• No results found

2.3 Wat is die mistiek?

2.3.5 Die traumatiese, sublieme en numineuse

2.3.5.3 Die numineuse

Verwant aan die sublieme, is die numineuse. Rudolf Otto, ’n Duitse teoloog was een van die invloedrykste denkers oor religie in die eerste helfte van die twintigste eeu en het die ervaring ontleed wat volgens hom onderliggend aan alle religie is. In sy werk, Das Heilige het hy die term “numineuse”, afgelei van die Latynse woord, numen (‘goddelike mag’), geskep (Otto, 1958:xvi). Otto verwys na die numineuse

as a ‘category of value’ and a ‘state of mind’ that is sui generis, literally ‘of its own kind’, irreducible to other states of mind or other phenomena, a type of ‘primary and elementary datum’ of religion which ‘cannot be strictly defined’ (Sarbacker, 2016). Sarbacker (2016) verduidelik dat die numineuse volgens Otto drie komponente bevat: mysterium, tremendum en fascinans. As mysterium, is die numineuse “volkome anders” van enige iets wat ons in die gewone lewe ervaar, en ontlok ’n reaksie van stilte. Tremendum wek verskrikking / ontsetting op omdat dit sigself as oorweldigende mag presenteer. Laastens verwys fascinans na goedgunstigheid, genade, fassinering. Die persepsie van die numineuse is dié van ontsag-inboesemende, transendente misterie.

Grondliggend aan sy teorie is die idee van ‘skepselgevoel’ (‘creature feeling’) wat as ’n gevoel van oorweldigende niksheid en profaniteit begryp moet word in die aangesig van wat oppermagtig is. Otto (1958:50) verwys na Luk. 5:8 toe Petrus vir Jesus sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ’n sondige mens”, of toe Jesaja in Jes. 6:5 sê: “Elke woord op my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is.” Ook het die offisier in Kapernaum hierdie gevoel verstaan toe hy in Matt. 8:8 vir Jesus gesê het: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.”

Die numineuse is ’n weerkaatsing van die teenwoordigheid van ’n numen, en word direk en niekonseptueel ervaar, eerder as wat dit konseptueel en sekondêr van ’n ander, meer primêre ervaring afgelei word. Alle emosies wat met die numineuse geassosieer word, word op unieke wyse deur die ervaring van die objektiewe realiteit ontlok eerder as wat religieuse emosies tot die persepsie of gevolgtrekking van ’n ekstern bestaande voorwerp lei (Sarbacker, 2016).

34

Otto het numinositeit as nierasioneel beskryf, maar Pruyser, soos aangehaal deur Merkur (2006:206), het aandag op die kognitiewe dimensie van numineuse ervarings gevestig. Hy het aangevoer dat “numinous experiences always involve a ‘limit situation’, a topic that has finality, beyond which it is not possible to think”. “Perksituasies” word numineus wanneer pogings om hul perke te oorskry, ervarings ontketen van transendensie en misterie wat met kognitiewe, ontologiese, epistemologiese, en emosionele implikasies gelaai is en dit buite die mens se begrip of beheer lê. Voorbeelde van hierdie soort situasies sluit in lewe, die dood, morele besluite, en ander beslissende oomblikke van onveranderbare waarheid. Dit mag ook die sonsopgang en sononder, die sterrehemel en ander wonders van die omgewing insluit. Merkur (1999:73) wys daarop dat numinositeit nie ’n abstrakte is nie, maar ’n kenmerk of aspek is wat verskynsels het. Daar kan beweer word dat dit óf deur numineuse verskynsels vergestalt word, óf daardeur gemanifesteer word. Numinositeit kan egter nooit afsonderlik van verskynsels wat numineus is, ervaar word nie. Dit is in die oë van die waarnemer. Nie almal ervaar numineuse verskynsels nie en onder diegene wat dit ervaar, is sommige meer sensitief en reaktief as ander. Enige iets en alles kan numineus wees. Maar niks is noodwendig numineus nie. Ook is dit moontlik dat sommige verskynsels deur sommige mense as numineus ervaar word, maar nie deur ander nie. ’n Verskynsel kan ook by ’n sekere geleentheid as numineus ervaar word, maar by ’n ander geleentheid nie. Die psige het dus skynbaar die vermoë om aan sekere van sy ervarings ’n numineuse waardekategorie toe te ken.

Van Schalkwyk (2003:137-138) wys daarop dat Van Rensburg numinositeit met verwysing na Carl Jung beskryf. Hierdie term slaan op ’n emosie, met religieuse ondertone, waaroor mense geen beheer het nie en wat uit die kollektiewe onbewuste opstoot. Die kollektiewe onbewuste is vergelykbaar met instink by diere, so basies dat dit deel van die psigologiese én fisiologiese is en deur alle lede van die spesie mens, dwarsoor die wêreld, gedeel word. Vanweë die verbondenheid met die kollektiewe onbewuste kan die numineuse ’n intens persoonlike én ’n massabelewenis wees. Die “numinosum” is iets aangrypend, dit het ’n magnetiese aantrekkingskrag en word beleef as ’n beslissende betekenis wat byna voorhande is, iets wat net-net nie volledig openbaar word nie, wat nie benoem kan word nie, maar aarsel op die punt van die tong.

Jung meen dat georganiseerde godsdienste met hul rituele en dogmas, ’n “verdediging” teen die numineuse ervaring verskaf, en hy betreur die verlies aan numinositeit in die moderne wêreld en sê dat die Westerse kultuur sy ‘raison d’être’ wat op numinositeit staatmaak, verloor het. Hy meen dat die meeste mense in die Westerse wêreld teensinnig is om betrokke te raak by die misterieuse of numineuse of dit wat irrasioneel is. Hulle is gedisoriënteerd en omdat

35

hulle hul morele en spirituele tradisies verloor het, is hulle dus nie in staat is om die mistieke te begryp nie (Jungian Center for Spiritual Sciences, s.a.).

Vir sommige navorsers is die numineuse dimensie van mite die belangrikste. Campbell, soos aangehaal deur Van Schalkwyk (2003:138), sê in hierdie verband die volgende:

de eerste en meest wezenlijke functie van de mythologie is deze: het openen van de geest en het hart voor het opperste wonder van het zijn; en de tweede functie is een kosmologische: het weergeven van het universum en het hele schouwspel van de natuur, niet alleen zoals de geest die kent en het oog die ziet maar ook als een zodanige openbaring dat men de uitroep ‘Ah’ slaakt wanneer de bliksem flitst of de ondergaande zon de hemel in vuur en vlam zet of men een hert op zijn hoede doodstil ziet staan, omdat men het goddelijke erkent.

Hoe skakel numinositeit met die mistieke?

Smart (1967:420) wys daarop dat die mistieke ervaring onderskei moet word van die numineuse wat ’n ervaring van ’n dinamiese, eksterne teenwoordigheid is, terwyl die mistieke ervaring gekenmerk word deur onmiddellike kontak met die transendente.

Hoewel Otto dit onder die kategorie van numineuse ervaring geklassifiseer het, het hy wel aangevoer dat daar twee tipes mistieke ervaring is wat hy baseer het op mistieke skrywes in die breë – die mistiek van introspeksie (“inward way”) en die mistiek van verenigende visie (“outward way”). Die mistiek van introspeksie behels ’n wegdraai van die wêreld ekstern aan die self. In teenstelling behels die mistiek van verenigende visie, ’n uitkyk na die wêreld van eindigheid en veelvoud, en binne die eindigheid word die oneindigheid gewaar, binne die tydelike, die ewigheid, en binne die veelvoud word ’n eenheid ervaar. Die waarnemer self herken dat hy deel is van die eenheid (Almond, 1982:94).

Oor die mistiek beweer Otto (1958:29) dat die nierasionele elemente, wat reeds inherent in alle religieë is, die sterkste beklemtoon en oorbeklemtoon word. In die mistieke ervaring word die numineuse voorwerp as die “wholly other” tot die uiterste toe met die gewone ervaring gekontrasteer. Die numineuse ervaring word nie slegs met alles wat van die natuur of hierdie wêreld is, gekontrasteer nie, maar met die Syn self en alles wat “is”, wat uiteindelik is “dit wat niks is nie”. Met hierdie “niks” word nie net bedoel dit waaruit niks vasgestel kan word nie, maar dit wat absoluut en intrinsiek anders is en teenoor alles is wat is en wat bedink kan word. Maar terwyl hierdie negering en kontras tot op die punt van paradoks oordryf word – die enigste middel beskikbaar vir konseptuele denke om die mysterium te benader – behou die mistiek terselfdertyd die positiewe gehalte van die “wholly other” as ’n baie lewende faktor in sy oorvloeiende emosie.

36

W.T. Stace (1960:61,110) het die terme introvertiewe en ekstrovertiewe mistiek vir Otto se twee kategorieë gepostuleer. Hy voer aan die introvertiewe “looks inward into the mind [...] from which all the multiplicity of sensuous or conceptual or other empirical content has been excluded while the extrovertive looks outward through the senses”. Kourie (1992:85) beskryf ekstrovertiewe mistiek as natuurmistiek waarin die natuur met ongewone intensheid en helderheid gesien word, en ’n rapport met die wêreld of panenheniese gevoel ervaar word. Tyson (2013:83) voer aan dat beide die introvertiewe en ekstrovertiewe ’n ervaring van die Een is.

Ninian Smart het Otto se teorie aangepas en sy eie tweepoolteorie van religieuse ervaring daargestel. Hy het Otto se begrip van die numineuse binne sy eie paradigma inbegryp. Volgens Smart se teorie bestaan religieuse ervaring op ’n skaal wat aan die een punt gekenmerk word deur ’n hoë-intensiteit, ontsagwekkende ontmoeting met ’n radikaal ander agent (numineuse ervaring) en aan die ander deur ’n serene en binnewaartse ervaring van ’n geestelik-innerlike self (mistieke ervaring) (Sarbacker, 2016).

Hoe skakel die numineuse met die sublieme?

Otto (1958:41-42) wys op die dualistiese karakter van die numineuse – die tremendum aan die een kant, en die fascinans aan die ander – wat terselfdertyd die voorwerp van grenslose ontsag en grenslose verwondering is, en terselfdertyd oorweldigend is, maar die siel tog in vervoering bring, en wat die eintlike positiewe inhoud van die mysterium bewerkstellig terwyl dit sigself in bewuste gevoel manifesteer. Die harmonie daarvan is moeilik beskryfbaar, maar Otto vind in die sublieme ’n analogie. In Kantiaanse taal is sowel die sublieme as die numineuse, konsepte wat nie aan die lig gebring of verklaar kan word nie. Hoewel daar rasioneel gesê kan word dat die sublieme dreig om grense van ons begrip te oorskry deur een of ander dinamiese of wiskundige grootsheid of manifestasie van krag of grootsheid in ruimtelike omvang, is dit slegs die gesteldheid, nie die essensie nie van die indruk van die sublieme. Die konsep self is onverklaarbaar; dis misterieus en in dié opsig soos die numineuse. Tweedens, soos die numineuse, is daar by die sublieme ’n dualistiese karakter: ontsagwekkend tog lokkend vir die individu. Die gevoel is verootmoedigend, maar terselfdertyd verheerlikend; dit begrens ons en laat ons buite die grense uitstyg. Aan die een kant stel dit ’n gevoel analogies aan vrees vry, en aan die ander kant verheug dit ons. Otto (1958:43) verduidelik dat die idee van die sublieme dus soortgelyk is aan dié van die numineuse en is “well adapted to excite and be excited by it, while each tends to pass over into the other”.

37

Otto (1958:60-70) voer aan dat die numineuse op direkte, indirekte en artistieke wyses uitgedruk kan word. Oor die direkte wyse sê hy numineuse bewustheid kan nie geleer word nie, maar moet uit die gees gewek word. Indien ’n persoon nie voel wat die numineuse is wanneer dit teëgekom word nie, sal geen hoeveelheid onderrig dit kan kommunikeer nie. Oor die indirekte, sê hy geesverwante gevoelens mag sigself in die natuurlike sfeer voordoen en so numineuse gevoelens ontlok. Wat die artistieke betref, noem Otto die statige en indrukwekkende grootsheid van ’n magtige argitektoniese struktuur waardeur die numineuse uitgedruk word. Voorbeelde is die Egiptiese sfinks, tempels, moskees, Gotiese katedrale in die Westerse wêreld, kunswerke van Sjina, veral uit die T’ang- en Soengdinastieë, en dié van Japan en Tibet wat deur Taoïsme en Boeddhisme beïnvloed is en wat volgens hom alle ander werke in ongewone rykheid en diepte oortref.

Dit kan ook negatief deur duisternis en stilte uitgedruk word. Hy beklemtoon dat die duisternis met ’n flikkerende of kwynende lig moet kontrasteer sodat die semiduisternis ’n mistieke effek skep. Die semiduisternis wat in gewelfboë glim of onder takke van ’n hoë bome in ’n woud, en op vreemde wyse in beweging gebring word deur die misterieuse spel van halfligte het nog altyd die siel aangespreek. Die Gotiese roman is ryk aan hierdie besondere soort verskynsels. Stilte is ’n spontane reaksie voor die numens praesens. Selfs nie die mees sublieme musiek het ’n positiewe manier om die heilige uit te druk nie. Hy meen dat musiek slegs die heiligste numineuse oomblik van die mis – die transsubstansiasie – kan uitdruk wanneer die musiek in stilte eindig. Die stilte moet gehoor word en die mens moet stil word voor die Here. Otto (1958:72) sonder Bach se Mis in B mineur uit en meen dat die incarnatus in die credo die mees mistieke gedeelte is wat bewerkstellig word deur die dowwe, talmende, fluisterende gedeelte in die fuga-struktuur wat pianissimo wegsterf.

Nog ’n manier waarop die numineuse uitgedruk word, is d.m.v. leegheid en leë ruimtes, soos woestynvlaktes. Otto noem dit die sublieme op horisontale vlak. Voorbeelde is die Sjinese argitektuur – die stille wydtes van geslote ruimtes, binnehowe en voorhowe. Ook wys hy op Sjinese skilderye waar byna niks geskilder word nie en die leegte (“void”) die onderwerp van die skildery word. Soos donkerte en stilte, is leegte ’n negering, maar waar weggedoen word

met “every ‘this’ and ‘here’ so that the wholly other may become actual” (Otto, 1958:70).