• No results found

Lyding, siekte en gestremdheid as deel van die mens se bestaan

2.2 DIE CHRISTELIKE MENSBESKOUING

2.2.7 Lyding, siekte en gestremdheid as deel van die mens se bestaan

Die sondeval as deel van die skeppingsverhaal (Gn 3) vertel hoe lyding, siekte, gestremdheid en die dood deel van menswees geword het (vgl. 2.3.2 en 2.3.3). Lyding is eie aan die lewe op aarde en word deur elke mens op ‘n unieke wyse geïnterpreteer en hanteer. Die hantering van lyding is een van die moeilikste take vir die mens, want dit hang saam met die verganklikheid, die beperkte vermoëns en die sondigheid van die mens (Cronjé 1968:126). Alhoewel baie oor lyding nagedink is, beteken dit nie dat finale antwoorde gevind is nie. In die Bybel word lyding en hulpbetoon konkreet hanteer en daarom sê Du Toit (1990:2): “[a]nders as in die verlede, sal nadenke oor lyding veral gerig moet wees op die eksistensiële belewing daarvan. Pogings om lyding deur middel van rasionalisering in harmoniese en sinvolle modelle te giet, vind vandag al minder byval, omdat dit nie strook met mense se eie ervaring nie. Siekte is nie altyd die gevolg van sonde nie, lyding kom nie altyd uit God se hand nie, lyding bring nie altyd groei nie”. Daarom word voorgestel dat nadenke oor lyding en hulpverlening aandag sal gee aan die belewenisse van die mens wat ly, die konteks waarin lyding voorkom en hoe lyding prakties hanteer kan word. Die erns van lyding, siekte en gestremdheid laat nie ligtelike redenasies daaroor toe nie, want hoewel elke lydingsverklaring sekere elemente van die waarheid bevat, skiet elke interpretasie ook tekort en verklaar nie al die verskillende vorme van lyding of persone se omstandighede en ervaringe daarvan nie. In die lig hiervan word daar nie 'n poging aangewend om siekte, lyding en gestremdheid te verklaar nie, maar Bybelse insigte word nagespeur.

• Lyding, siekte en gestremdheid in die Ou Testament

Siekte en gestremdheid word in die Ou Testament geassosieer met 'n proses wat 'n persoon van sy kragte beroof (Louw 1994:29). Siekte is met disintegrasie op alle lewensvlakke geassosieer. In Ps 38 gee Dawid byvoorbeeld 'n ryke beskrywing van hoe sy liggaam

aangetas is, sy emosies daaroor en hoe dit hom van God en andere verwyder het. Hy skryf sy siekte en die verbreking van sy verhouding met God toe aan sy sonde en God se toorn daaroor. In Ps 38:4 sê hy: “Deur u toorn is daar nie meer 'n gesonde plek aan my liggaam nie, deur my sonde is daar nie meer 'n heel plek aan my lyf nie.” In Ps 38:22 roep hy in sy nood tot God en pleit vir heling en die herstel van hul verhouding: “Moet my tog nie verlaat nie, Here, my God, moenie ver van my af bly nie!” Heling en herintegrasie na siekte was met ander woorde aan die herstel van die persoon se verhouding met God gekoppel.

Siekte en gesondheid in die Ou Testament moet gesien word teen die agtergrond van God se verbond met sy volk (Louw 1994:30). Siekte en gesondheid, beproewinge en seën was vir mense die kenmerke van 'n lewende verhouding met God. Toewyding aan God is met seën geassosieer en isolasie van die lewende God se teenwoordigheid is gevrees. Die oorsaaklike verband wat tussen sonde en siekte getrek is, blyk veral uit die mens se belydenis van sonde en skuld. Ps 38:5 beskryf dit duidelik: “Ja, my ongeregtighede het my oorweldig en is soos 'n las wat vir my te swaar is.” Siekte is met God se oordele geassosieer en hoop op genesing was in die herstel van die mens se verhouding met God gesetel. Ps 88:2 beskryf die siek persoon se vertroue in God: “Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U.” Siekes se persepsies van hul siekte het verskil, maar die belangrike is dat hulle te midde van hul pyn, lyding, eensaamheid en skuld altyd na gemeenskap met God verlang het.

Reeds in die Ou Testament (Jes 61:1-2; 58:6) blyk die bedoeling van God se hart om die fisiese omstandighede van mense te verlig duidelik, want daar word voorspel dat God se Gees oor Jesus sou kom om goeie nuus aan die armes te bring, om die gevangenes vry te laat, blindes te laat sien en die onderdruktes te bevry. In Lk 4:16-21 verwys Jesus terug na hierdie gedeelte in Jesaja en kondig aan dat dié professie deur Hom vervul is, want deur Sy gehoorsame dade is mense genees en hul verhouding met God herstel. Jesus se bediening aan persone wat in nood en lyding vasgevang is, spreek van God se wil dat hulle genesing, vergifnis, aanvaarding en hoop in hul lewens sal ervaar.

• Lyding, siekte en gestremdheid in die Nuwe Testament

Die Ou Testamentiese siening, waar siekte en ander beproewinge ‘n bewys van sonde en God se straf vir die sonde was, word in die Nuwe Testamentiese verhaal van Jh 9:1-4 gewysig. Jesus het voordat Hy ‘n man genees het, dit duidelik gestel dat die man se

blindheid nie die gevolg van sy of sy ouers se sonde is nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien kan word. So word die direkte verband wat tussen sonde, siekte en lyding getrek is, verbreek. Jesus se optrede staan in kontras met sienings wat die afwesigheid van God se sorg vir beproefdes impliseer, “… instead he treated such persons with compassion and ministered to their need” (Kysar 1991:34). Jesus se reaksie op siekte, gestremdheid en lyding stel die voorbeeld oor hoe dit hanteer moet word, deur by elke individu op ‘n unieke wyse betrokke te raak.

In die Nuwe Testament word die konsep van siekte verbind met die algemene swakheid van die menslike bestaan (Hd 9:37), die invloed van demoniese kragte (Lk 3:11) en die verband tussen siekte en persoonlike sonde (Jh 5:14). Direkte verbande kan daarom nie in alle gevalle tussen die bestaan van sonde op aarde, God se straf van sonde en die bestaan van siekte en gestremdheid as deel van die menslike bestaan getrek word. Jesus het aandag gegee aan genesing en die vergewing van sondes, deur siekes te genees en wonderwerke te doen om die gevolge van sonde te verwyder en God se betrokkenheid by die sieke te demonstreer. Jesus vertoon God se soewereine mag oor siekte en dood, ongeag of dit deur sondebelydenis voorafgegaan word. Oorhoofse verklarings behoort in die lig hiervan nie op die individu afgeforseer word nie, maar elke mens moet aangemoedig word om sy eie sonde, siekte en gestremdheid in ‘n persoonlike verhouding met God te ondersoek en die betekenis daarvan vir sy lewe en die van andere te bepaal.

Die dominansie van stories in die Bybel oor hoe Jesus mense genees en gevoed het, bewys dat die fisiese behoeftes van mense ‘n belangrike deel van Jesus se bediening was. So beskryf Mk 1:21 byvoorbeeld hoe Jesus sy dissipels geroep het om Hom te volg en daarna volg ses beskrywings van hoe Jesus mense genees het. Die ingrypings wissel van die genesing van koors tot opwekking uit die dood. Daar is dus geen vorm van fisiese beproewing waaraan Hy nie aandag gegee het nie en Jesus se bediening het ‘n verandering in mense se fisiese en emosionele toestande laat plaasvind (Lk 7:18-23).

Die Christendom se verstaan en interpretasie van lyding hou verband met die beeld van die lydende Christus aan die kruis. Jesus se menswording en sy fisiese lyding aan die kruis toon God se identifikasie met die swakheid en lyding wat deel van menswees is. God se omgee vir siekes, deur die helende krag van Jesus se sterwe aan die kruis, word reeds in Jes 53:4 beskryf. Mt 8:17 bevestig dit: “So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: ‘Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra’.” Jesus se betrokkenheid by en daadwerklike toetrede tot die fisiese omstandighede van mense is die bewys dat God,

wat Hom gestuur het, omgee vir die mens se ewige redding uit sonde, asook die tydelike nood waarin mense verkeer.

Jesus gebruik die naam Vader om na God te verwys. Dit is ‘n intieme aanspreekvorm, kenmerkend van verhoudinge binne families en is bedoel om God se liefde en versorging vir alle mense uit te druk. Volgens Kysar (1991:51) is Jesus se verwysing na God as Vader besonder betekenisvol vir mense wat fisiese, sosiale of godsdienstige lyding ervaar, want daardeur word God se besorgdheid en betrokkenheid gedemonstreer. Uit Jesus se optrede word God se volmaakte beeld as liefdevolle en versorgende Vader en Sy identifikasie met persone wat siek is of enige vorm van lyding ervaar, gesien. Die metafoor van Vader kan problematies vir sommige mense wees, aangesien hulle ‘n aardse vader met outoritêre of onderdrukkende gedrag kan assosieer en nie met liefdevolle versorging nie (Andrews en Kotzé 2000:324). Sekere Bybelse interpretasies kan God as streng of outoritêre figuur voorstel, wat nie seën nie, maar die mens se opstandigheid straf. Volgens Kysar (1991:51) getuig Jesus se nederige en diensgerigte lewenstyl daarvan dat God, in teenstelling met sommige aardse vaders, met mense se lyding identifiseer en meeleef. God Drie-enig is daarom nie ‘n ver en ongevoelige figuur nie, maar was in die persoon van Jesus ‘n mens, wat soos ‘n mens gely het en medelye met die mens in sy nood toon.

Jesus se reaksie op lyding en siekte sluit die individu en die transformasie van sosiale sisteme in die gemeenskap in. “… Jesus’ healings and exorcisms effected social integration as well as individual wholeness. Illness and affliction resulted in a process today known as ‘social marginalization’. That is, physically afflicted persons were treated and regarded in such a way as to remove them from the mainstream of society” (Kysar 1991:40). Persone met gestremdhede is in die Nuwe Testament met suspisie behandel, want hul toestand is as minder rein of heilig beskou. Jesus het egter genesing vir persone wat nie deur die hoofstroom van die samelewing as aanvaarbaar beskou is nie, bewerkstellig. Sy optrede was teenstrydig met die algemeen-aanvaarde gebruike van samelewings wat gestremdes uitsluit, onderdruk of isoleer. Mk 3:1-6 beskryf die man met die gebreklike hand en hoe Jesus sy gebrek op die sabbat of rusdag herstel het. Op die wyse het Jesus se genesing nie net die individu bevoordeel nie, maar ook die sosiale orde en gebruike van die dag beïnvloed. Jesus se gesindheid teenoor die mense wat beswaar aangeteken het teen hierdie genesing (Mk 3:5) is van besondere betekenis, want Hy het die mense rondom Hom kwaad aangekyk en was bedroef oor hulle verhardheid teenoor die gestremde persoon. Jesus veroordeel die feit dat mense wette en godsdienstige reëls belangriker ag as die mens met sy nood en omdat hulle geen deernis met die gestremde

persoon getoon het nie. Jesus se genesings het mense se maatskaplike funksionering direk verbeter. Die gestremde man was weer aanvaarbaar vir sy portuurgroep, hy is van sosiale isolasie bevry en sy volle deelname in die gemeenskap is herstel. Jesus gee dus uitvoering aan God se omgee vir die siek en gestremde individu wat in sy omstandighede vasgevang is en wat na die buitekringe van die sosiale lewe verstoot word, omdat siekes en gestremdes nie aan die gemeenskap se standaarde van aanvaarbaar voldoen het nie.

Diskriminasie of onderdrukking as gevolg van siekte of gestremdheid is deel van die betrokkenes se ervaring van lyding. Jesus se leringe was ‘n boodskap van hoop vir persone wat onderdruk is. Jesus spreek Hom uit teen die bestaan van sosiale klasse, die gebruik van mag en die misbruik van die armes. Jesus se leringe beskryf ‘n visie vir gemeenskappe wat alle vorme van onderdrukking en ongeregtigheid uitsluit. In Mk 14:13 sê Jesus: “… as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes”. Met die belofte in Mk 14:14: “... God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het”. Jesus het God se liefde verkondig, wat verskil van die magsmisbruik en diskriminasie wat in gemeenskappe bestaan het en Sy volgelinge het begin om ‘n alternatiewe lewenstyl, waarin alle mense se belange en behoeftes aandag geniet het, te leef. So word byvoorbeeld in Hd 9:33 beskryf hoe sy dissipels begin het om mense gesond te maak.

• Die rol van lyding, siekte en gestremdheid in die mens se lewe

Siekte en gestremdheid kan 'n pynvolle ervaring wees, want dit beïnvloed die mens se liggaamsfunksies, identiteit, rolvervulling, verhoudinge en geloof. Lyding word ervaar wanneer die mens ‘n toestand of situasie as pynlik beleef en beskryf. “[S]ickness and approaching death plunge us into discouragement, frustration, anxiety, and anger. Even when we keep our mind on God’s goodness and sovereignty, it never is easy to face the tension and turmoil of a body that is breaking down and moving – sometimes far too quickly – towards disintegration and death” (Albers 1989:viii). Die ervaring van siekte en fisiese gestremdheid lei tot ingrypende vrae oor die mens se verhouding met en persoonlike ervarings van God, homself, andere en sy werklikheid. Vrae soos “waar kom lyding vandaan?”; “hoekom laat ‘n liefdevolle en almagtige God dit toe?” en “wat is die sin van lyding?” word dan gevra. Die kern van die problematiek van lyding is volgens Cronjé (1968:125) die geestelike element daarvan; naamlik, dat die mens te staan kom voor iets wat vir hom te magtig lyk, iets waarvoor hy nie kans sien nie en wat vir hom onverstaanbaar en onverklaarbaar is. Siekte en gestremdheid kan egter verskillende

uitwerkings op mense hê. Aan die een kant kan dit die mens se doeltreffende maatskaplike funksionering laat disintegreer deur die verlies van visie, perspektief en die onvermoë om daarby aan te pas. Die mens fokus dan op sy onvermoëns, verval in wanhoop en hy voel hy is nie in staat om die eise te hanteer wat aan hom gestel word nie. Aan die ander kant kan siekte 'n draaipunt wees en die krisis word as 'n geleentheid gesien om as mens te groei (Louw 1994:45). Vanuit die Christelike beskouing word die persoon se reaksie op siekte en lyding bepaal deur sy verhouding met God, sy geestelike rypheid om pynlike ervarings binne die raamwerk van sy skeppingsdoel en verlossing te integreer en die vermoë om praktiese aanpassings te maak.

Hoop in lyding hou volgens die Christelike beskouing verband met die herstel van verhoudinge en van ‘n ewige lewe saam met God na die dood. Louw (1994:34) sê: “Illness is in fact, a phenomenon, a sign of God's judgement and punishment of sin. Christ relativises that punishment by dying in our place. As a result of the work of the mediator, illness becomes an indication of our own finiteness and is placed within the tension of eschatology: already, but not yet.” Na die sondeval het gebrokenheid en pyn met ander woorde deel van die hele skepping geword en deur Jesus se versoeningsdood verkry siekes en gestremdes die geleentheid om hul verhouding met God te herstel en word die mens se oog op die ewige lewe saam met God, waar geen pyn of leed bestaan nie (Op 21:4), gevestig. Die eskatologiese perspektief wys op Jesus se oorwinning oor die dood met Sy opstanding en in die lig hiervan kan mense deur hul geloof in Jesus met hoop lewe, naamlik dat die oorwinning van heil in elke dag se lewe, ook in lyding deurbreek (Louw 1998:87). Die Christen leef dus in die spanningsvolle hede, met sy beperkinge en gebreke, met die wete dat hy deur sy geloof in Jesus die sonde en ewige dood oorwin het, maar dat die oorwinning eers later volledig sal aanbreek. In hierdie ruimte, tussen die mens se aardse lewe en die aanbreek van sy ewige lewe, bestaan geleenthede om verhoudinge te herstel, sinvol te lewe en om mekaar met liefdevolle versorging by te staan.

Die spanning wat bestaan tussen die aanvaarding van lyding, siekte en gestremdheid as deel van die lewe en toegewyde dienslewering om lyding te voorkom en te verlig deur menslike ingryping, is eie aan Bybelse verhale en is nie problematies vanuit die Christelike perspektief nie. “The cross is about the ultimate goodness of divine purposes, but to believe this is not a once-and-for-all thing, a spiritual bolt-hole against the harsh realities of the world, for the redemption continuous to be worked out in ourselves and through ourselves” (Philpot 1986b:152). Dit is daarom nodig om die moeilike balans te handhaaf tussen die aanvaarding van lyding as deel van elke mens se bestaan aan die een kant en die

begeerte om alles te doen om dit te voorkom en die gevolge daarvan te hanteer aan die ander kant. Hulpverlening aan siekes en gestremdes word in die lig hiervan ‘n verlengstuk van God se versorgende betrokkenheid by die mens in sy unieke nood en konteks.

Siekte, lyding en gestremdheid skep die moontlikheid aan die mens om sy roeping (en daarom ook sy belewing van sin) op 'n nuwe wyse te verstaan, naamlik om by andere betrokke te raak, God se versorgende liefde oor te dra en die sieke of gestremde te ondersteun om die eise te hanteer wat aan hom gestel word. Die kuns om siekte te hanteer beteken volgens Louw (1994:i) om betekenis aan siekte te heg, om geloof te behou as alles sinloos lyk en om te leef in die aangesig van die dood. Die gevolgtrekking word gemaak dat die hantering van siekte, gestremdheid en lyding gekoppel is aan die wete dat verlossing van sonde moontlik is deur geloof in Jesus Christus, asook dat God Drie-enig in alle omstandighede by die mens teenwoordig is. Jesus se verlossingswerk het nie lyding uit die mens se lewe verwyder nie, maar dit vernietig die ewige dood, skenk die ewige lewe en die troos en leiding van die Heilige Gees stel die mens in staat om sinvol en met vrede op aarde te lewe ten spyte van siekte, gestremdheid en lyding. Hulpverlening aan persone wat siek, gestrem is of lyding ervaar, word dan 'n roeping en verantwoordelikheid, binne 'n lewende en liefdevolle verhouding met God en ander mense. Hulpverlening vanuit die Christelike beskouing berus gevolglik nie net op die implimentering van die maatskaplike werker se kennis en vaardighede nie, maar word ingekleur deur die maatskaplike werker se persoonlike verhouding met God Drie-enig, wat gestalte kry in ‘n gehoorsame lewe van dienslewering.

Elke mens kan kies hoe om pynvolle ervarings te hanteer. Die tragedie van lyding is nie dat dit bestaan nie, maar dit is ‘n tragedie wanneer dit nie as ‘n geleentheid benut word om te groei nie. In 2 Kor 12:9 verduidelik Paulus dat hy God gesmeek het om sy lyding te weg te neem, maar God se antwoord aan hom was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom beteken heling, as doelwit van hulpverlening vanuit die Christelike perspektief, nie noodwendig om gesond te word of genesing nie, maar wel om heling of heelwees te ervaar.