• No results found

2.3 Wat is die mistiek?

2.3.6 Kenmerke van die mistieke ervaring

2.3.6.1 Onuitspreeklikheid

Soos reeds bespreek is, bevind die mistikus hom in sy eie innerlike empiriese realiteit, Heidegger se reële, die sfeer waarin die mens van sy eie logos afgesny is. Die onvermoë om die mistieke belewenis “korrek” uit te druk, is dié kernprobleem vir die mistikus. Olivier (1985:80) sien dit so: “Die mistieke ervaring oorskry die normale sintuiglike kenprosesse deurdat dit 'n ‘supersensuous meaning’ in die belewenis inbring. En omdat die menslike taal primêr sintuiglik en emosioneel is, misluk pogings om van die mistieke ervaring te praat.” Edward Carpenter gebruik ook die sintuie wanneer hy van sy eie ervaring van die mistieke bewussyn vertel: “The perception seems to be one in which all the senses unite into one sense.” (Underhill, 1910:13)

Mistici vind taal ontoereikend, ontologies – in wese – verarm om hul persoonlike ervaring te formuleer. Die onuitspreeklikheid van die ervaring kom volgens Happold (1970:45) eerder ooreen met 'n gevoels- as ’n intellektuele toestand wat uiteraard moeilik is om aan iemand wat dit nie ervaar het nie, te verduidelik. Minnaar (2000:148) voer aan dat “daardie unieke gevoelstoon eerder nader aan 'n stemming – byna soos die 'gevoelstoon' van 'n deja vu lê en oorskry die grens van die veld waarbinne die emosies aangetref word”.

Die paradoksale is daarin geleë dat mistici graag hul ervarings met andere wil deel, en genoop voel om dit te doen, en al sê hulle baie oor hul ervarings, bely hulle gereeld dat wat hulle sê, te kort skiet. In weerwil van die gebreke van die linguistiese middele is daar ’n magdom maniere waarop skrywers hierdie probleem van die onvermoë om die ervaring te verwoord,

39

uitdruk. James (2014:370) sê dit ‘‘defies expression, [...] no adequate report of its content can be given in words’’. Carmody en Carmody (1996:13) verklaar dat die gebeurtenis veel werkliker en ryker is as enige woorde wat beskikbaar is om dit voor te stel. En die mistikus Balthasar praat van ’n “'wordless' language that cannot be transposed into concepts. Words cannot exhaust beauty or encapsulate it in language”. Colin Wilson (1970:213) besluit selfs: “Silence can be the essence of the mystical experience."

Dieselfde probleem van onuitspreeklikheid word deur diegene ondervind wat pynlike, traumatiserende en ekstatiese ervarings beleef. Van den Berg beweer volgens Van der Merwe (2014:212) dat dit juis die skrikwekkende vreemdheid van die traumatiserende ervaring is, wat nie met woorde omvat kan word nie en die poging om dit desondanks daar te stel, wat soos die omsirkeling, vanuit (af)wisselende perspektiewe, van 'n kern is wat nie definitief en finaal beskryf kan word nie. Die verband tussen die mistieke en die traumatiese is weer eens duidelik wanneer Versteeg daarop wys dat die mens in sy soeke na taal, na soortgelyke uitdrukkings gryp om sowel die traumatiese en moeilike as die goddelike en transendente ervarings uit te druk (Van der Merwe, 2014:212).

Hierdie kenmerk van die mistieke ervaring – onuitspreeklikheid – is dan per slot van rekening die kern van dié ondersoek; om te kyk hoe dit wat “onverwoordbaar” is, wel uitdrukking kry in die mistikus se beskrywings. Sowel Van der Merwe (2014:212) as Aucamp (2015:158) wys daarop dat literatuur in hierdie situasie van woordeloosheid ’n instrument is waarmee die onuitspreeklike wél gerepresenteer kan word. Reitan (2009:148) stem saam, maar meen dat dit slegs ontoereikend met metafore en analogieë uitgedruk kan word.

Een strategie waarvan mistici gebruik maak om hul belewenisse uit te druk, berus op apofatiese teologie, of die term “unknowing” wat dikwels met die mistiek in verband gebring word. Apofatiese of negatiewe teologie is die argument dat God beter geken word deur “unknowing” omdat al ons kennis gebaseer is op kategorieë wat van aardse skepsels geneem word. Alhoewel Merton (1978:xiii) daarop wys dat God dikwels in die Bybel as byna menslik met menslike emosies uitgebeeld word, doen die apofatiese beroep op die misterie van God wat ook in die Bybel voorkom. Voorbeelde van die apofatiese is die teofanieë van Elia en Moses, waar laasgenoemde op die Sinaiberg in ’n digte wolk omhul word waar hy God nie sien nie, en Sy verborgenheid soos volg uitgedruk word in Jesaja 45:15: “U is die God wat U verborge hou […]”. Tyler (2012:33) wys daarop hoe die apofatiese teorie die uiterse onuitspreeklikheid van die transendente bevestig. Merton (1978:ix) voer aan: “[…] the ‘knowing’ of God in ‘unknowing’, far from being unreal and uncertain, possesses the highest reality and certainty of any experience accessible to man”.

40

Die apofatiese of negatiewe weg beklemtoon God se absolute transendensie en onkenbaarheid op so ’n wyse dat ons niks oor die goddelike essensie kan sê nie omdat God so totaal anderkant syn is (Carabine in ’n onderhoud met McFarlane, 2009).

Finlayson (2012:3) wys daarop dat apofase so ’n kardinale deel van die mistieke uitmaak dat Habermas aangevoer het:

[...] apophaticism is eo ipso mysticism since it posits a divine, wholly transcendent being that is consequently ineffable and unknowable; [...] apophaticism is mysticism since it holds out the prospect of an extra-conceptual experience of the divine presence, won through the dialectical self-subversion of discursive reason.

Teenoor die apofatiese staan die katafatiese of bevestigende weg na die goddelike wat Dionisius beskryf as “way of speech", en waardeur ons in ’n mate tot begrip van die Transendente kan kom deur al die volmaakthede van die geskepte orde aan God as die bron toe te skryf. In hierdie sin kan ons sê: “God is Liefde”, “God is Skoonheid”, “God is Goed”. Apofatiese diskoers speel ’n belangrike rol in die formulering van mistieke tekste, en in hoofstuk 4 word die benutting daarvan, asook die katafatiese uitdrukking toegelig.