• No results found

STUDENT IN DIE GEREFORMEERDE KERKREG EN AKTUARIUS IN DIE NG KERK 1953-

J. D VORSTER SE BETROKKENHEID BY DIE NG KERK SE VERDEDIGING VAN APARTHEID 1960-

7.14 Ras, Volk en Nasie in die lig van die Skrif,

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het in 1970 ‘n ad hoc-kommissie benoem om ‘n studie te doen met betrekking tot die “rasse-en ekumeniese vraagstukke soos dit Suid-Afrika en die NG Kerk in besonder raak”. Die ad hoc-kommissie was ‘n direkte gevolg van die kritiek op die verslag van die Kommissie van Leer-en-Aktuele Sake oor die verhouding tussen moeder- en dogterkerke. Die kommissie het etniese verskeidenheid as uitgangspunt vir verskillende kerke geneem en dit op Bybelse gronde regverdig. Geloofseenheid moet in die gemeenskap met Christus gesoek word en nie in die eerste plek in die saamwees van mens nie (NGK 1970:168). Vanweë die weerstand teen die bevindinge van die kommissie

word J.D. Vorster, F.E. O’Brien Geldenhuys, E.P. Groenewald, P.A. Verhoef, P.E.S. Smith, D.S. Snyman, D.P.M. Beukes, J.S. Gericke en W.A. Landman, op die ad hoc-kommissie benoem. Reeds op die eerste vergadering van die ad hoc-kommissie besef hulle die taak is te omvattend om nog by dieselfde sinodesitting af te handel. Die verslag sou met die oog op die Algemene Sinode van 1974 voorberei word. W.A. Landman was verkies as voorsitter van die ad hoc-kommissie, wat later bekend sou staan as die Landmankommissie. Deur middel van sub-kommissies het die ad hoc-kommissie byna vyftig jaar (1935-1975) se besinning oor apartheid en die implikasies daarvan vir die NG Kerk herevalueer en saamgevat in ‘n kontekstuele dokument (PV 1/1/2/4/6). Kerkhistories gesien is RVN 1974 ‘n belangrike dokument, omdat die omvattendste amptelike beleidstuk van die NG Kerk oor rassesake is. Dit blyk duidelik uit die inhoud van RVN 1974 dat die verslae voor die Kaapse Sinodes van 1965 en 1969 ‘n groot invloed gehad het op die ad hoc-kommissie.

RVN 1974 bestaan uit 66 stellings verwerk in vyf hoofstukke, naamlik: i. Ras, volk en nasie en volkere verhoudinge in die lig van die Skrif. ii. Die kerk koninkryk en die ekumene.

iii. Die kerk en maatskaplike geregtigheid. iv. Die kerk en sending.

v. Die huwelik en gemengde huwelike.

In die inleiding van RVN (1975:1) word aangetoon dat die NG Kerk nie net die grootste kerk onder die blanke bevolking van Suid-Afrika is nie, maar dat die kerk sedert die “volksplanting” betrokke was by die wel en weë van die Afrikaner. Van die begin af het die NG Kerk ook “geworstel” met die probleme van ‘n “veelvolkige en veelrassige land” en moes maniere vind om die evangelie te verkondig aan mense van “wyd uiteenlopende taal, kultuur en beskawingspeile, sodat elkeen die Woord in sy eie taal kan hoor”.

Die nodigheid van dié dokument staan in die teken dat die NG Kerk na sy mening “intiem” betrokke is met die staatkundige ontwikkeling van Suid-Afrika en om dié rede sy stem moet laat hoor oor die “Christelike implikasies van apartheid”. In die dokument wil die NG Kerk homself nie die “weelde veroorloof om die besinning oor rasse- en volkere verhoudinge as afgedaan te beskou nie” want dit bly vir die kerk ‘n “brandende aktuele vraagstuk”. Die NG Kerk spreek byna onvoorwaardelik seën uit op die regering se beleid van apartheid. ‘n Staatkundige bestel wat gebou is op eiesoortige ontwikkeling by verskillende bevolkingsgroepe kan vir die NG Kerk teen 1974 nog in die lig van die Skrif prinsipieel verantwoord word (RVN 1975:5).

Aan die hand van “toepaslike Skrifgegewens uit die Ou en Nuwe Testament” verbind die NG Kerk sy mensbeskouing aan groot sosiale begrippe soos ras, volk en nasie. Byna ‘n derde van die studie word gewy aan Skriftuurlike beginsels. Uit die Skrif word aangetoon dat volk en nasie ook “heilshistoriese begrippe is” (RVN 1975:12-19). Israel se volkere verhoudinge word nie “reglynig” nie, maar “analogies” aan die Afrikaner verbind (RVN 1975:20). Verhoudings moes deur die liefdesgebod gekenmerk word en tot uitdrukking kom deur geregtighheid en naasteliefde (RVN 1975:32-35). Die eenheid van die kerk word gesien as “‘n eenheid in Christus” met ruimte vir “volke verskeidenheid” (RVN 1975:36-38). Die resultaat van die eksegese was egter in beginsel dieselfde as vorige studies. “Differensiasie van die mensheid” in verskillende rasse en volke word as die wil van God uit die Bybel bewys. Die begrip “volk” vorm steeds die hermeneutiese brug, terwyl Skrifgegewens daar rondom gerangskik word. Dit gee aan die dokument ‘n ideologiese kleur.

Die verskeidenheid binne die eenheid word verder uitgewerk in die tweede hoofstuk oor kerk, koninkryk en ekumene. Die kerk vind binne ‘n volk “sy bestaansruimte” en kan daarom nie afsydig staan teenoor die volk nie (1975:44). Teen die “sonde van verskeurdheid” word gewaarsku, want die “eenheid van die kerk (binne die gemeenskaplike bestaansruimte van die volk) is ook ‘n sigbare werklikheid (1975:45). Tog is die eenheid slegs geestelik wat nie die pluriforme gestalte van verskillende volke en kerke in gedrang bring nie. Vorster (PV 1/1/2/4/6) was ongelukkig dat die verslag “doelbewus” pluriformiteit binne die een kerk “asof van dieselfde instituut” as uitgangspunt neem en na sy oordeel verskraal dit nie net die begrip pluriformiteit nie, maar hou dit ook nie rekening met die “kardinale onderskeiding” tussen “wese van die kerk” en “pluriformiteit” tussen volke en rasse nie. Vir hom propageer die kommissie se standpunt dat “blanke, kleurling en bantoe in Suid-Afrika deel van dieselfde instituut moet wees”. Die teologie van rewolusie word ook beoordeel en afgewys (RVN 1975:53-63). Na Vorster (PV 1/1/2/4/6) se oordeel word daar in die verslag “te eufemisties” oor die rewolusie en geweld as middel tot ‘n doel gepraat.

In die derde hoofstuk wat handel oor maatskaplike geregtigheid word verklaar dat eiesoortige ontwikkeling Skriftuurlik verantwoordbaar is (RVN 1975:65). In die beskrywing van verhouding tussen kerk en staat word die neo-calvinistiese invloed binne RVN duidelik gesien. Op die spoor van Die Kerkorde (artikel 65) word in neo-calvinistiese taal verklaar dat die kerk “die eie aard en bevoegdheid van die owerheid sal eerbiedig”, maar dat die staat nie “die soewereiniteit in eie kring van ander samelewingsverbande mag aantas en gevolglik alle aspekte van die menslike bestaan wil reël nie” (RVN 1975:70-71). Die kuyperiaanse onderskeid tussen instituut en organisme vorm die basis van die verhouding. Beide kerk en staat is soewerein-in-eie-kring, maar as organisme moet die kerk sy lig op alle terreine laat

val. Die kerk moet Skrifbeginsels aan die staat verkondig, maar terselfdertyd hom aan die gesag en wette van die staat as regsinstansie onderwerp. Dit was vir Vorster (PV 1/1/2/4/6) belangrik dat die indruk nie geskep moet word dat die “Christelike kerk in antitese teenoor die Christelike staat” staan nie. Binne die Boere-calvinisme as denkraamwerk van Vorster was kerk en staat immers aan dieselfde kant van die antitese. Knelpunte soos Bantoetuislande en grondbesit, die etiese en sosiale implikasies van trekarbeid en die posisie van die kleurling en Indiërs word vaagweg aangeraak (RVN 1975:74-82). Vorster (PV 1/1/2/4/6) is op hierdie punt van mening dat die subkommissie die verhouding tussen die NG Kerk “te apologeties” benader omdat daar “by sommige van ons skynbaar ‘n skuldgevoel” is. So ‘n benadering sal volgens hom net “kwaad doen” by die GES. Dit verklaar dalk hoekom die verslag op hierdie knelpunt in abstrakte dogmatiese taal praat, sonder om grond te vat in die werklikhede van Suid-Afrika in 1974. In die hoofstuk oor sendingwerk word aangetoon dat “die huidige meervoudige bestaan” te wyte is aan historiese ontwikkelings (RVN 1975:84- 85). In die laaste hoofstuk word aangetoon dat die Bybel nie teen gemengde huwelike as

sodanig is nie, maar dat dit “ongewens en ongeoorloof” is (RVN 1975:100).

Wat was die impak van RVN 1974 op die NG Kerk en Suid-Afrikaanse samelewing? Die sinodale verslag is in Maart 1975 met die titel: Ras, Volk en Nasie in die lig van die Skrif gepubliseer. Die boekie is ook in Nederlands, Engels, Duits en Frans vertaal en Dr. F.E. O’Brien Geldenhuys het met die “boekie onder die arm” na Europa gegaan (Du Toit 2002:64).

Sommige het RVN 1974 as “te liberaal” gekritiseer, maar die meeste gemeentes het die dokument klaarblyklik “bloot geïgnoreer” (Du Toit 2002:66). Jonker (1998:139) wys daarop dat die dokument gepoog het om meer genuanseerd oor apartheid te praat en vir hom was dit niks meer as ‘n “apologie” vir apartheid nie. Alhoewel Landman gehoop het dat die klemverskuiwing in RVN (van apartheid as die “wil van God” tot apartheid as “nie noodwendig in stryd met die Skrif nie”), gesprekke met ander kerke sou verbeter, het daar weinig van gekom.

Koot Vorster was nooit gaande oor RVN 1974 nie. Selfs nog voor die kommissie se werksaamhede in alle erns begin, was daar botsings tussen Vorster en Landman oor die kommissie se opdrag. As Moderator van die Algemene Sinode van 1970, het Vorster November 1970 ‘n verklaring uitgereik dat die ad hoc-kommissie se ondersoek na die Suid- Afrikaanse rassevraagstuk binne die grense van die NG Kerk se “erkende en aanvaarde standpunt” sal plaasvind. Landman het teruggekap dat “Vorster nie namens die NG Kerk

praat nie.” Landman het in ‘n onderhoud aan die Sunday Times ook te kenne gegee dat die NG Kerk nog geen “geformuleerde standpunt het nie” en dat die kerk se standpunt “lynreg teenoor Vorster” staan. Beide die stellings van Landman is onwaar en het byvoorbaat die kommissie se werk onder verdenking gebring. Die Afrikaanse koerante het Landman se optrede beskryf as ‘n poging om die “kerk en volk te vervreem oor apartheidsbeleid” en die aanval op Vorster as ’n “nuwe Cottesloe”. Daar was selfs bespiegel dat Landman as voorsitter van die ad hoc- kommissie ‘n openbare klimaat wou skep waarin die NG Kerk nie sy “erkende en aanvaarde standpunt” opnuut wou verduidelik nie, maar dit heeltemal herevalueer en selfs ingrypend kan verander (PV 1/1/2/4/16). Of dit werklik die bedoeling van Landman was, is te betwyfel. Sy opmerkings staan eerder in die teken van die swak verhouding tussen hom en Vorster.71

Vorster (PV 1/1/2/4/6) die RVN 1974 beskou as ‘n “doelbewuste poging” om die volle konsekwensies van pluriformiteit te versag. Die verslag was na Vorster (ibid.) se mening ook teologies te akkommoderend. In sy kommentaar op die werk van ‘n subkommissie distansieer hy hom byvoorbeeld deur te skryf “dit mag nooit voorgelê word as van die subkommissie nie”. Vorster (ibid.) kwalifiseer sy aandeel deur dit duidelik te stel “al aandeel wat ek persoonlik gehad het was om ‘n memorandum insake die wese, openbaring en roeping en begrensing van die kerk op te stel”. Dit is interessant dat Vorster RVN 1974 ook “bloot ignoreer” en nooit verder daarna verwys in gepubliseerde artikels of toesprake nie. Vir hom het apartheid die “absolute beginsel van die NG Kerk” gebly (PV 1/2/1/152).

Die feit dat RVN 1974 ook nie by die breë NG Kerk inslag gevind het nie kan aan minstens drie tendense in Suid-Afrikaanse samelewing teen 1975 toe geskryf word.

i. Waarskynlik was daar ‘n tevredenheid onder Afrikaners op grondvlak met apartheid en ‘n bykans blinde vertroue in die NP. Dit word weerspieël by die stembus. In die algemene verkiesing op 24 April 1974 het die NP nie net sy aantal setels wat hy in 1970 as gevolg van die afstigting van die HNP verloor het, van die Verenigde Party teruggewen nie, maar sy meerderhede in bykans al sy kiesafdelings opgestoot. John Vorster was op die kruin van sy gewildheid as premier en onder die Afrikaners was daar ‘n ongekende optimisme oor die toekoms en die regering se Uitwaartse-beleid (Schoeman 1978:408). ‘n Lang en dogmatiese besinning soos RVN 1974 was vir die Afrikaner op grondvlak vermoeiend en onnodig.

ii. Teen 1975, met die verskyning van die boekie, was daar al meer kritiese stemme binne die NG Kerk oor die Skriftuurlike verdediging van apartheid. ‘n Nuwe generasie

akademici soos David Bosch, Willie Jonker en Johan Heyns sou gaandeweg al meer krities word teenoor die kerklike leiding (veral teenoor Koot Vorster) en die praktiese werkbaarheid van apartheid.

iii. Die opkoms van swartnasionalisme het teen 1976 nuwe dimensies aangeneem. Die ink van RVN 1974 was skaars droog toe die sogenaamde “struggle” momemtum kry met die Soweto-onluste op 16 Junie 1976. Die geweld gedurende 1976/77 het nie net John Vorster se ideale vir Suid-Afrika in skerwe laat spat nie, maar tot onsekerheid gelei oor die werkbaarheid van apartheid en ‘n verharding in rasseverhoudinge. Dit sou ook die begin wees van ‘n pad wat die Afrikaner sou weg lei van apartheid (Rhoodie 1983:254). Die bosoorlog op die grense van Suid-Afrika en in Rhodesië, asook die moord op ‘n sendingpredikant, H. Brand en sy vrou, wat na ‘n nagmaalsdiens onderweg na hulle huis deur terroriste vermoor is, het skokgolwe deur Suid-Afrika se blanke bevolking gestuur. Die Soweto-onluste asook die grensoorloë in Suidwes-Afrika, Rhodesië en Angola sou daartoe lei dat RVN 1974 as beleidstuk oor rasseverhoudings vir die NG Kerk onvoldoende was. Reeds by die volgende Algemene Sinode in 1978 het daar versoeke gekom vir hersiening. In 1982 het die Algemene Sinode besluit om RVN 1974 indringend te hersien (Van der Watt 1987:118).