• No results found

Professionaliteit en hulpverlening met ‘n nederige gesindheid

3.4 RAAKPUNTE EN VERSKILLE TUSSEN DIE KONSTRUKTIWISME,

3.4.14 Professionaliteit en hulpverlening met ‘n nederige gesindheid

Die outonomiteit van die maatskaplike werker as professionele persoon word in die lig van die konstruktiwisme en konstruksionisme uitgedaag, aangesien die terapeut se professionele kennis en vaardighede nie belangriker as die gespreksvennote se plaaslik- gevormde kennis van hul ervaringe beskou word nie. Die risiko van magsmisbruik in professionele persone se verhoudings met hul kliënte hou volgens Furniss (1995:63) verband daarmee dat professionele gemeenskappe of beroepsklasse na doelbereiking, kontrole, universalisme, affektiewe neutraliteit en 'n kollektiewe oriëntasie streef. In die hulpverleningsverhouding is die professionele persoon nie onder die verpligting om sy eie weerloosheid, gevoelens en gebrek aan sekuriteit bloot te stel nie, maar kom onverstoorbaar en in kontrole voor. Hierdie praktyke gee aanleiding tot die legitimering van 'n sosiale struktuur wat die belange van die maghouers of professionele persone dien en nie die belange van die persone wat hulp benodig nie.

Die bemagtiging van deelnemers kan ’n bydrae lewer om magsongelykhede in die verhouding tussen maatskaplike werkers en kliënte aan te spreek. Bemagtiging beteken volgens Fook (2002:46) om mag aan die magteloses te gee om hul missie te bereik. Die praktyk van maatskaplike werk moet dus gekenmerk word deur dienslewering waarin dominering en onderdrukking geen rol speel nie. Die doel van hulpverleningsprogramme moet wees om mense in staat te stel om hulself te help en gemeenskappe waarin uitbuiting nie bestaan nie, moet bevorder word.

Konstruktiwisme en konstruksionisme se kritiek teen die misbruik van mag stem ooreen met die Christelike siening om hulp vanuit ‘n nederige posisie te verleen (vgl. 2.3.4.3). Die maatskaplike werker wat hulp volgens die Christelike benadering verleen se vooroordele en rigiede konstruksies word met gehoorsaamheid aan God en ‘n nederige gesindheid teenoor alle ander mense vervang. ‘n Nederige houding is volgens Ford (1994:155) om die grond tussen mense gelyk te maak en om God se genade met andere te deel, soos dit van God ontvang is. Andere word nie veroordeel, omdat hulle sondig is of omdat hulle God nie ken, of nie wil ken nie. ‘n Verdere implikasie is om oop te wees dat God die terapeut kan verander wanneer die lewensveranderende Storie van Jesus, op ‘n nederige en biddende wyse, met andere gedeel word. Die maatskaplike werker word ‘n instrument wat tot andere se verandering bydra, maar word in die proses self deur God getransformeer.

Uit die voorafgaande blyk dit dat die konstruktiwisme en konstruksionisme belangrike filosofiese verskuiwings verteenwoordig en dit toon raakpunte en verskille met die wyse waarop hulp volgens die Christelike beskouing verleen word. Samevattend word die siening van Janse van Rensburg (2000b:20-21) ondersteun, naamlik dat dit nie moontlik is om vanuit twee onversoenbare epistemologieë hulp te verleen nie, maar dat dit wel moontlik is om die idees van die konstruktiwisme en konstruksionisme as ‘n strategie binne ‘n Bybelse epistemologie te benut. Die volle implikasie van die genoemde epistemologie vir maatskaplike werk kan nog verder ontwikkel word.

3.5 SAMEVATTING

Postmoderne epistemologieë voorsien 'n verskeidenheid van perspektiewe wat die teorie en praktyk van hulpverlening kan verryk. Konstruktiwisme word geassosieer met teorieë oor die wyses waarop individue se persepsies deur hul kognitiewe prosesse gevorm word. Die

konstruktiwisme se belangrikste bydrae is die siening dat die mens sy werklikhede op ‘n unieke wyse konstrueer en dit verteenwoordig vir hom die waarheid. Die bestaan van waarhede in meta-narratiewe word as potensieel onderdrukkend gekritiseer. In die lig hiervan is dit nie moontlik om hulpverlening volgens die Christelike beskouing volledig op die uitgangspunte van die konstruktiwisme te baseer nie.

Konstruksionisme fokus op die sosiale interaksie tussen mense, die gesamentlike interpretasies wat gevorm word en die intersubjektiewe invloed wat tussen mense, taal en kultuur bestaan. Verandering vind in mense se verhoudinge plaas en wel deur die interaksie en dialoog tussen die betrokke rolspelers. Die konstruksionisme beklemtoon die waarde van gesprekvoering, interaksie en diskoers in die hulpverleningsproses om die kliënt te bemagtig om sy eie stem (identiteit en lewe) te vind en in sy eie taal 'n maatskaplike werklikheid te konstrueer, wat vir hom aanvaarbaar en belangrik is.

Die veronderstellings en strategieë van die konstruktiwisme en konstruksionisme toon raakpunte en verskille met die Christelike beskouing tot hulpverlening. Die belangrikste raakpunte is die ontkenning dat die mens met wetenskaplike ondersoeke en rasionele verklarings alle fasette van sy menswees kan verklaar, asook dat elke mens op ‘n unieke wyse sy ondervindinge interpreteer en op grond daarvan sy werklikheid of siening van God, homself, sy verhoudinge en die wêreld konstrueer. Die belangrikste verskil is dat die bestaan van God, of ‘n transendente dimensie en die mens se geestelike behoeftes deur die postmoderne epistemologie geïgnoreer word.

Die narratiewe werkwyse, wat op die epistemologie van die konstruktiwisme en konstruksionisme gebaseer is, geniet tans wye erkenning en word deur verskeie hulpverleningsprofessies in die praktyk geïmplimenteer. Die ontwikkeling, kenmerke en praktiese implikasies van die narratiewe werkswyse vir maatskaplikewerkhulpverlening word in Hoofstuk 4 verken.

HOOFSTUK 4

DIE BENUTTING VAN DIE NARRATIEWE WERKSWYSE IN

MAATSKAPLIKEWERKHULPVERLENING

Die narratiewe werkswyse, ook bekend as narratiewe terapie, kan as 'n nuwe hulpverleningsvorm beskou word wat sedert die 1980's baie belangstelling in die terapeutiese veld ontlok het. O’Hanlon (1994:22-23) verwys na die narratiewe werkswyse as "the Third Wave" binne die hulpverleningsprofessies en ‘n fundamenteel nuwe rigting in die terapeutiese wêreld. Die mens vertel deurlopend verhale oor sy lewe en verhoudinge en die metafoor van die mens se lewe as ‘n verhaal word deur die narratiewe werkswyse ontgin om terapeutiese doelwitte te bereik. Volgens die narratiewe werkswyse, wat uit die epistemologie van die postmodernisme ontwikkel het, word aan mense se lewens gedink as stories en hulp word verleen om hul lewenstories op so ‘n wyse te beleef dat dit vir hulle betekenisvol en vervullend is (Freedman en Combs 1996:1). Belangstelling in die narratiewe werkswyse hou verband met die positiewe benadering wat gevolg word, deurdat mense se bevoegdhede in plaas van probleme beklemtoon word en die werkswyse toon die potensiaal om mense se probleemversadigde verhale te wysig.

Die narratiewe werkswyse toon die soepelheid om in ‘n verskeidenheid van hulpverleningsituasies toegepas te kan word en die waarde daarvan vir die praktyk van maatskaplike werk verdien verdere ontginning. Die narratiewe werkswyse fokus nie op die proses om die mens se probleme en maatskaplike wanfunksionering op te los nie en “… [n]arrative approaches seem to get therapists out of unproductive struggles and enable them to avoid one of this profession’s great occupational hazards – being captured by our clients’ despair” (O’Hanlon 1994:24). Die terapeut word nie verantwoordelik gehou word vir die oplossing van die kliënt se probleme nie, want die verandering van maatskaplike probleme vind binne die kliënt en ander betekenisvolle rolspelers se werklikheidskepping plaas. Moontlikhede in die kliënt en sy sosiale netwerke se narratiewe word ontgin en deur middel van interaksieprosesse word nuwe realiteite en gewenste verhale ontwikkel (Andersen 1993:320). Die narratiewe benadering toon ooreenkomste met die werkswyse van maatskaplike werk, aangesien verandering deur samewerking en gesprekvoering, tussen die maatskaplike werker en gespreksvennote, te weeg gebring word. Die professie

maatskaplike werk se tradisionele en steeds sentrale fokus op die mens binne sy konteks is ‘n verdere raakpunt met die narratiewe werkswyse.

Die implementering van die narratiewe werkswyse bring nuwe vrae en moontlikhede vir die praktyk van maatskaplike werk mee. Die wetenskaplik gebaseerde kennissisteme van die positiwisme, wat in maatskaplike werk neerslag gevind het, word tans vervang met ‘n diskoers waarin onsekerheid, fragmentasie, plaaslik gevormde en veranderende kennis sentraal is. Die professie maatskaplike werk word voor die uitdaging gestel om aan die bestaande diskoerse deel te neem. Camilleri (1999:26) sluit hierby aan deur te sê maatskaplike werkers word in die middel van die gesprek gegooi, wat dikwels in ontoeganklike filosofiese taal plaasvind en dit veroorsaak baie verwarring, daarom verdien die implementering van die narratiewe werkswyse in maatskaplike werk verdere ondersoek.

Hierdie hoofstuk fokus op die narratiewe werkswyse se ontwikkeling, unieke veronderstellings, kenmerke en die praktiese inkleding, binne die raamwerk van maatskaplikewerkhulpverlening volgens die Christelike beskouing vir persone met amputasies.