• No results found

DIE STRYD OM DIE SIEL VAN DIE VOLK 1966-

8.2 Aanslae in die krisis

8.2.5 Die vyand binne die skanse

Vorster tipeer liberalisme as ‘n “pestilensie wat in die donker wandel” omdat die “penwortels” daarvan nie net in die humanisme lê nie, maar omdat dit ook ‘n “padmaker en stootskraper” van die kommunisme is. Liberalisme is gekant teen alle vorme van patriotisme en wil by die Afrikaner “wêreldburgerskap” en “internasionalisme” kweek. Vir Vorster vernietig die liberalisme op geestelike terrein die Woord van God deur ‘n “ongeestelike of ‘n oorgeestelike spiritualiteit” wat neerslag vind in ‘n “sentimentele eiewillige godsdiens”. Vir hom is die liberalisme soos ‘n “verkleurmannetjie”, want dit verander van kleur, het vir verskillende mense verskillende betekenisse en word aangebied van “progressiewe denke tot ‘n vryheidstrewe” (PV 1/2/30/1). Koot het almal wat volgens hom “liberaal” was as “pienk” beskryf (PV 1/2/29/1/13). Die liberalisme, as “die nommer een vyand binne die skanse”, tree op in kerklike en politieke sake soos die “engel van die lig”, wat om bykans elke saak ‘n “godsdienstige manteltjie” wil hang met ‘n “sieklike vroomheid” (PV 1/2/1/33).

Koot Vorster (PV 1/2/1/106) waarsku teen die invloed liberalisme op godsdienstige terrein wat gesien word in die volgende “dwalinge”:

i. Die beskouing dat daar tussen die Christendom en ander godsdienste geen onoorkomelike verskille bestaan nie.

ii. God is in alle godsdienste te vind.

iii. Die historiese Jesus wat teenoor die Bybelse Jesus gestel word.

iv. Dit is moontlik om ‘n Christen te wees sonder om in Jesus en die kernwaarhede van die Bybel te glo.

v. Jesus is die lig van alle godsdienste. vi. Boedhiste is net ander soort Christene.

vii. Sendingwerk is “oudmodies” en die woord “heiden” diskriminerend. viii. Bybelse sending word vervlak tot “godsdienstige diskussie”.

Die liberalisme spits, volgens Koot Vorster, hom hoofsaaklik toe op die kultuur van die Afrikaner deur ‘n “vloedgolf van sekularisasie” (PV 1/1/7/3/7). Dit was die kerk se taak om die “volkskultuur te kersten” (Treurnicht 1975:76). In lyn met Treurnicht se denke oor die kerstening van die Afrikaner se kultuurlewe het Koot Vorster (NGTT 1979:349) die kultuurstrewe van die Afrikaner tipeer as “die vryheid van die volk, gebondenheid aan die volk en diens aan die volk”. As voorsitter van die NG Kerk Uitgewers was Vorster (NGTT 1979:354) bekommerd oor “liberale” skrywers wat hy tipeer het as die “geestelike terroriste van die volk”. Vir hom is ‘n volk se letterkunde ‘n weerspieëling van ‘n volk se beskawingspeil, maar sekere skrywers “misbruik en prostitusieer die woordkuns”. Die calvinistiese sy van Koot Vorster se denke kom na vore as hy pleit dat die letterkunde “heilig” moet wees deur te voldoen aan die standaarde van die Woord. “Die eer van God moet ook op letterkundige gebied eerbiedig word” en daarby is die kuns en kunstenaar ook nie op een of ander spesiale manier “ verhewe” bo die gesag van die Woord nie (PV 1/2/1/32). Deur die “septiese woordkuns” word die openbare mening gemanipuleer en die volk “gebreinspoel”. Bybelse geestelike en sedelike waardes word verdag gemaak deur dit as onvolwasse en naiëf te etiketteer. Hy het ook beswaar gemaak teen die siening dat ‘n boek slegs “volwasse” is as dit “teen die regering agiteer, gestroop is van Christelike inhoud en permissiewe seks voorstaan” (PV 1/2/1/109; PV 1/2/1/31). Hierdie permissiwiteit het hy as die “geestelike gifgas van die koue oorlog” beskou (PV 1/2/1/152).

Dit was reeds aan die begin van die sewentigs vir Koot Vorster (kb 26/8/1970) duidelik dat die Afrikaner se kritieklose aanvaarding van die “permissiewe” letterkunde en “septiese kuns” ‘n duidelike teken was dat “ons toeskouers geword het, kopskuddende defaitiste en kritici”. Dat die “African Communist” positief was oor die werk van skrywers soos André P. Brink en Jan Rabie, omdat hule uit die sogenaamde “laager of narrow nasionalistic conceptions” getree het met hulle breër perspektief op die werklikheid, was vir hom die bewys dat sulke skrywers met hulle liberale en kritiese lewens- en wêreldbeskouings regstreeks in die hande van die kommuniste speel (PV 1/2/29/1/13). Die NG Kerk het op dieselfde trant gepraat oor

die plig van die kerk om die volk weerbaar te maak. As die kerk nie optree teen die godsdienstige- en sedelike verslapping van die volk nie, word die volk se geestelike en sedelike weerbaarheid verswak. Dit gee aan die kommunisme ‘n “poort” om “die volk binne te sypel” en te “verslaaf” (NGK 1970:627).

Die toekenning van die Hertzogprys in 1979 aan Ettienne Le Roux se verbode boek

Magersfontein, o, Magersfontein het daartoe gelei dat Koot Vorster sterk standpunt

ingeneem het. In die debat het hy telkemale te kenne gegee dat hy hom kwel dat die NG Kerk nie net die Afrikaner gefaal het nie, maar veral ook die Afrikaanse skrywers, deur nie konsekwente Bybelse leiding te gee oor kuns en letterkunde nie. Dit was vir hom die taak van die “Boerekerk” om die Afrikaner op die kultuurfront wakker te maak deur die kommuniste se “boodskap van die aarde” met die kerk se “boodskap van die hemel” te oorwin (PV 1/2/29/1/13). Tog was dit vir Koot hartseer dat die Akademie die NG Kerk “uittart” deur die “gesogte prys toe te ken aan die septiese kuns van skrywers met stink gedagtes”. Hy het afgesien van sy aanvanklike plan om die Publikasie Raad deur “petisies en woorde te vernietig”. Koot Vorster wou eerder ‘n “bielie” van ‘n prys daar te stel vir “skoon en edel anti- septiese literatuur” wat nie sou afsteek teen die Hertzogprys nie (PV 1/2/1/152). Langenhoven was vir Vorster die ideaal van ‘n Afrikaanse volkskrywer wat bewys het dat dit nie nodig is om “af te daal in dieptes van morsigheid en leef en skryf asof die mens net seksorgane het nie” (PV 1/2/1/86).

Die “bielie van ‘n prys” het André P. Brink genoop om hom in 1979 teen Koot Vorster uit te spreek. Sy mening was dat elke skrywe te sondig sou wees vir “goue Koot” en dat die kerk nie maklik ‘n borg gaan kry noudat Eschel Rhoodie nie meer daar is nie (PV 1/2/1/152). Ook die bekende oud-Minister van Vervoer, Ben Schoeman het met Koot Vorster verskil sy siening dat die sensuurstelsel ‘n middel tot die “suiwering van die volk” is. Koot het getuig van sy “eerbied” vir “oom Ben”, maar sy liefde vir die Woord en eerbied vir die heiligheid van God is groter. Hy het ‘n beroep op Schoeman as voorsitter van Nasionale Pers gedoen om “sy magtige persorganisasie” so te gebruik om te verhoed dat die volk nie in die “moeras van die immorele” versink nie. Schoeman het egter nie die saak met Vorster verder gevoer nie (PV 1/2/36/1/2).

8.2.6 “Laat die erwe van ons vadere vir ons kinders erwe bly”

Vir Vorster was beide die kommunisme en liberalisme se felste aanslag op die Christelike gesin en spesifiek die jeug. Om dié rede bid hy met ‘n “beklemmende gemoed en bekommerde hart” om behoud van die “erwe van ons vadere vir ons kinders” (PV 1/2/1/33).

Binne die raamwerk van die neo-calvinisme was die oorsprong van die volkslewe vir Koot Vorster die verbondsgesin. In die gesin word ‘n kind opgevoed volgens Bybelse waardes en vaderlandsliefde. Liberalisme lei tot “koerslose opvoeders en probleemouers” wat vrye teuels aan die kinders gee om “wild en onbelemmerd” te groei sonder ‘n eie identiteit en ‘n duidelike lewensroeping. Binne ‘n verbondsgesin wat “Christelik-nasionaal veranker is”, word kinders “geestelik en sedelik” weerbaar gemaak teen die “volksvreemde ideologieë” (PV 1/2/1/31). Die vyf grootste gevare wat die Afrikanerkind bedreig, was vir Vorster (kb 29/11/1967):

i. ‘n Verlies van Bybelse waardes as norm vir die lewe. ii. Die verval van dissipline.

iii. Die ondermyning van morele waardes. iv. Die aanslag op identiteit.

v. ‘n Koersloosheid, omdat daar geen ideaal is om na te streef nie.

Om die gevare die hoof te bied moet die NG Kerk volgens hom “weer erns maak met verbondsprediking”. Koot Vorster was van mening dat die NG Kerk die liefde so oorbeklemtoon het, as ‘n reaksie teen die “vuur -en-swael” prediking, dat die kerk se Godsbegrip verskraal het. “Die mense vrees God nie meer nie en daarom is daar geen bekering of verantwoordelikheid nie.” Prediking oor die volle implikasies en verantwoordelikhede van die verbond sal alleen tot die herstel van die ouerhuis lei as “losieshuis tot verbondshuis”. Binne die verbondsraamwerk moet Bybelse tug en dissipline ‘n regmatige plek kry teenoor gesagsverwerping en eiewilligheid. Patriotisme en die handhawing van ‘n eie identiteit was vir hom gelyk aan die gehoorsaamheid van die vyfde gebod (PV 1/2/1/4; PV 1/2/1/151).

Die leiding wat die Afrikanerjeug volgens Koot Vorster behoort te kry, word onder andere gesien in sy toespraak voor die ASB kongres in 1970. In die “lotsbeslissende tyd” het hy die Afrikanerjeug aangemoedig om nie van die volk afsydig te staan nie, maar as Afrikaners met “murg in die pype, verstand in die kop en ‘n hart in die bors” hulle met “patriotisme aan die verlede veranker” en met “volksliefde die toekoms bou”. Dit was op dié kongres wat Koot Vorster aan die Afrikanerjeug sy bekende woorde gerig het: “Moenie vir my sê wat julle gaan doen nie, sê vir my wat julle gedoen het!” (PV 1/2/1/31; PV 1/2/1/106).

Onderwys was vir Koot Vorster ‘n hartsaak. Hy was nie net vir byna drie dekades Voorsitter van die Bestuursraad van die Laerskool Jan van Riebeeck nie, maar het hom beywer vir Christelike -nasionale onderwys (PV 1/6/2/1). Die NG Kerk het die taak om toe te sien dat die skool die Afrikanerkind opvoed binne die raamwerk van Christelik-nasionale onderwys. Op sy voorstel het die Kaapse Sinode reeds in 1949 die Christelike-nasionale onderwysbeleid