• No results found

2.3 Wat is die mistiek?

2.3.4 Definisies van die mistiek

Daar word vervolgens na ’n paar definisies van hierdie moeilik bevatlike verskynsel gekyk. Hayes (1997:574) wys daarop dat die mistiek nie ’n volledig uitgebreide, filosofiese stelsel is nie: “It is, instead, a loosely organized collection of premises, held to be self-evident. The evidence comes from experience; which is to say, the foundation of all categorical concepts is believed to be simple, unsophisticated experience.” Sy sê verder dat dit om hierdie rede is dat die mistiek altyd, in sy mees basiese vorm, oor direkte belewing gaan. Die eksistensiële fokus is op bestaan en ervaring eerder as essensie soos uit die volgende definisies duidelik blyk:

In Literêre terme en teorieë definieer Olivier (2013) mistiek soos volg:

Mistiek is 'n begrip in die godsdiens en literatuur wat egter ook algemeen gebruik word in die onnoukeurige sin van die ‘geheimsinnige’ of ‘vreemde’. Tradisioneel is die betekenis daarenteen duidelik godsdienstig en die woord vind sy oorsprong in die Griekse misterie-godsdienste en is afgelei van die Griekse muein (om die oë te sluit) en mustérion (geheimenis). Die begrip het uiteenlopende definisies, maar kan

27

wesenlik omskryf word as die herkenning van en die ontmoeting en vereniging met die goddelike.

T.F. Merrill (1976:19) praat daarvan as "a trend of experience leading towards a union with God". Marsman (1960:829) voer aan dit is 'n houding "gericht op een vorm van vereniging tussen de menselijke ziel en God". Kannemeyer (1973:166) omskryf die mistiek as "gemeenskap met God waardeur hy die aardse dinge sien as simbole in 'n bo-wêreldse glans". Inge (soos aangehaal deur Olivier, 1985:2) meen: "Mysticism is the habit of the mind which discerns the spiritual in common things.”

Soortgelyk aan die volgende Merriam-Webster Dictionary (2017a) inskrywing, “mysticism: the experience of mystical union or direct communion with ultimate reality reported by mystics” is Carmody en Carmody (1996:13) se definisie, naamlik dat dit gaan oor “direct experience of ultimate reality” wat 'n direkte ervaring buite taal of sintuiglike waarnemings behels en só direk en oorweldigend is, dat dit by die mistikus geen twyfel laat oor die werklikheid daarvan nie. So ook kry die ervaring die klem in William Harmless (2008:263) se definisie: “It is a domain of religion that deals with the search for and the attainment of a profound experiential knowledge of God or of ultimate reality. It takes its literary form in mystical texts, […] and its practical form in the remarkable experiences and the broader lives of individual mystics.” Schimmel (2017) definieer Soefisme as die geloof en praktyk waarin Moslems deur direkte persoonlike ervaring met God die waarheid van goddelike liefde en kennis soek. Dit bestaan uit ’n verskeidenheid mistieke weë wat ontwerp is om die aard van die mensdom en van God te bepaal en om die ervaring van die teenwoordigheid van goddelike liefde en wysheid in die wêreld te fasiliteer.

In sy twee-volume verhandeling, De mystica theologia, lui die laat Middeleeuse teoloog, Jean de Gerson, se klassieke definisie: ‘‘Mystical theology is an experiential knowledge of God that comes through the embrace of unitive love (theologia mystica est cognitio experimentalis habita de Deo per amoris unitive complexum)” (Harmless, 2008:4-6). Wat vir Gerson belangrik is, is die deurleefde kennis van God waaroor die heiliges (“saints”) praat.

William James (1985:370), die toonaangewende laat 19de-eeuse Amerikaanse filosoof, meen dat die term “mistiek” te losweg en vaag gebruik word en wou presisie daaraan gee deur die mistieke ervaring met die volgende terme pragmaties te definieer en af te baken: onuitspreeklikheid, die noëtiese, vlugtigheid en passiwiteit. Hierdie terme word steeds as klassieke kenmerke beskou en word in die volgende subafdeling oor die kenmerke bespreek. Volgens Underhill behels die proses van spirituele transformasie vyf stadiums soos deur die Neoplatoniste en Middeleeuse Christelike mistici geïdentifiseer:

28

• Bewuswording of bekering • Selfkennis of suiwering • Illuminering

• Oorgawe of die “Donker Nag” waaroor Juan de la Cruz skryf. Na die ervaring van die goddelike aanwesigheid in die vorige stadium, strek die suiweringsproses nou tot by die eie ek, die ego, die wil. Die menslike instink vir persoonlike geluk moet uitgewis word, en dit beskryf die mistici as “spirituele kruisiging”, die groot Godverlatenheid. Volledige oorgawe van die Self, individualiteit, en wil vind plaas. Dit is ’n uiters passiewe toestand wat om niks vra nie.

• Eenwording, of die aktiewe verenigde lewe.

Underhill merk ook op dat die hoofmetode van die mistikus dié van introversie, stilte en kontemplasie is.

Om hierdie gedeelte af te sluit, word daar in die woorde van Underhill (1930:84) gewys op die heel belangrikste element van die mistiek – die liefde – wat as die dryfkrag beskou kan word om die sluier te skeur:

The jewels of mystical literature glow with this intimate and impassioned love of the Absolute; which transcends the dogmatic language in which it is clothed and becomes applicable to mystics of every race and creed. There is little difference in this between the extremes of Eastern and Western thought: between A Kempis the Christian and Jalal al-Dīn Rūmi the Moslem saint.

Bostaande dien as ‘n aanvanklike oorsig oor die aard van die mistiek. Die besprekings wat volg, sal egter meer lig daarop werp.