• No results found

HOOFSTUK 3: Poststrukturalistiese begronding vir die ontleding

3.4 Performatiwiteit

3.4.2 Die performatiewe aspek in mistieke poësie

Bennett en Royle (2004:233) definieer performatiwiteit as “a statement that does not only describe the action but actually performs that action”. Die konsep het nie tot die linguistiek beperk gebly nie, maar ook uitgekring na die antropologie, etnografie, literêre teorie en genderstudies. Die performatiewe is volgens Bennett en Royle ( 2004:237) uiters nuttig om oor letterkunde te dink, omdat dit ons toelaat om in te sien dat literêre tekste nie net beskryf nie, maar ook optree (“perform”). Literêre tekste sê nie net dinge nie, maar doen dinge – hulle doen dinge met woorde en doen dinge aan / met ons, of soos Wilma Stockenström dit stel: laat dinge “gebeurend gebeur” (Van Niekerk, 2006:100). Hulle skep die wêrelde wat hulle beskryf, maar hierdie skepping is nie ’n eenmalige gebeurtenis wat ten tye van die skryfproses gebeur nie; dit gebeur met elke nuwe lees van die literêre werk (Bennett & Royle, 2004:237). Met verwysing na die Wittgenstein se onderskeid tussen taal wat “uitspreek” en taal wat soos by mistieke poësie, “aantoon”, voer Vörös (2015:81-82) aan dat dit wat taal aantoon, nie slegs onthul word nie, maar optree, en ook na ons oorgedra word. Dit is dus ’n taal wat uitspreek, aantoon en optree. Dit manifesteer in die leser en transformeer die leser. Vörös (2014:393) postuleer dat Wittgenstein se “aantoon” dus nie binne taal – op die vlak van betekenis – plaasvind nie, maar deur taal – op die vlak van handeling; dit is dus nie verwant aan intralinguistiese verwysing nie, maar aan translinguistiese oordrag. Vörös (2015:82) stel dit so: “Through this self-transcending ‘crack’ in the conceptual edifice of language we have thus clambered from a descriptive onto a performative level”.

Mistieke poësie is in wese dus nie beskrywend nie, maar eerder ’n performatiewe strategie. Linde (2018:iii) voer aan: “Tekstuele performatisme verstaan ʼn literêre werk as ʼn kreatiewe

174

gebeurtenis (Attridge [2004] se ‘event’) wat beteken dat die teks weerstandig is teen literêre instrumentalisering. Die doel van relasionele performatisme is om ʼn gevoel van betowering in die kunste, en spesifiek die letterkunde, op performatistiese wyse te laat herleef.” Hierdie siening is by uitstek waar van mistieke poësie waar die teks, soos Linde (2018:79) dit stel, beskou kan word as ’n “akteur in ʼn netwerk waartydens betekenis gevorm word. Die teks verkry ʼn tipe outonomie om (met behulp van die ander akteurs soos die skrywer en die leser) op betekenisvolle manier interaksie tot gevolg te hê.”

Daar word terugverwys na Sells (1994:9) se opvatting van die betekenisgebeurtenis, wat vroeër in hierdie hoofstuk aan bod gekom het, en volgens hom ’n teks as misties definieer. Sodra daar ’n deurbraak buite / anderkant normale afgebakende verwysing en postulering plaasvind, en die leser noëtiese insig in die mistieke ervaring verkry, word die leeservaring ’n betekenisgebeurtenis wat:

[...] indicates that moment when the meaning has become identical or fused with the act of predication. In metaphysical terms, essence is identical with existence, but such identity is not only asserted, it is performed [...].

So ’n teks bied volgens Yore (2006:78) ’n vlugtige blik van die heilige en open ’n baan wat ’n mens buite die rede tot die onuitspreeklike misterie beweeg. Die betekenisgebeurtenis kan as die semantiese analoog tot die ervaring van mistieke eenwording beskou word, en beskryf of verwys nie na die mistieke eenwording nie, maar bewerkstellig ʼn semantiese eenwording wat die mistieke eenwording herskep of naboots en is vlak onderkant die semantiese oppervlak geleë. In metafisiese terme is essensie identies met bestaan, maar sulke bestaan word nie slegs beweer nie, dit word uitgevoer – dit word dus performatief.

Mistieke taal bevestig ’n oomblik van onmiddellikheid, ’n oomblik van ontologiese primordialiteit van die siel wat in mistieke eenwording, in Sells (1994:10) se woorde, terugkeer “to where it was before it was”. Mistieke taal “attempts to evoke in the reader an event that is – in its movement beyond structures of self and other, subject and object – structurally analogous to the event of mystical union” (Sells, 1994:10).

Die leesproses behels dus aktiewe deelname aan die teks wat Attridge (2017:123-124) beskryf as “a performance of the singularity and otherness of the writing that constitutes the work as it comes into being for a particular reader in a particular context”. Vir Attridge (2017:39) is die ervaring van ʼn literêre teks die ontmoeting met andersheid en sonderlingheid. Soortgelyk aan Sells se betekenisgebeurtenis, voer Attridge (2017:139) aan, is hierdie ontmoeting terselfdertyd ’n komplekse linguistiese, asook, en onafskeidbaar daarvan, ’n konseptuele, emosionele en fisiese gebeurtenis (“event”) wat die leser as ’n wonderwerk ervaar. Die leser “[...] who undergoes all this, experiences a miracle, and experiences it as a

175

miracle in language” (Attridge, 2017:139). Só ʼn ontmoeting lei tot ʼn verskuiwing; tot ʼn uitdaging van die self (Linde, 2018:13).

Linde (2018:232) wys daarop dat poësie, beide die gedig self en die skryf daarvan, as performatiewe optrede beskou kan word, en dat ʼn digter performatief met taal omgaan wanneer hy ʼn tipe “mundane violence” met woorde pleeg deur dit te breek, te herhaal of met mekaar te laat rym. Dit rebelleer teen strukture en kognisie, is vry van konteks, en kan daarom iets nuuts tot stand bring en dit opvoer. Volgens Kourie (2008a:62) word taal op verskeie wyses gemanipuleer en “[…] brought to breaking point in order to illustrate the ineffability of the divine”. Jean-Joseph Surin, ʼn Franse Jesuïet-mistikus van die 17de eeu, se opvatting is dat die werk van die mistikus is om te vernietig, te verwoes, te annihileer en om terselfdertyd te herskep, te vestig, te laat herrys; die mistikus is wonderbaarlik vreesaanjaend en wonderbaarlik sagsinnig; die mistikus is gierig en vrygewig, hoflik en jaloers, vra alles en gee alles (Minnaar, 2000:264).

Volgens Vörös (2014:394) “a performative is a verbal extension of bodily action”. Hy onderskei tussen positiewe performatiewe wat hul referente in ʼn konseptuele raamwerk “entangle”, byvoorbeeld, “I do”; en negatiewe performatiewe wat hulle van hierdie netwerk “disentangle”, byvoorbeeld, “I don’t love you anymore and I am leaving”. ʼn Sekere ooreenkoms bestaan tussen performatiewe en die mistieke “aantoon”, want in beide gevalle word ʼn domein van aktiwiteit binnegegaan deurdat die domein van konseptualiteit getransendeer word.

Positiewe asook negatiewe performatiewe funksioneer steeds in die domein van betekenis: die aksie wat uitgevoer word deur die uitdruk van ʼn uiting, koppel of ontkoppel die referent aan of van ʼn spesifieke konseptuele raamwerk. Performatiewe tree op, maar hierdie handelinge is steeds gewortel in beskrywing – konsepte en betekenisse. Die betrokkenes moet byvoorbeeld weet wat dit beteken om in die huwelik te tree vir die “I do” om waarlik performatief te wees.

Wat mistieke uitinge van gewone performatiewe onderskei, is die feit dat hul transendensie radikaal is. Terwyl positiewe performatiewe hul referent in ʼn konseptuele raamwerk verwikkel en negatiewe performatiewe hul ontknoop, ontknoop mistieke performatiewe die ontknopingsdaad self. Anders gestel: hulle ontneem die performatiewe dimensie van taal van sy beskrywende dimensie. In hierdie sin kan die mistieke “aantoon” ʼn “absoluut negatiewe performatief” genoem word “in that its pointing takes place precisely through the dis- appointment of the concept”. Met ander woorde, mistieke taal tree as deaktivering van die konseptuele taal op. Dit voer ʼn radikaal negatiewe performatiewe funksie uit waarvan die doel is “to project the subject beyond the limits of his or her linguistic system” (Forman, 1999:100).

176

Dit sluit aan by Derrida se opvatting van die mistieke performatiewe handeling wat dualisme ophef en die “Ander” toelaat.

In hierdie opsig kan taal, eerder as ʼn struikelblok, as ʼn hulpmiddel vir die mistikus op sy spirituele weg beskou word en ʼn doeltreffende verlenging van kontemplatiewe / meditatiewe praktyk e waarby hy betrokke is. Mistieke taal verslap die greep van rasionele strukture en laat die primordiale mistieke niedualisme deurskyn. Vörös (2014:394) is van mening dat mistieke literatuur uit verskillende godsdienstige tradisies ondanks dogmatiese verskille dus dieselfde ervaring kan “opvoer”.

Die suksesvolheid van ʼn literêre uiting hang vir Derrida af van ʼn komplekse en paradoksale kombinasie van die performatiewe en die konstatiewe, verduidelik Culler (2000:510): “literary works claim to tell us about the world (constatively), but if they succeed they do so by bringing into being the characters and events they relate (performatively)”.

Baie van Rumi se gedigte is ook in die letterlike sin van die woord performatief deurdat dit opgevoer (“perform”) kan word en opgevoer word. Die sluit aan by die konsep beliggaamdheid waarby die skrywer asook die leser betrokke is. Soefi-poësie word by die samā’-byeenkomste waarvan die doel dhikr Allah, of gedagtenis aan God is, deur inkantering en voordrag uitgevoer en gaan met dans en musiek gepaard. Pederson (2013:140) wys daarop dat hierdie inkantering van Soefi-poësie nie oor kommunikasie of oor die skrywer gaan nie, maar slegs op God gerig is. ʼn Kombinasie van verskeie skrywers se werke word dikwels benut en dit het soms ’n nuwe gedig tot gevolg. Deur die dans word nie slegs die uitvoerende derwisj nie, maar kan ook die toeskouer daarvan getransformeer word en ’n mistieke belewenis beliggaamd en affektief ervaar.

Soos Preminger, et al. (1993:940) aanvoer, kan poëtiese tekste bestaan “in both types of substantial realization – phonic and graphic”. Richard Schechner (1988:142), professor van “Performance Studies” aan die New York Universiteit, dui aan dat performatiewe onder meer die ritueel kan insluit. Sy beskrywing, “[p]erformance originates in impulse […] to be transformed into another and to celebrate oneself, […] to bring into a special place of transcendent other who exists then-and-now and later-and-now; to be in a trance and to be conscious”, sluit ten nouste aan by die aard van die mistieke ervaring.

Op soortgelyke wyse as die danser, wat as ikoniese teken die mistieke beliggaam en met sy lyf daaraan uitdrukking gee, kan sowel die skrywer as die leser van die teks, soos Van Schalkwyk (2014) uitwys, hulself transendeer, getransformeer word en opgaan in die mistieke.

177

Samevattend word daar aangevoer dat ʼn Derridiaanse benadering tot die performatiewe asook kennisname van die mistieke performatiewe opvatting soos hierbo uiteengesit, met vrug vir die interpretasie van mistieke poësie aangewend kan word. Omdat die mistieke performatief, soos ook Derrida se opvatting van die performatief, die funksie het om totaal en al linguistiese konseptuele perke te oorskry, word die moontlikheid geskep om die “Ander” (tout autre) toe te laat. Deur die performatiewe handeling as facere veritatem in antwoord op die uitnodiging van die mistieke wat in die betekenaars vervat is, te beskou, word die verwagting van ʼn ervaring met die “Ander” geskep.

3.5 Slot

Deur sekere poststrukturalistiese opvattings van Derrida en Lacan te ondersoek, en vas te stel wat die raakpunte met Soefi-konsepte asook Augustinus se teorie is, is insig verkry oor die aard en funksionering van mistieke taal veral met betrekking tot die skrywer en leser van mistieke poësie. Vir sowel mistici as poststrukturaliste is betekenisgewing problematies ofskoon die redes verskil. Ooreenkomste ten opsigte van die benaderingswyse sluit in: ’n passievolle strewe na die “Ander”, ’n strewe wat gedrewe, ’n facere veritatem en dus performatief is, ’n besef van die ontoereikendheid van taal om as deel van ons temporele wêreld aan die transendente uitdrukking te gee; ’n besef dat die transendente nooit volkome aan ons onthul word nie, maar altyd deur ’n sluier, want dit kan slegs in transendensie behou word indien dit verborge bly; ’n besef van die vervlietendheid en ontwykendheid van die transendente en dat ons dit net in die uitwerking en nagevolge daarvan kan ervaar; ’n afkeer aan rasionaliteit.

Soortgelyk aan die poststrukturalistiese aporia wat ontstaan as gevolg daarvan dat betekenaars nie tot betekenis lei nie, lei die onuitspreeklikheid van die mistieke ook tot ’n knoop, ’n aporia, maar dit is juis noodsaaklik ten einde die goddelike in transendensie te behou. Dit open die moontlikheid vir die skrywer en leser om op ’n ander wyse uitdrukking aan die transendente te kan gee en dit te kan interpreteer. Hierdie diskoers word in die volgende hoofstuk ondersoek.

Die belangrike rol wat die imaginêre by die uitdruk en interpreteer van mistieke poësie speel, word ondersoek en na aanleiding van Ibn al-’Arabī se konsep ’alam al-mithāl en Corbin se mundus imaginalis, toegelig. Deur met die imaginêre geestesvermoë, eerder as met die rasionele die teks te interpreteer, word die betekenaars in beelde omskep wat die mistieke ervaring vir die leser verwesenlik. Die spieëlsimboliek wat deel uitmaak van Ibn al-’Arabī se teorie, en ook in Rumi se poësie voorkom en verband hou met versluiering en ontsluiering en dualisme wat opgehef word, illustreer verder die funksie van die imaginêre. Ten einde die betekenis van metafore te begryp, moet ons (die lesers) volgens Attridge (2005:26-27)

178

“engage a different interpretative gear, which enables us to make sense of the statement through metaphor”, en ons imaginêre geestesvermoë benut en dit as ’n gebeurtenis (“event”) ervaar. Hy wys verder daarop dat met so ’n ingesteldheid:

The metaphor in literary works, when read as literature, is performed, the opening up of semantic (and thence emotive and even somatic) possibilities is a product of the relation between one word and the next, one phrase or sentence and the next.

Soos deurgaans geblyk het, is daar ’n sterk performatiewe element betrokke by die lees en interpreteer van mistieke poësie en daarom is verskillende performatiwiteitsteorieë ondersoek. Mistieke performatiewe is bespreek en daar is daarop gewys dat dit van gewone positiewe en negatiewe performatiewe verskil omdat dit algehele transendensie bewerkstellig en die “Ander” sodoende verwelkom.

In die volgende hoofstuk word die aard van die mistieke poësie, die soort taalgebruik, onder meer die apofatiese wat vir mistieke poësie aangewend word, toegelig, asook die verskeie stylfigure en strategieë wat die digter benut om aan die onuitspreeklike mistieke uitdrukking te gee. Samevattend word ’n ontledingsproses gepostuleer, uiteengesit en diagrammaties voorgestel.

179

Hoofstuk 4: Die aard van mistieke poësie en taal