• No results found

STUDENT IN DIE GEREFORMEERDE KERKREG EN AKTUARIUS IN DIE NG KERK 1953-

J. D VORSTER SE BETROKKENHEID BY DIE NG KERK SE VERDEDIGING VAN APARTHEID 1960-

7.2 Apartheid as ‘n Skriftuurlike beginsel vir Vorster teen

Krisisgebeure in Suid-Afrika, as ook kritiek vanuit die binneland en buiteland teen apartheid, het die NG Kerk in 1960 voor drie besliste keuses geplaas, naamlik:

i. Sy beskouing van apartheid as beginsel of metode.

ii. Die rol van apartheid met betrekking tot die oorlewing van die Afrikaner. iii. Die verhouding met die NP.

Verskeie kerkhistorici het reeds oortuigend aangetoon hoe die NG Kerk se ondersteuning van apartheid gegroei het uit sy sendingbeleid van 1935 met die ideaal van selfregerende, selfuitbreidende en selfonderhoudende inheemse kerke.52 In die sendingbeleid van 1935,

met wortels in die Duitse volksromantiek, vind die oortuiging neerslag dat binne ‘n land met verskeie bevolkingsgroepe wat verskillende kultuuragtergronde het, daar verskillende behoeftes aan religieuse uitdrukking is. Die sendingbeleid wat gegroei het uit die praktyk en beïnvloed is deur die sosio-politieke opvattings van die Afrikaner in die jare dertig, het voorsiening gemaak vir afsonderlike bearbeiding, van mense uit verskillende bevolkingsgroepe, deur selfstandige inheemse kerke. Mettertyd het die NG Kerk sy eie sendingreëling binne die NG Kerkfamilie toenemend as die model gesien waarop volkereverhoudinge in Suid-Afrika gereël moet word. Die Kaapse Sinode van 1949 (NGKSA 1949: 432-433) verklaar byvoorbeeld dat die “apartheidswette van 1936 verwant is aan die sendingbeleid van 1935”. Hierdie model is deur die NG Kerk uitgewerk op verskillende kongresse en sinodes tot ‘n amptelike antwoord met die verskyning van Ras, Volk en Nasie in 1974.

Vir Vorster (PV 1/2/1/120; NGTT 1979:360)53 was dit teen 1960 duidelik dat die NG Kerk

homself sal moet verantwoord oor die “Christelike oplossing van die rasseprobleem in ‘n veelrassige land”. Die volledige deurwerking van die Boere-calvinisme in sy denke word sigbaar as Vorster die “ons” teenoor die “wêreld” stel.... “nie net ons regering” nie, maar ook “ons drie Afrikaanse kerke” staan aangekla... omdat “ons nie apartheid as onbybels wil brandmerk nie” (kursivering DJL).

52 Vergelyk Van der Watt P.B.1987; Lubbe J. 2002:6-14; Strauss P.J. 1983:8-63.

53 Kort voor en direk na Cottesloe het Vorster homself in drie artikels verantwoord, naamlik: Kan ‘n

Christen Afrikaner die beleid van eiesoortige ontwikkeling regverdig?, Is hierdie beleid Christelik? en Die aard en ontplooiing van die verskeidenheid.

Vorster (NGTT 1979:360) het vir homself die vraag gevra: “Kan ‘n Christen Afrikaner die beleid van eiesoortige ontwikkeling regverdig?” Vorster het verkies om apartheid eerder “eiesoortige ontwikkeling” te noem, omdat dit vir hom ‘n “positiewe begrip” is. Hy het apartheid verdedig as die “enigste weg” wat vir alle bevolkingsgroepe die geleentheid gee om na sy eie aard en vermoë te ontwikkel en behoud van identiteit te waarborg en beskerm. Vir hom wou die Afrikaners deur apartheid in “alle eerlikheid en erns” probeer om vreedsame naasbestaan te verseker. Die alternatief vir apartheid het Vorster (NGTT 1979:362) aangedui as die “Rooms Katolieke – manier”, wat ook die “liberalisme en sy wanskapige kind die Kommunisme voorstaan”, naamlik die “kerstening van alle heidene in een instituut”. Die Rooms Katolieke Kerk was vir hom die “moeder van die beleid van intergrasie en verbastering, waar alle volke hulle identiteit verloor en uitbaster”.

Alhoewel apartheid gaandeweg op Suid-Afrikaanse bodem ontwikkel het, was die historiese ontwikkeling daarvan nie vir Vorster normatief nie. As gereformeerde was “die Woord alleen” vir Vorster “die rigsnoer” van die lewe. Hy was daarvan oortuig dat die Woord nie net die “wil van die Here en rigtinggewende beginsels oor rasseverhoudinge” bevat nie, maar dat apartheid die “toets van die Skrif kan deurstaan en aldus Christelik is” (Vorster NGTT 1979:366). Die neo-calvinistiese kant van Vorster se denkraamwerk word duidelik as hy die beleid van apartheid teruggevoer as ‘n “natuurlike gevolg” van “God se skeppingsordeninge” (ibid.). Met dié siening dat apartheid ‘n “natuurlike wetmatigheid” is, bevra egter die Skrif vanuit die posisie wat hy juis wou vermy, naamlik die historiese situasie. Die Bybel moet die bestaande politieke en sosiale beleid met die klem op volkseie regverdig as “skeppingsordeninge”. Derhalwe word die Bybel onbewustelik gereduseer tot ‘n staatsleerhandboek. Dit word gesien as hy die Bybelse gronde vir apartheid as landsbeleid uit verskeie Bybellgedeeltes verdedig, byvoorbeeld Genesis 11:6, Deuternomium 32:8 en Romeine 3:23. Net soos in 194854 was Handelinge 17:26 was vir Vorster die kernvers: “Die

Skepper het al die nasies van die mensdom uit een bloed gemaak”. Die klem was vir hom op die laaste deel van die vers “terwyl hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het.55

54 Vergelyk Hoofstuk 4.6 Vorster se siening van die rassevraagstuk teen 1948

55 Vorster (PV 1/2/1/26) het op 21 April 1976 aan sy vriend EP Groenewald geskryf dat die nuwe

vertaling van die Afrikaanse Bybel, oor die algemeen vir hom “reg en mooi is”. Oor die vertaling van Handelinge 17:26 het hy “erg beswaar” aangeteken. Dit was Vorster se gevoel dat “sekere tekste met

Om apartheid skriftuurlik te verdedig skryf Vorster (NGTT 1979:366-374) dogmaties op die voetspoor van Kuyper in twee artikels, Is die beleid Christelik? en Die duur van die skeiding?, dat “veelvormigheid” ‘n skeppingsordening is wat “God in die stryd teen sonde gewil het”. Die eenheid verstaan slegs hy vanuit die eskatologie “eenmaal sal die eenheid geestelik en uitwendig dus volkome wees”. In wat hy die “tussenperiode” noem, moet die “doel van die Here met veelvormigheid en verskeidenheid eerbiedig word”, want Christus het nie die verskeidenheid kom ophef nie. Vir hom is die eenheid tussen gelowiges in verskillende bevolkingsgroepe slegs geestelik van aard en moet die kerk vanuit die verskeidenheid “tussen mense, tale en volke” sy instituut bepaal. Om die rede verskil die “eenheidsopvatting van die Christen” na sy mening “radikaal” met dié van die wêreld. Om die waarheid te sê, hy beskou die soeke na eenheid soos vergestalt deur die WRK as “’n valse eenheid van Babel

en die antichris”.

Vorster (NGTT 1979:361-362) verbind apartheid ongekwalifiseerd, (met volksromantiese ondertone), aan wat hy “konsekwente calvinisme” noem. Volgens Vorster het die “konsekwente calvinisme” nie gelei tot “bloedvermenging, intergrasie” en ‘n “volksverbastering” van die Afrikaner nie, maar tot die “stigting van inheemse kerke”. Die doel was om die volk op te hef. Hy het apartheid beskou as die bolwerk teen die kommunisme se pogings om die Afrikaner se “nasionale trots te breek”. Sonder apartheid was daar, na sy mening, vir die Afrikaner slegs twee keuses “vlug of verbastering”. Vorster (ibid.) idealiseer apartheid as hy meen “alle Afrikaners sal uiteindelik die beleid regverdig as die enigste realistiese oplossing” en dat apartheid alleen kan misluk deur “inmenging van buite”. Op sy aanvanklike vraag: “Kan ‘n Christen-Afrikaner die beleid van eiesoortige ontwikkeling regverdig?” kom Vorster uit sy Skriftuurlike en historiese beredenering tot die slotsom dat die Afrikaner korrek is in sy beskouing dat “die gelykstellingsbeleid is in stryd met die ware geloof”. ‘n Christen Afrikaner kan nie “kragtens die Woord en sy geskiedenis” anders as om apartheid as beginsel te onderskryf nie. Die benadering gee aan Vorster se eksegese ‘n ideologiese kleur.

Op die vraag of die beleid sedelik regverdig is, was Vorster (PV 1/2/1/120) blind vir die negatiewe konsekwensies van die toepassing van apartheid soos die trekarbeid. Op ‘n dogmatiese wyse maak hy die stelling dat dit “reine kwaadwilligheid” is om apartheid as “diskriminasie te brandmerk”. Diskriminasie is vir hom die “verheffing van die eie en die vernedering en uitbuiting van die ander” as gevolg van die sondeval. Deur eiesoortige ontwikkeling word syns insiens juis die “gebod van liefde tot die naaste gehoorsaam en uitgeleef” omdat apartheid aan die “ander gee wat jy vir jouself eis”. As argumente hiervoor voer hy aan dat die “Bantoe” in Suid-Afrika die rykste in Afrika is en vier maal meer motors

het as die Russe. Op die voetspoor van Verwoerd verwerp Vorster horisontale apartheid en spreek hom uit ten gunste van vertikale apartheid. Hy verklaar dat vertikale apartheid nie net sedelik verdedigbaar is nie, maar in ooreenstemming met die Skrif “enigste oplossing van die rassevraagstuk in ‘n veelrassige gemeenskap” (hierdie woorde word later presies so gehoor in die Raad van Kerke se verwerping van Cottesloe - Maart 1961). Die “felste teëstanders” van apartheid is volgens hom nie die “Christene” nie, maar “anti-Christelike magte”.

Alhoewel Vorster hoofsaaklik getrou bly aan sy vroeë standpunte oor die rassevraagstuk het daar teen 1960 ‘n klemverskuiwing in Vorster se denke oor apartheid gekom. Apartheid as landsbeleid het vir hom gegaan om die selfbehoud en oorlewing van die Afrikaner in Afrika. Anders as sy vroeë tiperings oor die rassevraagstuk het Vorster teen 1960 hom op gevaarlike ideologiese terrein begewe, deur nie net ongekwalifiseerd die Afrikaner se ondersteuning van apartheid aan calvinisme en ware Christenskap te verbind nie, maar Christenskap, Afrikanerskap en apartheid aan mekaar vasgemaak. Vir hom kon die een nie sonder die ander voortbestaan nie. Soos by baie Afrikaners was daar by Vorster ‘n “groeiende en emosionele vasbeslotenheid” dat die buiteland nie toegelaat sal word om die Afrikaner oor apartheid voor te skryf nie. Buitelandse kritiek is met groot agterdog bejeën en selfs binne eie geledere is kritiese stemme geëtiketteer. Vorster idealiseer en dogmatiseer apartheid as beginsel, maar was blind vir die negatiewe implikasies daarvan. Almal buite die denkskema van die Boere-calvinisme het vir Vorster ‘n gevaar ingehou vir die voortbestaan van die Afrikaner en die calvinisme; veral in die tyd toe Harold Macmillan se winde van verandering, (wat Vorster (PV 1/1/7/3/7) “vreemde winde” noem), orkaansterkte deur die suidpunt van Afrika gewaai het.