• No results found

HOOFSTUK 3: Poststrukturalistiese begronding vir die ontleding

3.4 Performatiwiteit

3.4.1 Kort oorsig oor performatiwiteitsteorieë

Sekere belangrike taalhandelings- en performatiwiteitsteorieë word vervolgens kortliks bekyk. Soos vroeër aangetoon, oriënteer Lacan se simboliese orde, wat basies ʼn linguistiese dimensie is, die subjek se toetrede tot die sosiaal-gestruktureerde en simbolies-bepaalde konteks waarin hy hom bevind. Performatiewe teorieë ondersoek die maniere waarop die sosiale realiteit nie ʼn gegewe is nie, maar voortdurend as ʼn illusie geskep word "through language, gesture, and all manner of symbolic social sign" (Butler, 1988:519).

Die performatiewe taalhandelingsteorie of “Speech act theory” het sy oorsprong by J.L. Austin (1911-1960), ʼn invloedryke Britse filosoof wat tussen konstaterende en performatiewe uitinge onderskei. Konstaterende uitinge word deur hom gesien as stellings wat die wêreld beskryf, of oor een of ander feit verslag doen. Hulle is onderworpe aan waarheidsvoorwaardelike verifikasie wat performatiewe uitinge aan die ander kant nie kan ondergaan nie, want hulle beskryf of konstateer nie iets nie. Van die performatiewe sê Austin (1975:6,7): "[…] it indicates that the issuing of the utterance is the performing of action – it is not normally thought of as just saying something". Vir performatiewe uitinge om behoorlik te funksioneer, moet hulle aan ʼn sekere aanvaarde stel konvensionele prosedures voldoen (Austin, 1975:31).

Judith Butler (1956- ), Amerikaanse filosoof en genderteoretikus, is deur onder meer Lacaniaanse psigoanalise asook die taalhandelingsteorie beïnvloed. Sy verduidelik: "Within speech act theory, a performative is that discursive practice that enacts or produces that which it names." (Butler, 1993:113) Sy brei uit op Austin se teorie deur ondersoek in te stel na die wyses waarop linguistiese konstruksies oor die algemeen ons realiteit skep deur die taalhandelinge waaraan ons daagliks deelneem. Deur die konvensies en ideologieë van die sosiale wêreld om ons voortdurend te konstateer, voer ons daardie realiteit op; in die

172

performatiewe taalhandeling inkorporeer ons daardie realiteit deur dit met ons liggame op te voer, maar daardie realiteit bly nietemin ʼn sosiale konstruksie. In die uitvoeringshandeling van die realiteitskonvensies, deur hierdie fiksies van ons handelinge te beliggaam, laat ons daardie kunsmatige konvensies natuurlik en noodsaaklik voorkom. Deur konvensies op te voer, maak ons hulle in ʼn mate “reëel”, maar hulle is steeds kunsmatig (Felluga, 2011a). Butler se fokus is op genderhandelinge. In haar opstel Performative Acts and Gender Constitution: an Essay in Phenomenology and Feminist Theory postuleer Butler (1988:520) “gender identity is a performative accomplishment compelled by social sanction and taboo”. Gender word in die gewone liggaamshandelinge saamgestel; die performatiewe handelinge stel gender saam. Met ander woorde, gender is nie die beginpunt nie, dit is ʼn identiteit wat herhaaldelik oor tyd heen gekonstrueer word en altyd deur die liggaam gekonstrueer word. Gender word dus deur die handeling van die performatiewe geskep en hierdie “opvoering” word deur wat reeds geskiedkundig as gender saamgestel is, gevorm en deur die indiwidu deur liggaamshandelinge opgevoer.

Van belang vir hierdie studie, ofskoon dit vir Butler (1988:526) oor genderhandelinge gaan, is die volgende: “the act that one does, the act that one performs, is, in a sense, an act that has been going on before one arrived on the scene”. Elke indiwidu, of in die geval van hierdie studie, die leser, aktualiseer en herproduseer keer op keer weer eens die reële, of die mistieke ervaring.

Dean (2000:76-77) wys daarop dat Butler die Lacaniaanse reële as die domein van taal begryp terwyl dit juis dit is wat taal weerstaan en beperk. Hy voer verder aan dat Butler nie onderskei tussen die reële en prediskursiewe realiteit nie en performatiwiteit foutiewelik toeskryf aan die reële deur te sinspeel op “the performative, and finally, gestural quality of the real”. Deur die reële performatief te maak, beskou Butler dit as essensieel talig. In die bespreking oor Lacan het dit geblyk dat Lacan die reële in algeheel teenoorgestelde terme karakteriseer. Vir hom is diskoers en die reële wedersyds eksklusief. Butler ignoreer dus die perk inherent aan taal wat Lacan die reële noem en baseer haar performatiewe praktyk op “untenable discursive idealism, since no motivation (other than a discursive one) is adduced for the production of discourse” (Dean, 2000:28). Dit is duidelik dat so ʼn opvatting oor die reële en taal heeltemal indruis teen die oortuiging van mistici wat daarvan uitgaan dat taal juis nie die domein van die reële of goddelike kan uitdruk nie.

Derrida ontwikkel sy eie performatiwiteitsteorie wat ʼn aanpassing, dekonstruksie, of in Derridiaanse terme, ʼn “exappropriation” van dié van Austin s’n is. Vir Derrida is die performatiewe ʼn reaksie op ʼn bevel afkomstig van die tout autre (“wholly other”). Derrida se performatiewe is wesenlik aan sy besondere konsep van tyd as “out of joint”, as différance

173

gekoppel. ʼn Derridiaanse performatief oorskry reëls en konvensies wat die handeling binne die “hier” en “nou” omraam, skep ʼn absolute breuk (ruptuur) tussen die hede en die verlede, en lui ʼn toekoms in wat Derrida ʼn ”future anterior”, of ʼn onvoorspelbare “à-venir” noem, met ander woorde iets wat nog moet kom. Die reaksie op die uitnodiging is wesenlik ʼn wederkerige performatief wat “ja” sê op ʼn messiaanse belofte – ʼn uitnodiging deur die “Ander” (tout autre) na ʼn onbekende toekoms (en verlede) van die “Ander” (Miller, 2007: 231).

Op sy beurt onthul die moontlikhede van ander reëls en konvensies inherent in elke performatiewe handeling die spektraliteit van die performatief self. Die belofte is nie slegs spektraal nie, maar spektraleer – dit maak gelyktydig reëel, en onreëel. Dit is hierdie spektraliteit van die performatiewe wat die bevestiging van die “Ander” (tout autre) toelaat. Belangrik vir hierdie studie, is soos Michael Dillon aanvoer dat so ʼn interpretasie juis dit wat geïnterpreteer word, transformeer (Anderson, 2012:110).