na die Caledonplein se polisiekantoor masjeer.49 Ook in die

Kaap het mense in onluste omgekom. Op 9 April 1960 het ‘n sluipmoordpoging op Verwoerd misluk. Die gevoel het sterker geword dat die “twaalfjaar oue patroon van apartheid” besig is om uiteen te spat en dat Verwoerd se regering op die randjie van ineenstorting staan. Die regering het egter drasties reageer deur die ANC en PAC op 28 Maart 1960 deur wetgewing te verbied. Op 30 Maart 1960 was ‘n noodtoestand afgekondig. Gesteun deur die noodregulasies het die regering daarin geslaag om die organisasie agter die onluste grotendeels uit te wis” (D’Oliveira 1977:109).

Te midde van die spanningsvolle situasie het die verskeie leiers van die NG Kerk uit die Vrystaat, Transvaal en Kaap, onder wie ook J.D. Vorster, in hulle persoonlike hoedanigheid bymekaar gekom. Die situasie was bespreek en ‘n verklaring was bloot as predikante van die NG Kerk” op 31 Maart 1960 gedoen.50 In die verklaring spreek die leiers hulle meegevoel uit

49 Dit kan aangeneem word dat Koot Vorster intens meegeleef het met die krisis. Sy broer John

Vorster was sedert November 1958 adjunk-minisister van Onderwys, Kuns en Wetenskap en ook van Maatskaplike Welsyn en Pensioene. Augustus 1960 het Verwoerd vir John Vorster bevorder tot

Minister van Justisie in die plek van F.C. Erasmus.

50 Uit die Kaap was dit A.J. van der Merwe, J.D. Vorster, A.G.E. van Velden en W.A. Landman, uit die

Vrystaat P.S.Z. Coetzee en Z.B. Loots en uit Transvaal A.M. Meiring, C.B. Brink en F.E. O’B Geldenhuys.

teenoor almal wat deur die onluste geraak is en erken dat die NG Kerk, volk en opeenvolgende regerings van Suid-Afrika gebreke getoon het in die benadering “van ons buitengewone gekompliseerde nasionale probleme”. Hulle veroordeel egter die “skokkende verdraaide beriggewing uit die buiteland en voortdurende beswaddering van Suid-Afrika.” Die predikante verklaar hulle weer ten gunste van eiesoortige ontwikkeling, mits dit “regverdig en eerbaar toegepas word sonder die aantasting of krenking van die waardigheid van mense”. Die regering word versoek om so op te tree dat die verhoudinge nie verder vertroebel word nie. Daar word erken dat die beleid “noodwendig ontwrigting en persoonlike ongerief en ontberinge kan meebring”. ‘n Beroep word op blankes gedoen om selfbeheersing en Chrsitelike benadering teenoor nie-blankes en om 10 April 1960 as ‘n dag van verootmoediging in te rig (Strauss 1983:118-119; Van der Watt 1987:104). Deur die verklaring gee die predikante nie die ANC en PAC gelyk nie, maar handhaaf die morele regverdiging van apartheid. Slegs ‘n vae kritiese ingesteldheid van die NG Kerk se leiers teenoor die regering se toepassing van apartheid is merkbaar.

Die jaar 1960 word ook gekenmerk deur ‘n “gees van pessimisme, defaitisme” asook skerp twis en tweespalt onder Afrikaners. Daar is selfs op ‘n staduim gevrees dat Natal sou afstig indien Suid-Afrika ‘n republiek word (Schoeman 1978:267). Die uitslag ten gunste van ‘n republiek op 5 Oktober 1960 is met ‘n groot gejuig onder baie Afrikaners begroet, terwyl groot skeptisisme onder die res van die bevolking en wêreld geheers het. Die wêreldwye pessimisme oor Suid-Afrika se rassepolitiek enersyds en die optimisme van Afrikaners oor apartheid en ‘n republiek andersyds, sou ‘n besliste uitwerking hê op die Cottesloe- kerkeberaad wat voorlê.

Om die verhouding tussen die NG Kerk en die regering teen 1960 te verstaan moet in gedagte gehou word dat dié verhouding veel dieper strek as bloot ‘n verbondenheid met die Afrikaner. Die NG Kerk het die verhouding tussen kerk en staat kerkregtelik uitgewerk in die proses om ‘n gemeenskaplike kerkorde te skryf. Alhoewel Vorster en die ander opstellers van die kerkorde die GKN se kerkorde gebruik het, is die NG Kerk met betrekking tot sy verhouding met die staat veel nader aan die gees van die DKO (Strauss sa:3).51 Die DKO

51 Die uiteenlopende historiese kontekste van Suid-Afrika en Nederland in die jare vyftig en sestig het

gelei tot verskillende eietydse beklemtonings. Die GKN het die owerheid nie as ‘n vennoot beskou wat saam met die gereformeerde kerke optree nie. In die na-oorlogse Nederland beskou die GKN hulle slegs as deel van die bevolking. Daarby beleef die GKN in 1957 ‘n paradigmaskuif waar hulle uit die “eng gereformeerde wêreld breek” om deel te word in die “breë mensheid” soos verteenwoordig in die ekumeniese beweging rondom die WRK (Strauss sa:4). Hierdie twee verskillende kontekste was ‘n aanleidende oorsaak in die oorlog tussen die GKN en NG Kerk oor apartheid.

beskryf in die gees van artikel 36 van die NGB die owerheid se taak as om die kerk te bevorder. Haar voorbeeld moet alle onderdane tot dieselfde aksie te inspireer. Hierteenoor moet die besondere ampte die gemeente lei om gehoorsaamheid, liefde en respek aan die owerheid te betoon. Agter gees van die DKO lê gedagtes van ‘n teokratiese verbondsgemeenskap, waar almal in die samelewing gedooptes van dieselfde geloofstradisie of kerk is en die owerheid Christelik is (Strauss sa:4-5). Die gedagtes van Dordt is terug te vind in die NGKO as daar byvoorbeeld in artikel 65 staan dat die die kerk hom aan die “gesag en wette van die staatsowerheid” sal onderwerp in soverre dit nie met die Woord van God bots nie. Die kerkorde stel egter in artikel 65c (NGKO 1965:14) ‘n taakbegrensing op van die kerk se onvervreembare reg op vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms. In artikel 65d word duidelik gestel dat die kerk ‘n heilige roeping het om die staat profeties aan te spreek. Die NG Kerk aanvaar met “dankbaarheid die beskerming van die owerheid” en “dié se erkenning van die onvervreembare reg van die kerk op vryheid van godsdiens”. Tog gee die kerkorde dadelik die versekering dat hierdie “vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms nie misbruik sal word om die fondamente van die staatsgesag te ondergrawe en wanorde op die publiekregtelike terrein te veroorsaak nie”. Die neo-calvinistiese invloed is duideklik in begrippe soos “moderne gedifferensieerde samelewing”, “die selfstandigheid en eie bevoegdheid”, “soewereinitiet in eie kring” en “ander samelewingskringe”, “verskille tussen verbande”, “gemeenskapstrukture en maatskaplike verhoudinge” (vergelyk artikels 65, 66, 67 in NGKO 1965:14).

Artikel 65 van die NGKO word in praktyk sigbaar in die antwoord van die Algemene Sinode in 1966 op die beskuldiging van Cottesloe dat die NG Kerk die agterryer van die NP is. In kenmerkende neo-calvinistiese taalgebruik aanvaar die NG Kerk: “Kragtens die beginsel van soewereiniteit-in-eie-kring” stel die kerk sy taakbegrensing teenoor die staat. Die NG Kerk wil nie in staatsake inmeng nie, maar ook nie verval in ‘n “kritiese negativisme” nie. “Kontak met die owerheid moet direk en liefs deur persoonlike afvaardiging geskied” (NGK 1966: 515- 516.,567). Die grondliggende gedagte agter die NG Kerk se vriendelike profetiese stem teenoor die owerheid is: “die regering is ons mense, ons is in persoonlike gesprek met hulle, hulle luister na ons en ons wil hulle verleentheid spaar” (Strauss 1994:211). Die Algemene Sinode van 1966 se benadering tot die regering dui op ‘n klemverskuiwing na 1960. Voor 1960 het die NG Kerk kenmerke van ‘n sosiale drukgroep en politieke belange groep vertoon deur aktief op apartheid in sekere samelewingskringe voor te staan. Met die aanvaarding van