• No results found

2.6 Christelike mistiek

2.6.2 Christelike godsdiens

Die Christelike godsdiens is gebaseer op die lewe en leringe van Jesus soos in die Bybel aangeteken met dié kerngedagtes: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30), God se liefde, en die Drie-eenheid. King (2004:5) meen dat die Christelike godsdiens ’n diep mistieke godsdiens is, hoewel sy toegee dat sommige dit betwis “because they think of it mostly in institutional terms”. Volgens Underhill (1930:100) bied die Christelike godsdiens die beste “map” vir die mistiek en sy sê die besondere krag van die Christelike filosofie wat sy superioriteit bo die kouer selfonderhoudende stelsels van Griekeland merk, is die feit dat dit die dualistiese waarhede van die metafisika in terme van ’n derde term, persoonlikheid herskryf, ’n “living mediator between the Unknowable God, the unconditioned Absolute, and the conditioned self”. Vir Underhill maak die Christelike godsdiens met sy sentrale leerstelling van die Drie- eenheid en Inkarnasie wat mekaar korreleer en verduidelik, vir sowel die emanasie- as die immanensieteorie plek en komplementeer mekaar om dele van ’n geheel uit te druk.

58

Eerste is God, die Vader, die Onkenbare Een van die Neoplatoniste, Transendente Wese wat Ruusbroec beskryf as die “ground and origin, wherein our life and being is begun”. Augustinus sê van Hom dat hy bokant die intellek is, maar bekend aan die mens wat Hom lief het. Hy word dikwels in terme van die lig-simbool beskryf – die Ongeskape Lig, maar paradoksaal – die “deep yet dazzling darkness” van die Dionisiese skool, “dark from its surpassing brightness [...] as the shining of the sun on his course is as darkness to weak eyes”. Dit is St. Hildegarde se lux vivens, en Dante se somma luce, waarin hy veelvoud in eenheid gesien het (Underhill, 1930:110).

Tweede is Christus, in wie Teresa van Ávila, die Logos, die uitdrukking van die Vader se denke geïsoleer het en in wie God immanent word. Dit is hier, die bemiddelende beginsel wat tussen hemel en aarde is, waar die Godheid vir die siel van die mens begryplik word. Vir die gelowige is hierdie Tweede Persoon van die Drie-eenheid die beeld van die Godheid, maar ook die persoonlike onuitputlike bron van alle lewe en voorwerp van alle liefde. In sy Inkarnasie het hy die brug tussen die beperkte / die mens en die onbeperkte / God geword. “This is why,” sê Ruusbroec, “all that lives in the Father unmanifested in the Unity, is also in the Son actively poured forth in manifestation” (Underhill, 1930:110). Underhill sê verder dat Christus as goddelike Lewe, die mistikus se persoonlike Kameraad is, die volhoudende krag van die heelal en dat Sy aktiewe Gees in die oorvloedige lewe te bespeur is – in die vlug van voëls, die bot van pragtige blomme, die ritmes van die see; “there is somewhat of Bethlehem in all these things, somewhat too of Calvary in their self-giving pains”.

Maar nog belangriker, sê Olivier (1985:27-28), is die manifestasie van die Liefde wat die koms van Christus omring, want daardeur word die kloof tussen die mens en die Godheid oorbrug. Net soos die Godheid sigself in die skepping aan die mens verwant gemaak het, doen hy dit nou weer. Met hierdie daad word die basis vir alle verdere mistieke denke binne die Christelike tradisie gelê en word die Liefde, die opofferende en selfnegerende Liefde, die agape, die weg waardeur God geken en herken kan word. Hierdie transsubstansiëring word nog later die basis waarop die herkenning van die Godheid in alles wat die mens omring, berus en wat dit moontlik maak dat die nietigste skeppingsding die Godheid in hom bevat en kenbaar maak. Christus se koms het inderdaad ’n onuitputbare reeks simboliese moontlikhede geskep, want alles aards kan nou met ander betekenis gelaai word. Volgens Dillistone soos aangehaal deur Olivier (1985:28) dui alles op "those transcendent realities which have come within the range of man's vision and experience because the Son of God took into his own grasp the common things of earth and directed them to their true end within the saving purpose of God".

Minnaar (2000:38) wys daarop dat deur die inkarnasie van Christus die herstel van die mens tot die ware doel waarvoor hy gemaak is – die kontemplasie van God – bewerkstellig is.

59

Christus het, deur die Godheid met die menslike natuur te verenig, daardie natuur tot sy oorspronklike volmaaktheid herstel; en deur deel te hê in sy volmaakte menslikheid, kan mense ook opgehef en gedeïfiseer word. In terme van Dionisiese mistiek vind hierdie deïfikasie plaas deur die illuminasie van die siel; die vergoddeliking daarvan deur die goddelike lig. Hierdie ligbeeldspraak sou mettertyd feitlik deur die hele Oostelike mistiek 'n sentrale rol speel.

Die Inkarnasie moet nie as ’n geskiedkundige gebeurtenis beskou word nie, maar as ’n gebeurtenis wat in die liggaam van elkeen hernu word wat onder weg is om dit waarvoor hy bestem is, te vervul (Underhill, 1930:103). Dit sluit duidelik aan by Plotinus se emanasie- siening.

Derde is die Heilige Gees wat as Gees van goddelike Liefde die verhouding tussen die Vader en die Seun verteenwoordig en die bron is van die mens se transendentale bewustheid en sy skakel met die wese van God. Dit is waarvandaan die bron van die dryfkrag om na sy Oorspronklike Bron terug te keer, afkomstig is. “The best masters say,” sê Eckhart, “that the love wherewith we love is the Holy Spirit” (Underhill, 1930:104).

Die Rooms-Katolieke Christelike beskouing is dat die Heilige Gees as agent optree en ’n vurige begeerte vir mistieke eenwording met God in die mens wakker maak, en dat elke mens dus ’n potensiële mistikus is. Die liefdeseenwording tussen die Skepper en geskape mens word gekwalifiseer en gemedieer deur Christus deur die Heilige Gees (Lucero, 2002:162- 163).

Die volgende verduideliking van Minnaar (2000:216) roep die Neoplatoniese emanasieproses sterk op: deur Christus se opstanding, wat ook as ’n nuwe skepping gesien kan word, word die verlossende krag van die Gees in die wêreld vrygestel. Die verlossende teenwoordigheid en krag van die Gees is orals, maar dit is, sou ’n mens kon sê, gefokus in Jesus en die gemeenskap wat hy tot stand bring. In en met Sy gemeenskap, is Hy die sentrum van regenerasie van die mensheid. In hierdie proses word die Heilige Gees vrygestel as die aanwakkerende krag wat die wederstrewige magte in die natuur oorkom en menslike wesens herbou tot die beeld van Christus, die argetipiese persoon, en alle wesens verenig in die liefde van die Vader waarvandaan alles kom. In liefde vloei die hele heelal uit en daardie liefde trek alles weer tot sigself terug. Die heelal en die mensheid keer dan terug na die goddelike eenheid en elke element en elke persoon ontdek sy oorspronklike argetipe.

60