• No results found

2.6 Christelike mistiek

2.6.3 Westerse Christelike Mistiek

2.6.3.9 Protestantisme

Onderliggend aan die tydperk voor die Hervorming, was die veranderende verhouding tussen die liber scripturae, die Bybel as norm van geloof en praktyk, en die liber experientiae, die innerlike boek van die mistikus se bewussyn van God. Sommige mistici is daarvan beskuldig dat hulle kerkleerstellings met ervaring wou troef en vanaf die laat 13de eeu is dit as gevaarlik bejeën. Dit was die situasie wat die eerste Evangeliese Hervormers aan die begin van die 16de eeu in die gesig gestaar het (McGinn, 2015:54).

Die 16de-eeuse Protestantse Hervorming, wat die skeuring met die Rooms-Katolieke Kerk ingelui het, was sterk gekant teen die monastiek en die kloosterwese. Mistiek is met agterdog bejeën en soos Kourie (1992:88-89) dit stel, beskou “as a Greek influenced, heretical branch

76

of Christianity”. Mistiek is volgens Bras, soos aangehaal deur Hansen (2008:16), as ’n Rooms- Katolieke verskynsel gesien waarin via asketiese en kontemplatiewe oefeninge gepoog is om vereniging met God te bereik, ’n manier van die mens om hom-/haarself te red en te heilig, en “[…] een poging om de onoverbrugbare kloof tussen God en mens, Schepper en schepsel in een valse versmelting te overstijgen. Daarin zou zich zelfs het ongeloof op zijn meest sublieme wijze verwezenlijken” en was as sulks onversoenbaar met die Reformatoriese sola gratia en sola fide. Volgens Auke Jelsma (Hansen, 2008:16) spruit die Protestantse weerstand teen die mistiek sedert die Hervorming ook nie net uit ’n oënskynlike verloëning van die sola gratia- en sola fide-beginsels nie, maar eweneens uit dié van die sola scriptura-beginsel: “Mystici zijn van een goddelijke presentie in hun bestaan overtuigd, zij weten zich geraakt en geleid van hoger hand. Dit is een inbeelding, menen die het beginsel van sola scriptura hoog in het vaandel hebben.” Vir die Hervormers was die kloosterwese ’n elitistiese verskynsel – en die Hervorming het juis, volgens Bras, met die kloosterdom gebreek aangesien dit onversoenbaar sou wees met die oortuiging dat die Christelike roeping (om in die wêreld voor God se aangesig te leef) vir alle gelowiges dieselfde is (Hansen, 2008:16).

Die beroemde Protestantse geskiedkundige Adolph von Harnack (1851-1930) het besluit: “[…] a Mystic who does not become a Catholic is a dilettante” (McGinn, 2015: 50).

2.6.3.9.1 Martin Luther (1483–1546 n.C.)

Luther, ’n Augustynse monnik, wat die Hervorming begin het, het ’n gekompliseerde houding teenoor die mistiek gehad en sy beskouing was epistemologies, eerder as hermeneuties. Hy was bekend met Dionisius, maar het later ontnugter met hom geraak hoofsaaklik vanweë die feit dat Dionisius nie konkrete verbande met die essensiële Christelike bevestigings gelê het nie. Vir Bernardus van Clairvaux het hy egter nooit ophou bewonder nie.

Volker (2016) sê dat die mistieke teologie Martin Luther se hervormingsteologie op talle maniere help vorm het. Die hervormings wat hy gemaak het, het hom ’n erfgenaam van die mistieke teologie gemaak, terwyl hy terselfdertyd ’n teenstander van ander soorte mistiek geword het. Hy het die Schwärmer, of fanatici, soos hy hulle genoem het, met hul direkte, minder hervormde vorm van mistieke denke, bly kritiseer deur sy fokus op die woord van God. Dit is volgens Volker (2016) hierdie soort konflik wat navorsers van Luther laat glo het dat Luther self nie deel van die mistieke tradisie was nie, terwyl hy wel was. Volker (2016) meen dat ten einde Luther se teologie behoorlik te begryp, sy mistieke teologie in aanmerking geneem moet word.

77

2.6.3.9.2 Johannes Calvyn (1509–1566 n.C.)

Hy was die ander groot figuur van die Hervorming, maar het egter ’n negatiewer siening van die mistiek gehad, hoewel hy volgens McGinn (2015:56) Augustinus en Bernardus van Clairvaux respekteer het. Onlangse werk het wel aangetoon dat daar affiniteite tussen Calvyn se hervormde teologie en aspekte van mistieke spiritualiteit was, maar McGinn glo dit sou ’n oordrywing wees om Calvyn ’n mistikus te noem.

McGinn (2015:61) wys daarop dat hoewel die mistieke element nie so ’n groot rol in die Protestantisme gespeel het as in die Teen-Hervorming-Katolisisme nie, die Hervormers en hul erfgename die ryk tradisies van die Christelike mistiek nie sonder meer verwerp het nie, maar wel tot ’n vergelyk gekom het en dikwels veranderings teweeggebring het in wat hulle geërf het.

2.6.3.9.3 Jakob Böhme (1575–1624 n.C.)

Böhme was die befaamdste Protestantse mistikus wat in die Lutherse tradisie grootgemaak is in ’n tyd toe die Lutherse Kerk 'n stelsel van barre dogma aangehang het. Daar word vertel dat toe Böhme eendag na die oppervlak van 'n gepoleerde metaalskottel wat die sonlig weerkaats kyk, het hy hom “skielik oorstroom deur die goddelike Lig en siende tot in die hart van die heelal gevoel” en dat sy insig was dat die “geestelike wêreld […] verborge is in die sigbare wêreld soos die siel verborge is in die liggaam” (Minnaar, 2000:44).

Volgens McGinn (2015:51) is skerp kritiek teen mistiek gebaseer op ’n foutiewe monolitiese beskouing daarvan as ’n nie-Bybelse Griekse idee van die vermenging van God en mens in “mistieke eenwording”. Natuurlik is die idee van eenwording met Christus en God belangrik in Christelike mistiek, sê McGinn verder, maar dit is nie die enigste tema in die geskiedenis van die mistiek nie, en is selde begryp as “vermenging” van die goddelike en die mens.

Steeds vandag is daar onder Protestantse teoloë teenkanting teen die mistiek. John MacArthur (1939-), ’n Calvinistiese Amerikaanse pastoor wat as een van die invloedrykste predikers van die hedendaagse tyd beskou word, is skerp daarteen gekant, en sê dat die mistikus rasionele begrip minag en die waarheid eerder deur die gevoelens, die verbeelding, persoonlike visioene, innerlike stemme, privaat illuminasie, of ander suiwer subjektiewe middele soek. Objektiewe waarheid word feitlik oorbodig. Mistieke ervarings is dus self- bekragtigend, m.a.w. hulle is nie onderworpe aan enige vorm van objektiewe verifikasie nie. Hulle is uniek aan die persoon wat hulle ervaar. Aangesien hulle nie uit enige rasionele proses spruit of daarvan afhanklik is nie, is hulle onvatbaar vir enige weerlegging deur rasionele middele. Volgens hom is dit ’n uiterse vorm van roekelose geloof (MacArthur, 1994).

78

Wat die (Suid-)Afrikaanse Protestantse konteks betref, is optrede (dóén) die kenmerk van Afrikaanse spiritualiteit, en kom stilte nie as ’n sterk wyse van geloofsuitdrukking voor nie. Waar in ander Christelike hoofstrome die kerklike tradisie (bv. in die Rooms-Katolieke Kerk), die rede (bv. in die Anglikaanse Kerk), die liturgie (bv. in die Oosters-Ortodokse Kerk), of die belewenis (bv. in Afrika-geïnisieerde kerke) groot klem kry, bely die Afrikaanse gelowige tipies Calvinisties ’n Bybelgesentreerdheid en Christenskap is by wyse van spreke ’n werkwoord. Geloof word gedóén (Lombaard, 2012:931).

De Villiers (2015:639) wys daarop dat teenkanting teen mistiek gedurende die apartheidsjare ’n hoogtepunt bereik het namate die teologie toenemend rasionalisties geword het, met ’n klem op die intellektuele en ’n kritiek teen die mistiek wat, soortgelyk aan MacArthur se mening, as arbitrêr, emosioneel en individualisties beskou is. Vanaf die eerste helfte van die 20ste eeu heers ’n koue, intellektualistiese teologie wat ortodokse dogma voorstaan.

Interessant genoeg het Brümmer volgens De Villiers (2015:642) in onlangse navorsing daarop gewys hoe ’n inherente en deurslaggewende rol die mistiek in ’n merkwaardige fase in die Protestantse godsdienstige diskoers van die 19de eeu in Suid-Afrika gespeel het. Hy het onder meer verwys na die werke en oortuigings van invloedryke teoloë en kerklike leiers soos Andrew Murray, Nicolaas Hofmeyr, John Murray en J.H. Neethling. Brümmer verbind hierdie mistieke spiritualiteit veral met die Nederlandse Réveil (en indirek met Zinzindorf en die piëtisme) waaraan hierdie persone blootgestel is tydens hul studiejare in Utrecht. Hierdie evangeliese tradisie het teen ’n teologiese rasionalisme en ’n intellektualisering van geloof (onder invloed van die Verligting) standpunt ingeneem, veral weens die vernietigende gevolge daarvan op die geloofs- en kerklike lewe.

2.6.3.9.4 Andrew Murray (1828–1917 n.C.)

Murray het in Skotland studeer waar hy in ’n mistieke spiritualiteit gevorm is. In Utrecht het hy sy studies voortgesit en het hom verset teen die liberale teologie wat daar gedoseer is en by ’n groep jongmense aangesluit wat deel was van die Réveil-beweging, ’n mistieke opwekkingsbeweging met beklemtoning van ’n spiritualiteit van die hart en van innerlike toewyding. Hy het as Nederduitse Gereformeerde predikant teruggekeer Suid-Afrika toe en het oor ses dekades van die bekendste gemeentes in die land bedien, is vyf keer tot moderator van die kerk verkies en het deur sy vele godsdienstige geskrifte, wat selfs in die tweede millennium nog gepubliseer word, wêreldwye bekendheid verwerf. Hierdie besondere status en invloed maak sy opmerkings oor en betrokkenheid by die mistiek des te opvallender. Murray skryf verskeie boeke oor die liefde en volg hierin in die voetspore van Augustinus, Bernardus van Clairvaux en Franciskus van Assisi, bekend as mistikus van die liefde. Maar

79

uiteindelik is hy, volgens eie getuienis, hierin onder meer veral deur Böhme beïnvloed, wat ’n hoë premie op die belangrikheid van die liefde in die mistieke verhouding geplaas het. Hy het, volgens sy biblioteekkatalogus, die werk van die bekendste mistici van alle tye, soos Franciskus van Assisi, Caterina van Siena, Teresa van Ávila, Thomas à Kempis, Jan van Ruusbroec, Madame Guyon, George Fox, Robert Vaughan en William Law gelees.

Die bewussyn van die goddelike teenwoordigheid is vir Murray (1893:xxv-xxvi) ’n kernaspek van die godsdienstige lewe. Hy skryf oor die hoë waarde wat in die mistiek geheg word aan “the contemplative life, to stillness of soul and to the practice of the presence of God”. Die sentrale en spesiale plek van die mistiek, selfs in ’n ekstatiese vorm, kom na vore wanneer Murray dus die beperkinge van die rasionele en van taligheid ter sprake bring en daarmee die apofatiese karakter van die mistiek uitwys. Hy het hom ook telkens sterk teen ’n intellektualisering van geloof verset, en het gemeen ’n mens moet konsekwent mediterend en in stilte met geloofsake omgaan.

Murray beklemtoon die nodigheid vir ’n soeke na “the deepest ground or root of spiritual things”, en voer aan “It is a condition, a sphere where the sanctified soul dwells in closest communion and fellowship with God. It was in the Holy of Holies the Shekinah dwelt, and to enter it now the Veil is rent, means according to St. John to dwell in God and God in us.” (Douglas, 1925:397-398) ’n Hoofkenmerk van die mistikus was vir Murray (1893:xiv) dat “he seeks to pierce through all appearances of nature to the Great Being who lives and moves in it all”.

Soos De Villiers (2015:649) opmerk, bevat bogenoemde aanhalings merkwaardige mistieke taal. Murray het soos Juan de la Cruz, alhoewel nie in dieselfde woorde nie, verwys na die “dark night of the soul” en gepraat van ’n tyd wanneer ’n mens deur die dood self die lewe binnetree. Dit is die mistieke proses waarin God alleen die Een is wat die self, die eie wil en begeertes laat sterf. Hy het geglo dat die mistiek ’n noodsaaklike plek in godsdienstige diskoers het.

2.6.3.9.5 Albert Geyser (1918-1985 n.C.)

Geyser is een van die meer onlangse (Suid-)Afrikaanse Protestantse mistici. Hy was ’n Suid- Afrikaanse teoloog wat een van die mees prominente opponente van die Suid-Afrikaanse apartheidsregime was. In Geyser se tyd het die staat en kerk in ’n simbiotiese verhouding saamgewerk om ’n politieke hegemonie wat jonk was, te beskerm. Toe die Rooms-Katolieke Kerk met wie Afrikaanse kerke vir baie dekades goeie verhoudings gehad het, die optredes en besluite van die apartheidsregering gekritiseer het, het Afrikaanse kerke sterk teen hulle

80

gedraai. Die berugte idee van die “Roomse gevaar” is ontwikkel om gevoelens teen die Rooms-Katolieke Kerk voor te hou as ’n spirituele gevaar vir die Christelike geloof.

In ’n artikel wat eintlik ’n huldigingsblyk vir ’n bekende argitek en ontwerper van kerkgeboue, J.H. Neethling was en in die kerkjoernaal Die Hervormer verskyn het, sê Geyser dat die Protestantse erediens nie sonder mistiek beskou moet word nie. Hy meen dat aanbidding van God die hart van Protestantse aanbidding is. Mistiek was vir hom die bewussyn van die goddelike teenwoordigheid, ’n ervaringsrealiteit waarin die mens in ontsag voor God staan. Hy praat van ’n ekstase waarin ’n mens jouself geheel en al in die verhouding met God verloor. Hy was ook oortuig van die rol wat die estetiese in aanbidding speel en beskryf hoe Neethling deur hoë boë en “skemerlig in die gewelwe” ’n atmosfeer van oneindigheid en ’n ervaring van opwaartse beweging, immer “opwaartse veryling” geskep het (De Villiers, 2016a:2).

Hierdie siening oor Protestantse aanbidding is treffend, veral omdat ’n mens Protestantse eredienste meer met prediking en Bybelonderrig assosieer. Protestantse kerkgeboue is dikwels ook funksioneel eerder as atmosferies en esteties. In 1952 het Geyser Thomas á Kempis se Imitatio Christi, een van die beroemdste klassieke werke in die wêreldliteratuur in Afrikaans vertaal.