• No results found

Die rol van ‘n mens en wêreldbeskouing in die praktyk van

2.4 MAATSKAPLIKEWERKHULPVERLENING IN DIE LIG VAN

2.4.1 Die rol van ‘n mens en wêreldbeskouing in die praktyk van

‘n Mens- en wêreldbeskouing kan op ‘n verskeidenheid van uitgangspunte of oortuigings gefundeer wees, wat meebring dat maatskaplike werk vanuit verskillende sienswyses beoefen word. Die maatskaplike werker se mens- en wêreldbeskouing is ‘n fundamentele deel van sy menswees en oefen daarom ‘n invloed uit op die hulp wat verleen word. Die maatskaplike werker vertolk verskillende rolle, maar bly te alle tye ‘n mens wat saam met andere by hulpverlening betrokke is. Die maatskaplike werker se mens- en wêreldbeskouing het nie net op die professie maatskaplike werk en die kliënt ‘n bepaalde invloed nie, maar word verwerklik in die maatskaplike werker se menswees. Cronjé (1970:3) sê: “Die toerusting van die maatskaplike werker as beroepspersoon bestaan nie net in die vir sy beroepsbeoefening noodsaaklike kennis en begrip, vaardigheid en bedrewenheid nie. Inderdaad is die fundamenteelste deel van die maatskaplike werker se toerusting sy mens- en lewensbeskouing.” Die maatskaplike werker het in die lig hiervan die verantwoordelikheid om sy eie perspektiewe te ontwikkel, ten einde homself as mens te verwesenlik. Die maatskaplike werker kry dikwels te doen met kliënte wat geen sin in die lewe meer ervaar nie en om hulle te help om meer duidelikheid oor hul menswees te kry, moet die maatskaplike werker self duidelikheid hê oor die sin van sy eie bestaan en die hulp wat verleen word. Die maatskaplike werker se mens- en wêreldbeskouing bepaal gevolglik sy lewenshouding ten opsigte van homself, die kliënt en die konteks waarbinne hulp verleen word.

Die versoening van die maatskaplike werker se persoonlike en professionele waardes en beginsels is nodig. Spanning en konflik kan ontstaan indien die maatskaplike werker se beginsels verskil van die professie of die organisasie waar dienste gelewer word (Philpot 1986b:140). Uiteenlopende en teenstrydige uitgangspunte veroorsaak verwarring, dit bemoeilik keuses en die bepaling van prioriteite. Keuses moet daarom op die beskerming van die kliënt se belange gebaseer wees. In die lig van hierdie faktore is dit nodig dat die maatskaplike werker bewus moet wees van sy eie beginsels en die invloed daarvan op die inkleding van die hulpverlening.

Die maatskaplike werker se beginsels en gedrag word grootliks deur intellektuele raamwerke en godsdienstige oortuigings bepaal. Dit het voorts ‘n invloed op die wyse waarop hulpverleningsverhoudinge opgebou word, die wyse waarop hulp verleen word en

die wedersydse beïnvloeding wat tussen al die deelnemers plaasvind (Henderson 1986:59). Die rol wat die maatskaplike werker se beskouinge in die hulpverleningsproses speel, kan met ander woorde nie ontken of geminimaliseer word nie. Aponte (1999:81) sluit hierby aan deur daarop te wys dat die hulpverlener se filosofiese sienings en religie sy oordeel bepaal oor wat gesond en ongesond is, asook wat wenslike terapeutiese doelwitte vir die oplossing van probleme sal wees. Die maatskaplike werker se vertrekpunte kan ooreenkomste of verskille toon met die van die kliënt en die implikasies daarvan behoort eerlik gekommunikeer te word. Verskille in die religieuse praktyke en sienings van maatskaplike werkers en kliënte moet op ’n deursigtige wyse hanteer word om positiewe hulpverleningsverhoudinge te verseker. Die maatskaplike werker hanteer kliënte met probleme met ‘n morele dimensie, met afbrekende gedrag of wat hul skuldig maak aan amorele of onetiese optrede. Konflik kan tussen die maatskaplike werker en die kliënt se waardes of sienings bestaan, daarom is gesprekvoering oor die maatskaplike werker en kliënt se religieuse en etiese beskouinge belangrik.

In die lig van die holistiese perspektief op hulpverlening is die afgelope aantal jare besef dat kliënte se beskouinge en geestelike lewe twee verwaarloosde konsepte in maatskaplike werk is, terwyl dit toenemend as ‘n belangrike dryfveer in mense se lewens erken word (Cascio 1999:129). Kognitiewe raamwerke speel ‘n belangrike rol in die mens se interpretasie van gebeure, die identifisering van faktore wat die kliënt se groei belemmer en bronne wat herstel of verandering kan bevorder. Siekte en gestremdheid intensifeer die mens se soeke na die sin van sy belewenisse, om antwoorde op lewensvrae te kry en om in harmonie met homself, andere, sy wêreld en God of ‘n mag groter as hyself verbind te wees (Culliford 2002:1435). Maatskaplike werkers wat nie die geestelike dimensie van die mens as belangrik ag nie of wat geen opleiding hieroor ontvang het nie, kan die belangrike invloed hiervan op kliënte se lewens en terapeutiese prosesse onderskat.

Verskeie faktore het ‘n bydrae om die mens se geestelike behoeftes van hulpverlening te skei, gelewer. Hulpverleners is byvoorbeeld opgelei om sensitief te wees om nie hul eie oortuigings op kliënte af te druk nie, terwyl andere onseker voel oor die hantering van die intense emosies en konflikte wat met die mens se geestelike groei gepaard gaan. Opleiding om ‘n waardevrye posisie in te neem, ten einde objektief en onbevooroordeeld te wees, het verder bygedra om die die mens se geestelike lewe, uit hulpverlening te verwyder (Culliford 2002:1435). Rigiede grense is getrek om die aspekte wat tydens hulpverlening aangespreek mag word en kliënte se geestelike behoeftes is hoofsaaklik aan geestelike werkers oorgelaat. Die ontkenning van die mens wat hulp ontvang se geestelike sienings

en behoeftes, verwyder egter nie die bestaan daarvan of die invloed op die persoon se gemoedstoestand, gedrag of die verloop van hulpverlening nie.