• No results found

3.3 DIE BETEKENIS VAN DIE KONSTRUKTIWISME EN

3.3.12 Die verrykende invloed van nuwe perspektiewe

Bogenoemde veronderstellings van die konstruktiwisme en konstruksionisme het die potensiaal om die praktyk en werkswyses van maatskaplike werk te beïnvloed. Sekere onderdrukkende prosesse word bevraagteken, terwyl ander elemente van hulpverlening weer uitgebou en vanuit ’n nuwe perspektief beklemtoon word. Herbesinning oor die praktiese inkleding van maatskaplike werk het ’n verrykende invloed en die volgende word uitgelig as moontlikhede hoe postmoderne denke die praktyk van maatskaplike werk positief kan beïnvloed:

• Die aandag verskuif van die individu se kognitiewe funksionering na die mens se sosiale konteks en hoe dit verband hou met die individu se ondervindinge en konstruksies (Gergen 1994:243). Dit skep bewustheid vir die wyse waarop die mens se konteks en sosiale struktuur deel van die mens se alledaagse ondervindinge uitmaak, asook die belangrike rol van verhoudinge. Die gevaar om net die individu se ervaringe of net die invloed van die mens se maatskaplike konteks te beklemtoon, word in hierdie proses uitgewys. Daarom word voorgestel dat maatskaplike werk ‘n gebalanseerde benadering volg deur aandag te gee aan die mens se konstruksies, die invloed van die sosiale konteks en die dinamiese wisselwerking wat in hierdie verhoudinge plaasvind.

• Die analise van teenstrydighede, soos persone met gestremdheid teenoor persone sonder gestremdheid, voorsien ‘n goeie basis vir kritiek teen denke en praktyke wat op verskille gebaseer is. Die klem op die magspraktyke en onderdrukkende gevolge wat dit meebring (Madigan 1998a:16), kan bydra om die nodige sensitiwiteit by maatskaplike werkers te kweek vir alle vorme van marginalisering en die negatiewe effek daarvan op die kliëntsisteem.

• Die behoefte om gespreksvennote te bemagtig word beklemtoon. Begrip van hoe verskille in mense se sienings gekonstrueer word, voorsien ‘n alternatiewe wyse om onderdrukking te konseptualiseer en in terme te herdefinieer wat mense bemagtig. Die maatskaplike werker het met ander woorde die rol om die gevolge van oorheersende sienings uit te lig en individue of groepe wat daardeur benadeel word, in staat te stel om hul doelwitte te bereik, deur hul eie sienings te formuleer en uit te

leef. Daarom word voorgestel dat maatskaplike werkers en kliënte se menings by strategiese besluitnemingsprosesse ingesluit word, soos byvoorbeeld met die formulering van beleid. Op die wyse kan die kompleksiteit van die maatskaplikewerkpraktyk beter verreken word en die leemtes in bestaande hulpverleningsisteme aanspreek word.

• Die erkenning van verskeie diskoerse lei tot ‘n beter begrip van die uiteenlopende situasies waarin maatskaplike werkers hul bevind, wat weer die basis vir meer effektiewe praktyke kan vorm (Fook 2002:13). Dit is met ander woorde belangrik om rekening te hou met die eiesoortige situasies waarin hulp verleen word, om die beperkinge en uitdagings wat dit meebring doelbewus aan te spreek. So kan gesprekke met lede van die multi-dissiplinêre span byvoorbeeld ’n bydrae lewer om wyses te vind om die kliëntsisteem as aktiewe deelnemers aan die behandelingsprogram te betrek.

• ’n Verskeidenheid van diskoerse word gevoer oor die teorieë vir hulpverlening, wat beteken riglyne vir hulpverlening is in ‘n konstante proses van ontwikkeling. Hulpverleningstrategieë, soos die narratiewe werkswyse kan as ’n positiewe uitvloeisel van die diskoerse in die postmoderne tydperk beskou word. So wys Müller (2000:58) byvoorbeeld daarop dat die verhalende aard van die menslike lewe veral deur die konstruksionisme bloot gelê is.

• Die siening dat mense se identiteite voortdurend verander, weerspieël die kompleksiteit van die menslike lewe (Middleton en Walsch 1995:52), asook die wyses waarop lewe deurlopend binne ‘n sekere konteks onderhandel word. Die mens word met ander woorde aangemoedig om sy perspektiewe op sy eie ondervindinge te baseer en om nie dominante diskoerse as vanselfsprekend te aanvaar nie. Eensydige verklarings vir byvoorbeeld gesondheidsprobleme en hoe dit behandel moet word, word aangespreek en die betrokkenes word aangemoedig om ‘n eie konstruksie te vorm wat as deel van die behandelingsproses gerespekteer word.

• Begrip word verkry oor die proses hoe kennis geproduseer word en dit voorsien alternatiewe wyses om die onderdrukte stemme van maatskaplike werkers en die persone wat hul dienste gebruik, te waardeer (Fook 2002:14). ’n Uitvloeisel hiervan is dat maatskaplike werkers se praktykervaring ‘n bydrae kan lewer om die professie se teoretiese basis te vergroot en praktisyns word bemagtig om by ‘n proses van teorieskepping betrokke te raak.

• Die waarde van kennis op grondvlak het gelei tot die herwaardering van praktykervaring en beleefde ondervindinge as ‘n wyse om kennis te bekom.

Praktisyns word potensieel bemagtig, want hul ondervindinge word erken as ‘n wyse om teoretiese kennis te genereer. Sodoende word nuwe perspektiewe by maatskaplike werk se kennissisteem ingesluit en meer komplekse teorieë gevorm. • Die moontlikheid om kennis en teorie op verskillende wyses te genereer en te

gebruik, het die potensiaal om ‘n meer buigsame praktyk daar te stel. Dit het die implikasie dat enkele erkende teoretiese raamwerke of programme om hulp te verleen, nie ongekwalifiseerd benut word nie. Sodoende word ruimte geskep vir die implementering van meer effektiewe werkswyses, wat rekening hou met die kliëntsisteem se perspektiewe oor wat moet verander en hoe dit moet verander om hul maatskaplike funksionering te verbeter.

• Kritiek teen hoofstroompraktyke, vanselfsprekend-aanvaarde hiërargie en die magsverskille wat hiermee gepaard gaan, skep die moontlikheid vir nuwe vorme van bemagtiging (Fook 2002:14). In die lig hiervan word voorgestel dat die invloed van burokratiese prosesse en praktyke verreken word, om te verhoed dat dit effektiewe en buigsame dienslewering blokkeer. Erkende praktykte moet gemeet word aan die waarde wat dit vir die kliëntsisteem inhou, soos beskryf vanuit hul eie perspektief.

Samevattend kan gesê word dat kenmerkende uitgangspunte van die konstruktiwisme en konstruksionisme, ‘n beduidende invloed kan uitoefen op hulpverlening aan mense met maatskaplike probleme het. Die mens se vermoë om sy eie realiteite te skep en te herskep word beklemtoon en dui op ‘n positiewe en nie-probleemgesentreerde benadering wanneer hulp verleen word. Die ontkenning van ‘n objektiewe realiteit, bring verder mee dat die maatskaplike werker nie tot die grense van bestaande professionele kennis of sienings van die waarheid beperk is nie. Die invloed van die konstruksionisme op hulpverlening blyk uit die klem op ‘n subjektiewe deelnemingproses tussen die betrokkenes, want deur gesprekvoering word nuwe realiteite geskep. Die rol van taal, dialoog en die konstruksie van stories is sentrale konsepte en bied bruikbare uitgangspunte om hulp te verleen aan mense wat amputasies ondergaan het en worstel met probleme of veranderinge in hul selfkonsepte en lewenswyse. Dit blyk dus dat die perspektiewe van die konstruktiwisme en konstruksionisme die potensiaal het om maatskaplike werk se denke en praktyk te verryk.

3.4 RAAKPUNTE EN VERSKILLE TUSSEN DIE KONSTRUKTIWISME,