• No results found

IN DIE EIKESTAD 1928 –

2.3 Vorster se vroeë tipering van die calvinisme

In watter mate het die Du Plessis-saak ‘n invloed op Koot Vorster se teologiese ontwikkeling gehad? Om die vraag te beantwoord, word daar gekyk na twee artikels wat hy as teologiese student geskryf het. Te midde van die stryd, gedurende Mei 1933, verskyn daar in Die

Gereformeerde Vaandel ‘n artikel van Vorster met die tema: Is die beginsels van die Oxfordgroep verenigbaar met die calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing. Augustus 1934,

enkele maande voor sy eksamen het Vorster nog ‘n artikel in Die Gereformeerde Vaandel gepubliseer met die opskrif Calvinisme as vertolker van die leer van Christus. Beide die artikels is tiperend van Vorster se vroeë verstaan van die Calvinisme.

Die eerste artikel, Is die beginsels van die Oxfordgroep verenigbaar met die calvinistiese

lewens- en wêreldbeskouing, is in geheel gesien Vorster se poging om ‘n duidelike standpunt

tot die kerkstryd te lewer. Dat hy die saak sensitief wou hanteer, word gesien as hy in die inleiding verklaar dat “iemand se godsdiens ‘n tere saak is” en dat hy “hoegenaamd nie wil ingaan op die persoonlike geestelike lewe van persone nie”, maar dat hy graag wil bly by die saak waarom dit gaan (GV 1933:185). Vorster het die calvinisme beskou as die “helder lig” in die “duistere nag van politieke en ekonomiese en moeilikhede” (GV 1933:185). Die Oxfordgroep, met sy noue aansluiting in die subjektiewe, mistiese ervaringsteologie, het Vorster (GV 1933:186-187) beskou as ‘n “indringer”. Volgens Vorster (ibid.) is die doel van die Oxfordgroep vierledig, naamlik:

i. Om die belewenis van die geloofsgemeenskap te bevorder.

ii. Die individu nie deur “big meeting” of “amptelike prediking” nie, maar deur persoonlike omgee te bereik.

iii. Die Oxfordgroep poog om die “dorre dooie dogmas” in die kerk “af te breek” deur klem te lê op geestelike ervarings. Volgens Vorster word hulle “vaagheid en oppervlakkigheid” gesien in hulle “veragting van die leer” en hulle “sweef” op die “wieke van gevoel”.

iv. Laastens poog die Oxfordgroep om “waaragtige toewyding aan God” te bereik deur “guidance” en “sharing.” Die Oxfordgroep beweer hulle bring nie ‘n nuwe evangelie nie en werk nie teen bestaande “formele kerke “ nie, maar wil die “radiant Christianity” van die eerste eeu herstel.

Vorster (GV 1933:258) tipeer die Oxfordgroep se werkswyse as “Anglo-Amerikaanse pragmatisme” waar die klem val op evangeliese prediking tydens “informele huispartye” en die “maak van bekeerlinge”. Gedurende die “informele huispartye” val die klem nie op Woordverkondiging nie, maar op “sharing van ondervinge en belydenis van sonde”. By hulle is daar ‘n “oordrewe sielsoeking” teenwoordig waar die swaartepunt op sendingwerk val. Die

Oxfordgroep propageer volgens Vorster ‘n “sterk etiese, teologiese sisteem”. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die Oxfordgroep “sektaries is in murg en been” en dat die kerk “die plig het om hulle tot orde te roep”.

Teenoor die subjektiewe ervaringsgodsdiens bied die calvinisme vir Vorster (GV 1933:261) ‘n positiewe lewensbeginsel met “vaste en voedsame spyse”. Vorster (ibid.) kom tot die gevolgtrekking dat die beginsels van die “volkome soewereiniteit van God en die absolute gesag van sy Woord daartoe lei dat “‘n calvinis tot eer van God”, nooit deel mag hê aan die groep nie.

Dat Vorster so fel kritiek lewer teen die Oxfordgroep is te verstane as dit gesien word in die lig van die Du Plessis-saak. In die Oxfordgroep het Vorster die evangeliese rigting en vroomheid bespeur waarby Du Plessis aangesluit het. Die plig van die kerk om “hulle” tot orde te roep, is verseker ook ‘n verwysing na Du Plessis en sy ondersteuners. Tog lê die waarde van die artikel daarin dat Vorster reeds tydens sy teologiese studies homself konsekwent by calvinisme as lewens- en wêreldbeskouing tuisgevoel het. Reeds tydens sy studiejare het hy hom onderskei deur as verdediger en vertolker van die calvinisme op te tree – iets wat hy konsekwent sy hele lewe sou doen.

Die waarde van die tweede artikel, Calvinisme as vertolker van die leer van Christus, lê ook daarin dat dit tiperend is van Vorster se verstaan van calvinisme en dat dit dien as ‘n samevatting van dit wat hy op kweekskool geleer het. Die artikel is apologeties geskryf omdat dit Vorster (GV 1934:214) se oortuiging na die Du Plessis-saak was dat ‘n gereformeerde kerk op aarde voortdurend ‘n strydende kerk is teen dwalinge. Calvinisme is “in stryd gebore” en moet daarom voortdurend “verdedig” word deur “dwalinge te bestry”. Vorster (GV 1934:215-216) se apologetiese benadering word ook gesien in sy vergelyking tussen calvinisme en, met wat hy noem, interdenominasionalisme. Vanuit ‘n konfessionele raamwerk tipeer Vorster Interdenominasionalisme as “die beweging wat klem lê op individualisme, eensydige en eksklusiewe klem op ‘n paar fundamentele leerstukke soos die noodsaaklikheid van wedergeboorte en beklemtoning van die werk van die Heilige Gees in hulle persoonlike lewe en eredienste, maar ironies genoeg verontagsaam dié beweging die Heilige Gees se werk in “die geskiedenis van die kerk deur die eeue”. Verder het die evangeliese beweging ‘n diepe afkeur aan leerstellige verklarings en konfessionele standaarde en ‘n gebrek aan waardering vir die kerk as instituut.

Die calvinistiese sy in Vorster (GV 1934:216; 277) se denke kom duidelik na vore as die calvinisme vir hom meer is as ‘n “intellektuele vasklou aan dogmas.” Dit is ‘n “oortuiging wat

die hele lewe kontroleer; dit is die enigste bolwerk teen die golwe van ongeloof, dit is die diepste, ruimste, mees konsekwente en mees harmonieuse uiting van die Christendom en dit is die suiwerste vertolking van Christus se leer.” Die eer van God op alle lewensterreine is vir hom die “primêre lewensbeginsel van die calvinisme.” Die calvinisme se uitgangspunt is teosentries van aard, daarom leef ‘n calvinis “coram Deo” en “handhaaf hy op alle terreine van die lewe die eer van God”. Die calvinis erken sonder voorbehoud dat God, God is en hou met hierdie feit rekening in alles wat hy doen. Dit is hierdie “God-consciousness” wat die calvinisme onderskei van ander teologiese sisteme: “daarin lê sy aktiwiteit, sy krag, sy individualiteit en sy christelikheid” (ibid:238). Omrede die soewereiniteit van God die “dominerende en bepalende beginsel” van die calvinisme is, is God se Woord vir die calvinis “principuim cognocendi”, nie net vir die teolgie nie, maar vir die lewe.

Vorster (GV 1934:238-239) wys op die gevaar wanneer Skrifkritiek “konsekwent” deurgevoer word, want dit lei tot “vernietiging van die Skrif en ‘n verloëning van die besondere openbaring”, terwyl die “meganiese beskouing die Skrif tot ‘n magiese boek verlaag.” Die gevaar van die interdenominasionalisme wat “antropologies en soteriologies dink”, lê daarin dat hulle die vryheid van die mens meer beklemtoom as die soewereiniteit van God. Die vryheid en die selfbepaling van die mens staan ondergeskik aan die soewereiniteit van God. Teenoor die oordrewe klem op die vryheid van die mens waar die mens en God as “twee gelykwaardige groothede naas mekaar gestel word”, staan die totale verdorwenheid van die mens, die vrymatige en onvoorwaardelike uitverkiesing van God en Sy soewereine genade (ibid:274). Die calvinisme “maak die saligheid nie afhanklik van die veranderlike wil van die mens nie, maar laat dit rus op die Ewige onveranderlike wil van God” (ibid:275).

As ‘n calvinis was ‘n positiewe en pro-aktiewe betrokkenheid by die samelewing vir Vorster (1934:275) so noodsaaklik soos asemhaal. ‘n Christen mag nooit net “na die hemel staar en versuim om sy roeping en plig” tot eer van God te doen nie. Vir Vorster (1934:276) is dit duidelik dat ‘n calvinis hom nooit mag onttrek aan sy leefwêreld nie, want die kerk het in die calvinisme ‘n “uitgewerkte positiewe wêreldbeskouing” gevind wat voortvloei uit die die soewereiniteit van God. Vorster sluit aan by Kuyper se grondbeginsel dat alles onder die heerskappy van God staan. Die invloed van kuyperiaanse neo-calvinisme op Vorster se denke word ook duidelik in terme wat Vorster gebruik soos dat calvinisme “die eenheid van lewenskonsepsie” gee (GV 1934:214) of as hy skryf “nou is daardie Christelike lig in die kerk, maar die kerk het tog vensters waaruit die lig moet straal om die verskillende terreine

rondom te belig” (Vorster GV 1934:275).9 Vorster (GV 1934:276) gebruik volledig Kuyper se

terminologie as hy die verhouding tussen kerk-en-staat en kerk-en-volk, kerk-en-wetenskap beskryf. Geen “sfeer van die lewe” mag vir hom nie in diens van God staan nie. Wie nie “positief-christelik in elke arbeid op elke terrein van sy lewe optree nie, is nie ‘n getroue volgeling van Christus nie.” Ook die staat staan onder die gesag van die Woord, want “God is nie daar om die volk te dien nie, maar die volk is daar om Hom te verheerlik”. Die gesag van die staat is dus “afgeleide gesag en die staat is alleen soewerein-in-eie-kring in relatiewe of afgeleide sin”.

In lyn met Kuyper se spanning tussen die algemene en besondere genade sien Vorster dus die kerk as “hoër” teenoor die res van die samelewing as “laer” (ibid.). Hierdie siening van Vorster dui op ‘n filosofiese onderskeid tussen natuur en genade wat binne die gereformeerde leer onhoudbaar is. Tog verwerp Vorster (1934:277) die natuur en genade onderskeid as hy in dieselfde asem skerp en krities op die gevare van die interdenominasionalisme wys. Die stroming het geglo die wêreld is “boos” en dat ‘n christen nie “besoedel” mag word deur die politiek nie. Die gevaar van so ‘n apatiese lewens- en wêreldbeskouing is volgens Vorster tweërlei:

i. ‘n Christen totaal onbetrokke by die wêreld wees en hom bevind in ‘n geestelike kokon.

ii. ‘n Christen kan deelneem aan die “maatskappy” sonder om te besef dat die “maatskappy” hervorm moet word deur Bybelse beginsels.

Vorster se apologeties-konfessionele tipering van die calvinisme as lewens- en wêreldbeskouing laat geen ruimte vir ander beskouinge binne die NG Kerk nie. In Vorster se toepassing van die calvinisme as lewensbeginsel in die verhouding kerk-en-staat, kerk-en-

9 Dit is insiggewend om daarop te let dat daar op die oog af weinig verskil is tussen die kuyperiaanse

en barthiaanse teologie oor die verhouding tussen kerk en staat. Barth (1967:719-723) beskou die verhouding tussen kerk en staat analogies van aard. Die lig van die evangelie wat direk op die kerk val, moet deur die vensters van die kerk skyn na die staat. Die staat het die taak om die Evangeliese lig te weerkaats. Die kerk het die politieke verantwoordelikheid om vir die staat en samelewing ‘n eksemplariese gemeenskap te wees waarin die staat sy “Urbild” en “Vorbild” vind. Alhoewel Kuyper en Barth oënskynlik dieselfde wegspringplek gebruik, verskil die toepassing daarvan radikaal. Waar die konsekwente toepassing van kuyperiaanse neo-calvinisme lei tot ‘n “stil” kerk en ‘n verchristelike samelewing, lei die konsekwente toepassing van die barthiaanse teologie tot ‘n “sprekende” kerk en stil lidmate. Binne die Suid-Afrikaanse konteks en in die NG Kerk het dit geweldige implikasies vir die verhouding tussen kerk en staat en kerk en samelewing (vergelyk in die verband Strauss 1993 Op die

samelewing en kerk-en-wetenskap word die invloed van kuyperiaanse neo-calvinisme op sy denke duidelik. Nicol (2000:55) wys daarop dat hierdie “skerp kritiese ingesteldheid” van die calvinisme ingebed lê in die teëstelling van “die grootheid van God en die kleinheid en sondigheid van die mens.” Die Boere-calvinisme handhaaf die teëstelling tussen die grootheid van God en die kleinheid van die sondige mens, maar die skerp kritiese kant van calvinisme verdwyn in ‘n groot mate wanneer die Boere-calvinisme staat, kultuur en volk omarm. Dit was veral die kuyperiaanse-ideaal van ‘n verchristelike samelewing wat daartoe bygedra het dat die Boere-calvinisme binne die Afrikanerdom ‘n vrugbare teelaarde gevind het. Dit het tot gevolg gehad dat die NG Kerk sy profetiese vryheid ten opsigte van staat en volk in ‘n groot mate verloor het. Binne die omvattende denkraamwerk van die Boere- calvinisme kyk die kerk eerder skerp en krities na die vyande van die staat en volk. Hierdie skerp en kritiese houding teen alle volksvreemde elemente word reeds in Vorster se vroeëre teologiese ontwikkeling nagespeur.