• No results found

Die mistikus se oortuiging dat benewens die fisiese wêreld, daar ’n spirituele wêreld bestaan wat gesluier is en intellektuele, rasionele ondersoek transendeer, is grondliggend aan die mistiek van sowel die Christendom as die Soefisme. Ontsluiering behels ’n reis wat as aktiewe deelname, dus as performatief, beskou kan word, en as sulks die grondrede is vir die performatiewe ondersoek wat aangewend word vir die ontleding van die gedigte in ’n latere hoofstuk.

Underhill (1930:50-61) meen dat die mistikus se benadering, ondanks sy geloofsoortuiging, gemeenskaplike eienskappe het wat die emosionele, intellektuele, en wilslewe van gewone mense oorskry en daarvan verskil. Uit die voorafgaande bespreking is dit duidelik dat ten spyte van die ideologiese en dogmatiese verskille wat die Christelike mistiek en Soefisme onderskryf, daar inderdaad wesenlike ooreenkomste is waarvan die belangrikstes vervolgens uitgelig word.

Beide soorte mistiek het as grondslag Plato se dualistiese opvatting dat die siel en liggaam afsonderlik van mekaar is, en dat die onsterflike siel in ’n sterflike liggaam vasgevang is. Plato se begrip van die supersintuiglike realiteit en eros se kosmologiese mag het op sowel die Christelike as Soefi-mistiek ’n beslissende invloed gehad. Ook het die Neoplatoniese skool wat verder met die basiese dualistiese gegewe gewerk en aangevoer het dat die siel iets van sy oorsprong in hom saamdra, en daarna verlang en begeer om daarmee verenig te word, die Christelike én Soefi-mistiek beïnvloed. Hierdie konsep hang saam met die immanensie- en transendensiekonsepte wat deel is van beide soorte mistiek. Plotinus as klassieke eksponent van die emanasie-teorie se filosofiese emanasieleerstelling is fundamenteel aan albei benaderings.

Noëtiese kennis van God, wat bo-rasioneel en verwant is aan Plotinus se νοῦς’ en as een van die eienskappe van mistiek in die algemeen bespreek is, hang saam met Soefisme se konsep van gnosis (ma’rifa) en die beskouing van die gevorderde Soefi as ’n gnostikus, of kenner (’arif) wie se doel ervaringskennis is. Gnosis is vir die Soefi’s sinoniem met liefde of ’ishq wat

136

op sy beurt volgens Rumi saamhang met die intuïtiewe wat onmiddellik, primêr en uiteraard verwyderd is van die sfeer van intellek en spraak.

In beide mistieke tradisies speel liefde, daardie onbegryplike konsep, ’n kardinale rol. Die Soefi-weg word immers beskryf as die weg van die liefde. Wat die Christelike mistiek betref, word daar na die eerste twee gebooie in Mat. 22: 37-40 verwys: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en die eerste gebod, en die tweede wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste lief hê soos jouself’. In hierdie twee gebooie is die hele wet en profete saamgevat." (Bybel,1983)

Ten einde die goddelike kennis te kan bekom, het mistici van albei tradisies weë beskryf wat uit verskillende stappe bestaan. Die Christelike drieledige verdeling van die via mystica, naamlik die via purgativa, die via illuminativa en die via unitiva kom in sekere opsigte ooreen met die Soefi-weg van die Sharīʿah, die tarīqah, en die haqīqah. In beide gevalle kom dit neer op ’n reiniging van die self wat in die Christelike mistiek as afsterwe van die “eie ek”, en in Soefisme as die annihilering van die self – die toestand van fanā’ – beskou word.

Die apofatiese mistiek, die weg van onwetendheid of ontkenning, of die via negativa – die onbegryplikheid van die essensie en aard van die goddelike, vorm ’n integrale deel van beide mistieke tradisies. Menslike konseptuele kennis moet laat vaar word en suiwering moet plaasvind ten einde goddelike kennis te ontvang. Kourie (2008a:62) haal talle voorbeelde aan om te wys dat apofase in die Bybel ingewortel is, soos bv. die beeld van die wolk by Moses se ontmoeting met God wat aandui dat duisternis die primêre metafoor vir die goddelike is. Die Bybelvers “Niemand het God ooit gesien nie” (Joh. 1:18) bevestig ook negatiewe mistiek. Volgens Villaneda (2014:130) kan die aard van kennis in Soefisme die beste verstaan word met die konsep “unknowing”, of onwetendheid / onkenbaarheid. Soefi’s meen “It is by unknowing, the systematic transcendence of all limited knowledge, that one can approach the unknowable divine being.” Apofase impliseer ook noodwendig die ontoereikendheid van taal om God te konseptualiseer.

Daar is ook gewys op die rol wat die imaginêre in sowel die Christelike mistiek as Soefisme speel. Voss voer aan dat die imaginêre vermoë ’n lewende middel is wat toegang verleen tot die domein wat Corbin as die mundus imaginalis beskryf het, en ’n parallelle wêreld is wat volgens hom “ontologically as real as the world of the senses and that of the intellect” is. Die konsep van die imaginêre word in die volgende aanhaling van Underhill (1930:72) ook betrek: “Here, in this spark or ‘part of the soul’ where the spirit, as religion says, ‘rests in God who made it’, is the fountain alike of the creative imagination and the mystic life. Now and

137

again something stings it into consciousness, and man is caught up to the spiritual level, catches a glimpse of the ‘secret plan’.”

In die volgende hoofstuk word daar gefokus op verskeie faktore wat onderliggend is aan die uitdruk van die mistieke belewenis wat juis as onuitspreeklik beskou word.

138

Hoofstuk 3: Poststrukturalistiese begronding vir