• No results found

2.2 Platoniese en Neoplatoniese beskouings

2.2.3 Neoplatoniste

Die Neoplatoniese skool sou verder werk met die basiese dualistiese gegewe dat die siel iets van sy Oorsprong in hom saamdra en dat hy daarna verlang en begeer om daarmee verenig

18

te word. Veral drie Neoplatoniste, naamlik Philo, Origen en Plotinus het ’n belangrike bydrae tot die mistiek gelewer en hulle beskouings word vervolgens bespreek.

2.2.3.1 Philo van Aleksandrië (25 v.C.–50 n.C.)

Volgens Philo, die Joodse filosoof, is die mens deur sy intellek aan God verwant. Deur die kontemplatiewe lewe kan hy in beginsel 'n toestand bereik waarin hy die essensie van God kan sien. In sy geskrifte het Philo dan ook van sy eie mistieke ervarings getuienis gelewer (Minnaar, 2000:26). Die mistieke weg in die Judaïsme behels volgens Philo drie stadiums: eerstens askese waarvan die doel was om die laer hartstogte te oorwin; tweedens, kennis wat ’n kennis van hemelse wysheid insluit; en derdens, eenwording, wanneer die God-gegewe natuur deel het aan die geskenke van God (Kourie, 2016).

In ooreenstemming met Platoniese en mistieke idees is Philo ’n vroeë voorloper van die tradisie van die via negativa: God ontsnap aan die positiewe uitsprake wat ons aangaande hom probeer maak. Hy gebruik die Ou Testamentiese beeld van Moses wat God in die “wolk” teëkom om aan te dui dat “duisternis” die primêre metafoor van die goddelike is. Ook verwys hy na die stelling in Johannes 1:18, “Niemand het God ooit gesien nie”, om ’n negatiewe mistiek te bevestig (Kourie, 2008a:64). Die siel strewe na ’n visie van die Een, 'n proses wat ’n gawe van die godheid is en wat Philo omskryf as "seeing and being seen", as "drawing near to God who has drawn the mind to himself”. Omdat die Een egter transendent is, is sy aangesig verblindend vir die siel. Met hierdie opvatting stel Philo nog ’n belangrike baken in die mistieke geskiedenis en word die basis vir die lig-mistiek en die paradoksale spel tussen lig en donker gelê (Olivier,1985:32). Ook sluit Philo se beskouing aan by die apofatiese teologie wat reeds bespreek is.

Philo het onderskei tussen twee soorte interpretasies: die letterlike en die allegoriese, wat hy aan die Platoniese konsep van ’n dualistiese wêreld koppel. Een wêreld is spiritueel soos God, en die ander wêreld is sigbaar en liggaamlik. Zarrinkoob (1970:147) wys daarop dat sekere kenmerke van die Islamitiese gebruik van allegoriese interpretasie teruggevoer kan word na die invloed van Philo wat die eerste denker was wat die Ou Testament allegories geïnterpreteer het. Allegorisme was goed gevestig in Aleksandrië, en Philo het daarvan gebruik gemaak om die kloof tussen die Griekse Platoniese filosofie en Joodse filosofie te oorbrug. Allegoriese interpretasie van die Koran is eie aan Soefisme, en Rumi het nie minder nie as sewe betekenisse aan elke gedeelte van die Koran toegeskryf (Whinfield, 2001:247). Volgens Minnaar (2000:141) het die beeld van goddelike dronkenskap wat dikwels in die taal van illuminasie voorkom, sy oorsprong by Philo. Philo het ’n teorie ontwikkel oor hoe die Hebreeuse profete geprofeteer het, en aan die hand gedoen dat hulle goddelike insig tydens

19

’n toestand van geestelike dronkenskap ontvang het. Hy noem dit ’n “sober dronkenskap”, ’n insig in lewensvrae wat dieper gaan as die plek wat bereik word deur nugter en praktiese oorweging van die feite en verder gaan vanwaar laasgenoemde opgehou het. Die moontlikhede wat volwaardige denke bied, word dus baie vergroot deur ’n toestand wat met dronkenskap ooreenkom – wanneer die gees nie meer op sigself aangewese is nie, maar vervoer en verruk is deur ’n hemelse passie en ekstase. Zarrinkoob (1970:169) wys op die ooreenstemming daarvan met die Soefi’s se bacchiese liedere en poësie. Rumi benut dikwels beeldspraak wat dronkenskap of bedwelming uitdruk ten einde verrukking van eenwording met die goddelike uit te beeld.

Philo interpreteer die Bybelse opdrag om die Sabbatdag heilig te hou as ’n opdrag om ’n lewe na te streef van aktief asook kontemplatief wees. “When one’s life is truly marked by both the practical and contemplative the mind enters a continual process of immortalization.” (Putthoff, 2016:91)

2.2.3.2 Origen van Aleksandrië (185–254 n.C.)

Origen was volgens Moore (s.a.(a)) die eerste sistematiese teoloog en filosoof van die Christelike Kerk. Hy het van paganistiese filosofie gebruik gemaak in ’n poging om die Christelike geloof op so ’n manier toe te lig dat dit vir intellektueles aanvaarbaar sou wees. Minnaar (2000:34) wys daarop dat hy onderskei het tussen die “populêre, irrasionele geloof” wat tot fisiese “somatiese Christelikheid” lei, en kennis – gnosis – wat volgens Origen tot ’n ”geestelike Christelikheid” lei wat na ewige waarhede soek en nie gebind is aan die blote besonderhede van die Evangelieverhale wat die massas so beïndruk het nie.

Soos Philo het ook hy die Bybel op die Aleksandrynse allegoriese manier geïnterpreteer, en nie minder nie as drie betekenisse aan die Skrif toegeskryf.

Origen se belangrikste bydrae kom deur die wyse waarop hy die Hooglied gemistifiseer het om daarin die liefdesverhouding tussen die godheid en sy volk te vind. Die taal was vir hom die mees toereikende om die diepgaande verhouding tussen die Christensiel en God uit te druk. Parrinder verklaar hieroor:

The Song of Songs is the locus classicus of mystical imagery for Judaism and Christianity, and whatever its original purpose it became both to Israel and the Church, by admission into their canon, the source of statements about the love of God and his union with his people. (Olivier, 1985:33)

Astell merk op:

Unlike Origen, whose belief in two loves – carnal and spiritual, demonic and divine – led him to disassociate the literal and allegorical meanings of the Song, twelfth

20

century exegetes upheld a unitary concept of love. They therefore approached the erotic images of the Song in a way that rendered them transparent to their divine tenor, sacramentalizing them, making them vehicles for an organic transference of the affectus to Christ the Bridegroom. (Moore, 2000:333)

In hoofstuk 4 word daar verder ingegaan op die verskillende wyses waarop Hooglied oor die eeue heen gelees en geïnterpreteer is, asook wat die rol van die erotika in mistieke gedigte is.

2.2.3.3 Plotinus (204–270 n.C.)

Plotinus, Vader van die Westerse en Neoplatoniese teologie, word volgens Umen (1988:128) as een van die diepsinnigste en invloedrykste mistici van alle tye beskou. Hy het meer as enige ander filosoof ná Plato die leer dat die basiese aard van die heelal geestelik is, laat posvat. Sy verduideliking van hoe ’n materiële wêreld uit ’n geestelike wese voortvloei, en sy ontwikkeling van die basiese dualistiese idee van die siel wat die sintuiglike wêreld transendeer om die ewige te bereik, het die Christelike asook Soefi-mistiek beïnvloed. Hy was die klassieke eksponent van die emanasie-teorie en het die Christelike Drie-eenheid intellektueel verwerk in ’n komplekse metafisiese struktuur met drie fasette van die godheid: die Een, die νοῦς (Intellek) en die Siel of die Wêreldsiel waaraan die siel van die mens deel het (Olivier, 1985:34). Hierdie beskouing van hom sou onder meer ’n invloed op die denke van Dionisius en Ruusbroec hê.

Plotinus se emanasieproses word so deur Minnaar (2000:31) verduidelik:

Soos die lig van die son moeiteloos en sonder om iets van die substansie van die son weg te neem, onophoudelik uitstroom, met verminderende krag soos dit verder en verder weggaan en tot niet raak in die duisternis, so kom uit die Een die Intelligensie (νοῦς), hieruit die Wêreldsiel, en hieruit op sy beurt weer die oerstof en stoflike heelal voort […]. Hierdie voortkoms is nie in tyd en ruimte nie, want tyd en ruimte verskyn eers in die laaste stadium. Dus is alles van God, en God is in alles, maar tog op so ’n wyse dat sy absolute transendensie nie aangetas word nie.

Wat Plotinus se emanasieproses betref, wys Gerson (2014) daarop: “It is not intended to indicate either a temporal process or the unpacking or separating of a potentially complex unity. Rather, the derivation was understood in terms of atemporal ontological dependence”. Sedgwick (2016:67) noem dat Neoplatoniese emanasie deel vorm van Soefisme, en dat die konsep vir die eerste keer te voorskyn gekom het in ’n gebed van Bayazid-al Bistami en in die werke van Sahl al-Tustari wat die eerste was om die praktyk van dhikr (die gebed) te beskryf.

21

Die Neoplatonistiese filosoof Plotinus stem saam: “In seeing God, what sees is not our reason, but something prior to and superior to our reason.” (Guilford, s.a.:90) In sy Enneades beskryf Plotinus sy mistieke gewaarwordings soos volg:

Many times it has happened: Lifted out of the body into myself; becoming external to all other things and self-encentered; beholding a marvellous beauty; then, more than ever, assured of community with the loftiest order; enacting the noblest life, acquiring identity with the divine; stationing within It by having attained that activity; poised above whatsoever within the Intellectual is less than the Supreme: yet, there comes the moment of descent from intellection to reasoning, and after that sojourn in the divine, I ask myself how it happens that I can now be descending, and how did the soul ever enter into my body, the soul which, even within the body, is the high thing it has shown itself to be. (McKenna en Page, 2016)

Hierdie toestand noem Plotinus ekstase (Stearns, 1920:360) en soos die Soefi’s het ook hy dit as simbool van spirituele kontemplasie in dronkenskap beskou – “sober dronkenskap” of sobria ebrietas (Zarrinkoob, 1970:169).

Schuon (1975:7) sit Plotinus se ervaring soos volg uiteen: “Hier gaan ’n mens van die liggaam wat op hartstog ingestel is na die deugsame siel en van die siel na die kennende Gees, dan vanaf en deur die Gees na die bo-rasionele en verenigende visioen van die onuitspreeklike Een, wat die bron is van alles wat bestaan; in die Een val die denkende subjek en die denkobjek saam.”

Hierdie wisselwerking geskied volgens Olivier (1985:35) deur die liefde: enersyds deur die liefde van die godheid vir die mens en andersyds die liefde van dié mens wat die krag het om die sielsdenke oor die beperkings van die verstand heen te lig. Plotinus se uitlig van die Een, wat terselfdertyd die voorwerp van liefde, liefde self en selfliefde is, het die idee geïnisieer van ’n driefasige baan van mistieke teologie: die suiwerende, die illuminatiewe en die kontemplatiewe weë (Minnaar, 2000:241). Volgens Moore (s.a.(b)) beskou Plotinus liefde meer “kosmies” as wat ons gewoonlik met die term assosieer. Vir Plotinus is liefde (eros) ’n ontologiese toestand wat deur die siel ervaar word wat sy ware status as goddelike regeerder van die materiële ryk vergeet het en nou na sy ware toestand verlang.

Plotinus is ook ’n teoloog in die apofatiese tradisie. God is anderkant / buite persoonlikheid en daarom slegs negatief kenbaar: "The One is, in truth, beyond all statement; whatever you say would limit It. We can state what It is not while we are silent as to what It is.” (Plotinus, 1976: 162 -En. V: III, 3 en 14)

22

Sekere kernelemente wat 'n integrerende deel uitmaak van die mistiek – die drie stadiums van die weg na eenwording, die allegoriese, goddelike dronkenskap, die via negativa of apofatiese, die emanasieteorie , en die νοῦς wat nou saamhang met die noëtiese aspek – is onmiskenbaar in die Neoplatoniste se denke aanwesig.

2.3 Wat is die mistiek?