• No results found

STUDENT IN DIE GEREFORMEERDE KERKREG EN AKTUARIUS IN DIE NG KERK 1953-

J. D VORSTER SE BETROKKENHEID BY DIE NG KERK SE VERDEDIGING VAN APARTHEID 1960-

7.9 Die Suid-Afrikaweek,

Na Lunteren 1968 was daar ‘n kommer by die GKN oor verskeie sake. Kwessies soos die vrou in die amp, die rassevraagstuk en die hermeneutiek van die Bybel het die ekumeniese bande tussen die GKN en NG Kerk onder groot druk geplaas. Om die rede het die GKN ‘n uitnodiging aan die NG Kerk gerig om twee afgevaardigdes, tesame met die een elk van die NGKA en NGSK en GKSA “voor een dag of tien” na Nederland te stuur om die “gesprek voort te zetten” (PV 1/2/19/8). Volgens die GKN moes die besoek dien om beter begrip en

verhoudinge te kweek. (Strauss 1983:260). Gericke, Vorster en Potgieter het die NG Kerk verteenwoordig op die GKN se Generale Sinode van Sneek wat later as die Suid-Afrikaweek (2-6 Maart 1970) bekend sou staan (Strauss 1983:273). Volgens Die Kerkbode sou die NG Kerk afvaardiging algemene en geslote samesprekings met Nederlandse kerkleiers voer. Die gesprekke sou veral gaan oor rassesake en nuwe teologiese tendense in die GKN (kb 25/2/1970). Die Nederlanders was teleurgesteld dat Koot Vorster afgevaardig was, omdat daar by hulle ‘n verkeerde persepsie was dat hy nie verteenwoordigend was van die NG Kerk se beskouing oor apartheid nie. Verder het hulle beide Vorster en Gericke as “geharde apartheidsideologen” beskou (PV 1/2/19/8).

Met die aanvang van die Suid-Afrikaweek reël die voorsitter P.G. Kunst dat die vergadering na afloop van die aandsitting in ses besprekingsgroepe verdeel. Een Suid-Afrikaner sal by elkeen van die ses groepe teenwoordig wees om die rapport rondom die GES 1968 te bespreek en na die tyd gesellig verkeer (Strauss 1983:274). Met die aanvang van die debat oor Suid-Afrika word anti-apartheidstukke onder sinodelede versprei. Bruckner de Villiers van die CI word op die openbare gallery as toeskouer verwelkom. Die debatte oor Suid-Afrika het geskied te midde van groot belangstelling. Trouw berig dat die publieke galery “bevolkt” was met toeskouers wat handeklap as hulle met ‘n spreker saamstem (PV 1/2/13/1/4).

Trouw het ook sy persoonlike aanvalle van 1968 op Vorster voortgesit. Vorster (PV 5/1/5) het

hom “finaal vererg” toe Trouw met groot gesag verklaar dat baie Afrikaners nie “suiwer blank” is nie. Volgens Trouw was DF Malan woedend toe hy ‘n Malanfamiliefees reël en daar “duisende nie-blankes” opgedaag het wat eie familie was. Ook het Trouw berig dat die Vorsters van Suid-Afrika nie “suiwer blank is nie” en dat almal wat Koot Vorster op die sinode sien besef hy is nie “suiwer blank” nie, maar self “’n lek uit die pan” gekry het. Vorster was woedend oor die wyse waarop Trouw hom persoonlik aanval, maar sy boesemvriend Kosie Gericke het hom kalmeer met sy kenmerkende humorsin: “Jy weet, Pottie, dit is ‘n seën dat dominee Ntoane ook hier is. Nou kan hy en Koot in een kamer slaap en ons in die ander. Dan handhaaf ons nog apartheid”. Na afloop van die stryd op Lunteren toe die NG Kerk manne “moeg en vaal was” het Gericke teenoor Potgieter opgemerk dat “ou Koot nie so sleg hiervan afgekom het nie, want die wetenskap bewys mos ‘n baster is sterker as ‘n suiwer geteelde”. Vorster het ook groot waardering gehad vir dominee Ntoane se fyn humor en ondersteuning in die saak. Op ‘n groot openbare vergadering in Den Haag het hy vir die gehoor gesê: “Julle moet ons nou laat staan. Ons kom goed reg in Suid-Afrika. Daar is niks verkeerd met ons nie, ook nie met ons Prime Minister nie. Hier sit sy broer – hulle is pedigree.” Die hele gehoor het gelag en hande geklap.

Die voorsitter Kunst wys as inleiding daarop dat beide die GKN en NG Kerk iets vir mekaar te sê het. Die GKN moet sorg dat die NG Kerk nie geïsoleer word nie en die NG Kerk nie vervreemding van “de oude banden ervaar” nie. In sy antwoord het Gericke die NG Kerk se posisie in perspektief gestel as hy duidelik verklaar dat hulle daar is as “kerkmanne”, nie as pleitbesorgers vir die regering nie. Dat die “oude banden” ook vir die NG Kerk belangrik was, word gesien as Gericke verklaar dat die afgevaardigdes alles in hulle vermoë sal doen om die band te bewaar, alhoewel hulle ervaar dat die band uit “duistere oorden” bedreig word (PV 1/2/13/1/4). Potgieter het namens die NG Kerk gepoog om op die voetspoor van Kuyper by die beginselsake van die gereformeerde tradisie uit te kom. Die ou vete tussen Vorster en Verkuyl het egter spoedig opgevlam toe Verkuyl op Potgieter se standpunt reageer met die stelling dat apartheid ‘n ideologie is wat die sentrale mag in die hande van die blankes lê en so ‘n rasseordening ‘n dwaalleer is. Vorster beskuldig Verkuyl van ‘n “onbybelse humanistiese teologie” en dat hy in sy boekie Breek de muren af op die eerste 27 bladsye 16 leuens vertel (Strauss 1983:275-277). Vorster het, soos Potgieter, ook by die gereformeerde tradisie aansluiting probeer vind, maar was vasgevang in ‘n emosionele debat met Verkuyl wat tot gevolg het dat hy nie sy standpunt verder omskryf het nie. Vir Vorster (PV 1/2/19/8) was dit onbegryplik dat Verkuyl aanhou met sy “beledigende onbroederlike” propaganda dat die NG Kerk ‘n “nazi-apartheidsideologie” voortstaan terwyl hy “goed weet dat ons ons beleid” van Nederland gekry het in die bloeityd van die gereformeerde lewe”. Vorster het ook veral besware gehad teen die Skrifbeskouing van Verkuyl en Kuitert.

Die GKN se argumente was gekenmerk deur die ekumeniese bewuswording van een

wêreldsamelewing en sosiale teologie na die Tweede Wêreldoorlog. Strauss (1983:276-277) is korrek in sy evaluering dat die openbare debat kwalik ‘n sinvolle bydrae sou kon lewer om die dieperliggende lewensbeskoulike verskille op te los of selfs net te versoen. Trouw het berig dat Vorster en Gericke “stonden bijna alleen”. Namate spreker na spreker Suid-Afrika en apartheid verdoem het beide “somberder voor zich uitgestaar” (PV 1/2/1/23).

Dit sou egter verskillende standpunte oor die CI wees wat tot ‘n “felle botsing” gelei het (PV 1/2/19/8). Vorster was skerp krities omdat Beyers Naudé toegelaat het dat hy nog as “dominee” aangespreek word. Vir hom ‘n “bitter en onaangename saak” (PV 1/2/13/1/4). Verder het Vorster skynbaar bewyse gehad dat daar ongerymdhede was in die besteding van fondse deur die CI. Met die SA afvaardiging se toestemming is Buckner de Villiers toegelaat om namens die CI die vergadering toe te spreek. De Villiers stel homself aan die vergadering as ‘n martelaar voor met sy stelling dat hy deur die NG Kerk tot ‘n ketter verklaar is. De Villiers het die geleentheid misbruik deur ‘n skerp aanval op die NG Kerk en spesifiek Vorster te loods. Met betrekking tot die rassekwessie is De Villiers van mening dat die

verligtige invloede nog nie in die NG Kerk deurgewerk het nie. In “een klemmende” pleidooi vra hy dat die GKN tog geduld met sy susterskerk moet beoefen en hom broederlik, liefdevol en desnoods vaderlik vermanend moet lei, “al kleeft daar soveel verkramptheid” aan hulle. De Villiers het van die GKN se gasvryheid misbruik gemaak deur die verhoog te gebruik om die NG Kerk te verneder. Sy toespraak het bykans geen positiewe bydrae tot die debat gelewer nie en slegs tot gevolg gehad dat reeds sensitiewe verhoudinge verder vertroebel het. Vir Vorster was De Villiers se toespraak vernederend. Hy reageer skerp met “een felle persoonlijke aanval die de broederlijke atmosfeer totaal vertroebelde”. Volgens Vorster moet hy nie net aan hoor dat sy kerk verkramp is nie en nie die lig van die Skrif het nie, maar hy moet ook gereeld lees hoe Pro Veritate daarop uit is om die NG Kerk in ‘n swak lig te stel. As “eselkakebeen” wys Vorster aan die sinode ‘n notule van ‘n vergadering waar Beyers Naudé en Verkuyl in die huis van Baron van Tuyl bymekaargekom het om planne te beraam om die terroristebewegings in Suid-Afrika teen die regering te verening.68 Die koninkryk van God

word volgens Vorster nouliks die beste gedien deur manne soos Beyers Naudé en Buckner de Villiers (alais de Villiers) (Strauss 1983:279; PV 1/2/13/1/4).

Jonker (1998:115) se weergawe is dat sy Vorster humeur verloor het en hom tot die voorsitter gewend het met die opmerking dat hy vir De Villiers moet vra wat van sy eerste vrou geword het. Na Vorster gepraat het was daar ‘n gespanne en geskokte stilte in die sinodesaal. Die voorsitter vind dit goed om die verrigtinge te verdaag met ‘n gebed van verootmoediging. Tydens pouse het Jonker met Koot Vorster gaan praat oor die gebeure. Hy het aangevoel dat Vorster diep onsteld was. Op ‘n mooi manier het Jonker vir Vorster gesê dat hy ‘n groot fout gemaak het, waarop Vorster erken het “Ja, Willie ek het ‘n groot fout gemaak”. Hy het die raad van Jonker gevolg en direk na pouse het hy “effens geboë en in ‘n gedempte stem” ‘n kort manmoedige verklaring van apologie aangeteken, iets wat vir Jonker spreek van ‘n innerlike integriteit. As teken dat hulle sy verklaring aanvaar het die sinode staande handegeklap en die gesprek kon sinvol voortgaan.

Aan die einde van die Suid-Afrikaweek onderskryf Lunteren 1970 die besluite van die GES in 1968. Tog verklaar die GKN dat apartheid soos voorgestaan deur die NG Kerk in stryd is met die Bybel en teen die bedoeling van die besluite van die GES in 1968. Hiermee poog die GKN om die verskillende interpretasies uit die weg te ruim. Die GKN is van mening dat die werk van die CI Bybels is en daarom deur al die kerke ondersteun behoort te word. Dit was die sinode se wens dat die kloof tussen die CI en die NG Kerk oorbrug word. Hierdie

68 Verkuyl het eers ontken dat so ‘n vergadering gehou was, later het hy beweer daar is nooit notule

standpunt sou deur die Moderamen van die GKN per brief aan die NG Kerk gerig word. Van sy kant onderneem die GKN om erns te maak met die besware van die NG Kerk . Hiermee word verwys na Potgieter wat op die laaste dag die geleentheid gehad het om te wys op teologiese skuiwe binne die GKN asook die voorgenome aansluiting by die WRK. Die NG Kerk afvaardiging het ook geleentheid gehad om met die kuratorium van die GKN se teologiese skool gesprek te voer oor leerafwykinge. Die Breë Moderatuur sou in reaksie op die GKN se vermaningsbrief, in aansluiting by die gesprek, die besware verder omskryf as ‘n bekommernis oor teoloë wat nie die onfeilbaarheid van die Skrif aanvaar nie, dualisties skeiding maak tussen Woord en God en selfs nie meer ongekwalifiseerd die belydenisskrifte kan onderskryf nie (Strauss 1983:282-283).

Op die oog af het Lunteren 1970 die vertroebelde verhoudings tussen die twee kerke op ‘n beter voet plaas. Alhoewel die NG Kerk afvaardiging ‘n duidelike begrip gehad het van die diepgaande verskille tussen die twee kerke was daar by Gericke ‘n groot waardering vir die wyse waarop die apartheidsdebat gevoer is en vir die simpatieke leiding van die voorsitter Kunst. Daar was ook ‘n groot mate van begrip vir Suid-Afrika se gekompliseerde situasie by ‘n groot deel van die sinode. Gericke het ook na afloop van Lunteren verklaar dat die klimaat tussen die twee kerke “nog nooit so gunstig was nie” (PV 1/2/19/8). Vir Potgieter was die wedersydse broederlike vermaning ‘n groot winspunt en vir hom het dit veel belofte vir die toekoms ingehou (Strauss 1983:284). Die NG Kerk afvaardiging het ook die geleentheid benut om kontak te maak met die Moderamen van die Nederlandse Hervormde Kerk en die Lutherse Kerk in Duitsland. Vir Potgieter was dit positiewe gesprekke. Vorster het die dialoog tussen die kerke “pragtig gevlot sonder spanning” omdat die NG Kerk afvaardiging “‘n goeie eerste indruk gemaak” het. Met hulle besoek aan Stuttgart, Duitsland is hulle genooi na ‘n deftige maaltyd saam met die hoofde van Mercedez Benz. Die verhoudinge teenoor Suid- Afrika was so welwillend en positief dat die hoofde ‘n pragtige Mercedez Benz 600 saam met ‘n chauffeur tot hulle beskikking gestel het vir die res van hulle Europese besoek. Die Moderamen van die Hervormde Kerk kon volgens Vorster nie hulle oë glo toe hulle buite in die koue staan en wag dat die NG Kerk afvaardiging te voet aankom nie, en hier stop ‘n Mercedez en ‘n chauffeur spring uit om die deure met millitêre Duitse aksie oop te maak. Daar was in die moderamen “geen gees” meer oor nie en die dialoog het uitstekend verloop (PV 5/1/5).

Dit kom voor asof Vorster minder positief was as Potgieter en Gericke oor die verhouding met die GKN na die tweede Lunteren. Die tekens was daar dat Vorster bedenkinge gehad het oor die sin van verdere gesprek. Hy was toenemend ontnugter oor die gesindheid van die GKN en daarby nie oortuig dat die GKN en NG Kerk tot ‘n werkbare verstandhouding oor

apartheid gaan kom nie. Dalk is Vorster se houding ook daaraan toe te skryf dat hy meer as enige ander persoon van die Suid-Afrikaanse afvaardiging uitgesonder was vir persoonlike aanvalle. Dit het daartoe bygedra dat Vorster se houding verhard het teen die GKN. Vorster reageer eers op 23 Desember 1970 in Die Kerkbode (kb 23/12/1970) op die tweede Lunteren. Vorster bespreek uitvoerig die teologiese “afval” in die GKN. Hy noem in die artikel sy “verontrusting” oor die teologiese koersveranderings in die GKN. Hy het begrip gehad dat die GKN nie sondermeer leertug toepas nie, uit vrees vir kerkskeuring. Dit was vir hom egter onbegryplik dat die GKN nie “reg” wou kies nie, veral in ‘n tyd waar die “grondwaarhede betwyfel en bestry” word. Vir Vorster was die duidelikste tekens van die teologiese koersveranderings in die GKN hulle begeerte om by die WRK te affilieer, die “samen-op- weg-beweging”, die bevraagtekening van Skrifgesag, die toelating van die vrou in die amp, die verdraagsaamheid en akkommodering van Kuitert se histories kritiese eksegese en gevolglike ontkenning van die historisiteit van die sondeval. Vorster was ontnugter oor professor Ridderbos se “byna ongelooflike argument” dat “ons mekaar nodig het en bymekaar moet bly” ten spyte van teologiese verskille. Dit was egter Berkouwer wat volgens Vorster die sinode “ontman” het met sy stelling dat die gereformeerde kerke ruimte moet hê vir persone wat “grote aarselingen” het oor die Bybel. Vorster kom tot die slotsom dat die GKN “eenheid bo suiwerheid” verkies en deur die onvermoë om leertug toe te pas ‘n vry hand gegee het vir liberale teoloë. Vir hom het die “vlae halfstok in die gereformeerde wêreld

gehang”.

Iets van Vorster se verharde gesindheid teenoor die GKN word weerspieël in die afgevaardigdes se verslag aan die Breë Moderatuur (NGK 1970:60). Alhoewel die verslag positief verwys na die voorsitter Kunst se skitterende, onpartydige en simpatieke optrede en hoë vlak van besprekings, was die verslag skerp krities oor sekere tendense in die GKN. Verkuyl se metodes van verdraaiings en verswygings soos weerspieël in sy boek Breek de

muren af was vir die afvaardiging “‘n laakbare strydmetode.” Verder was die afvaardiging

bekommerd oor die “leuenagtige propaganda, bedenklike teologie van sommige gereformeerdes, die linkse beskouinge in rasse-aangeleenthede en die eiegeregtigheid van sommige wat kamele insluk en muggies uitsif”. Die behoud van ekumeniese bande met die GKN was op dié staduim nog bepleit, omdat die GKN se stryd teen: “die permissiewe gees van ons tyd, teen horisontalisme in teologiese denke, die aanslag op God se Woord, die aftakeling van die Christelike sedewet, ook ons stryd is”.

Anders as in 1968 het die afgevaardigdes hulle doelbewus daarvan weerhou om Lunteren as ‘n oorwinning te vertolk. Vir Gericke was Lunteren 1970 eerder ‘n “oorwinning vir beter verhoudinge” (PV 1/2/19/8). Ten spyte van diepgaande verskille was die verhouding tussen

die NG Kerk en die GKN na Lunteren 1970 op die oppervlak beter. Dit word bevestig in die feit dat die GKN beide Kunst en Kruiswijk na die Algemene Sinode in Oktober 1970 afgevaardig het. Vir beide was dit ‘n positiewe ervaring, tog meld beide die grimmigheid en dieperliggende wantroue wat daar by die sinode teen hulle bespeur was (Strauss 1983:304).