• No results found

2.7 Soefisme

2.7.9 Soefistiese spirituele metodes

2.7.9.1 Dhikr

Rituele en gebed is aspekte van die Moslem spirituele lewe wat sowel mistici as niemistici deel. Die sentrale belangrikheid van dhikr Allah, wat “gedagtenis aan God” beteken, word

sterk in die Koran beklemtoon en die term word ses-en-twintig keer aangetref. Ook die Hadīth- literatuur bevestig die belangrikheid daarvan (Chittick, 2008:65-67). Dit is die spirituele metode waardeur teoretiese kennis verwesenlik word sodat dit deel word van die mens se wese en is wesenlik toespitsing op die Waarheid. Schimmel (1975:167-168) beskryf dhikr as “[…] a strong pillar in the path toward God, nay rather the most important pillar", want niemand kan God bereik sonder om Hom voortdurend te onthou nie. Dit is die eerste stap op die weg na liefde, want as ʼn mens iemand lief het, hou hy daarvan om sy naam te herhaal en voortdurend te onthou.

Glassé en Smith (2003:437) som dhikr op as konsentrasie op die reële. Net soos in algemene Arabiese gebruik, beteken die woord dhikr ook “om beroep te doen”, dus beteken “gedagtenis

aan God” in sy tegniese Soefi-betekenis ook “om beroep te doen op God” of “God te noem”. Die kenmerkende aanbiddingswyse, is die invokasie van die goddelike naam. In wat gewoonlik bekendstaan as die invokasie van die “Oppernaam” (ism-i a'zam), word die Naam wat aangeroep word, beskou as dit wat al die Name van God bevat: dit is ʼn

125

verwesenlikingswyse van al die wesenstoestande wat in die mens se essensie bevat word, of van al die name wat “God taught Adam” (Chittick, 2005:91-92). As ʼn soort inkanteringsgebed, neem dit tipies die vorm van die metodiese herhaling van sekere name van God of Koran- formules, soos die eerste shahādah, aan (Chittick, 2008:26). Op misterieuse wyse word die

noem van die name identies aan die Genoemde, want dit is sy volmaakte simbool (Chittick, 2005:92).

Burckhardt (2008:90) verduidelik dat die goddelike Naam, wat deur God self openbaar word, ʼn Goddelike Teenwoordigheid impliseer wat operatief raak in die mate waarin die Naam besit neem van die denke van die persoon wat dit oproep. Die mens kan nie direk op die Oneindige konsentreer nie, maar deur op die simbool van die Oneindige te konsentreer, kan die Oneindige self bereik word. Wanneer die individuele subjek met die Naam geïdentifiseer word tot op die punt waar elke geestelike projeksie deur die vorm van die Naam geabsorbeer is, manifesteer die goddelike Essensie van die Naam spontaan, want hierdie heilige vorm lei tot niks buite sigself nie, dit het geen positiewe verhouding behalwe met sy Essensie nie en uiteindelike word sy perke in daardie Essensie opgelos. Dus word eenwording met die goddelike Naam, eenwording met God Self. Hierdie konsep hang saam met Ibn al-’Arabī se aktiewe imaginêre en die domein van ’alam-al-mithāl en die ontbinding van digotomieë. Deur die dhikr word die mens in sy middelpunt herintegreer en bereik hy uiteindelik eenwording met God. Die mens se hart is nooit van God geskei nie; dit is die mens se individuele self wat deur die spirituele metode omskep moet word sodat die mens sy regmatige plek in die Heelal kan hervat. Die fundamentele neiging van die gevalle mens is verstrooiend. Aangesien hy lewe asof hy slegs sy ego is, word sy intelligensie “veruiterlik” en verstrooi. Die onmiddellike doel van dié metode is om hierdie verstrooiende neiging en die mens se huidige toestand wat die gevolg is van “vergeetagtigheid” (ghaflah) van sy eie voortemporele wese, om te keer deur konsentrasie op “gedagtenis” aan God (Chittick, 2005:91).

Schimmel (1975:24) voer die dhikr terug na die primordiale gelofte, toe God, voor die skepping, die toekomstige mensdom uit die lendene van die nog-nie-geskape Adam geroep het en hulle met die woorde: "Is ek nie julle Heer nie?" (alastu bi-rabbikum) aangespreek het, en hulle geantwoord het: "Ja, ons getuig" (bald shahidna). Veral Moslem-mistici het onder die indruk van die idee van hierdie gelofte gekom. Die doel van die mistikus is om terug te keer na die “Dag van Alast”, toe slegs God bestaan het voor Hy toekomstige skepsels uit die diepte van niebestaan gelei het en hulle met liefde, lewe en begrip toegerus het sodat hulle Hom aan die einde van tyd weer sou sien. Schimmel (1975:172) verduidelik verder dat die mens reageer op die ewige woorde van God wat hom waarlik mens gemaak het met sy dhikr wat in

126

ruimte en tyd uitgevoer word en hom terugvoer na die oomblik van die goddelike rede toe spirituele voeding geskenk is aan hom by die “banket van Alast” soos die Persiese digters dit sou noem. Die mens antwoord met woorde van aanbidding en verheerliking, tot hy in permanente herinnering die stadium mag bereik waarin die subjek in die objek wegraak; waarin herinnering, die subjek wat onthou, en die objek wat onthou word, weer een word soos hulle voor die dag van Alast word. Die ewige God is soos Hy was en sal wees.

Chittick (2008:68) verduidelik dat hoewel dhikr dwarsdeur die vroeë eeue grondliggend was aan die Islamitiese praktyk, die regsgeleerdes nie dhikr aan die samelewing opgelê het nie. Hoewel die Koran mense herhaaldelik gebied om God te onthou, en die daaglikse gebede (salāt) verpligtend is, is dhikr uiteraard baie meer verwant aan intensie en bewustheid as aan die uiterlike aktiwiteit wat deur die Sharīʿah voorgeskryf word. Die Soefi’s word van ander Moslems onderskei omdat hulle gedagtenis aan God in die vorm van die noem van Sy name, soos deur hul shaykhs voorgeskryf, as verpligtend beskou. Vir hulle is die essensie van alle rituele aktiwiteite om God te onthou. Ihsān is om God te aanbid asof jy Hom sien. Deur jou na God te wend, word bewustheid van Hom gewek en die goddelike beeld latent in die siel verwesenlik. Volgens Ibn Ata’iilah “No one says No god but God correctly unless he negates everything other than God from his soul and heart.” Baie owerhede stem saam dat “No god but God” die mees voortreflike formule van gedagtenis is, maar ander meen dat die noem van Allah se naam alleen – die al-dhikr al-mufrad (die enkele gedagtenis) hoërstaande is (Chittick, 2008:69).

Baie indelings van dhikr word in Soefi-werke aangetref. Handleidings daaroor sluit beskrywings in van hoe dit uitgevoer behoort te word, soos byvoorbeeld reiniging voor en na die dhikr, die kruisbeen-sitposisie, die gebruik van ʼn bedesnoer, die drink van water daarna, ens. Sommiges onderskei tussen hoorbare, openbare, en stilswygende, privaat dhikr. In gemeenskaplike byeenkomste dra Soefi’s dhikr gewoonlik hardop voor, ritmies en soms met musiekbegeleiding (Voll en Ohtsuka, s.a.). Sessies van openbare invokasie wissel van die ingetoë tot die ekstatiese. Sommige groepe, soos die Mevlevi wat Rumi se volgelinge gestig het, het musiek en dans as hulpmiddels vir konsentrasie beskou. Ander groepe het enigiets, behalwe Koran-voordrag en groepvoordrag van name en formules, verbied.