• No results found

2.6 Christelike mistiek

2.6.3 Westerse Christelike Mistiek

2.6.3.4 Pseudo-Dionisius (c 550–610 n.C.)

Dionisius, ’n Siriese monnik wat in die laat 5de en vroeg 6de eeu geleef het, is deur die kerkvaders verwar met Dionisius die Areopagiet, oor wie Paulus vertel. Olivier (1985:37) wys daarop dat hierdie verwarring bestendig is om 'n bepaalde geloofwaardigheid te verleen aan sy enkele geskrifte, en dat dit later duidelik geblyk het in watter tydvak die skrywer tuishoort en hy daarna as die Pseudo-Dionisius (hierna net Dionisius genoem) bekend staan.

Hansen (2008:26) meen dat die invloed van Dionisius op die Westerse Christelike mistiek nouliks oordryf kan word. John Scotus Erigena het in omtrent 850 n.C. Dionisius se werke uit Grieks in Latyn vertaal en die vertalings is 3 eeue later eers herontdek en was as fundamentele tekste vir die Christelike Westerse mistiek beskikbaar, is wyd gelees en voortdurend aangehaal. Die Middeleeuse mistiek is dus deurdrenk in Dionisiese opvattings. McGinn (1993:49) beskou hom as die skepper van mistieke teologie.

In die werk van Dionisius kry ons ’n sintese tussen die Platoniese filosofie en die Christelike teologie wat ’n groot invloed op Middeleeuse mistiek uitgeoefen het. Hy was die eerste Christelike skrywer wat die mistieke bewustheid en die aard van die ekstatiese ontmoeting met God so openlik en akkuraat beskryf het dat latere mistici hul eie, mees sublieme ervarings in sy beskrywings geïdentifiseer het en sy taal en metafore wat later die klassieke terme van die mistiek geword het, gebruik het (Underhill, 1930:416). Hy was ook die eerste een wat die woord “kontemplasie” wat in die Latynse kerk gebruik is, vervang het met “mistiek” wat aanvanklik in samehang met die Griekse misterieë gebruik is (Butler, 1922:4).

Dionisius praat van God die Vader as die Oerlig, as ’n lig wat van bo af neerskyn en almal verlig en wat, op sy beurt, almal vergader en in ’n deïfiserende eenheid terugtrek.

Dionisius se mistieke metafisika het sy wortels in Plotinus. God is Liefde, Skoonheid, die Goeie, Lig, Onkenbaar. God is “yearning on the move”, en vloei uit Homself uit in alle dinge in en stel hulle in staat om in sy goddelike lewe te deel. Soos die son se alles-omhelsende strale, verduidelik Dionisius, beweeg God se hunkering in ’n eindelose sirkel wat altyd na dieselfde sentrum terugkeer, altyd in dieselfde rigting, altyd aan die gang, altyd blywend, en word altyd tot sigself herstel. Dionisius identifiseer hierdie eindelose sirkel met God as die Enigste en die Volmaakte, as die uiterste simbool van selfgenoegsaamheid en van volmaakte begrip, van dit wat met sigself sowel begin as einde, pluraliteit as eenheid, taal as wetenskap, tyd as ewigheid versoen. Binne hierdie sirkel definieer ons onsself deur ag te slaan op God se liefde wat ons sal ophef en in die verborge duisternis van sy goddelike Stilte sal omvou (Caranfa, 2004:191-193).

65

Vir Dionisius, sê Beggiani (1996:222), word die eenwording met God, wat lig anderkant / bokant lig, en bowenal uitdrukking is, die beste beskryf as ’n indompeling in duisternis en stilte, ’n toestand van ekstase. Goddelike duisternis is nie ’n afwesigheid van lig nie, maar “ontoeganklike lig”. Hy beskryf die mistieke ervaring soos volg:

[...] the mystic plunges into [...] the truly mysterious darkness of unknowing. Here, renouncing all that the mind can conceive, wrapped entirely in the intangible and the invisible [...] he knows beyond the mind by knowing nothing. (Kourie, 2015)

In sy Theologia Mystica (The Mystical Theology) skryf Dionisius dat “the mystery of God's Word lies absolute and unchangeable in the brilliant darkness of a hidden silence, and from this hidden silence, the Word pour[s] overwhelming light on all things”. “Divine Silence” was vir hom die enigste woorde om die onuitdrukbare, die onnoembare, die onuitspreeklike te eer, want dit is volvoering van alle woorde, goddelik of temporeel (Caranfa, 2004:191).

Dionisius verwys na Moses se bestyging van Berg Sinai en vertel dat nadat Moses deur sy kontemplasie van God, opvaar, hy dan die duisternis wat bokant die bergspits geleë is, binnegaan. Dionisius laat die verwantskap tussen Moses en die duisternis hoogs obskuur. Sommige eksegete reduseer dit tot ’n vorm van ken / weet, oftewel ’n buitengewone vorm van ken. Ander reduseer dit tot ’n vorm van affektiewe ervaring, waarin Moses iets voel wat jy nooit kan ken of in woorde verduidelik nie. Dionisius praat slegs van Moses se “eenwording” met die onuitspreeklike, onsigbare, ongekende godheid (Corrigan en Harrington, 2015). Die teologie van apofatiek oorheers ook by Dionisius en vorm 'n belangrike skakel in die via negativa-tradisie binne die mistiek. Hy skryf oor ’n sekere “onwetendheid” of “unknowing” wat beteken dat menslike konseptuele kennis laat vaar moet word en reiniging of suiwering moet plaasvind ten einde goddelike kennis te kan ontvang. Vir Dionisius, sê Johnston (1978b:32- 33), kon die goddelike nie met denke en die intellek begryp word nie. Mistieke vereniging met Hom, is nie kennis van God nie, dit is ’n toestand van ervaring (Hansen, 2008:232). Dionisius voer aan “true negations […] offer due homage to the divine things” en “experience of things divine cannot be signified, and therefore one must go beyond the signs themselves to see or know the true thing signified” (Caranfa, 2004:191-192).

Volgens Hansen (2008:65) is daar ’n verdere – eintlik ’n dubbele – negering: nie net alle positiewe taal oor God nie, maar ook alle negatiewe taal word negeer in ’n

move beyond the language of predication and even beyond the best philosophical and theological thought for naming God to force the thinker, now the worshipper, to enter the language not of predication but of praise and prayer. The journey toward

66

the ‘superessential’ mystery of ‘divine darkness’ is beyond assertion and denial. Negation itself must be negated.

Kourie (2008a:65) voer aan die apofatiese mistiek van Dionisius het “an almost Zennist quality: God is all in all things and nothing in none; […] he is known through all things and through none of them.”

Die terme “suiwering”, “illuminasie”, en “eenwording” om die weg na mistieke eenwording voor te stel, word vir die eerste keer in Dionisius se De Coelesti Hierarchia (The Celestial Hierarchy) aangetref (Kourie, 2016). Hierdie klassieke verdeling word dan verder in die Middeleeuse tydperk ontwikkel deur o.a. Bernardus van Clairvaux (1090-1153) en Juan de la Cruz (1542- 1591) en maak ’n integrale deel uit van sowel die Christelike as Soefistiese mistiek.