• No results found

2.3 Wat is die mistiek?

2.3.3 Twee empiriese wêrelde

Wat agter Isis se sluier verborge is, is dit wat anderkant die fisiese realiteit, die empiriese wêreld soos deur die sintuie ervaar, geleë is. Met verwysing na verskillende filosofiese denkrigtings en die wetenskap wys Underhill (1930:14-22) daarop dat 'n intellektuele ondersoek na Realiteit ons nie buite hierdie empiriese wêreld kan neem nie. Dit kan nie met rasionele denke omvat word nie. Eric Reitan (2009:82-83) skryf in sy boek, Is God a Delusion? A Reply to Religion’s Cultured Despisers, 'n repliek op Richard Dawkins se The God Delusion, “there is more to reality than what we can discern empirically” en noem dit transendensie. In aansluiting by Underhill se oortuiging dat ’n rasionele ondersoek ons nie buite hierdie empiriese wêreld kan neem, onderskei Minnaar (2000:305) in sy filosofie-tesis verskillende ontologiese synsgebiede, naamlik die anorganiese, die organiese, die emosionele, die intellektuele, die noëtiese (in die sin van Plotinus se νοῦς) en die Absolute. Die gebied van die noëtiese, die Absolute en die mistieke is buite die diskursiewe intellek geleë en vanuit ’n rasionele perspektief weet ons nie waarmee ons te doen het nie; trouens die Soefi-opvatting is dat die intellek juis ’n struikelblok op die Weg na die Waarheid is, en Rumi praat van die “veils of the intellect” (Jalāl al-Dīn Rūmī, s.a.(b)).

Minnaar (2000:304) onderskei ook twee wêrelde: die uiterlike of stoflike en die innerlike of geestelike, empiriese realiteite. Wat die uiterlike realiteit betref, kan waarnemings en afleidings wetenskaplik nagegaan word om te kyk of dit geldig is. Die innerlike realiteit van stemmings, voorgevoelens, emosies, herinnerings en intuïsies waardeur die mens nader aan die geestelike wêreld kom wat deur die Absolute geskep word, en waar die mistieke ervaar word, is egter nie verifieerbaar nie.

25

Vir Soefi’s is daar geen realiteit buite God, die reële nie. Die eerste van die fundamentele grondstellings van Islam is dat daar geen God behalwe God is nie. Realiteit as sulks is afhanklik van ’n onderliggende realiteit, met ander woorde, die relatiwiteit van hierdie wêreld kan slegs in verhouding tot die Absolute verstaan word. Nicholson (2002:viii) sê: “Sufis, then, come to see through this kind of ontological transparency that everything possessing existence or reality does so only by, or through, the Divine. God is not the world – as a true pantheist would assert – but the world is mysteriously plunged in God.” Dit is die sentrale stelling van die grootste Soefi-skrywers soos Ibn al-’Arabī en Rumi (Nicholson, 2002:viii). Daar kan dus afgelei word, dat terwyl daar ook vir die Soefi’s twee empiriese wêrelde is, die reële so allesomvattend en belangrik is dat die uiterlike realiteit skaars bestaan.

Ten grondslag van alle mistieke ervarings, verduidelik Underhill (1930:103), is daar ’n noodwendige dualisme: (a) die Transendente / Absolute waarna die begeerte is, en (b) die Immanente, of Meister Eckhart se “spark of the soul” wat Ruusbroec ’n goddelike essensie noem, aanwesig in die mens se siel.

Underhill (1930:93) onderskei ook twee oënskynlik teenoormekaarstaande teorieë waarvolgens mistici die Absolute begryp: (a) die emanasie- / uitstralingsteorie, en (b) die immanensieteorie. Die emanasie- / uitstralingsteorie verklaar God se absolute transendensie, die volkome skeiding van die menslike / of tydelike en die goddelike / of ewige. Die lang pelgrimstog na ’n transendente Absolute geskied deur transendensie – ’n reis opwaarts en uitwaarts deur ’n lang reeks intermediêre toestande, gesimboliseer deur die Tien Hemele van Dante, en die Boom van die Lewe van die Kabbaliste.

Hierdie siening word ook geïmpliseer in die weg van Suiwering, Verligting, en Eenwording van Christelike mistici asook die Soefi-opvatting van die Weg wat uit sekere stadiums bestaan ten einde die finale doel van goddelike illuminasie te bereik.

Volgens die ander uiterste, die immanensieteorie, is die soeke na die Absolute geen lang reis nie, maar ’n realisering van iets wat implisiet in die self en in die heelal is – die ontdekking van daardie Absolute is the grondslag van spirituele beginsels van die self. Plotinus sê: “God is not external to anyone, but is present with all things, though they are ignorant that He is so.” (Underhill,1930:95) Die idee van immanensie het Böhme so uitgedruk: “If thou conceivest a small minute circle, as small as a grain of mustard seed, yet the Heart of God is wholly and perfectly therein: and if thou art born in God, then there is in thyself (in the circle of thy life) the whole Heart of God undivided” (Underhill,1930:96).

In sy bespreking van die 14de-eeuse anonieme skrywer se The Cloud of the Unknowing, haal Johnston (1978b:222) hierdie skrywer so aan om dualisme te verduidelik: “All things be in him by cause and by being, and he be in all things their cause and their being, yet in himself only

26

he is his own cause and his own being.” Hier is God afsonderlik van skepsels, want Hy “is uncaused for [...] whereas they are caused by Him”. Hy verduidelik verder dat “causality [...] while demanding a distinction between cause and effect, [...] also demands an extremely intimate union”. God se kousaliteit is skepping, maar ook bewaring, en dit beteken dat “the causality of God is a continuous inflow of existence itself into the being”.

Johnston (1978b:222) vergelyk God wat die wese van die skepsel penetreer, met die Neoplatoniese son wat sy strale uitstraal, met dié verskil – in die geval van die son is dit noodwendig, maar in God se geval is dit vrywillig.

Die Soefi’s se dualistiese beskouing is dat God ekstern in die onvolmaakte skoonhede van die aarde en intern deur meditasie gekontempleer word. Aangesien Hy Een is, en in alle dinge is, is dit ’n fout om ’n mens as afsonderlik van God te sien; tog kan ’n mens slegs na God toe uitreik as jy jouself as afsonderlik van God sien (Underhill, 1930:103).

Die spirituele en sielkundige reis van eenwording met God wat terselfdertyd immanent en transendent in verhouding tot die Siel is, word op een van hierdie twee oënskynlik teenstrydige maniere beskryf. Dit lyk dus asof albei teorieë ’n sekere waarheid oordra en ’n grondige mistieke filosofie sal vir beide hierdie wyses om die ervaring te interpreteer, ruimte laat en hulle probeer versoen (Underhill,1930:93).